Donderdagaande eet die kinders by ons. En dan mag oupa en ouma kleinseun by die skool gaan haal. Ons geniet die ekstar alleen kuier so baie.
Sodra hy my sien, los hy alles, al het hy hoe lekker gespeel. En kom het met My Ouma aangehardloop. Ek voel so bietjie sleg, die ander kleintjies “hallo tannie” my, maar ek het net oë en ore vir ons mannetjie.
So stap hy saam dat ons sy medisyne gaan haal. Eintlik voor my uit na die regte vertrek toe. Buk by die regte hokkie af, haal die regte lêer uit en wys na ‘n naam bokant syne. Noem sy naam, dit is die medisyne wat ek moet soek.
Ek wys hom waar sy naampue staan, en soek deur die medisyne. Syne is netjies gemerk met sy naampie op. Ons sit dit in die tassie en weg is ons.
By die kar klim hy met:
“Hallo my oupa” in die kar, wat oupa se hart sommer dadelik laat smelt. En dan vra hy:
“Het jy my kossies gemaak?”
Ek gee die kosblikkie aan en hy maak die drie deurtjies een vir een oop om sy persente te sien – koekies, chippies en ‘n suigstokkie.
Hy sien iewers in die ry sy pakkie Smarties op die voorste sitplek raak en vra daarvoor. Dit is gekoop op pad na hom toe, hy het verlede week daarvoor gevra.
Ek sit altyd vyf in ‘n bakkie, nie die hele pakkie nie. Maar nou ja, ek gaan nie stry nie. Dit is syne. Buitendien, ek weet, hy proe hier en daar, eet ‘n paar. Hy is nie so groot op lekkers nie, ek gee bloot ‘n keuse, waarvan ek die meeste weer ongemerk kan bêre vir volgende keer.
Ons speel lekker, kyk stories … en ons gunsteling is een wat ons nie eintlik mag kyk nie. Cocomelon. Ek gaan nog navorsing oor die storie doen, ek stem nie saam met die redes nie. Google is ‘n verpestelike soekenjin wat oningeligtes se menings vir die waarheid aanbied. Waarskynlik nog teen betaling van maatskappye wat nie met Cocomelon kan meeding nie.
Iedergeval, ek is mal oor Cocomelon. Ons kyk en gesels oor wat alles in die storie gebeur. En dit is so lekker dat hy saamgesels en my nie stilmaak dat hy kan kyk nie. Ons leer so baie saam terwyl ons kyk – sien, dit is waarom ek navorsing daaroor gaan moet doen!
Hy het die hele middag vol laggies gespeel.
En toe …
… bid oupa as hy wil bid.
Ek het mos al vertel hoe oulik hy Vir Die Kossies wat Ons Eet bid.
Wel, ons geniet dit verskriklik baie om die kind dan dop te hou. Soms wieg hy, soms bid hy vinnig, soms rek hy dit vreeslik baie uit – ek kan ongelukkig nie my oë dan toemaak nie. Syne is styf toegekyp en hy leef in die oomblik.
Kosbaar.
Dit was net een te veel vir sy hartjie en hy het een massiewe vloermoer daaroor gegooi. Dit het nog net twee keer gebeur as ons twee alleen is, en elke keer het ek nie geweet hoe ons die saak gaan beredder nie.
Sy mamma is met hom badkamer toe, nie vir pak nie, vir wegneem uit die situasie. Hy het baie hard geskree, iewers ook geskop. Toe trek sy sy skoene uit, wat hom baie ontstel het.
Ek het iewers gedink hy roep Ouma en gaan kyk. Om weggejaag te word.
“Gaan weg, Ouma!”
Toe loop ek liewer.
Later is hulle in die kamer en dit klink of hy pappa roep.
Pappa word ook weggewys.
Hy kom terug met baba soek ouma.
Nou kyk, ek was maar versigtig om weer te gaan en weer weggejaag te word, veral omdat die vloermoer dan erger word en nie beter nie.
Maar, hy lê uitgestrek op die bed en so hartseer dat ek invlieg en hom in my arms optel en styf teen my bors vashou. Die koppie op my skouer en die snikke te veel vir hierdie ouma se hart wat hom nog net twee leer so ontsteld in my huis gesien het.
Ek gesels met hom, vra of sy hartjie seer is. En hy snik harder, ja dit is.
Ek vra toe hy rustiger asem haal en minder snik: waarom?
Mamma is die vark in die verhaal, sy het sy skoene uitgetrek.
Ek vra waarom?
Hy sê want hy het geskop.
Ek sê dit is waarom mamma uitgetrek het, oupa gaan baie kwaai wees as hy die stortdeur breek as hy dit skop.
Hy snik net weer, maar hy verstaan.
Later dra ek hom tafel toe, hy voel beter, maar hy wil nie dat ek met hom gaan sit nie.
Ek dra verder, en hy vra later dat ek hom terugvat, hy wil op sy stoel sit.
En so land ons twee weer aan die etenstafel, en gesels hy later weer saam.
Dit is moeilik om ‘n driejarige te wees met ‘n breintjie wat emosies nog nie so vinnig soos getalle en woorde en syfers kan beheer nie.
Tog het hy die emosionele intelligensie wat baie mense begeer.
Ai, gelukkig gaan die vloermoere ook verby. Mens moet net nie te veel aandag daaraan gee nie.
LikeLiked by 1 person
Ag Aletta, ek kry so jammer dat ek net wil troos.
LikeLike
Ek verstaan dit al te goed. Ek ook😊
LikeLiked by 1 person
Saam met so ‘n vloermoer kom daar gewoonlik baie trane … en dan is hulle ou hartjies vreeslik seer. Ai tog, grootword is nie altyd maklik nie 😌.
LikeLiked by 1 person
Vreeslik hoor, breekbaar seer. Ek wil net vasj=hou en troos.
LikeLiked by 1 person
Ai… kan nou ook nie help om te glimlag nie. So normaal. Maar ‘n leerskool vir hom. Siestog.
LikeLiked by 1 person
Dit is so, is ‘n leerskool, maar ek wil net troos en sommer jammer sê, tot hy bedaar.
LikeLiked by 1 person
Ons oumas kry so vinnig jammer en dan bly dit bitter moeilik om te moet wegstap. Ag toggie.
LikeLiked by 1 person
Ag is dit nie, vriendin.
LikeLiked by 1 person
Dit is ‘n kosbare vertelling. Eendag gaan hy heerlik lees aan hierdie skryfstuk. Ouma het die saak mooi hanteer. Dis so lekker om hulle ontwikkeling met hulle te deel.
LikeLiked by 1 person
Oe, San, jy weet dan!
LikeLike
Hierdie skrywes is kosbaar verby
LikeLiked by 1 person
Dankie, vriendin, ek geniet dit so en wil graag eendag onthou wanneer ek begin vergeet.
LikeLike