Ek wou al so lankal begin foto’s deel van ons tyd in Almaty, naamlik vanaf Julie tot Oktober 2020. Nou herinner my iPad my daaraan …
Ons was tussen Maart 2019 en Oktober 2020 verskeie kere in Almaty, maar, ons het die stad eers regtig leer ken toe ons vanaf Julie 2020 tot Oktober 2020 daar gewoon het. Vandag herinner my iPad my aan een van die lekkerste dinge om in Almaty te doen, naamlik om na die grootste ski-oord in Kazakhstan te gaan.
Shymbulak. Hierdie foto is by die stasie aan die onderpunt van die kabelkarretjie baan geneem en is ‘n advertensiebord wat die kabelkarretjies adverteer.

Daar word in drie tale geadverteer. As jy na die bokant die glasvensters van die kabelkarretjie kyk, is daar in Kazakh (die boonste geel blok, kyk die snaakse k’s), Russies (die blou blok met wit skrif) en Engels (die wit blok met blou skrif) geadverteer. Dit is baie lekker om te weet dat ek die Russies nog kan lees, maar glo my, ek het geen idee wat ek lees wanneer ek dit lees nie – daar staan – Smotri pod nogi – en as ek na die Engels kyk, beteken dit dat die kabelkarretjies glas vloere het. Ek weet nie eens watter van die woorde wat ek vertaal het glas en vloer beteken nie.
En dit is een van die dinge waarin ek gefaal het terwyl ons in Kazakhstan gewoon het. As ek ooit weer sou teruggaan, sou dit my doel wees, om die taal van die land te leer praat, dalk sommer voordat ek daarheen gaan – soos Portugees as ek Mosambiek toe wil gaan.
Ek deel nie weer van my foto’s oor Shymbulak nie, ek het al oor hierdie pragtige oord geskryf wat ons van Julie 2020 tot einde September 2020 nie mag besoek het nie. Weens ‘n mensgemaakte pandemie waarvan ons steeds die finasiële impak voel. Ek lees so dat daar ‘n wêreldwye resessie aan die kom is. Ek wonder wat het sogenaamde wêreldleiers geddink gaan gebeur …
Iedegeval, ek wil eerder bietjie inligting deel wat ek nou gekry het toe ek sowaar Shymbulak se naam vergeet het en moes gaan Google …

Soos jy kan sien, is die boonste stasie van die ski-oord nogal baie hoog – dit is by een van die hoogste pieke in die wêreld. ek het al daaroor geskryf en van ons foto’s gedeel. Die onderste stasie van die kabelkarretjies is hoër as wat dit is as mens in Gauteng woon … Johannesburg is maar 1 730 m bo seespieël.
Dan neem die kabelspoor jou 1000 meter boontoe – na 3200 m bo seespieël. Die lug daar is besonder dun, mens voel so effens lighoofdig as jy uit die kabelkarretjie klim.
Almaty is maar 700-900 m bo seespieël, dus klim mens nogal steil wanneer jy die 21 km vanaf Almaty na Shymbulak mer die motor ry. Maar, dit is die moeite werd.
Die statistiek verras my nogal (sien onder) Die kabelkarretjie se lyn is 20 km lank, vanaf die basisstasie is dit 4 km, dan 10 km tot by die tweede stasie en 6 km tot by die boonste stasie.

Dit het nooit vir ons so ver gevoel nie. Alhoewel, ek kan onthou dat mens baie lank gery het voordat jy bo is. En mens styg nêrens so styl soos wat mens teen Tafelberg op styg nie. Waarskynlik weens die lengte van die lyn.
Aangesien ek weet dat daar kameras is wat lewendig uitsaai, het ek sommer my heiweë op die proef gestel, want ek weet dit is die begin van die winter daar, dit moet nou sneeu … en ek was nie teleurgestel nie.
Klik gerus hier om te kyk hoe dit by Shymbulak lyk, dalk sien jy ook sneeu val … by die eerste stasie nadat mens van die kabelkarretjie huisie vertrek het
Hierdie kamera wys hoe dit heel bo lyk, as mens by die restaurant staan en na die hoogste piek se kant kyk.
As jy meer wil weet, kan jy gerus na die webwerf gaan. Pryse is goed, ek kan hierdie ski-oord aanbeveel al het ek nie self geski of gewaag om te probeer ski nie …
Ek weet ek het gesê ek is klaar met oorsee gaan. Maar, ek dink, as ek weer moet gaan, sal dit weer na Kazakhstan wees. Om weer met daardie kabelkarretjie op te gaan – sonder ‘n klomp gemaskerdes om my …
Hier is twee foto’s wat ek van die internet geleen het oor Almaty, die vorige hoofstad van Kazakhstan.
Op die eerste foto kan mens die magtige Altai bergreeks sien, met die Kazakhstan hotel op die voorgrond. Dit is een van die hoogste hotelle en baie duur, mens betaal so net onder R4000 vir ‘n kamer.

As mens die geskiedenis ken, sal dit jou verras dat die hotel so hoog is. So 100 jaar gelede het ‘n aardbewing Almaty platgevee, en geboue mag nie so hoog wees nie. Dit lyk my of hulle so bietjie vergeet, en ook vergeet dat daar voorspel word dat die volgende groot aardbewing Almaty enige tyd kan tref …
Op hierdie foto kan mens ons woonstel blok sien. Ek deel dit, omdat ek nie so ‘n foto het nie …

Ons woonstel was net onder die groen gedeelte, en het ‘n 270 grade uitsig oor die stad gehad. ongelukkig nie na die berg se klant toe nie. Maar, vandaar het ek vliegtuie die eerste keer weer begin sien wat inkom om op die lughawe te land. En so geweet dat ons uiteindelik, na sewe maande se vaskeer in die land, huis toe kon kom …
Dit is juis die poandemie wat my van oorsee gaan bly en reis afgesit het. En nou weet ek nie meer of ek steeds so voel nie …
Dit lyk na ‘n pragtige stad. Ek, wat nie sneeu gewoond is nie, sal beslis so ‘n plek van naderby wou sien (om te besoek, nie te bly nie …ek’s te lief vir sonskyn 🌞).
LikeLiked by 1 person
Julle kan gerus soontoe gaan. Ons geld is daar baie werd, dus kry jy waarde vir jou geld.
LikeLiked by 1 person
Dis ñ pragtige foto wat wys waar julle woonstel was. En die berge in die agtergrond!👏
LikeLiked by 1 person
Dit was lieflike dae al was ons ingehok al die pad
LikeLiked by 1 person