Gepubliseer in Joernaal

Die afspraak: 14 Junie 2023 om 12H30

Ek het vier dae gelede die afspraak gaan maak. Woensdag om 11h30 het ek en manlief Shilo vir die laaste keer na ‘n veearts geneem.

En my hart is stukkend. Volgens hom is kanker seer, al huil Shilo nie. Dus het ons hom geneem vir ‘n beoordeling. En sy beoordeling was, sonder om my woefkind te ondersoek, dat dit die beste besluit vir Shilo was.

Die arme, arme woefkind.

Ons het die vorige aand en voor die afspraak strand toe gevat om te groet. Die vorige aand vies vir ons self dat nie een van ons ‘n foon saamgevat het nie.

Toe ek langs Shilo op die strand gaan sit, het hy geskuifel tot styf teen my been. En sy pootjies op my bene gesit. Dit het gevoel of hy my probeer laat verstaan dat hy nog nie reg is nie. Of dalkies wou hy my juis laat verstaan dat dit ‘n heerlike afskeid is?

So op die strand? Sy lagbekkie plek?

Woensdagoggend het hy nie vir my gekyk nie. Maar vir sy menspappa, en ons het so gehuil oor die besluit wat ons geneem het.

Ons het Shilo hier begrawe waar ons wil kom aftree. Hier waar hy ‘n ou lawwe hondjie kan wees, waar hy lagbekkie vir die see gekyk het die vorige kere. Waar hy die see geniet, al het hy dit net ‘n kort rukkie beleef. Waar hy op die sand sit en sy bekkie lag.

En waar ‘n stuk van my hart gaan agterbly.

Vir altyd my Shilo.

Spesiale foto’s

Bo: Sy ernstige gesiggie kan ek op enige plek herken. Die dag toe ek en hy die eerste keer veearts toe is, wat nie fout kon kry nie. Toe is daar vir my gesê dat hulle hom nie gaan uitsit nie, dit is beseerde beentjie. En nou?

Onder: Na ‘n skeer, waar hy die lappie om die nek gekry het, moes hy altyd eers die bome merk. By hierdie huis is hy gebore en het hy sy eerste 7 jaar deurgebring. So slaap net Shilo, met sy voorpote oor sy ogies. Die ander twee slaap nie so nie. Hy doen dit veral as ons nog TV kyk en hy wil slapies.

Rus in vrede my woefkind. Ek hoop jy sal my eendag kan vergewe. Nie ek of jy was gereed vir die laaste groet nie.

Hooffoto: Shiles het niks van water gehou nie, maar sou enige iets doen om naby my te wees. As dit nou op ‘n plank was, dan was hy bang-tevrede.

NS: Moet asseblief nie vir my skryf dat dit die beste was nie, ek is nog nie gereed om dit te hoor nie …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “Die afspraak: 14 Junie 2023 om 12H30

    1. Ek waardeer die empatie so baie vriendin, jy sal net nie weet hoeveel nie. Ek weet nie waarom ek sulke besluite moes maak nie. En ek weet nie in my hart of dit ooit die regte besluit was nie. Maar, die veeartse en mense om my het my mal gemaak, hulle het aanhou pleit dat ek hom “bevry” asof ek hom gemartel het.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.