Gepubliseer in Joernaal

En skielik is die stemmetjie vir lang tydperke nie hier nie …

En ek mis hom baie …. sy stemmetjie, sy maniertjies, sy menswees. Kleinseun was die afgelope jaar en ‘n half nie net ‘n intense deel van drie dae van my daaglikse bestaan nie. Hy was ook die afgelope vakansie vir twee weke lank elke dag deel van my vakansie.

En nou is sy stemmetjie stil in my huis.

Hulle het die vierde begin terugry huis toe, doen dit oor twee dae want dit is baie ver vir ‘n baba om 15 ure lank in ‘n kar te sit. En kleinseun kan ‘n keelgat opsit as hy ongelukkig is, dus moet seun en skoondogter die rit mooi beplan. So na as moontlik aan sy slapietyd. Dat hy groot stukke van die pad kan slaap. Met stoppe om hom en die woewe moeg te maak …

Ons het eers die 7de huis toe gekom, om een baie onaangename verrassing te kry. Daarvan sal ek het ek al vertel. Aangesien hulle nie hierdie week – soos gewoonlik – op Dinsdae by ons kom eet nie, gaan ek hom waarskynlik vir meer as twee weke glad nie sien nie.

Hulle gaan van nous af Donderdae by ons eet. Hierdie Dinsdag was nog te moeilik, hulle was nie seker hoe kleinseun in die kleuterskool gaan aanpas nie. Hy het Maandag by die skool begin.

Hy mag ook blykbaar nie by die skool afgehaal word nie omdat hy die meeste van die dae voldag by die skool gaan wees. Wat impliseer dat ons baba lekker moeg gaan wees wanneer hy Donderdae by my aankom.

Gister kry ek die boodskap dat hy goed by die skool ingepas het, die juffrou kon nie glo dat dit sy eerste dag by ‘n skool was nie. En ook ‘n bedanking van skoondogter, sy weet hoeveel ek ingesit het om hom gereed te kry om so lank weg van sy ma en pa te wees. Ons het ook skool gespeel, baie stories gekyk en bietjie te veel Engels geleer.

Soveel so dat hy Engels makliker as Afrikaans praat en grootmens gesprekke voer. Ek was verstom oor hoeveel die kind geleer het deur sy stories te kyk. En het al daarvan vertel.

Ons het ook speletjies op my iPad gespeel om die breintjie te ontwikkel. Ek wil nog ‘n video of twee van sy talente – of vinnige leer – deel. Het dit spesiaal so geneem dat mens net babahandjies sien en nie sy gesiggie nie.

Ek mis sy geselskap al vandat hulle die see verlaat het. Al was hy die vakansie baie vreemd met my. Ons twee het wel drie dae heerlik op die strand gespeel, ons twee en oupa. Soveel anders as wat ek van die vakansie verwag het, wat my natuurlik behoort te leer om nie weer my eie idees te koester oor hoe ‘n vakansie gaan wees nie.

Iedergeval, dit was heerlik met hom op die strand. Ek het vergeet dat ek skaam is en my romp en bloes uitgetrek om in my vol baaipak in die see te staan saam met hom. dan het ons oor golfies gespring, sandkastele gebou en is ek opdrag gegee om skulpies te gaan soek om sy kasteel te versier.

Sulke gevalle moes oupa mooi kyk, want die mannetjie het ook spoed ontwikkel die vakansie. Hy hardloop sandduine op en af asof hy dit nog altyd doen. Het selfs sy pappa die skrik op die lyf gejaag toe hy teen ‘n steil een af is. En pappa moes sukkel om by te hou om hom in te haal en te vang.

Want, hy weet nog nie dat golwe hom seer kan maak nie. En ons wil nie dat hy dit leer voordat hy groot genoeg is om op te staan en aan te gaan nie. Anders gaan seevakansies sleg wees as hy vir die golwe bang is.

Hy moet versigtig wees, maar nie bang nie.

En nou het ek hom meer as ‘n week gelede gesien. En treur ek oor die skielike min sien. Ek het gedink dat ek hom Dinsdae by die skool kan gaan haal dat hy eers by my speel voordat sy ouers van die werk af kom.

Toe nie.

Ek wens eintlik ek het dit sommer van die begin af geweet.

Dan het ek beter gereed gemaak vir die lang tye wat ek hom nie gaan sien nie. Nou voel dit soos iets wat my ontneem word. Oumatyd saam met kleinkind.

Goeie genugtig!

Ek bewonder kleuterskooljuffrouens dat hulle ‘n klas vol kleintjies voldag wil oppas. Ek wass teen twee-uur op na ‘n skooldag met tieners. Ek sou die kleintjies met graagte saam met ‘n ouma of oupa huis toe stuur. Om self te rus en asem te skep vir die volgende dag. Aangesien ek self ‘n onderwyseres was, weet ek dat hulle nie 4 uur of 5 uur huis toe gaan om te rus nie, hulle moet vir die volgende dag beplan.

Ek het nie kans gesien om my skoolkinders van half agt tot vyfuur besig te hou nie. Hulle was wel woeliger want hulle was graad 11’s en 12’s. Maar steeds. Ek was op na die skool op, gedaan, moeg en dan moes ek nog vir die volgende dag en dae gereed maak.

Iedergeval, ek wou skryf dat ek die ou stemmetjie mis.

Die speel.

Die opdragte om goed te doen.

Sommer als.

Lekker skoolgaan, kleinkind, jy gaan ‘n groot sukses daarvan maak. Ek vermoed jy is ver bo jou jare ontwikkel, gaan soms so bietjie sukkel met jou ouderdomsgroep wat minder verstaan as jy. Maar, dan weet ek ook dat jy empatie het, dat vriende vir jou belangrik is en dat jy groot maats gaan maak.

Soos jou pappa op skool gemaak het.

Vriende vir altyd, dit is nie almal beskore nie.

Intussen sukkel ek om aan die oorverdowende stilte in die huis gewoond te raak. Terwyk kleinseun baie maatjies maak, ek kon hom omkoop om reg te maak om te gaan stap as ek gesê het dat ons by maatjies gaan speel …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “En skielik is die stemmetjie vir lang tydperke nie hier nie …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.