Gepubliseer in Joernaal

Vroue wat boelie is bitter onaantreklik!

Lees ek nou kommentaar van San, een van my blogvriende, op een van my plasings weer raak! Vroue wat boelie is bitter onaantreklik! En gaan daar vir my ‘n liggie aan …

Ek kyk soms na baie mooi vrouens wat ek van nederby leer ken het en dink dat hulle baie onaantreklik is. Dit het my laat wonder waarom hulle vir my btter onaantreklik.

En San se kommentaar het die liggie laat aangaan!

Hulle is vir my onaantreklik omdat hulle boelies is!

Maar is dit al rede?

Neem byvoorbeeld vir Mel Viljoen wat in die reeks Housewives van Pretoria gespeel het. Sy het die ander deelnemers geboelie, en hulle veral oor hulle voorkoms beledig. Wat natuurlik gemaak het dat ek na haar voorkoms kyk. En goeie aarde, ek het werklik nie besef daar is sulke plastiese mense in Pretoria nie. Alles is plasties, selfs die manier waarop sy praat en lag. Dalk is dit waarom ‘n vrou wat boelie vir my onaantreklik is? Dit laat my dieper, dringender kyk?

En dit is beslis so.

Ek dink hier aan iemand wat gereeld in my kringe beweeg, nie alleen ‘n boelie nie, maar ook uiters geniepsig. Dit strek egter veel die-er as om bloot te boelie. boeliegedrag strek verder as bloot boelie. Sy maak goed op, goed wat aan laster grens. En dan val sy haar slagoffers daarmee aan. Nie in persoon nie, maar op WhatsApp. Die leuens en beledigings is venynig, val die karakter en integriteit van haar slagoffers aan. En veroorsaak dat haar slagoffer daarop reageer. Eers met dit is nie so nie. En dan is die boelie in haar element. Haar beledigings en leuens hou nie op nie. Inteendeel, sy is ordentlik aangevuur – die slagoffer het haar nou kastig geboelie. En dan verbreek die slagoffer alle kontak, seergemaak en beledig. En boelie het haar doel berei. Nou kan sy haarself as slagoffer voorhou by gemeenskaplike kennisse. En die werklike slagoffer word so beswadder dat gemeenskaplike kennisse snaaks is met die werklike slagoffer. Die slagoffers onttrek dan van die boelie, maar ook van gemeenskaplike kennisse, nie alleen omdat sy gekwes is nie, maar ook omdat gemeenskaplike kennisse se houding teenoor haar verander het – onder die invloed van die boelie.

Dan kontak jy die gemeenskaplike kennis maar al minder, want jy hoor sommer aan die stem dat jy beswadder is. Maar veral dat dit teen jou gehou word, jy is nou so wraggies die boelie. Jou boodskappe word nie gelees nie, jou oproepe dikwels nie beantwoord nie. Dit help nie om jou saak te stel nie, jy kry die koue kyke as jy probeer. Dit duur maande voor die verhoudings met belangrike kennisse herstel word omdat die slagoffers lank met argwaan hanteer word. Om een of ander rede sien hulle nie wat aangaan nie, boelie kan niks verkeerd in hulle oë doen nie. Tot hulle aan die ontvangkant van die boelie is.

Jy ken al die patroon as hulle vir jou sê gemeenskaplike kennise is skielik lelik met hulle. Jy kan selfs voorspel dat hulle so twee maande lank sal moet wag, dan eers is die gif half afgewas. Ek kon nie verstaan hoe dit gebeur nie, maar veral nie hoe om die vrou te hanteer nie. Ek het wel geweet hoe lank dit gemeenskaplike kennisse neem om normaal teenoor jou te word.

En toe kyk ek na ‘n video op Instagram wat alles vir my verstaanbaar maak. Sy is ‘n narsis. Dit is presies hoe narsiste maak. Die beste raad om ‘n narsis te hanteer, is om nie te reageer nie.

Jy antwoord nie. So eenvoudig soos dit. As jy nie reageer nie, ontneem jy haar van die “voorreg” om die slagoffer te wees. En dit is vir narsiste baie soeg, dus soek hulle ander slagoffers.

Hier teen die 26ste Mei vanjaar kry ek toe die geleentheid om die teorie te toets.

En dit werk soos ‘n bom – ‘n bom wat op baie plekke ontploffings veroorsaak!

Ek kry die oggend ‘n WhatsApp wat begin met woorde wat dadelik steek. Ek kan ‘n deel sien voor ek die boodskap lees en dit as gelees aangedui word. Dus klik ek nie op die boodskap om te lees nie. As dit so begin en blykbaar baie lank is, wil ek nie die res sien nie. Toe export ek die boodskap na my e-posadres wat ek nooit gebruik nie, en vee dit uit. Probleem opgelos. As ek nie weet wat sy skryf nie, kan ek nie voel ek moet reageer op aantygings nie.

Dit het egter anders gewerk as wat ek verwag het!

Sy stuur toe die boodskap blykbaar net so na drie vrouens met wie ek goeie verhoudings het. Ek neem aan sy het gedink sy kan hulle skok met wat sy alles oor my skryf?

Dit was ontstellend toe die vrouens my kontak en sê dit is vir hulle gestuur, is ek okay? Seker nie wat sy verwag het hulle gaan doen nie? Of is dit? Hulle sal mos vir my dele vertel? En dan moet ek reageer?

So hier en daar in die gesprekke met die drie wat onwillekeurig betrek is, kom ek agter dat daar vreeslike goed gesê is. Maar ek smoor hulle gou, ek het nie gelees nie, ek wil nie weet nie.

Die vrou het egter die boodskap gekry, ek het nie haar boodskappe gelees nie. En ek gaan ook nie. En sowaar, daar werk die raad!

Sy kontak my nie, want sy kan mos nou nie slagoffer speel nie. Sy blok my sowaar, asof ek die vark in die verhaal is?

Maar, sy kry dit wel reg om die belangrike kennis – wat my en die drie ander vrouens ken- teen my te draai. En dit het, soos ek voorspel het, twee maande geduur voor daardie gif uitgewas het sodat ek weer gesien word vir wie ek regtig is. En nie deur die bril van narsis se gif nie.

Ek hou nie van boelies nie, staan boeliegedrag baie maklik teen. Selfs as dit dan teen my gerig word. Tog het ek nou geleer hoe om ‘n spesifieke soort boelie, naamlik die narsis, reg te hanteer.

Bly net stil.

En dit is so maklik as jy op WhatsApp geboelie word om stil te bly. Jy hoef nie te lees nie, en as jy nie lees nie, weet jy wat gesê is nie. En as jy nie weet nie, voel jy nie dat jy jouself moet verdedig nie. En as jy jouself nie verdedig nie, kan die narsis nie slagoffer speel nie.

Sy kan maar belangrike kennisse teen my opstook, iewers was die gif af – en dan is die verhouding gangbaar. Nie herstel nie, maar gangbaar, want vertroue is geskok. Ek weet waar die ware lojaliteite is, hoe ek weer behandel gaan word as narsis se gif ingespuit word.

Mense wat ek in my vertroue geneem het, dink sy is jaloers op my.

Waarom weet ek nie.

Want sy is volgens ander mense ‘n baie aantreklike vrou.

Ek het gewonder waarom ek dit nie raaksien nie. En nou weet ek, San:

Vrouens wat boelie is werklik bitter onaantreklik!

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Vroue wat boelie is bitter onaantreklik!

  1. Ek het dit altyd beter gevind om van sulke mense weg te draai. Ons moet met positiewe mense in ons sosiale ‘sirkel’ ontmoet. Ek hoop jy voel beter nou dat jy hierdie gevoelens neergeskryf het 🙂

    Liked by 1 person

  2. Ek distansieer (is dit die regte woord?) my onmiddellik van sulke mense. Soos jy hier noem, om nie te reageer nie, is uiteindelik die beste verweer. Dit is soms moeilik om stil te bly (want dis in ons aard om onsself te verdedig), maar sulke mense is nie die mors van jou asem werd nie! Jou beste vriendinne behoort jou te ken en te weet wat die waarheid is. Draai weg en lei jou eie lewe … jy hoef niks aan enige iemand anders te bewys nie.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.