Gepubliseer in Joernaal

Ek lag en manlief vloek … as hy met kos help

Ons is die naweek by die rivier, en manlief het vir twee baie prettige oomblikke gesorg.

Ons het met min goed teruggetrek na die oorstroming, bietjie messe en vurke, borde en koppies, glase. Min, want ons verkoop ook, en lus vir gaan soek in die stoor na goed is net nie daar nie. Ook net met ons eie bed, sal wel res intrek as die kinders sou aandui dat hulle saamkom. Hulle het nog nie.

Gisteraand maak ek pap. En los die vurk in die pot om te roer. Baie dom van my, want, toe ek dit met duim en wysvinger vasvat brand dit baie seer. Ek los dadelik, kry vadoek in laai en so roer ek die pap met die vurk, los hom steeds daarin. Ek het mos my les geleer ….

Ek sit op die stoep en brei. Manlief gaan in, beskuldig my dat ek nie die pap geroer het nie, en die volgende oomblik hoor ek twee baie groot vloekwoorde.

En ek weet, hy het die vurk vasgevat.

En ek skree soos ek lag.

Hy is vies, sê hy het sy vingers verbrand.

Ek sê ek weet, daar is geen ander rede waarom hy so sou vloek nadat hy my beskuldig het dat ek nie geroer het nie. Ek het ook geroer, my vingers ook gebrand. Nie gevloek nie.

Toe ek weer wil roer, moes ek nuwe vurk kry. Daardie een lê in die wasbak. Nie gegooi nie, neergesit. My manlief het sowaar dit tot daar gedra en toe eers neergesit.

Ek bewonder sy uithouvermoë. Siestog, geen wonder hy het so gevloek nie.

Later die aand wil hy hê ek moet die sous wat hy gekoop het warm maak. Die blikkie is van daardie oulike soort met die ringetjie bo. Daardie soort waarvan ek dit so maklik regkry om die ringetjie af te breek sonder om die blikkie oop te kry.

En so gebeur dit ook so, ek breek af en gaan vra buite dat hy asseblief vir my oopmaak. Hy vra waarmee, en ek sê met mes, dit behoort nie so moeilik te wees soos met ‘n blikkie sonder die oopmaak ring nie.

Hy is weer in en toe hoor ek weer ‘n vloek.

Ek vlieg in en hy staan by die tafel. Blikkie effens oop, sy warm baadjei die ene tamatie en uite en wat ookal anders in die blikkie is gespat.

Hy is badkamer toe om met toiletpapier te probeer skoonmaak, en sy bril lê op die kassie.

Julle, en ek kan mos oor sulke goed lag as die skrik eers wys dat ek onnodig geskrik het. Die bril is ook vol spatsels tamatie en uie.

Hoe hy dit reggekry het, weet ek wraggies nie. Dalk bietjie te hard op die oorvol blikkie se losserige deksel gekap?

Ek het glad nie oor die skoonmaak gekla nie, die pret waat daarmee saam gegaan het, is te groot. Ek het heerlik gelag.

Terloops, nie een van ons twee het blase nie. Kan dit die koue se hulp wees?

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Ek lag en manlief vloek … as hy met kos help

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.