Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkindpret: Ons maak kos

Kleinkind help blykbaar tuis kos maak. Hierdie ouma verkies dat hy by my sit en ‘n storie op my iPad kyk terwyl ek by stowe en met masjiene werk.

So maak ek Donderdagaand witsous – ‘n pepersous. Ek mag nie melk drink nie, eet vir jare en jare nie rys nie. Want, dit proe alle ekke na niks, behalwe as daar sous op is. En sous maak vet, ek eet liewer nie beide nie. So kry ek laktose weerstandigheid en word ek vrywilliglik verplig om geen souse te eet nie. Ek maak ook nie sous nie, daaron vereet manlief hom as ons uiteet aan dik lae souse. En so maak ek Donderdagaand wel sous.

Toe ek die Maizena uit die kas haal en die melk in ‘n koppie gooi, wil kleinseun saamspeel. Eers gooi ek vir hom Maizena in ‘n kleinbordjie, maar dan moet daar melk bykom … en water … en nog Maizena. Half ongeduldig as ek inskep:

“Nog ouma, nog!”

Ek haal toe ‘n klein mengbakkie uit die kas, stort sy mengsel liewer daarin. Terwyl ek met bestanddele werk, moet dit ook in sy mengsel in. Ek gebruik sy woordeskat om te noem:

Mushrooms, slaaibare, meel, melk, water, tamatie, komkommer, Maizena, uie, sout, peperkorrels, Weber se Chilli brousel (moet dit nie proe as jy nie ‘n baie sterk tong het nie, myne was morsdood en seer na ‘n proe en het lank gesukkel om weer te proe).

Hy loer in my koskas en vra nog meer: rys. Ek dink dit is die lysie.

Toe ek vra wat alles in sy brousel is, kon hy alles noem – al kon mens net tamatie en slaaiblare en sampioene in die wit mengsel sien. Ek is super beïndruk oor hoe hy dink en noem … ‘n ellenage lysie vir ‘n 3-jarige.

Wanneer ek meer meel of melk bysit, moet sy mengsel ook kry. En dan roer hy dit.

Toe wil hy dit in die oond sit om te bak, maar dit kan nie in ouma se oond met die bak nie. Dus sit ek reënoog cup cake houers in die silikoon bak vir die koekies en sê hy moet inskep. Dit wil hy nie doen nie, hy roer eers nog lekker.

Ook toe ons in die TV-kamer gaan sit dat ons kan rus voor pappa en mamma kom saam eet, roer hy nog steeds.

Daar begin hy die lepel so effens weg van die bak hou om te mors, en ouma sê net nee, oor die bak. Die mengsel kan nie op my baie ligte mat land nie.

Ek weet, wie het nog matte in hulle huise en dan nog baie ligtes ook? Ter verdediging het ons so gekoop, en so baie van ons huis gehou dat die matte ‘n bysaak was. Gaan een of ander tyd vervang met regte hout – verstaan jy waarom dit moet wag? Die skip moet inkom.

En, ek het ‘n Kirby wat die matte baie mooi skoon was. Dus is ek nog nie daar waar ek smeek vir matte uit nie …

Toe wil hy my daarmee spat, maar hy vra eers mooi:

“Kan ek ouma spat?”

Aanvaar ook ‘n besliste nee.

En toe speel die lagkabouter op my skouer (ek wil nie duiwel sê nie, hy moet van my skouer en ore wegbly).

“Proe?”

Hy weier volstrek.

“Ag proe toe?”

Hy verduidelik vir my dat hy vir oupa ‘n happy bday koek bak en dat oupa moet proe.

Toe ek weer vra, is die antwoord beslis:

“Proe jy, Ouma!”

Ek het nie geproe nie, daardie chilli brand was skaars weg.

Moenie bekommerd wees nie, ek het geweet hy gaan nie proe nie. Sou selfs gekeer het as hy sou wou proe.

Hoe het ek geweet?

Mamma het so rukkie terug vertel dat hy so ‘n brousel gemaak het, oor meer as een dag. Sy dink dit was vier dae lank. En toe daag sy hom uit om te proe!

Hierdie ouma sou nie, die goed kon kieme en goed gekry het. Hierdie mengsel kon selfs gevrot het as dit so lank gestaan het.

Hy het geproe, ‘n gesig getrek en gespoeg!

Nou ja toe, ek wil liewer nie eens dink wat hy daardie dag geproe het nie. Want ek weet nie wat alles in sy brousel was nie.

Ek het net geweet: Ons mannetjie leer baie, baie vinnig.

Proe gaan hy nie proe nie …

Sy mondjie gaan nie soos ouma s’n brand nie.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Kleinkindpret: Ons maak kos

  1. O toggie, daardie proe storie. Beatrix is juffrou Fiemies, sy wil kastig proe maar raak skaars met haar tong se punt of sy “It’s yucky!” Daardie woord wou net nie afgeleer kom nie. Amelia sal proe en meestal daarvan hou. Amelia is ook drie en kan ook hele lysies met bestanddele onthou. Ook prentjies wat sy eenmaal gesien het en naam gehoor het bly haar by.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.