Gepubliseer in Joernaal

Roman versus hygroman

Jitte, ek dink ek is dalk van die enigste mense met ‘n ernstige mening hieroor, maar hygromans staan my nie aan nie.

Inteendeel, ek vind dit werklik afstootlik. My magneet trek nie die woorde aan nie, dit stoot dit weg.

So besluit ek onlangs om blogvriendin Elsabe se boek, Ryk Armgat, te lees, alhoewel ek die afgelope baie jare verskriklik min fiksie lees. My hart word getrek deur tegnologie – en hoe tegnologie gebruik kan word om ons lewens makliker te maak – en as ek daar klaar is, voel ‘n roman baie ver verwyderd van die werklikheid.

Ek besluit om die boek op Amazon aan te koop dat ek dit met behulp van die Kindle toep kan lees. Om dit reg te kry, moet ek vir Kindle Unlimited inteken.

Seker nie duur ($10 dus so amper R200) as mens gereeld gaan lees nie, maar ai, ek wou net een boek koop en lees. Dus loer ek eers na ander titels en besluit ek toe dat dit dalkies net die moeite werd gaan wees. Desember kan ek baie lees.

So van lees gepraat, ek wil mos by Libby aansluit. Dus is ek af na Stilbaai se biblioteek om aan te sluit, want jy moet lid van ‘n biblioteek wees.

Eerste poging is mislukking, het ek die toestemmingsbriefie saamgebring, vra ‘n baie onbehulpsame vrou agter die toonbank. Watter ene? Wel, ek moet ‘n brief van iemand kry wat my soort van sal aanbeveel, of is dit nou eerder iemand wat bereid sal wees om pa te staan as ek boeke nie terugbring nie? En sy plak die brief toe eers voor my neer. Ek wip my, sit dit in my handsak en vergeet so half daarvan, tot ek my dogter die volgende keer op pad na Silbaai vra om vir haar ma pa te staan.

Tweede poging misluk toe ook. Ek is opgewonde in die sousende reën weer in die biblioteek in. Kan ek nou my kaart kry? Sy kyk my aan asof ek van my sinne beroof is. Nee, hulle is besig om te digitaliseer. Tans lees hulle verlede jaar (Julie 2022) se aansoeke in. Ek kyk haar verstom aan, as hulle een jaar agter is, kan ek die kaart eers volgende jaar (2024) verwag? Sy plak ‘n besigheidskaartjie grootte papier in my hand, geen kaartnommer op nie. Ek kan dit solank gebruik …

Ek vra hoe ek gaan weet wanneer dit klaar is, en sy sê sy sal my bel. Dus verwag ek die kaart nou eers in 2025. As dit ‘n jaar vat om in te lees, gaan dit seker net so lank vat om te kontak. Teen 2025 stel ek waarskynlik nie eens meer belang om my voete in daardie biblioteek te sit nie.

Stilbaai is ‘n piepklein dorpie, daar is onmoontlik soveel mense dat dit so lank kan vat om ‘n mens se besonderhede in te lees. Ek sidder in elk geval oor naverkoopdiens as die aanvanklike diens so pateties is. Sal ek my stelling liewer versag na onbehulpsaam, onbedagsaam, onvriendelik en nie-verwelkomend?

Ek het die goed daar gelos, ek moet net weet presies hoe swak die diens is. Ek hou daarvan om tydrame dop te hou.

Of doen ek? Nee, ek doen nie! Maar daarvan sal ek dalk een van die dae vertel. Nou is ek te ontstig.

Terug by Amazon se Kindle Unlimited.

Wat ‘n fees!

Ek is heeltemal bereid om die geld te betaal, Amazon se diens is van die beste in die wêreld. Ek kan enige tyd lidmaatskap onttrek, sonder enige straf van enige kant af.

Daar is verskeie Afrikaanse boeke beskikbaar, ek dink naby aan 300. Haastig soos ek is, kyk ek na titels. Trek dit my aan, is dit met die druk van ‘n knoppie in my biblioteek, op my iPad. Dalk moet ek maar net eers na die beskrywings ook gekyk het.

Ek het eers Elsabe se pragtige boek gelees, sy speel op ‘n interessante manier met woorde. Ek kan dit aanbeveel, heerlike ontspannende leesstof.

En toe is ek so half in die net gevang.

Hoopvol maak ek die tweede boek oop, om ‘n boek vol spel- en tikfoute te begin lees. Ek vermoed dit is vertaal – swak vertaal. Na ‘n paar bladsye maak ek toe, al is dit moontlik dat die storie my kan intrek. Maar, dan weet ek ook nie. Toe ek die flappie lees, besef ek dat die boek dalk geweld in het, mn-teen-sy-eie-vrou, iets waarvoor ek nie kans sien om te lees nie. Dus haal ek die boek uit my biblioteek en gaan gradeer ek dit ook sommer. Met kommentaar – swak vertaalwerk, kontak my gerus deur Amazon as jy hulp nodig het. Sowaar, ek sal help, net om nie weer deur die pynlike lees te gaan nie.

Ek weet, ek maak dikwels foute wanneer ek hier tik, maar, ek bied my joernaal nie te koop aan nie. Wanneer dit te koop aangebied word, moet dit reg wees.

Die volgende boek is net so ‘n teleurstelling, maar soveel intenser. Dit is ‘n hygroman, wat my na die eerste platvloerse woorde laat neersit. Nou ja toe, as ek die flappie gelees het, sou ek nie gelees het nie. Die meisie het seks met haar vriendin se pa – iets wat vir my op alle vlakke verkeerd is.

Is dit dan waaroor hygromans gaan? Om mens te skok, aan jou siel te karring. Die hemel weet, ek het nooit eens daaraan gedink dat my dollatjie se maatjies se pa’s met haar sou lol nie – maar veral nie dat ‘n kind die ou man uitlok nie. Nee wat, daarvoor sien ek nie kans nie.

Toe lees ek maar eers ‘n paar titels vir kinders. En geniet ek dit so dat ek die naweek weer ‘n boek sal waag. Hierdie keer het ek mooi geleer, lees die flappie, lees die eerste bladsy of twee en dan eers laai jy dit na jou iPad af.

Ek wil ‘n boek geniet, my inleef daarin. Ek wil nie voel of ek ‘n koekeloerder is wat ander afkyk terwyl hulle seks het nie.

Maar, ‘n roman sal ek weer lees.

Dus, dankie Elsabe, jy het my oortuig om tog maar Unlimited te gaan. Dalk lees ek een van die dae Engelse romans ook.

***

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek het niks teen mense wat van hygromans en geweldadige stories hou nie. Elkeen het seker maar ‘n verdraagsaamheiddrempel. Of ‘n waardedrempel? Wat vir die een wonderlike ontvlugting is, is vir die ander een afstootlike woorde. Soos ‘n magneet se twee pole, dieselfde teks kan deur een magneet weggestoot word en aangetrek word deur ‘n volgende magneet.

My magneet stoot weg wat ek onvanpas bevind, ek wil nie verder lees nie. Soos met Die Verevrou, dit het my oo verskeie vlakkse so gewlg dat ek doodeenvoudig nie kon klaar maak nie. Genade tog, hoe dankbaar is ek nie dat ek nie die juffrou was wat dit aan kinders moes verkoop om matriek te slaag nie.

Hulle sou volgens my beter af wees as hulle nie gelees het nie.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “Roman versus hygroman

  1. Weereens baie dankie vir ‘n goed beredeneerde skrywe oor boeke. Ja-nee, as mens boeke deesdae op digitale platforms gaan soek moet mens soms maar die koring van die kaf skei en so ver moontlik die stofomslag en enige ander vooruitskouings en ressensies wat beskikbaar is lees voor mens die boek aankoop of lees. Ek was nog nie op Amazon nie, maar het al op Smashwords en Wattpad gaan inloer. Almal publiseer self hulle boeke daar en daar is nie altyd ‘n goeie keurder of taalversorger om bietjie te kyk wat skrywers plaas nie. Sterkte vir jou en geniet die boekereis saam met Kindle. Ons biblioteekdienste is maar orals power, veral munisipale biblioteke.

    Liked by 1 person

  2. Ek het n bib kaartjie…maar die biblioteek hier het toe gemaak met die pandemie en sommer toe gebly. So sukkel ek kort kort met Libby maar dit lyk nie of ons gou met mekaar kennis gaan maak nie

    Liked by 1 person

  3. Ja Libby, so het ek aanlyn aangesluit sonder om fisies biblioteek toe te gaan, Gauteng Provinsionale en Johannesburg biblioteke. Van Maandag af is Gauteng Provinsionale biblioteek skielik nie meer beskikbaar nie (daar was nogal baie Afrikaanse boeke), hulle is volgens my kontak nie meer deel van Overdrive nie, sommer so sonder rede. Dalk het hulle nie die subskripsie betaal nie. Sterkte om in Centurion ‘n biblioteek te kry wat ook op Libby beskikbaar is

    Liked by 1 person

  4. Ek is baie lief vir lees … en hou daarvan om die boek fisies in my hand te hou wanneer ek lees. So, dis sleg om te hoor dat biblioteke nie meer op standaard is nie. In Langebaan is die biblioteek nog heel oraait – dis klein, maar my ma kry gereeld nuwe boeke daar om te lees (en die mense wat daar werk is darem vriendelik ook 😉). Die enigste ding wat pla is dat dit toe is gedurende “load shedding”, so mens moet mooi beplan (soos alle dinge maar is met “load shedding). Ek het ‘n goeie tweedehandse boekwinkel in Oos-Londen opgespoor (daar is selfs nuwe boeke), maar Afrikaanse boeke is min. Ek sal dalk ook maar die Amazon roete moet probeer …

    Liked by 1 person

    1. Ek hou ook daarvan om die boek in die hand te hê. Te voel hoe ek na die einde beweeg, bladsy vir bladsy. Dit is nie dieselfde op die toep nie, maar, ek los so ‘n ander probleem op. Ek kan nie boeke weggooi nie. Wegmaak ook nie … dus moet ek maar liewer so lees.

      Liked by 1 person

      1. O ja, dis ook my probleem … ek gooi glad nie boeke weg nie. Maar ek kon myself darem al so ver kry om van my boeke vir die biblioteek te gee (hulle het ‘n gedeelte waar hulle die boeke vir letterlik onder R10 dan weer verkoop). Maar ek het groot plastiek houers vol van ons boeke … ek haal hulle darem so nou en dan uit om weer te lees.

        Liked by 1 person

  5. Ek het nou hierdie inligting oor Amazon baie waardeer. In ons dorp en op die buurdorp is daar groot, groooot tweedehandse boekwinkels: Books for Africa. Daar kry ek my boeke teen R30 – R80. Teen die tempo waarteen ek lees, is dit ‘n wonderlike voorreg om soontoe te mag gaan. Hulle ruil ook boeke uit. Al my oortollige boeke is soontoe.
    Dan behoort ek ook aan ‘n uitruil en verkoop boekgroep. Hulle plaas boeke op d groep en jy kan koop of ruil. Ook teen R30! Boeke in uitstekende toestand.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op wetanddustyroads Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.