Ons jongste se seuntjie het die vakansie sy ander drie nefies soort van vir die eerste keer ontmoet. Soort van omdat hy te klein was om te onthou toe hulle weggetrek het.
Soort van omdat hy dollatjie se jongste in Augustus by my ontmoet het. Maar, bloed is dikker as water. En hy beskou hulle as sy beste maatjies.
Hy sit daar by die see so in die bad en dan gesels hy met my:
Ouma, ek looovveee en dan noem hy dollatjie se jongste se naam. Dan love hy middelste en dan love hy oudste. Dit was nogal oulik, want die eerste dag was al drie sommer net jongste se naam. Maar die aand het hy almal se name geken.
So gaan ons almal Mosselbaai toe om my jongste sus wat in Australië bly te gaan ontmoet. Met haar man en haar drie kinders, die dollatjie en die twee seuns en hulle verloofdes of meisies.
Die Pavilion restaurant is baie oulik, maak vir ons een massiewe lang tafel vir 14 grootmense en een kleintjie vir die vier kleinkinders. Maar seun se kind moet lank wag, dollatjie en haar gesin is meer as ‘n uur laat vir die ete afspraak. Dus sit hy by die groot mense en wag vir die kinders.
Toe hulle uiteindelik opdaag, wil hy net speel. Maar dit is verby twaalf en hulle is honger. Hulle wil net sit en wag vir pizza, al is die restaurant op die strand. En kan mens afstap en in die golwe speel.
Hy sit toe maar by hulle, maar later vra hy of hulle nie saam met hom wil gaan speel nie. Al drie nee hom, en toe sien ek ‘n prentjie wat hierdie ouma-hart sommer laat opspring om te gaan help.
Hy sê nie boe of ba nie. Hy huil nie. Hy stap net daar weg met die koppie 90 grade vooroor gebuig, om duidelik te kenne te gee dat hy baie ongelukkig is.
Ek vang hom by die deur en vra wat fout is. En hy klik dat hulle nie met hom wil speel nie. Ouma bied aan om dan met hom te speel, maar dit is nie genoeg nie. Hy wil met sy maatjies speel en is toe maar terug om te wag vir melkskommels.
So saam met die nefies wat wag …
Terug by die tafel wil skoonseun weet wat fout is. Toe ek sê dat sy seuns nie wil speel nie, sê hy dat hulle vir hulle kos wag. Twee jariges wag nie vir hulle kos nie, hulle speel tot die kos reg is. So eenvoudig soos dit, maar hy het maar gaan sit en sy melkskommel gedrink wat by die tafel opgedaag het.
Melkskommel maak sy hartjie gou bly.
Ons twee het toe later wel op die strand gaan speel. Hy in die water en ek met ‘n arendsoog om hom dop te hou. Hy is so vervlaks oulik met die see. Hol in as die water terugtrek, dan vat hy sopnat sand en bou vir hom ‘n korreltjie of krummel kasteel.
Later kom twee van die nefies saamspeel, hulle wil ook by ouma wees. Nog later hardloop jongste weg oor die strand en haal dollatjie se twee jongstes hom in om hom na my terug te dra. Geen gehuil soos wat daar sou wees as ek hom gaan haal het nie. Dit is dan ‘n speletjie.
So terloops die kleinkind het my die vakansie twee keer op die strand laat hardloop agter hom aan. Eintlik meer kere, en as ek dan vang, is hy kwaad. Hy wil nog verder hol, maar ek kan dit nie toelaat nie, ons raak te ver van oupa af as ons so speel.
Die vakansie was anders as wat ek verwag het. Ek gaan slegs dit skryf. Anders …
Hooffoto: Geleen op internet.
En raai, ek kry nie foto van hoe ver kleinkind sy koppie vooroor laat buig het nie. Baie meer as in hierdie foto, baie meer as wat my eie kop vorentoe kan buig. Die absolute uitbeelding van diepe ongelukkigheid. Ek wou lag, maar my hart het hom baie jammer gekry. Hy het so uitgesien om met hulle te speel.
Kinders bly maar kinders, met hulle eie wil en hulle eie doen en late. Kry ek ook die ou seuntjie met die knik-koppie jammer. Voorspoedige 2023
LikeLiked by 1 person
Dankie vriendin, dit het ek die vakansie weereens besef. Ek koester hierdie ou kleintjie van ons baie.
LikeLiked by 1 person
Dit kan so moeilik wees vir die jongste.
LikeLiked by 1 person
Dit is. Hy verstaan nie dat hulle dink dat hy ‘n baba is nie. Want hy het dan grootmense en oumas as geselskap.
LikeLiked by 1 person