Ek is kwaad, hartseer, alles in een. My jongste Miniatuur Schnauzer is ernstig beseer en ek weer nie hoe of wanneer nie. Laat ek dan probeer om dit uit te klaar.
Ek en manlief was die laaste deel van die vakansie meer uit die huis as binne. En in die week is Shilo ernstig beseer.
Hoe kom ek by daardie slotsom uit?
Ek het die een middag by die huis gekom en hulle geroep om op die stoep te eet. Want al die woewe moes buite slaap omdat mense by my kom bly het met groot skaaphonde. Daar was altesaam 8 honde in die erf – vier Miniatuur Schnauzers en vier skaaphonde. My drie Schnauzers, seun se een wat VV se kind is, seun se skaaphond, sy skoonsuster se twee rescue skaaphonde en sy skoonma se een rescue skaaphond.
Dus – ses grootmense, een kleinkind en agt honde in die erf. Meer honde as mense. Manlief het voet neergesit – al die honde slaap buite. Is heel dag buite. Myne ook.
Ek het ingestem dat die honde buite moes slaap, dus moes my kinders ook buite slaap.
Ek weet! Dit is my huis en my honde. Hulle mag dan mos in my huis wees en die ander buite?
Wel, dit is nie so eenvoudig nie.
Twee van die honde is seun s’n. Dus wou ek nie drama veroorsaak as myne mag in wees nie.
Wens ek het die drama by die horings gepak.
Want dan het ek presies geweet wanneer my kind so seer gekry het.
Ek neem aan dit was tussen die 1ste en die 3de Januarie, maar my geheue laat my in die steek omdat ek net nie kan onthou watter dag wat gebeur het nie.
Shilo wou skielik nie meer die trappe uitklim nie, hy het gekerm dat ek moet help. Waarom het ek nie bekommerd geraak nie? Hy was dan al baie saam met ons by die see en hy het die trappe maklik op en af geklim.
Ek het gelag, hom gaan optel en op gedra, al is hy swaar. Neergesit en toe weier hy om in die huis in te stap. Hy het gebewe soos ‘n riet, en ek het aangeneem dat iets moes gebeur het dat hy nie in die huis wil inkom nie. Maar ek het getroos en gepaai en hy is uiteindelik bewend agter my aan. Die huis in om kossies te gee.
In hierdie tyd het hy elke dag vreeslik gebewe, so erg dat ek gedink het dat hy koud kry en vir hom – en sommer die ander Schnauzers ook – hulle jassies aangetrek het. Hoe moes ek weet dat hy van pyn bewe?
Ek kan nie onthou dat hy moeilik geloop het nie!
Ons was die 4de tot die 7de alleen by die see. En hulle was die hele tyd by my in die huis. Tog het ek niks vreemd gesien nie, behalwe dat Shilo nie die trappies op of af wou klim nie.
Terug by die huis het ek ‘n vrot yskas gekry en al my aandag was by die skoonmaak van die gemors. Ek was siek van sinus en hooikoors en het nie gesien dat Shilo moeilik loop nie.
Teen die Vrydag het hy so moeilik geloop dat ek met hom na Highveld Dierekliniek toe is, ek dink sy been is beseer, hy weier om daarop te trap.
Die jong veearts het niks op die x-strale gesien nie en my met pynmedikasie huis toe gestuur. As hy teen Maandag steeds moeilik loop, moet ek teruggaan vir x-strale onder narkose.
Sondag besluit ek om hom na Family Vet dierekliniek toe te vat. Die veerarts aan diens kry ook geen fout op die x-strale nie, maar die heup en die knie lyk so effens uit hulle potjies. As hy na ‘n week steeds moeilik loop, moet ek vir opvolg x-strale teruggaan. Maandag bel sy om te hoor hoe dit gaan en herinner my daaraan dat ek na ‘n week moet teruggaan vir x-strale.
Saterdag is ek weer na Family vet toe, maar ‘n ander veerarts is aan diens. Sy praat ‘n interessante Hollands.
Shilo se beskermengel!
Sy bly baie lank weg en ek is naderhand siek van bekommernis. BB en Bekka is by my, want hulle moet geïmmuniseer word. Shilo is by Highveld geïmmuniseer, hulle sou ook soontoe gaan. Maar toe vertrou ek hulle nie meer nie.
Toe sy terugkom, sê sy dat Shilo se pelvis gebreek is. Dat hy waarskynlik geskop is.
Nou vra ek jou: Wie kon my hond geskop het? Het iemand in die erf ingekom toe ons nie daar was nie? As iemand het, sou Shilo gestorm het.
Ons het kameras op, maar daar was mos gereeld beurtkrag, vir ure lank.
Het hy op ander manier seergekry?
Wat het gebeur?
Hoekom het niemand gehoor toe hy beseer is nie?
Ons moes dus almal uit gewees het. Wanneer was daar niemand by die huis nie? Die 2de was almal in Mosselbaai. Was iemand toe in ons erf?
Dit moes verskriklik seer gewees het – hy moes gekerm het. Daarom sou ek en almal wat daar gebly het geweet het toe hy beseer is.
Ek troos my daaraan dat ek nou weet wat fout is, en dat die pelvisbeen sal genees. Gaan agt weke vat, agt weke waarin hy baie stil gehou moet wees.
Hy moes van dag een af stil gehou gewees het.
Basies in ‘n hok gesit het vir die eerste week.
Maar, ek het nie geweet dat my hond geskop is nie.
Nie geweet dat hy beseer is nie.
Nie geweet wat ek moet doen om die herstelproses te bevorder nie.
En hy wil loop, wil oral wees waar ek is, sukkel agter my aan.
Nou het ek vir hom ‘n baba hok gekoop waarin babas gesit word om nie oral heen te kruip nie.
Van môre af is hy op hok-arres. Ekke ook, sal die hok sit waar ek tik op my rekenaar. Dat ons twee mekaar geselskap hou. Want, manlief is vanoggend weer vir die week weg vir werk.
My hart is stukkend, ek voel soos ‘n baie slegte mamma. Het selfs gelag toe ek hom die trappe opdra. Waar de ongeluk was my verstand heen?
Die veearts is nie baie bekommerd nie, dit gaan herstel. Agt weke om te herstel.
My arme woefkind.
En ek wonder: Waarom het ek my eie woewe laat buite slaap en nie bedags in die huis gehou nie?
Ek is egter net so dankbaar dat die fout opgespoor is.
Ek kan Family Vet Dierekliniek aanbeveel.
Ag nee! Dis erg. Siestog. Bly veearts het dit raakgesien, en baie bly dit gaan genees. Moenie jouself kasty nie. Hoe moes jy nou weet?
LikeLiked by 2 people
Hoe moes ek weet? Vriendin, as hulle in my huis en om my voete was, moes ek tog gesien het daar is groot fout. Maar toe los ek hulle buite, net om een keer per dag by hulle te sit dat hulle eet.
LikeLike
Toemaar. Nou kan jy lekker opmaak! Rn joy hondjie het jou lankal klaar vergewe vir daardie buiteslaap storie.
LikeLiked by 2 people
Ek kan, bid net die beentjie genees gou.
LikeLiked by 1 person
I hope he’s fully recovered soon 🤞
LikeLiked by 1 person
Thank you very much. I am tearful, how dit I miss it?
LikeLiked by 1 person
Ag ounooi, die arme Shilo. Maar goeie nuus dat die probleem opgespoor is en dat hy gaan herstel. Ja, soms kyk ‘n mens “oor” ‘n probleem, so moenie jouself kwalik neem nie – daar’s niks soos ‘n hond se liefde (en vergewinsgesindheid) nie 🐾.
LikeLiked by 1 person
Ai vriendin, seun verduidelik dat hy kon seergekry het as hy ‘n trappie by die seehuis misgetrap het. En … ek het gesien hoe dit gebeur het, maar hy het aangegaan soos gewoonlik en nie gewys dat hy beseer is nie. Weet nie of dit toe gebeur het nie.
LikeLiked by 1 person
Christa, hierdie is amper my storie! My Schnauchi is vandag ge-opereer om kruisligamente wat in haar knie afgeskeur het, te heg. Ek het ook vandag ‘n kinderspeelhok gaan koop, want as sy môre tuiskom moet sy ses weke stilgehou word.Ons was vier weke Australië toe en toe ek hulle by die kennels gaan haal, was sy so bly, dat sy esse gegooi het en toe is die ligamente net daar af! Gelukkig weet ek wat gebeur het en het dit gesien. Ek sou ook woedend gewees het soos jy. Troos jou daaraan, hy sal regkom en my Tienkie loop dieselfde pad.Sterkte!
LikeLiked by 1 person
Ai perdebytjie, dankie vir die saamgesels. En sterkte met jou kind. Ek is so bekommerd dat die breek eers baie later ontdek is, so laat dat die spiermassa begin afneem het. Die arme kind moes in geweldige pyn gewees het. En het dit baie, baie goed weggesteek.
LikeLiked by 1 person
Honde het ‘n geweldige uithouvermoë. As mens videos sien van verwaarloosde en afgetakelde honde, wat weer lewenslus en vreude ervaar, nadat hulle met omgee omring is, besef mens dit.Jou liefde gaan hom vinnig laat regkom
LikeLiked by 1 person
Dankie, vriendin, ek is so hartseer oor die arme kind van my.
LikeLiked by 1 person
My hart breek saam met jou
LikeLiked by 1 person
Hy gaan more vir ‘n MRI, dit is vrekduur, maar die moeite werd vir my kind wat in pynn geleef en stil gebly het. My hart is so seer.
LikeLike