Gepubliseer in Joernaal

My pragtige tandarts en my verjaarsdag

Ek was eers hoofsaaklik by manlike tandartse, en toe ontdek ek Chantelle. Ek gaan nie haar van verskaf nie, maar sal wel as jy vir verlang.

Chantelle is ‘n pragtige blonde vrou met die vriendelikste oë en deernis vir mense soos ek wat al ‘n helige vrees vir tandartse ontwikkel het. Sy het byvoorbeeld my tand vandag gestop, sonder enige pynverdowing, want dit het reeds ‘n wortelkanaalbehandeling gehad.

Die tand het so twee weke gelede gebreek, en dit is tydelik gestop. Toe val die stopsel sowaar Saterdag uit. Daar is nie ‘n nooddiens nie, dus moes ek tot vandag (Woensdag) wag om weer ‘n afspraak te kry.

Natuurlik kan ek na ‘n ander tandarts gaan, maar as ek een gekry het wat my gemaklik maak en uitstekende werk doen, bly ek net daar by haar. Wag ek maar sonder die een tand vir die afspraak.

Ek moet dit laat kroon. Hoop ek sal beter met die kroon lyk as wat Charles se Camilla met ‘n kroon op haar kop lyk. Siestog, ek is sehker so bietjie lelik met daardie stelling – ek sukkel net om te aanvaar dat ‘n vrou ‘n man kan afvry en in so mate vergewe kan word dat sy nou as “koningin” aangespreek word. Nie my land, nie my koningin …

Ek het egter sommer so bietjie vir die pret afgedwaal. Die kroon gaan inderdaad goed wees, sy is al so twee jaar lank my tandarts. Ek wil nie hê datdit soos ‘n kroon uitstaan nie – dit moet eerder baie goed inpas by wat ek reeds in my mond het …

Dus sou ek sommer skryf, dit is so lekker om tandarts toe te gaan, nie seergemaak te word nie en rustig by die huis te kom – sonder ‘n mod wat morsdood gespuit is.

Het jy geweet dat hulle krone nou in een dag maak? Jy gaan die oggend in, die voorafwerk word gedoen en die middag kom jy terug dat die kroon geplak word. Of is dit nou vasgemaak? Ek ken nie die terme nie.

Ek weet net dat ek hierdie jong vrou vir almal sal aanbeveel.

Veral omdat hulle bekostigbaar is, ek nie wag om gehelp te word nie – hulle maak hulle afspraakboeke nie oorvol nie. En dan word ek nog geselsend en vrolik gehelp om weer te wil glimlag.

***

Ons het Sondag dominee se preek op facebook gevolg, ek het geweier om tandloos te gaan. Ons dominee hou daarvan om my te terg, en dit sou hy Sondag doen omdat hy moes afkondig dat dit my verjaarsdag is die week – juis vandag.

Chantelle het sommer ook geluk gewens toe ek vertel dat ek nie wou kerk toe gaan nie – tandloos gaan ek nie lag nie …

Môre kan ek met tydelike tand glimlag as my gesin saam met my uiteet.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “My pragtige tandarts en my verjaarsdag

  1. Jy het dus gister verjaar? Baie geluk Christa – mag dit ‘n geseende jaar vir jou wees (ek weet die jaar het sleg afgeskop, maar mens kan net hoop op beter dae, ne) 🎉. Ek het lekker gelag vir jou oor Camilla se kroon storie … ek wonder hoe voel die Britte regtig oor hulle nuwe koningin? Ek’s bly jy het ‘n oulike tandarts (ek dink ek sou ook van ‘n vroulike tandarts gehou het).

    Liked by 1 person

        1. Ek het self sulke gedagtes, miskien maar omdat mens nie regtig vat kan kry aan ‘n vrou wat mans afvry nie. Maak nie saak waarom hy in die eerste plek met Diana getroud was nie. Vir my is sodanige verskonings bloot bewys van sy lamsakkigheid. Hy is kastig so ‘n groot filantroop, maar ek sien nie dat hy sy weelde uitdeel nie. net dat hy ons ander kritiseer wat dalk kan waag om meer as party ander mense te hê

          Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.