Ek het eergister die skok van my lewe gekry. BB was weg en ek het dit seker ‘n uur later eers agtergekom! Hoe ver kan sy loop in een uur was my eerste kommernis.
Maar, laat ek by die begin begin. Ons bly in ‘n seshuiskompleks, met drie huise aan elke kant van die pad tussen die huise. Die huise aan die een kant het ‘n muur en hek/ke wat die huisies van die pad skei. Die huise aan die ander kant van die pad se voordeure is basies op straat. Nou nie heeltemal nie, mens het so wandelgangetjie na die voordeur, maar ja, daar is geen heining wat keer as my woewe by die voordeur uitgaan nie.
Aan die stoepkant is daar wel ‘n muur met geen hekke nie, maar wel ‘n hek na die voorkant langs die garage. Dus kan ek agter ooplos en hulle kan lekker in die tuin speel.
Ons moes vrywillig verplig die randstene om die voortuintjie verander. Nommer vyf het syne gedoen … en toe moes ons almal betaal om die plek weer dieselfde te maak. Vreemde redenasie, veral omdat almal se randstene anders gelyk het …
Iedergeval, so stap ek douvoordag by die voordeur uit om te kyk na die nuwe randstene. Maar veral na my idee van blomme in die tuin. Daar was sulke hen-met-kuikenagtige plantjies aan die voorkant – wat oor die randstene geval het. Ek het besluit om waterwys te word en al die woestuinrosies in die res van die tuin te gaan uithaal en juis daar te plant.
Om verskeie redes, maar hoofsaaklik omdat dit in die res van die tuin gesukkel het. En laaaang stele gemaak het om die son te soek. Want, die tuin het koeltes en ek hou van koeltes. Die voortuin is vol in die son. Langs ‘n warm plaveiselpad. Dit behoort daar te werk.
Ek het die nuwe plantjies bekyk. En ek was daarvan bewus dat een of meer van die woewe saam met my uit is.
Nadat ek die twee rytjies woestynplantjies bekyk het, is ek weer in. Maar nie voordat ek seker gemaak het dat die hondelyfies wat ek sien weer terug in die huis is nie. Ek het nie seker gemaak dat almal in die huis is nie!
Toe gaan sit ek op die bed om blogs te lees en kommentaar te gee of te beantwoord.
Hoe lank ek daar was, weet ek nie. Maar, dit moes meer as ‘n uur gewees het.
Toe staan ek op om vir Shilo sy pynmedikasie te gee. En om die vorige aand se wors wat oorgebly het in skyfies vir die drie woefkinders te sny en uit te deel.
Om agter te kom dat BB nie by my is nie.
Ek het deur die huis gevlieg. Oral gesoek waar sy kan wees. Maar, die huis is net so groot. En BB was nie in die huis nie.
BB was weg.
Ek het gevra dat manlief en ek met die gholfkarretjie ry om haar te soek. Maar, hy kon nie help nie, hy het vergaderings gehad.
Het ek BB aan die agterkant van ons komplekshuis gehoor? Dit sou beteken dat ek moes uit, af met die plaveiselpad, in die straat links draai en dadelik weer links in die volgende straat. Om haar te soek.
Aan daardie kant van ons kompleks is twee ander, groot komplekse. As BB daar in is, sou ek vinnig moes maak om haar te kry. Anders kan sy diep ingaan en by verskeie ander komplekshuise ingaan.
Toe vlieg ek in klere in, vergeet van grimering en harekam en vlieg ek uit, die plaveiselpaadjie af na die straat.
Buite gekom was wintie buurman se Ford weg, maar daar was darem geen teken dat hy BB kon raakry nie.
My moed het egter in my skoene gesak, BB was nie by die voordeur van een van die twee ander huisies nie.
BB was ook nie op ons paadjie nie.
Ek wou eers vir sekuriteit bel en vra dat almal uitkyk vir BB, maar sou dit help? My poplap raak doof en effens blind, sy gaan nie hoor as hulle haar roep nie.
Toe dink ek daaraan dat sy wel ‘n plaatjie met my nommer het, maar dit is aan haar harnas vas en nie om haar nekkie nie.
Ek, Christa, gaan haar self moet soek.
Waar weet ek nie!
Ek sou regs in die straat gedraai het, want ons het al so met haar gaan stap. Maar toe ek onder kom, besluit ek om eers links te soek.
Dalk was dit haar stemmetjie by die muur?
Toe ek links draai, sien ek ‘n grys bondeltjie aan die einde van die straat, wat by die sirkel om links om die hoek verdwyn. Om by nog ‘n ander kompleks in te gaan.
Was dit sy?
Die glimps van ‘n grys bondeltjie wat om die hoed verdwyn het? Wat ek kon mis as ek eers regs gekyk het?
Of was dit ‘n kat?
En was sy wel by die straat agter ons by een van die komplekse in?
Ek het die blok en ‘n half teen die spoed van weerlig afgehardloop, heeltemal vergete dat ek nie hardloop nie. Niks van hardloop hou nie.
Om onder by die plek te kom en geen BB te sien nie?
Was sy reguit aan na die hek wat oopstaan waar hulle die nuwe hondepark gebou het?
Of het sy wel by die kompleks ingegaan?
Ek het besluit om eers die kompleks te toets, want die hoek wat ek gesien het, het my laat dink dat die bondeltjie by die kompleks in is.
Toe ek instap, staan BB daar, ewe verbaas dat ek haar opgespoor het. Baie gelukkig dat ek haar optel en al die pad huis toe dra.
Sy was egter swaar, en ek het my pols die vorige aand lelik seergemaak.
Toe sit ek haar maar by die ingang by ons kompleks neer en stap sy ewe kordaat langs my. Asof dit so hoort. Asof ek nie met haar gaan stap sonder haar harnas en leiband nie.
Tuisgekom vertel ek manlief van die wonderwerk. Dat ek – soos in flieks – net betyds by die straat gekom het om te sien hoe sy ver onder in die straat by ‘n ander kompleks indraai.
Het sy ‘n raps gekry, wou manlief weet?
Nee, hoe kon ek haar raps?
Dit was my skuld. Ek het haar uitgesluit en sy het om die kompleks gestap om inkomplek te kry. Toe verdwaal die ou tannie so bietjie toe sy omdraai en draai links in plaas van regs.
Sy het moontlik by die voordeur gewag? Maar watter dame van haar statuur wag meer as ‘n uur as jy buite vergeet is?
Jy is reg as jy raai dat ek nou tel. Elke keer as ek hulle sien.
Een … twee … drie …
En dan kan ek ontspan.
Al my woefkinders is by my.
So bly jy het haar gekry!
LikeLiked by 1 person
Ek het my besimpeld geskrik vriendin. Dankie, ek is net so bly
LikeLike
Rk voeknook si as Bekkie, my voëltjie per ongeluk uitvlieg.
LikeLiked by 1 person
genugtig, dit is seker moeiliker om haar op te spoor?
LikeLike
Dis ‘n groot skrik want soos jy agter kon kom weet mens nie waar om te gaan soek nie. My een Schnauzer het saam met boerboel oor muur geklim en een aand nie teruggekom nie. Volgende oggend sit hy met ‘n gebreekte been voor die het. Dit was erg gewees.
LikeLiked by 1 person
Ai, vriendin, dit is erg. Kon julle hom red? Ek is so jammer vir my BB
LikeLike
Ja hy was ‘n kannie dood gewees. Been is in gips gesit. Eintlik meer gelyk of iemand hom geskop of met ‘n stok gemoker het. Daardie jare het mens mos nie die honde laar regmaak nie. Veral mannetjies het maar lekker rondgeloop, dis hoekom hy oor muur geklouter het. Hy het goed oud geword. Kon nie meer hoor of sien nie en ek moes hom verlos uit sy “elende”omdat hy langs mure moes loop om te weet waar hy gaan. BB sal nie sommer die onderonsie op haar eie vergeet nie.
LikeLiked by 1 person
Ag shamepies. Nee, sy sal nie.
LikeLiked by 1 person
Baie bly jy het haar gekry! Sjoe!
LikeLiked by 1 person
Ek ook, ek het so grooooot geskrik. Dink ek is nou 80 jaar ouer.
LikeLiked by 1 person
Dit is ń groot skrik as jou diertjie weg raak. Ons miniatuur hasies het so verdwyn, toe het ń kat hulle oor die ses voet muur gedra. Bly jy het BB gekry
LikeLiked by 1 person
Goeie aarde, ek het nie geweet katte eet hasies nie. Dit is baie erg.
LikeLike