Ons het vandag nagmaal gehad. Skuins links voor my het ‘n pappa en mamma met kleinding – ek skat twee – en ouer sus gesit.
Kleinding het op pappa se skoot gesit, en toe later langs hom op die oop stoel aan my kant. Sy was stil, maar baie besig. Op een stadium kry sy ronde bakkie, seker so handgrootte en binne-in is eat-sum-mores, die kleintjies.
Sy sit in die stoel met haar lyfie na ons gedraai en sit die koekies in die kies. Dan staan dit so bult uit, en moet sy teen die wangetjie druk om die koekie rond te skuif.
Dit is net na dominee se finale gedeelte van die preek – ek het nogal gestres, want hy het eers vyf voor tien die skrifgedeelte gelees – en ons moes elfuur by die huis wees, die vleis vir aandete klaar gekoop.
En – slaghuis om is ‘n draai huis toe …
Toe sing ons, en dominee hou baie van sing. Ons sing ‘n hele paar liedjies na mekaar, my rug sukkel in die laaste tyd om so stil te staan – altans vir so lank!
Toe staan die poppie van haar stoel af op om die bakkie vir haar pa te gee. Maar hy staan en sing en sy kan dit nie in sy hand sit nie, dit is te hoog. Op haar eie stoel wil sy dit ook nie sit nie, en so staan sy en planne beraam.
Haar pappa se sitplek is die beste plek vir die bakkie.
En die giggel borrel in my terwyl ek sing.
Ek kyk oral rond, probeer die lag ontketen, maar hoe meer ek probeer, hoe meer sien ek wat die pappa gaan doen as hy op die slagyster gaan sit – die bakkie se deksel is darem opgesit.
Ons is klaar gesing, en ek kyk vir die man wat kyk waar dollatjie is en toe doodtevrede afsak om te gaan sit.
Gaan hy skrik?
Gaan hy iets doen?
Gaan hy stilbly?
Dit alles vlieg deur my gedagtes terwyl ek die gaan sit dophou.
En toe bederf sy vrou alles.
Sy kyk na sy stoel, sien die slagyster en waag haar hand daar in voor die man sy sit gesit het.
Haar arm het dit gemaak, hy het dit gemaak, die kosblikkie was veilig in haar mamma se hande.
Waarom wil ek oor sulke goed lag?
En waarom is dit in die kerk so snaaks?
Haha 😁, ja Christa ek vra ook hoekom is iets so snaaks in die kerk (wat gewoonlik nie die geval sal wees op enige ander plek nie)! Dis ook net ‘n mamma wat so vinnig kan dink!
LikeLiked by 1 person
Jy weet dan, ek het so gelag toe ons huis toe ry. Dominee sal nie dink dit is snaaks as ek lag en nhy weet nie waarom nie
LikeLiked by 1 person
Ek so ook gelag het – kan in my verbeelding sien wat kon gebeur het 🙂 🙂 “En waarom is dit in die kerk so snaaks?” – seker omdat ons probeer om stil en deftig te wees 🙂
LikeLiked by 1 person
Ne, Anne, seker omdat mens stil en deftig en stemmig moet wees. My dag was sommer opgevrolik.
LikeLiked by 1 person
Ek stem, daar waar ons nie behoort te lag nie, juis daar kielie die lagbuie onbeheersd.
LikeLiked by 1 person
Uitbundig hoor! Dan sukkel ek om nie te lag nie
LikeLiked by 1 person