Gepubliseer in Joernaal

‘n Barbie-pienk oefenhemp

Saterdag is ons winkels toe, ek soek ‘n nuwe oefenhemp. Myne word elke keer gim toe gedra en manlief en die kinders dra elke keer ander hemde – en broeke.

Ek is doodtevrede met my broek, maar dalk moet ek maar ‘n tweede oefenhemp oorweeg. Ek hou niks van t-hemp materiaal hemde nie, ek verkies die soort wat nie kreukel nie en waarop sweet ook nie eintlik wys nie.

Al sweet ek nie eintlik nie, al oefen ek hoe hard.

Decathlon se hemde is nie vir my reg nie, dus besluit ek om eerder Sportmans te besoek. Buitendien, daar kry ek 10% of meer afslag, afhangende daarvan of ek my oefendoelwitte bereik wat Discovery vir my stel.

Daar gekom, is die hemde werklik baie duurder as wat ek verwag het. Ek is nie van plan om meer as R500 vir een te betaal nie, wat al klaar te duur na my smaak is omdat ek self klere maak en weet dat dit dagligrowery is om sulke pryse te vra.

Op die rak by die deur is afgemerkte hemde, en die een is my grootte, ook ‘n maak wat ek weet wat pas. OTG. Maar, die hemp is Barbie pienk, pienk soos wat sy van pienk hou. Helder en opsigtelik. En mooi. Maar, ‘n kleur wat ek eintlik glad nie sal dra nie. Teen R399 is dit ‘n winskopie, minder as wat ek sou wou betaal.

Maar, daar heers op die oomblik Barbie-koors na die bekendstelling van die eerste Barbie fliek. En raai, ek hou van Barbie. Sy is een jaar jonger as ek, en my dogter het Barbies gekry as ek dit kan bekostig. Ek het ook vir haar ‘n tas vol klere gekoop en gemaak. Alhoewel ek van die pop hou en daarvan gehou het as my dogter met haar speel, wil ek nie soos sy aantrek nie. Sy hou van aandag trek. Ek verkies om nie ui te staan as ek in ‘n vertrek instap nie.

Onder normale omstandighede sou ek dadelik gekoop en gedra het, dit is wat ek kan bekostig en basta. My keuse sal net moet werk.

Nou pla die Barbie koors my, veral omdat my seun my kan spot oor die Barbie hemp by sy ma, wat nie ‘n Barbie is nie. Dan lees ek ook iewers dat dit juis Barbie se verkooptegniek is, daar is op die oomblik allerhande soorte Barbies wat haar na elke mens toe bring – andersheid en al. Dus het ek drem verweer, maar is daar ‘n baie ouer Barbie?

Ek het deur die winkel gesoek, maar ander kleure hemde kon ek nie kry wat aan al my vereistes voldoen nie. Lank en oor my boude, styfpassend en toe tot by nek dat ek kan buk sonder om uit te stal. Lang moue, styfpassend, ek verpes los klere, dit laat my dink ek kan maar eet en eet, daar is plek vir baie groei.

Dus is ek uit die winkel met my hemp wat Barbie se bewondering sal verkry.

Dit is ook aangetrek vir vanaand se gimsessie by Planet Fitness, maar ek gaan eers my baadjie bo-oor dra en net so bietjie ooprits, om te kyk watse reaksie dit ontlont.

Ek glo ek sal dit later met gemak dra, tans dra die vrouens ligte kleure om hulle in-die-boud-intrek-broeke te help om die boude nog meer te beklemtoon. My pienk gaan dus aandag trek, daaraan twyfel ek nie.

Dus vertel ek maar hier dat ek wonder of ek nonsies aangejaag het om die pienk juis nou te koop?

Foto: Dit is die hempie, die pienk is werklik besonders.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “‘n Barbie-pienk oefenhemp

  1. Ek hou nie veel van pienk nie, maar het wraggies ‘n pienk stap hempie gekoop toe ons die Portugese Camino gaan stap het … omdat dit ook die enigste hempie was wat lekker gepas het. Maar ek’s mos stroom-op, as daar ‘n gier is (soos nou met Barbie), sal ek wye draaie loop en verseg om enige pienk te koop! Tog, ek is seker jy lyk mooi in jou pienk hempie 🌸.

    Liked by 1 person

    1. Ek is ook stroomop, giere staan my nie aan nie. Maar sjoe, ek voel spesiaal mooi in my pienker as pienk hempie. Ek het nie erg aan pienk nie, my dogter se kamer was rooi en nie oienk nie. Tog het ek my he,pie gisteraand gedra, met ‘n swart baadjie oor – dit was vrekkoud, maar sou dit gedoen het al was dit warm. Mense kyk nie …

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.