Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Suid-Afrika se sneeu bring heimwee na Kazakhstan se sneeu

Ek kyk so na foto’s van sneeu in Suid-Afrika, Julie 2024. Die meeste van die foto’s is vanuit huise of motors geneem. En dan bring dit heimwee na Kazakhstan en ons ervaring van sneeu.

Hier is ‘n foto wat in die Karoo geneem is.

Suid-Afrikaanse sneeu in die karoo (Julie 2024)

En een van ‘n motor met sneeu bedek …

Suid-Afrikaanse bakkie vol sneeu (Julie 2024)

Dit laat my sowaar met heimwee, al het ek nie self die foto’s geneem nie. Heimwee na ‘n land wat maande lank met soierwit sneeu bedek is, ‘n land wat ek maklik sou kon aanneem as my mense nie hier was nie.

Dit was ongelooflik lekker om in die sneeu te gaan stap. Wanneer die aarde in Kazakhstan met sneeu bedek is, is dit koud. Baie, baie koud. Die hele Kazakhstan is vanaf September/Oktober tot Maart/April/Mei onder ‘n wit sneeukombers bedek. En daardie sneeukombers veroorsaak dat ysige winde oor mens waai as jy buite is. Dink aan daardie ysige lug naby Makro se vrieskaste en maal dit met baie!

Daardie koue gaan deur dun klere, vind gaatjies wat nie bedek is nie en laat jou meer as bibber. Ek het baie gewens ek kon my oë bedek. Hulle was koel in my kop. Dit word maklik -40 grade Celsius in Ust’ Kamenogorsk en Almaty waar ons gewoon het. En die temperatuur is dan ook die meeste van die tyd subzero as die sneeu nog lê, en selfs as dit nie lê nie.

As dit die dag sneeu, waai daar nie wind nie. En dan was dit baie lekker om buite te stap, die sneeu op my jas, die pels om my jas se kappie en selfs op my gesig.

26 Februarie 2020, Ust-Kamenogorsk, Kazakhstan

As dit sneeu, is dit buite warmer as ander dae. Maar steeds sub-zero. Dit is stil as dit sneeu. Daar is geen wind wat waai nie, anders kan die vlokkies nie afdwarrel nie. En die vlokkies land op die kraag van jou jas om ysig koud in jou nek af te gly as jy nie mooi keer nie. Maar, dit was absoluut hemels. Dit lyk nie of die Suid-Afrikaners in die sneeu gaan stap het nie? Miskien omdat ons nie aan uiterste koue gewoond is nie. Ek sien baie foto’s, maar niks waar mense soos ek en manlief in die sneeu gaan stap het nie! Kyk net die dik laag spierwit sneeu agter my skouer. O ja, en sien sommer ook raak dat ek wel gepantser was teen die koue!

Ek sien ook nie foto’s waar mense paaie maak om op die dik lae sneeu te loop nie. Hierdie is een van my gunsteling foto’s, die skoongeskraapte spierwit sypaadjie waarop ek gereeld in die winter van ons woonstel na die nuwe winkelsentrum in Ust gestap het.

‘n Sypaadjie in Ust, Februarie 2020

Hier stap ek agter die vrou aan terug woonstel toe. Die sneeu was silwerskoon, dit het geblink in die son en as die son reg daarop geskyn het, het dit silwer flitse gemaak. Kyk net die spierwit bome. Hier is ‘n foto wat ek van sneeubedekte bome in Ust geneem het.

Dik laag sneeu op dennebome in Ust-Kamenogorsk, 17 Desember 2019

En hier sien mens die skitterwit sneeu, ook dat iemand in die los sneeu probeer stap het …

Dik sneeu langs die sypaadjie op pad woonstel toe

Dit was mense se werk om die pad soggens dou voor dag skoon te skraap. Sonder om in sneeu in te sak en sopnat en yskoud te word. Nie dat ons nie yskoud was nie.

Die magtige Irtysh-rivier is ‘n ysige rivier wat teen ‘n geweldige spoed deur Ust-Kamenogorsk vloei as gevolg van ‘n damwal waar hidro-elektrisiteit opgewek word. Ons het gereeld na die Uskemen-dam (Uskemen is die Russiese naam vir Ust-Kamenogorsk wat die Kazakh naam is) gery waar die water opgehoop word om elektrisiteit op te wek. Ek het al van die dam vertel. In die winter is die dam se oppervlak gevries (gelykte agter bote) en voor bote tot teen wal. Kyk net die sneeu wat daarop gaan nesmaak het. Hierdie bote staan waar hulle staan tot die water ontvries.

Raai net hoe koud is die water van die Irtysh-rivier … Hierdie foto is vanuit een van my gunsteling restaurante langs die rivier geneem.

Uitsig oor rivier in Ust, 17 Desember 2019 b

Ons woonstel was ook duskant die rivier. Die straat langs die rivier het om hierdie sirkel gevou, wat in die winter pragtig was.

Dansende vrouens in die sirkel, Ust-Kamenogorsk

Toe ons in Februarie 2020 daar gestap het, het ons nog nie geweet dat hierdie splinternuwe sentrum maande lank weens ‘n “pandemie” toe sou staan nie. Die winkelsentrum was skaars oop, toe word sy deure toegemaak. En ons het dit so geniet – die eerste regte egte winkelsentrum in Ust-Kamenogorsk, al was dit ‘n massiewe stad.

Die mense van Ust hou daarvan om hulle stad met mooi goed te versier, goed wat in die wintermaande eintlik nog mooier is met die sneeu daaromheen. Die toring in die middel van die sirkel is ‘n mini van die een in Almaty. En hier is bye om ‘n blom by een van die stopstrate anderkant die rivier, op pad na Fresh Market.

Bye om ‘n blom, Ust-Kamenogorsk

Hierdie pouagtige voël is so effens versteek onder die sneeu in die park oorkant die rivier, kan nou nie sy naam onthou nie.

Pou in park in Ust-Kamenogorsk

Die sypaadjies is skoongemaak vir besoekers, maar die binnekante was met die sneeu opgevul. In Ust word die parke ook snags versier met liggies.

Liggies in park naby manlief se werk, Ust-Kamenogorsk

Daar hoef mens nie te vrees om saans alleen in parke te stap nie. Dit is veilig vir almal.

Ek kyk egter verras na video’s wat mense neem waar hulle baie vinnig op sneeubedekte paaie ry. En staan verstom. G’n wonder soveel ongelukkie is aangemeld nie. Mens ry nie vinnig op sneeubedekte paaie nie, die wiele gly maklik daarop. In Kazqkhstan sal niemand dit waag nie, hulle weet hoe seepglad die pad is. En as die sneeu dik genoeg is, moet jy ‘n ander soort band koop. Dusty het juis twee stelle bande gehad, een met “studs” en een daarsonder. Sonder die studs ry mens nie op sneeubedekte paaie nie.

Dusty se studs-bande

Die een stel bande was in haar garage, die ander aan haar bas. Hier is een foto wat presies vertel hoe dit gelyk het as dit die dag sneeu.

Dik laag sneeu agter ons woonstel, by ingang na woonstel

En so het karre in die sneeu gestaan na ‘n nag van sneeu.

Sneeubedekte motors agter ons woonstel in Ust, 20 Februarie 2020

Ek het mos ligte vriesbyt gekry toe ek in November 2019 so laf was om my hande uit handskoene te haal om foto[s te neem. Toe was dit -38 grade Celsius. Hierdie foto is met handskoene aan geneem, daai pyn en vrees dat ek vingers kan verloor was te groot om dit weer te waag om handskoenloos foto’s te neem.

Manlief moes Dusty na ‘n plek neem om bande te ruil wanneer die ander stel bande weer op moes wees. Mens het sommer geweet wanneer dit moet ruil, die bande het so ‘n die- knarsgeluid gemaak wanneer dit op teer ry, dan was dit tyd vir haar nuwe skoene.

Hierdie foto is een oggend geneem toe die taxi ons lughawe toe geneem het om Suid-Afrika toe te kom. Desember 2019.

Sneeubedekte kersbome in Ust-Kamenogorsk.

As die lug so ‘n sagte pienk kleur kry, die vlokkies vrolik afdwarrel verby die venster van ons woonstel op die 8ste vloer (as ek nou reg onthou) het ons baie redes gekry om die warm huis te verlaat om in die sneeu te gaan stap.

Ons het ook dikwels op die sneeubedekte paaie gery, dit is immers vir maande lank sneeubedek. Kyk hoe hoog is sneeu opgehoop op die parkeerarea van Fresh Market. Ek het al baie van ons uitstappies daarheen vertel.

Dik sneeulaag op parkeerterein van Fresh Market, Ust-Kamenogorsk

Ons het ook drie maande in Almaty, die vorige hoofstad van Kazakhstan gebly. Die stad is aan die voet van die magtige Trans Illy Alatau-berge, en die toppe van hierdie berge was met sneeu bedek nog lank voor die sneeu op die aarde bly lê het.

Sneeubedekte Trans Illy Alatau-berge, Almaty, Kazakhstan

Ons het daardie berg gereeld met Dusty aangedurf, wat daar is ‘n kabelkarretjie lyn wat jou na sie Shymbulak ski-oord hoog die berg in neem. Ek het al daarvan vertel. Op pad daarheen was die bome vol sneeu na ‘n nag van sneeu.

Bome in Almaty, op pad na kabelkarretjies

Die sneeu bly nie in die bome nie, dit dwarrel af grond toe as die wind na die sneeustorm weer waai. Hierdie foto is by d8e hoogste stasie geneem, kyk die oop karretjies waarin die skiërs na hulle skiplekke ry.

Hoogste kabelekarretjie stasie, Shymbulak ski-oord, Almaty

Die 1ste Maart is die inwoners van Kazakhstan baie moeg vir sneeu en koue. Dan wil hulle son voel. Dit word in die somer heel warm daar, dit is egter kort seisoen, lente, somer en herf moet meeding om sonlig en geen sneeu – tussen Maart en Oktober wanneer dit weer sneeu. Soos jy op hierdie foto kan sien, was dit Maart 2020 nog die ene sneeu. Die pop wat daar verbrand word, se naam is Mashlenitsa. En sy word oral gebrand om die sneeu weg te jaag, somer aan te kondig – ten spyte van die sneeu.

Maslenitsa, 1 Maart 2020, ski-oord naby Ust

Ons was saam met Russiese vriende daar, sy vrou het aan vasvra deelgeneem en ons het die ski-oord geniet, ook om te kyk hoe sy gebrand word. Mooi soos die sneeu was, was ons ook nou moeg. om ses maande op sneeu te stap. Nooit geweet dat dit die laaste stap op sneeu sou wees toe die laaste sneeu gesmelt het nie.

Ons is tydens pandemie na Almaty, vanwaar ons huis toe gekom het om nie weer terug te keer nie. Nooit weer sal drie lande besluit of ek my kinders mag sien of nie. Ons was sewe maande daar vasgekeer voor ons kon huis toe kom om ons nuutste kleinkind te ontmoet. En toe bly ons net hier.

In Almaty het dit 6 Oktober 2020 lus geraak om koud te word, selfs om te sneeu. Maar die sneeu het nie kans gekry om op die paaie te bly nie. Dit het gou gesmelt …

Ek kan nie help om heimwee te hê as ek na die pragtige wit sneeu kyk nie. Ek wil net nie weer in die sneeubedekte land gaan bly nie … Suid-Afrika is my tuiste.

Ek heg sommer vir die interessantheid ‘n skermskoot aan van ‘n gedeelte van die stad wat my “valley” was toe ons daar gewoon het.

Skermskoot van kaart van Ust (Julie 2024)

Kazakhstan is nie baie oorspronklik met name nie. Ons het in Kazakhstanstraat gewoon, die koppie agter ons woonstel was Kazakhstan-koppie (ek het baie foto’s daarvan) en die dam se naam is Öskemen dam – wat darem effens gepas is … Ons moes ongeveer drie blokke stap na Dusty se garage, wat ook op die kaart gemerk is.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Suid-Afrika se sneeu bring heimwee na Kazakhstan se sneeu

  1. Jou foto’s is lieflik, die sneeu is pragtig … maar daar sal ek nie kan bly nie! Dalk vakansie hou vir ‘n paar weke, maar ek hou van sonskyn en warm weer. So mooi as wat die sneeu is, so gou sal ek verveeld raak – want hoe sal ‘n mens vir ure buite kan gaan stap as dit so sneeu en koud is?

    Liked by 1 person

  2. Sjoe Christa, ek onthou al jou stories. Ek het jou begin volg as gevolg daarvan! Ek het darem ook so ligte sneeu ervaring in Skotland beleef.

    Liked by 1 person

        1. Dit is baie, baie, baie koud. Enige plek waar vel uitsteek, voel soos steekpyn as die wind dit tref. My sykouse was een keer op een plek dun geskaaf, en dit het gevoel of by my steek. Toe ek niks sien nie, het ek gaan uittrek om te kyk wat fout is. Jong, dit is baie koud.

          Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Nikita Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.