Gepubliseer in Joernaal

Spokery, of iemand gaafs?

Die afgelope ruk gebeur onverklaarbare goed in ons huis. Ek het al vertel van die WhatsApp-boodskappe, waarvan die premtjie wat ook aan sommige van my kontakte gestuur is, wat my effens laat ril het.

Ek en manlief het mos die aand ‘n getikkery op my tekenaar gehoor en verder geslaap, dit was mos nie ons nie. Wel, die volgende oggend is boodskappe daardie tyd vanaf my WA nommer na mense gestuur. En moes ek laat weet dit was nie ek nie.

Die prentjie lyk asof dit van my foon gestuur is, die ander boodskappe is boodskappe van ander mense wat na sommige van my vriende en vreemdes aangestuur is. Weirdo boodskappe.

Ek het nog nie vertel dat ek en die woewe twee weke gelede alleen tuis was toe manlief in die buiteland was nie. Ons was pas terug van Stilbaai, waar ek Shilo moes laat uitsit weens sy kanker. ‘n Besluit wat steeds by my spook omdat hy nog wou lewe.

Die betrokke aand hoor ek iets in die huis val, met twee keueses. Of ek wag en word in my kamer oorval, want ek sien mos altyd die slegste scenario al woon ek in ‘n veilige landgoed. Of ek staan op, sit ligte aan en gaan stel ondersoek in.

Ek was net ooruig dat alles reg is, alle deure is steeds toe, toe ek sien dat Shilo se rooi leiband op die grond onder die ophangplek by die deur na die garage. Net syne, nie die twee ander s’n nie. Die snaakse geluid wat ek gehoor het, was die yster klampie van die leiband wat die grond getref het.

Ek was koud geskrik, waarom Shilo se bandjie. Maar ek het myself oortuig dat ek daaraan moes geskuif het toe ek sy ander leiband en sy harnas vir seun gegee het om vir sy hondjie, wat Shilo se boeta is, te gebruik. Juis daardie aand, dalk het die bandjie net stadig afgeskuif en toe geval?

Ek kon nie help om te wonder of dit Shilo se gees was, en of hy ongelukkig is omdat ek sy harnas weggegee het nie. Ek weet dit is vergesog …

Maar, gister hoor ek hoe ons swart drom na ons huis teruggestoot word. En neem eers aan dit is die bure wat hulle s’n gaan haal het. Ons tuinier is twee weke met verlof, en nou moet ons die houers self afvat en terugbring na ons huise.

Toe ek later gaan stap, staan ons s’n voor ons hek. Netjies soos ek dit wil hê, nie teen die deur nie. Sodat ek die hekkie kan oopmaak en dit intrek.

Ons het ses eenhede, nommer 1-3 aan die oorkant van die oprit en nommer 4-6 aan ons kant. Nommer 1 iis oorkant nommer 6, aangesien dit so van 1-3 (heel bo in die cul-de-sac) en 4-6 (onder by straat) genommer is.

Die tannie oorkant my is 80 jaar oud, nuwe intrekker, sien haar nooit. Sy sou dit nie vir my gebring het nie, sy maak nie vriende nie. Inteendeel, sy bly in haar huis weggesteek. Ek en mommer 2 groet mekaar, maar sy werk lang ure in laboratoriums. Sy is nie smiddae tuis nie.

Nommer 1 of 6 se inwoners sal tog nie myne na bo stoot nie – dit is ‘n stywe opdraende. Dus neem ek aan dat buurvrou of haar man myne saam met hulle s’n opgebring het.

Weereens is manlief in ander land, dus gesels ons per foon. Hy vra of ek die swart drom gaan haal het, en ek sê buurvrou het myne saam met hare opgebring. Ek het wel die moddag gaan kyk watter dromme nog onder staan, en dit was nommer 5 (buurvrou) en nommer 2 se dromme. Ek het egter aangeneem sy het twee, want ons het ook ‘n ou, lelike ene vir tuinrommel.

Manlief sê ek moet bedank, en ek dog eers ek gaan nie, want ek is nie seker nie. Tog stuur ek die WhatsApp om half geaffronteerd geantwoord te word dat dit nie sy (of hy) was nie, sy het haar drom eers vanoggend gan haal.

En nou moet ek verduidelik. Buurman en buurvrou is baie deftig, en maak elke keer seker dat ons almal dit by vergaderings weet. Alhoewel ons kant van die oprit se huise eenders lyk, is hulle s’n andersom as ons s’n. Dus is ons twee huise se hoofslaapkamers se mure teen mekaar. Ons het die laaste een, dus het ons tuin aan die ander kant en ekstra parkeerplek vir die gholfkarretjie en sy waentjie, wat hulle nie het mie. Hulle garage is teen nommer 6 se garage.

Maar, hulle het voordat ons gekom het hulle plek opgegradeer, dit het blykbaar ‘n jaar gevat. Hulle gaan Desember blykbaar Amerika toe, en sou anvanklik nie verkoop nie. Maar nou gaan hulle. En ons moes in die vergadering verlede week hoor dat hulle plek se “finishing” so goed is, dat hulle die plek vir R5 miljoen in die mark gesit het.

Hy het my ook in ‘n vorige vergadering laat vesrtaan dat hy ‘n belangrike besigheidsman is, met baie werkers.

Dus kan ek nogal verstaan dat sy geaffronteerd voel dat ek – ‘n pleppie in hulle oē, so wraggies kan dink dat sy haar hande sal vuil maak om my swart drom vir my terug te stoot na my huis, al is ons hekkies waar ons die dromme by ons agterdeure bêre, reg langs mekaar.

En om eerlik te wees, ek sou ook nie hare of enige van die ander dromme opgestoot het nie. Hoe kon ek so simpel wees?

Ek dink ek het aangeneem dat hulle twee uitgesit het, en toe per ongeluk myne opgebring het. Maar ek weet nou ook nie mooi hoe ek gedink het nie.

Feit is, iemand het my drom vir my opgebring. En dit kon nie een van my ander bure gewees het nie.

En … sy wil weet wie myne vir my gebring het. Toe spin ek sommer storie dat ek dink dit is tuinier van lamgsaan, ek betaal hom gereeld om my in tuin te help. Ek betaal nie die kompleks se tuinier ekstra nie, want hy werk stadig en half juis om ekstra te werk en betaal te word. Dit, is nie hoe mens werk nie.

Ek het egter gehoor toe die wieletjies opgestoot word. Volgende keer hol ek uit om te gaan kyk wie my drom vir my boontoe bring.

Dit was baie lekkerder om te dink dit is gawe bure as om nie te weet wie dit vir my sou bring nie.

Iewers in my kop wil ek dink dat dit tog die tannie oorkant my is wat haar bediende aansê om beide te bring. Ons het al gesels en sy hou van my, maar ek sien haar nooit nie. Dit sou beslis ook nie haar kinders wees wat dit vir my bring as hulle kom kuier nie.

Ek sien egter nie kans om weer op bure se “fancy” tone te trap as dit nie hulle is wat my gehelp het nie.

En, as ek nou so daaraan dink, wil ek ook nie hê dat iemand in die moeilikheid kom by fancy pants omdat myne en nie hare opgebring is nie …

Oplossing: Volgende keer gaan ek luister, hardloop en hopenlik my weldoener op heter daad betrap.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Spokery, of iemand gaafs?

Lewer kommentaar op elsabeskryf Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.