Ek het probeer, regtig ek het. Ek het reeds vertel dat ek binne die eerste hoofstuk besluit het om nie verder te luister nie.
Ook dat ek sal kom verder vertel as ek wel verder luister.
Wel, met niks anders om in die kar te doen of te luister nie, het ek verder na die voorlesing van die boek geluister. Ons het so teen drie-uur uit Pretoria vertrek, dus het die son eers naby Kronnstad genoeg lig gemaak dat ek kon brei. In die donker kon ek wel na die voorlesing luister.
Lnag stukke van die pad kon ek net nie verder luister nie. Dus het ek eerder gebrei. Ek brei vir myself ‘n trui. ‘n Interessante eie skepping, alles op ronde breinaalde gedoen, dus het die trui nie ‘n voor- en agterpant nie, ek het dit tot onder die arms as een silo gebrei. Self uitgedink hoe, ek sal nog deel en vertel. En ‘n foto van die trui deel.
Ons is mos Sondag Bloem toe en terug Colesberg toe, en toe het ek ook stuk-stuk geluister en gebrei, stuk-stuk eerder gebrei as om te luister.
En gisternag is ons net voor elf uit Colesberg weg. Ek sal nog vertel waarom). Wat beteken het dat ek die 8 ure tot by ons huisie by die see nie kon brei nie, die son het eers opgekom nadat ons 7 uur vanoggend hier aangekom het.
Ek het weer stuk-stuk geluister, om nie aan die slaap te raak nie. Want ons is op ‘n baie verkeerde tyd van die nag op pad. Ek sal nog vertel.
Stuk-stuk het ek nie geluister nie, eerder net daarop gefokus om wakker te bly.
Maar, toe ek hier op my bed kom lê om te probeer slaap, sukkel en weer luister, het ek die besluit geneem.
Tot en met hoostuk 58 (uit 81) het ek geluister, hier halt geroep. Hierna kan ek doodeenvoudig net nie verder luister nie.
Die grafiese beskrywings van seks, marteling en doodslag het te veel vir my geword.
Ek trek ‘n Sewe dae by die Silbersteins (Etiene Leroux( en Komas uit ‘n bamboesstok (D.J. Opperman) op hierdie boek. Dit gaan nie verder gelees word nie, ek is klaar daarmee.
Ek het as kuise tiener Tukkies betree. Teen my derde jaar het ek steeds niks van seks geweet nie, ook geen behoefte daaraan gehad nie. Dit is goed wat saam met ‘n huwelik kom, ek was ‘n sorgvrye student. Ek het nie die kras woorde geken nie (Komas uit ‘n bamboesstok) en ook nie ‘n behoefte gehad om oor wille partytjies (orgies as ek reg onthou) te lees nie. Dit het my vuil laat voel. Dom ook omdat my maats die titel komas aan my probeer verduidelik het. En ek, matriek Biologie agter die blad, steeds nie die titel verstaan het nie …
So het ek my Afrikaans 1-3 geslaag met die kennis wat ek in die aantekeninge opgebou het, self sou ek die twee boeke nie lees nie.
En hier staan ek nou met Die Verevrou.
Ek neem aan daar is aantekeninge oor die boek, dit was ‘n voorgeskrewe boek vir sommige van die land se leerders (ek hoop matriekvlak en nie jonger nie), ek het dit nie gelees nie. Die onafhanklike eksamen se leerders, dus matriek?
Ek het mos vertel dat ek reeds in die eerste hoofstuk afgesit is. Wel by hoofstuk 58 het ek halt geroep. Ek weet, dit klink ver, maar daar is meer as 80 hoofstukke. Ek WIL NIE WEET wat verder gebeur nie.
Volgens een van die onderwysers wat op my vraag oor die boek geantwoord het, is dit ‘n baie goeie boek met lewenslesse. Ander is van mening dat hulle nie daarvan gehou het om dit met kinders te behandel nie.
Wel, as Sewe dae en Komas my afgesit het om ‘n boek te lees, is hulle mak lammetjies teen wat in Die Verevrou te vertelle is:
Daar is grafiese en eksplisiete beskrywings van:
- seksuele dade, onder andere op ‘n kameel in die woestyn, met ‘n verminkte soldaat wie se neus, ore, tong en geslagdele afgesny is tydens die oorlog in Algerië, tussen twee vrouens, waarvan die een lesbies is en die ander een mans ook vry. Al die vrouens is of ongetroud, of getroud en besig met ander mans. Nie hulle eie nie. Daar is ook ongeoorloofde liefde oor die kleurgrense van daardie tyd heen.
- ‘n “pa” wat sy dogtertjie (7) se volstruis voor haar oë verskeie kere skiet oor jaloesie (sy vrou en ander man), en al die ou kuikentjies ook. Die pa het ook veroorsaak dat sy dogter bykans verkool het toe hy jaloers was.
- ‘n pa wat sy seun se beeld verwoes voor sy oë en die anderskleurige meisie op wie hy verlief is. ‘n Meisie wie se ma haar laat verstaan het dat dit haar skuld gaan wees as die man en sy tronk toe gestuur word. ‘n Matriekmeisie wat dan eerder skelm aborteer as om haar ma te vertel.
- ‘n meisie wat sien hoe haar pa voor haar oë met sy fiets onder ‘n trekker se wiele beland. Die enigste pa in die boek wat darem vir sy kinders se welstand omgee.
- oorlogvergrype, soos marteling van vrouens, doodskiet van swanger vrou om haar te red van wat soldate met haar wil doen (baba eers uitsny en vir haar wys of seun of dogtertjie is voor sy vermoor word), afsny van dele van ‘n mens se lyf sonder om maar dood te maak, vrou wat vol gate gesteek word waarna volstruisvere in die gate gedruk is om haar soos volstruis te laat lyk en net so te los om te bly lewe, afsny van soldate se koppe op die hawe en wat hulle daarmee doen.
- ‘n werker wat dros en dan terugkeer na die plaas om almal te vermoor, baie, baie erg te vermink, selfs hulle diere.
- ‘n meisie wat moet aborteer en dan daarin soek na die “dermpie” dat sy dit kan begrawe. In haar huisie.
Skok op skok op skok. Net as mens weer gerus gestel is dat dit verby is.
Die hoofkarakter is vir my ongeloofwaardig, tog dink ek ek het verder geluister om te probeer uitvind wat met haar fout is dat haar pa aan haar gesny wil hê, maar die ma weier. Om in hoofstuk 57 of 58 agter te kom wat ek op ‘n stadium begin vermoed het – dat dit met haar geslagsorgaan te doen het. Omdat daar niks oor haar uiterlike geskryf was waaraan gesny moet word nie.
Ek wil nie verder luister nie. Het verskeie kere naarheid in my voel opstoot, maar ek moes wakker bly en het verder geluister.
Elke keer het ek geglo dat dit die ergste is, dat niks ergers verder kan gebeur nie omdat die hoofkarakter springlewendig is. Oud, maar springlewendig.
Die storie speel tussen verskillende tydlyne af, ook met verskillende karakters, dus moet mens kophou om te volg.
Maar ek roep halt:
Meer kan ek nie.
Ek wil nie weet wat verder gebeur het nie, ek wil nie weet wat van haar of die ander karakters geword het nie.
Wat ek eerder wil weet, is waaroam matrieks hieraan blootgestel moes word.
Lewenslesse? Ek het hard probeer dink of ek enige lewenslesse kon raaklees, ek kon nie. Die enigste lewensles wat ek daaruit kry, is dat die boeke wat vir matrieks voorgeskryf word, deur mense uitgekies moet word wat onskuldige kinders nie aan sulke detail sal blootstel nie.
My swaer (man se broer) het een keer gespot en gesê dat ek ‘n storie nie kon kyk nie omdat dit nie vir sensitiewe kykers bedoel is nie. Toe was ek kwaad, nou stel ek dit sommer namens die man:
Ek vermoed ek is wel ‘n sensitiewe lewer/kyker, daarom sal ek graag wil weet:
Dink jy skoolkinders – hoe seksueel betrokke ookal – moet aan hierdie details blootgestel word?
As ek die fliek moes kyk, as daar een is, sou ek nie maklik weer geslaap het nie. My brein is gelukkig nie ‘n prentjie brein nie, maar, dit het my aan stukke bly herinner, wat ek liewerste wil vergeet.
Ek voel siek en naar en vuil.
Dit is nie ‘n boek vir kinders nie.
Ek kan die boek nie vir grootmense aanbeveel nie, wat nog te sê van kinders.
As ‘n boek my nie kan inspireer, help om ander beter te verstaan, of vul met ‘n gevoel van vreugde of diepe empatie nie, wil ek dit nie lees nie. Dit is asof die meer vulgere, wrede of kontroversiële voorop gestel word, sodat verkoopsyfers kan styg. Dankie vir die inligting. Ek sou so ‘n boek nie in een van my eie kinders of kleinkinders of my eie boekrak wou sien nie.
LikeLiked by 1 person
Dit is skrikwekkend aaklig, ek kan my nie voorstel dat iemand gedink het dit moet ‘n voorgeskrewe boek wees nie. Ek sou geweier het om dit met my matrieks te doen. Dankie, ek stem. As ek lees of luister wil ek meegevoer word, nie afgeskrik word nie.
LikeLiked by 1 person
Dis beslis nie ‘n boek wat ek sou wou lees nie! Beslis ook nie vir kinders of enige iemand nie!
LikeLiked by 2 people
Ai vriendin, baie dankie, dit is ‘n baie aaklige ervaring, ek sukkel met alles wat ek moes hoor.
LikeLiked by 1 person
Ek verstaan dit maar te goed. ook jare gelede so ‘n tipe boek gelees en dit pla my nog steeds.
LikeLiked by 1 person
Ons leef in ‘n wrede Suid-Afrika, ek wil nie sulke goed in diepte lees nie. Pla my baie.
LikeLike
My ook!
LikeLiked by 1 person
Sjoe, ek het amper moeilik gelees net aan hoe jy verskillende dele van die boek hier bespreek het. Ek sal dit beslis nie lees nie. Maar nou wonder ek … wat maak jy as jou kind op skool hierdie boek MOET lees as deel van ‘n vak. Ek’s bly ek is nie in daardie bootjie nie. En ek wonder ook waarom dit so belangrik vir sekere skrywers is om hulle lesers te “skok” met wat hulle skryf?
LikeLiked by 1 person
Ek wonder ook, vriendin. Waarom? Soveel temas in een boek. Dik boek. En ek sou kapsie gemaak het, hoor. Ek wil eintlik steeds. Wil hê daar moet verduidelik word. Sou ook graag leerders se mening oor die boek wou meet.
LikeLiked by 1 person
En daar dog ek dis net die Amerikaners wat sulke drek aan hulle skoolkinders uitdeel…ek weet nie meer of daar enige “goed” in hierdie wêreld oor is nie. Hoekom is daar nie meer stemme wat opgaan teen dit nie?
LikeLiked by 1 person
Ek wil ook weet, Woordnoot en ek oorweeg om navorsing daaroor te doen oor die impak op kinders as hulle dit klaar gelees het. Volgens my kan mense wat op die grens is, maklik deur so iets beïnvloed word. My man was geskok toe ek hom vertel.
LikeLiked by 1 person
Dis absurd…ek sal deur die dak klim as ek n ma is en my matriek kind moet daai boek lees.
LikeLiked by 1 person
Ek ook, Woordnoot, en ek wil uitvind wie sulke goed aan kinders voorhou as Afrikaanse literatuur
LikeLiked by 1 person
As jy uitgevind het….dan begin ons n aksie. Ter wille van al 9 my kleinkids waarvan die oudste een amper in matriek is, sal ek riot. As ek net dink dat DJ wat sondag 16 geword het so iets moet lees raak ek groen. Hy is so morele jong sensitiewe siel. Sulke gemors sal sy psige bevark….jitte!
LikeLiked by 1 person
Ek stem, Woordnoot, ek stem. Ek sukkel om te vergeet wat ek gehoor het.
LikeLiked by 1 person
Dis skokkend op te veel vlakke. Hoe durf onderwysers sulke boeke kies? Wat van ons arme kinders? Watter tipe onderwyser gee so min om vir ‘n kind?
LikeLiked by 1 person
Dankie, vriendin, dankie. Dit wil ek ook weet. Toe ek op my onderwysergroep vra, het die een te vertelle dat ek moet ophou om met oogklappe deur die lewe te loop. Ek wil ‘n brief vir skoolhoofde skryf en vir hulle vra of hulle weet wat die kinders moes verduur. En vra hoe hulle dit kon toelaat? En die ouers. Waar is hulle?
LikeLike