Gepubliseer in Joernaal

Sonkrag = ‘n noodsaaklikheid

Ons land is in sy kanon in, daar is geen manier waarop ek glo dat dit beter sal word nie. Altans nie wat die voorsiening van krag betref nie.

So drie maande gelede stel manlief voor dat ons in sonkrag belê. Dit het eers na ‘n onnodige uitgawe by hierdie huis gevoel, dalk eerder by die see. Want daar is ons kameras gereeld af, kan ons nie sien wat aangaan nie – weens beurtkrag.

Hier kry ons nie beurtkrag nie, ons is op ‘n lyn wat nie afgeskakel mag word nie. Dit was juis ons groot oorweging om presies hier te koop. Maar, ons is onderworpe aan diefstal van kabels.

So een keer per maand is ons tot 26 uur per dag sonder krag terwyl hulle soek waar die kabels beskadig is. En dit is baie, baie sleg, dalk selfs slegter as om beurtkrag te kry. Ons weet nie wanneer nie en ook nie hoe lank ons sonder krag gaan wees nie. Waaghalsige diewe, nulle steel terwyl krag aan is …

Met beurtkrag weet jy ten minste wanneer jy nie gaan krag hê nie, kan jy daaromheen beplan. Ons kan nie. As jy weer sien, is jy kragloos, en gons dit in die WhatsApp-groepe oor wanneer die krag weer sal aankom. Ek dink almal wat my ken, weet dat ek nie van sulke onsekerheid hou nie. Ek het al meer as een keer ontevrede hier gebrom oor ons kraglose staat weens diefstal.

Dus het ek saamgestem, ons moet in beurtkrag belê, daar is nie ‘n ander oplossing nie.

En toe word die kabels nie gesteel nie. Vir drie of vier maande lank het ons elke dag heeldag krag. Maar ons bespaar geweldig baie. Selfs al gaan die kragpryse teen ‘n geweldige spoed op. Ons het mos reeds begin bespaar met ‘n gasstoof, sommer helfte minder krag as voorheen omdat ketel ook daarop kook.

Dinsdagoggend, toe ek die gasstoof wil aanskakel, gebeur niks.

Ek kliek eers teen die derde probeerslag dat daar geen vlammetjie is nie. Toets met die vuuraansteker, daar is gas. Ons is kragloos – kabels weer gesteel.

Dit is ‘n heerlike sonskyndag en die sonpanele laai die battery ook sommer goed vol. Iewers in die nag het die batterye ook afgeskakel, hulle beskerm hulself deur op 20% te stop. Die son het egter skaars sy kop uitgesteek, toe werk alles weer soos dit moet. Sonder Eskom se hulp.

Woensdag kom bediende werk, sy het geen verskoning soos gewoonlik as ons kabels gesteel is nie. Alles werk, selfs wasmasjien en strykyster. Iewers in die middag kom Eskom aan, maar ons besef dit eers toe ek die stoof met die aansteker wil aansit, en dit vanself vlam maak.

Net dit was reeds genoeg bewys dat ons die panele moes laat opsit. Ek kon werk, manlief kon vergaderings hou. Ons kon sonder om baie kwaad te word ons werk doen. Of is dit eerder sonder om magteloos te voel?

Vanoggend staan ek vroeg op om koffie te maak, manlief se kantoordag en hy ry al voor vyf. Net soos ek sal hy baie doen en opoffer om nie in die verkeer vas te sit nie. Wanneer die res van die personeel opdaag, is hy al vier ure aan die gang. My eie werkolis.

Die stoof reageer weereens nie, die gas is weereens nie klaar nie – ons kabel is weereens gesteel. Hierdie keer gaan ek egter sag werk met die battery. En die panele. Ek gaan die batterye op die muureenheid dophou, dit moenie in die dag al krag verskaf nie. Daar is sonkrag om te gebruik – en dit moet gelaai word, ek het geen idee wanneer Eskom weer gemuit het nie.

Stel ek sonkrag voor?

Ja, beslis. selfs al kry julle nie beurtkrag nie. Tans is ons in ‘n magtelose posisie. Die munisipale werkers staak, hulle intimideer werkers wat wil werk. Daarom kan dit selfs langer duur voordat kabels herstel kan word.

Dit is duur, ‘n groot uitgawe. Maar, as mens reg soek en die regte mense kontak, kan jy dit teen ‘n goeie prys opgesit kry. Ons het vir ‘n goeie stelsel R120 000 betaal. Ons bespaar so R1500 per maand, dus gaan dit lank duur voordat ons die kapitale uitleg kan regverdig.

Maar, ons is nie kragloos as ons kabels gesteel word nie. En dit maak op vir die groot uitgawe wat ons aangegaan het.

Twee keer kragloos in een week vir ‘n dag of meer is nie ‘n grap nie …

Inteendeel, ek sou voorheen self wou gaan help soek om die kabeldiewe te vang. En te straf …

Ons bure – en die mense in ander komplekse – het ons skeef aangekyk oor die uitgawe. Selfs kommentaar gelewer oor hoe onnodig ons geld spandeer het. Vanoggend kyk ek so na hulle donker huise en dan wonder ek of hulle hulle kritiek onthou …

As die battery saans afloop, is hy soggens weer gou op die been, gereed om te dien. En so word my spanning verlig, sommer baie.

Ons grootste uitgawe is die geyser, wat ons ook mettertyd na gas gaan omskakel. Genoeg is genoeg! Ons kan nie bly betaal terwyl ander lustig steel om skatryk te word nie.

Hooffoto: Ons het nie so oorboord gegaan nie, slegs 8 panele met 1 battery. Dit is voldoende om selfs my wasmasjiene te gebruik. Alles het heerlik gewerk, yskaste, masjiene, ligte, TV, lugskoonmakers, Thermie. Alles. Dit was asof ons nie ‘n probleem net nie …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Sonkrag = ‘n noodsaaklikheid

  1. Omdat ons ‘n huis huur in Oos-Londen is dit natuurlik nie slim om sonpanele op te sit nie. Maar ons gasstofie help darem dat ons nie sonder kos en koffie sit nie … en dit lyk ook asof Eskom nie weet waar Oos-Londen is nie, want ons beurtkrag is baie min (sjuut, moet vir niemand sê nie 😉). Maar ons is beslis van plan om sonpanele by ons huis in Langebaan op te sit wanneer ons weer op lang termyn daar gaan bly.

    Liked by 1 person

  2. Selfs hier waar daar met tye, veral in winter, geen son is nie is die sonpanele die moeite werd. My kinders se vorige huis het panele gehad wat my seun self geinstalleer het. Dis die uitgaer werd op die lange duur. Op die oomblik het die huis hier net gas vir warm water. Later gaan daar beslis weer sonpanele opgesit word. Jul is bevoorreg om geen beurtkrag te hê nie. Hoe kry jul dit reg? Die steelery van kabels is ‘n euwel.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.