Gepubliseer in Joernaal

Drie hartsbome

By die rivbier staan drie bome wat my na aan die hart lê, miskien omdat ek hulle stories beter as ander bome s’n ken.

Die boer by wie ons in 2002 gekoop het, het ons ingelig en mooi geleer. Die doringbome wat manlief wou hou, moes uit. Die blinkblaar wag-‘n-bietjies wat ons nie geken het nie, dit is die bome wat mens behou.

Mettertyd het ons verstaan waarom.

Skuins links voor die huis het ons twee pragtige, hoë doringbome behou – of altans links van waar die huis sou staan. Ons moes tot teen die rivier ontbos om wel ‘n huis te kon bou.

Die een doringboom staan steeds, maar so paar jaar gelede het die ander een geval – ek het daaroor geskryf, sal bietjie gaan soek. Ek het verstom gestaan voor die piepklein molshopie rondom sy wortels. Mens kan skaars sien dat ‘n masiewe boom daar gestaan het.

Maar, dit het met die afkomslag die wag-‘n-bietjie langs hom vermink. Die boom, wat ‘n V-vorm gehad het met twee stamme, basies in twee geskeur, met die een deel weggevee. Die wag-‘n-bietjie het egter die straf gevat – sy vorm is deur die jare verander, soos die een deel van die V ‘n boog vorm met takke wat van daar af hemelwaarts styg en boontoe neig.

1) Loyfboom, 2) kersfeesboom, 3) wag-‘n-bietjie en 4) al drie hartsbome
op een foto

Hierdie wag-‘n-bietjie is vir my ‘n bron van hoop. As die lewe druk en uitmekaar skeur en jou wortels is diep en vas en sterk kan die storms maar ko, jou selfs vermink, maar die hoop, geloof sal voortbestaan verseker. Soms wonder ek of ek so sterk sal wees as my ledemate ingee, en of ek net op ‘n hopie gaan sit en huil. Dan dink ek tog dat ek soos hierdie boompie die pas sal vat – omdat daar nog soveel rede oor is om te lag, al is jy vermink – as jou wortels sterk genoeg was.

Die tweede boompie is ‘n olyf wat seun en skoondogter een kersfees vir ons gegee het. ‘n Struik, dus het ons die reg voor die huis – tussen ons en die rivier geplant. Wel, ons olyf dra olywe, al is die storie dat’n alleenstaande een nie kan nie weens ‘n gebrek aan bevrugters van ‘n ander boom. Hulle is blykbaar manlik en vroulik? Ek moet tog daaroor gaan oplees. Die ding wat hierdie boom ‘n hartsboom maak, is dat dit toe nie ‘n struik was – of dalk wou wees nie? Dit is een groot boom wat in hoogte met die doringbome om hom begin kompeteer. En, dit staan sterk teen storms en vloede en winde – daardie wortelstelsel is ook goed gebou.

Dit laat my aan Noag in die ark en die takkie van ‘n olyfboom dink. Ek het altyd gewonder waarom die duif ‘n tak van ‘n olyf gebring het, dit is mos nie ‘n hoē boom nie? Gemeet teen die hoogte van die ander bome, staan ons olyf ‘n kans om ‘n hoē boom te word. Maar ek wonder tog. Het ander bome nie hoër gestaan nie? Dan dink ek hulle het dalk omgeval, ons olyf het geen skade tydens die vloed opgedoen toe dit meer as halflyf in die water gestaan het nie, ‘n Boom van krag?

Die laaste hartsboom is ons sipresagtige, dennebomerige kersfeesboom. Dit is een kersfees geplant en het mettertyd ook ‘n reus geword hier reg voor ons huis. Ons kan dit nie meer so hoog op versier nie, nou span ons maar liggies om die laer gedeelte – veral toe dollatjie nog hier kom kuier het. Dink nie sy sal ooit weer hier kom nie, ons verkoop en hulle het in die twee jaar wat hulle Kaap toe is, nog nie een keer as gesin kom kuier nie. Skoonseun bly ons as hy die week in die groot stad werk, dollatjie het twee keer op ons verjaarsdae kom kuier, een keer saam met jongste kleinkind. Ons sien hulle darem gereeld, want ons het mos huis by die see naby hulle gaan koop.

Waarom ek oor hierdie boompie wil skryf, is omdat ek en hy ook ‘n hartsgeskiedenis het. Die man wat ons gras gesny het toe hy ‘n baba was, het hom vermink deur die draad van die grassnyer om hom te draai, ‘n hele paar jong takkies is so gebreek en afgebuig dat die arme boompie ‘n naarheid was om te aanskou.

Toe koop ek swart kabelbinders en trek die takkies om die stam op en reg dat dit weer soos ‘n boompie lyk. ‘n Hele netwerk van kabels om die stam, baie van hulle het aanmekaar gehaak om die boom se stammetjies gestut te kry. Ek het ook al oor hierdie hartsboom geskryf. Ook dat van die takke in die binnekant verfrommel is en die binders in hulle ingedruk het soos wat die boompie groei.

Vandag kry ek ‘n verrassing toe ek weer inloer om foto’s vir hierdie skrywe te neem. Die binders kan amper nie meer gesien word nie, die takkies wat dit vasgehou het, buig nou lelik ondertoe, maar hulle het vergaan en kan nie aan die buitekant gesien word nie. Nuwe stammetjies het eerder gevorm wat die boom sy kenmerkende vorm gee.

Is dit nie wonderlik nie? So laat dit my weereens aan mense dink. Baie van ons word met kabels en krammetjies en dingetjies aan die binnekant aan mekaar gehou – wat medisynes insluit. Dit is juis dit wat maak dat die buitekant ongeskonde kan lyk. Laas het ek gewonder ooor die seer wat mense saamdra omdat hulle binnekant verfrommel is – nou dink ek dit is juis die verfrommelde binnekant wat help om die buitekant so mooi te hou.

Iets soos buig die boompie terwyl hy jonk is, geld nie heeltemal nie. Dit is eerder iets soos mak die seer reg voor die kind groot is om te sorg dat hy van buite ook mooi is om na te kyk.

My drie harstbome wat ek oor ‘n jaar gaan moet groet – want dan behoort die plek waarskynlik aan die nuwe eienaar – dit sal seker eerder twee jaar wees, die eerste stuk grond se transaksie het vir ewig geduur – meer as agt maande …

Daar is dus tog nog baie tyd om my hartsbome te geniet – dit is nou as ek gespaar word om dit te kan geniet.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Drie hartsbome

  1. Bome is na aan my hart en ek het hierdie stuk baie geniet. ‘n Blinkblaar wag-‘n-bietjie het jare lank net buite ons sitkamer venster besluit om te groei. Eers het ek dit afgesny, maar nou is dit nogal ‘n groot boom wat ek net snoei om seker te maak dat dit weg van die venster is. Dit is die beste vorm van ‘burglar guard’ ooit!

    Liked by 1 person

  2. Ek is baie lief vir bome. Wanneer ‘n mens so baie stap soos ons, waardeer jy die skadu van ‘n groot boom (of selfs ‘n ou kleintjie) baie op ‘n warm en stofferige pad. ‘n Olyfboom is so ‘n geharde boom wat nie sommer doodgaan nie – ons het so baie in Malta gesien waar dit ontsettend warm word in die somer en hulle gedy in daardie Meditereense klimaat. Jou bome is pragtig en dis heerlik om elkeen se storie te lees.

    Liked by 1 person

  3. Ek het ‘n spesiale plek in my hart vir bome. Dis asof hulle met jou praat. Dan ook – bome vertel ook baie van jou as persoon. Jy weet dalk van die ‘menstekening’ wat hulle kindertjies vra om te teken en so kry jy ook die ‘boomtekening’ waaruit jy kan sien of daar enige ‘probleme’ is – natuurlik in konteks gesien. Bome is wonderlike goed en ons moet hulle beskerm en met respek hanteer.

    Liked by 1 person

      1. Hi Christa, Ja, dit gaan maar vreeslik dol die kant. Daar’s nou nog minder kans om net terug te sit. My kollega vir 2 weke nou siek en ek hanteer nou twee klasse van 34 kinders en dan het ons 3 aande na mekaar oueraand gehad, net een week se ‘besig’. Ek kry nou skaars tyd om rond te lees op blogs, ook vir ‘n kursus ingeskryf, so tyd gaan nou daarin ook moet gaan, juis vandag veral.

        Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Nikita Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.