Kabouter, my vriendin se verstandelik-gestremde seun, is die 27 ste Desember in Struisbaai van sy e-fiets af gery. Om die volgende dag in ‘n hospitaal in Hermanus dood verklaar te word.
Hy was blykbaar nog by sy positiewe en baie kwaad oor die ongeluk. Daarom het die dokter hom op die toneel ingespuit, nog voor my vriendin by haar seun kon wees.
Sy en haar dogters was op die strand, besig om die kilometers na Waenhuiskrans te stap. Is dit nou 8 km? Hulle was ongeveer 2 km op die strand toe hulle die gevreesde oproep kry.
Kabouter was in ‘n ernstige fietsongeluk.
Sy oudste sus en haar man het huis toe gehardloop om die kar te kry. Hulle is fiks, sy hardloop die Comrades. Vriendin kan nie so vinnig op die strand hardloop nie. Sy is 15 jaar ouer as ek. En ek kan dit beslis ook nie doen nie.
Toe sy op die toneel kom, was hy reeds onder verdowing. Om nie weer wakker te word nie. Uiterlik was daar skaars tekens van die ongeluk wat sy lewe geëis het. Die dokter in Bredasdorp het hom Hermanus toe gestuur. En hy is per helikopter daarheen geneem. Sy sê dit het ‘n hele uur geneem om hom vasgebind en veilig op die helikopter te kry.
‘n Uur waarin sy later nie meer langer kon staan nie, maar sy wou ook nie wegstap om te rus nie. Haar Kabouterkind se lewe was op die spel. Sy wou naby hom bly.
Hy is op masjiene gesit, maar hy kon nie gered word nie. Bloeding op die brein. Die dokters kon niks vir hom doen nie.
Die ironie is erg, want Kabouter – wat altyd met sy helmet gery het – het op die besondere dag daarsonder gery. Hy wou ook nie saam op die strand gaan stap nie, hy wou op sy e-fiets gaan ry. Daardie fiets wat sy lewe geëis het.
‘n Pragtige groot rooi fiets. ‘n E-fiets wat in die garage staan sonder ‘n skrapie. Die rem se handvatsel het in die middel deur afgebreek.
En ek wil vra of dit nie sy dood veroorsaak het nie. ‘n Rem wat ewe skielik op ‘n afdraende breek? Maar ek het nie. Miskien omdat dit te laat was toe ek dit gesien het.
Vriendin noem nou die fiets die monster.
Want, juis die fiets waarop Kabouter so trots was, en wat sy vir hom gekoop het, het sy lewe geëis. Vriendin vertel dat sy kop die voorruit van ‘n motor getref het. Daar is nog geen sekerheid oor hoe die ongeluk gebeur het nie. Daarom gaan ek niks hier skryf wat die uitkoms van die ondersoek kan beïnvloed nie.
Ek wil egter vra: Waarom het hy nie gestop om die ongeluk te verhoed nie? Dalk die afgebreekte rem se skuld? Was dit dalk die rede waarom hy so kwaad was? Nou sal niemand weet nie.
Maar, dit is nie waaroor ek wou skryf nie. Ek wou oor Kabouter se begrafnis skryf. ‘n Begrafnis wat nie deel van ons vakansieplanne was nie. Ek sou by haar gaan kuier omdat ek na haar verlang.
Ek en vriendin het gereël dat ek die keer van Stilbaai na Struisbaai sou gaan om vir haar te gaan kuier. Ons het op die 29ste Desember besluit. Ons het wel die 29ste gegaan, maar dit was ‘n hartseerdag.
Die 27ste het sy middelsus my laat weet dat Kabouter in ‘n ernstige ongeluk was. Dat daar bykans geen hoop is nie. Later laat weet sy dat hy op masjiene is. Die 28ste het vriendin my laat weet dat die masjiene afgeskakel gaan word omdat niks vir Kabouter gedoen kan word nie.
My hart was stukkend, en sy het daarop aangedring dat ek steeds moes gaan kuier. Daar gekom, moes ek beloof dat ek die Woensdag (4 Januarie) by die begrafnis sou wees.
Die belofte het ek met ‘n swaar hart nagekom, want ek en manlief sou huil op die begrafnis. En eintlik moet mens eerder sterk wees. Maar nee, mens moet huil, want hoe kan jy jou gevoelens wegsteek as sy ook stukkend is?
Die begrafnis is in die Struisbaai Dienssentrum gehou. Sy het my al soveel keer vertel van die wonderlike prediker. En ek het dit self beleef. Dit was ‘n preek wat ek ook graag op my begrafnis sou wou laat hoor.
Ek was verras oor hoeveel mense vir die begrafnis opgedaag het. Want vriendin het eers daarheem getrek toe hulle afgetree het. En Kabouter was nie in skole daar nie. Maar …
Die saal was stampvol. Iewers tydens die diens het ‘n swartman ingestap met ‘n swart pak en ‘n strikdas. Spierwit hemp. Hulle tuinhulp, wat geen woord Afrikaans verstaan nie, het Kabouter ook kom groet. Dit is hoe ons begrafnis toe gegaan het toe ek nog ‘n kind was. En ek mis dit …
Ons maak ons dagboeke vol met dinge wat ons gaan doen, het die man gepreek. Maar, God se plan is nie noodwendig ons plan nie. Ons sou Kabouter nog wou sien. Maar God het ‘n ander plan gehad.
Volgens die prediker het Kabouter sy doel op aarde gedien, die Here het besluit dat hy genoeg gesukkel het. Maar ook dat hy ‘n vol lewe gehad het. Omdat hy nie toegelaat het dat sy gebrek hom kniehalter nie.
Dit was die Here se inskrywing in sy dagboek. Dat hy huis toe moes kom. Daar waar sy pa wag. Sy pa kon hom en sy ma en susters en almal groet. Hy was skielik baie siek, maar hulle kon gereed maak om te groet. Kabouter is weggeruk.
Volgens die prediker het Kabouter ‘n vol lewe geleef. Al was hy ‘n kind wat in die lyf van ‘n grootmens gevange was. Dit is nie heeltemal hoe ek hom geken het nie. Hy kon net nie duidelik praat nie en daarom moes mens baie mooi luister om hom te verstaan. Soos met ‘n kind wat leer praat.
‘n Vol lewe het hy beslis gelei. Hy het ‘n paar Argusse voltooi. Iets wat ek nie sal doen nie. Ek kyk net so na die afdraendes wat mens moet af en dan weet ek. My remme sal my nie keer nie. Ek ry op baba-afdraendes op my remme, gaan nog bo-oor val soos ek keer dat die fiets nie vinniger gaan as wat ek wil nie. Ek sal vinnig daar moet af. En nee dankie, dit doen ek nie. Maar hy het.
Kabouter het ook aan ‘n fietsry fondinsameling deelgeneem om geld in te samel vir ‘n ander persoon in nood. Al sou hy baie geld wou hê om karretjies te koop. Hy het karretjies bymekaar gemaak, en later geweier dat die kleinkinders (sy susters se kinders) met sy karretjies speel omdat hulle dit volgens hom gebreek het.
Sy ma vertel staaltjies uit sy jonger dae.
Op ‘n keer het hy blykbaar met ‘n sak albasters by die huis gekom. Hy was reeds ‘n volwasse man. By die skool gewen toe hy gewag het vir sy susse se skool om uit te kom. Hy moes dadelik gaan teruggee, hy het by kinders gewen volgens sy ma. Een van die ma’s het haar egter gebel. Hy moet die albasters hou – hy het “fair and square” gewen!
Sy vertel ook van die bure se gras wat hy vir sakgeld gesny het. Toe kom hy met R800 by die huis. Hy moes teruggaan en teruggee, al is die bure skatryk. Ek dink hulle het geweet hy kon daarmee een van sy karretjies koop. Maar nee. Mens kry nie soveel geld vir grassny nie.
Waardes is vir vriendin baie belangrik.
Dominee vertel dat Kabouter elke Sondag met sy fiets opgedaag het. Dan het hy die fiets voor in die kerk langs ‘n tafel staangemaak, van daar oor die breedte van die saal gestap en hom met die hand kom groet en dan eers sy plek voor in die kerk ingeneem. Maar, sy ma was altyd laat. En soms baie laat. Dan het hy die hele tyd omgekyk, tot sy inkom en langs hom kom sit. Hy het eers gerusgeraak as sy ma veilig langs hom was.
Hy het ook vertel dat hy Kabouter gereeld op die pad tussen Bredasdorp en Struisbaai op sy fiets gesien het. ‘n Pad wat hy (en ek) as te lank vir ‘n vinnige rit met die motor beskou.
Die hele gemeente het hom geken. Hulle was daar om te groet.
Ek en manlief en die susters, mans en hulle kinders was daar. Haar ander vriende van oor jare was nie daar nie. Hulle was vas met eie vakansie reëlings. Maar almal was in hulle harte daar.
***
Liewe Kabouter, jy was vir 55 jaar intieme deel van jou ma en pa se lewe. Omdat daar tydens jou geboorte fout gegaan het en jy te min suurstof gekry het. Jou lyf was gesond, jou brein het swaar gekry. En jou gestremd gelaat, volgens ons samelewing se norme.
Jy het egter nie soos ‘n gestremde geleef nie. Jy het voluit geleef, uit jou maag gelag, karretjies versamel. Daarvoor was die sakgeld noodsaaklik. Jy kon op ‘n hopie gaan sit het, maar jy het gekies om ten volle te lewe. Jy was jou ma se rots omdat jy altyd daar was vir haar. Maar jy was ook ‘n mens-mens.
En daarvan het jou groot begrafnis getuig. Jy het mense se harte geraak, was almal se vriend en het sommer net by mense gaan sit en gesels. Al het jy hulle van geen kant geken nie.
Ek salueer jou. En ek wens ek kon die geleentheid gehad het om dit vir jou te sê. Ek weet nie of ek dit die 29ste vir jou sou sê nie, ek sou dit net geniet het om jou weer te sien. En saam te gesels.
Ek gaan dit mis wanneer vriendin opkom Gauteng toe omdat sy en jy by my kom kuier het as julle hier was.
Ek dink dat Sankie, my hondjie wat ek vir jou gegee het, jou ma se hart gaan troos. Sy slaap in jou kamer, wil nie op ‘n ander plek wees nie. Ek het verwag dat Sankie my gaan herken. Maar, sy het nie. Sy het jou aanvaar as haar eienaar, en sy rou oor jou. Sy wil nie by vriendin slaap nie, sy slaap in jou kamer. En ek dink dit troos vriendin. Dat iemand in jou kamer slaap. Jou net so baie mis soos wat sy jou mis.
Jou 55 jaar op aarde was ‘n voorbeeld vir my.
‘n Voorbeeld van liefde. Van omgee. Van hoe mens met jou ouers moet wees. Ek gaan vanjaar daaraan werk om my eie ouers meer te sien, meer te waardeer en meer aandag te gee.
Ek verstaan nie hoe dit is om iemand na aan jou te verloor nie. Want ons huisgesin is so geseënd. Beide my ouers leef nog (82 en 89 jaar oud). Ek en my gesin en hulle kinders leef. Al my susse (vier) en hulle kinders en kleinkinders leef. Slegs een swaer is jare gelede oorlede, hy het selfmoord gepleeg. Hy kom uit ‘n gesin wat swaar dra aan die donker gat van depressie. Dit was verskriklik swaar om hom te groet. Jy moes al jou pa groet. En vroeg in 2022 ook jou swaer. Middelsus se man. Jy het geweet wat dit beteken om ‘n geliefde familielid te verloor.
En nou moes ek jou groet.
Volgens die prediker was jy die toonbeeld van wat God in die Bybel van ons versoek – om die hart van ‘n kind te hê as ons die hemel wil bereik. Daaraan gaan ek die jaar moet werk. Want ek word te maklik ontsteld, te maklik kwaad. Dalk omdat ek doodmoeg is, maar dit is nie ‘n goeie rede nie.
Daarom wil eindig met:
Tot weersiens.
Ek weet waar jy tans is. In die hemel, besig om ons op die aarde jammer te kry omdat ons oor jou weggaan treur. Jy is egter ook besig om hard en lekker te lag saam met jou pa en jou swaer. Julle het mekaar weer gevind.
Jou ma het ‘n kosbare kind grootgemaak.
Hooffoto: Geleen van die internet. Ek wou nie foto van Kabouter gebruik nie, daarvoor sal ek eers toestemming moet vra. Toe besluit ek on ‘n prentjie van ‘n kabouter te soek. En so met die soek besef ek dat ek Kabouter nie sien as ‘n kabouter nie. Nie een van die prente kon gestand doen aan sy menswees nie. Terwyl ek so afblaai en soek, kom ek op Blommie af. Liewe Heksie se kaboutervriend. ‘n Geliefde kabouter, geliefd soos onse Kabouter. En daarom kies ek toe die een. Veral omdat hy visgevang het, maar net in die see. Nie so rustig soos Blommie op die foto nie.
Ai Christa jy het so mooi geskryf. Ek huil nou sommer ook saam met jou oor Kabouter. En jou vriendin se ongelooflike seer. Ek stuur liefde vir julle almal.
En wat ‘n wonderlike seen is dit om jou ouers steeds naby jou te hê. Mag hierdie jaar vir julle propvol mooi en lekker saamweestye wees.
Ek self ken van groet. Was 12 toe my pa daai Sondagoggend weg is. In 2006 moes ons my ma groet, ek sal nooit haar stil lyfie met die pyp in haar keel op daai hospitaalbed vergeet nie. Maar onthou ook die goeie tye. In dieselfde jaar, later, groet ek n vriendin. In die jare daarna was daar vele afskeide…. ek het al gewonder oor hoe Dood so naby half sy-aan-sy met my gestap het. Einde 2018 is my man oorlede na wat seker dié moeilikste jaar van my lewe was, en toe verlede September is ‘n hartsvriendin sommer net-so een oggend oppad werktoe weg.
LikeLiked by 1 person
Sjoe, vriendin, dit is hartseer. En ja, jy sal daardie hartseer baie beter as ek verstaan. Ek wou nie byskryf dat vriendin vir my ‘n foto van haar Kabouterkind op die hospitaalbed wou wys nie. Ek wou nie kyk nie, maar sy het aangedring. En toe deel sy per ongeluk die een waar hy reeds dood is. Die plkek waar sy een oog is dieprooi opgeswel, so erg dat dit ver verby sy neus uitstaan. Die ander oog toe, geen skrapie wat mens kan sien nie. Dood. Sy het geweet omdat die pype uit is. Ek nie. En daardie foto spook by my. En tog was daar ‘n rustigheid aan sy gesig. Asof hy mens wil gerusstel dat hy by sy Skepper is.
Self het ek al neefs, niggies en bykans al my ooms en tannies aan die dood afgestaan. Ook babatjies wat nie deur die proses gegaan het nie en om een of ander rede nooit gebore is nie. Dit is erg, baie erg. Veral as mens aan datums dink wat nie gebeur het nie. Dink aan jou, dankie vir die saamgesels.
LikeLike
Die dood is n groot deel van lewe, dalk die grootste deel, maar dit het sy eie tyd en plek. Ek is dankbaar vir al my goeie herinneringe en veral vir julle goeie herinneringe van Kabouter. Hy gaan vir ewig in julle harte en stories voortleef. Jammer oor daai foto wat jy gesien het, mens kan dit nie ongedaan maak nie. Maar ons moet aanhou kies om die goeie en die mooi te laat seevier want terwyl ons leef is daar nog soveel om oor te juig.
Was lekker om by jou in te loer hier. Mooi loop. xx
LikeLiked by 1 person
Dit is waar, en as ek sulke goeie herinneringe in ander se harte kan laat wanneer ek die tydelike met die ewige verruil, sal ek dankbaar wees en selfs uit my hart kan lag – soos Kabouter. Daar is soveel om oor dankbaar te wees, ek wil vanjaar daaroip fokus. Dankbaarheid.
LikeLike
Verseker. Ek is saam met jou.
LikeLiked by 1 person
Wat ‘n voorreg om deur jou oë vir Kabouter te leer ken, baie sterkte met die verlies
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, vriendin, ek voel so jammer vir my vriendin. Hoeveel mense het hulle kinders vir 55 jaar by hulle om skielik sonder hulle te wees. Ek dink nie ouers moet langs hulle kinders se grafte staan nie.
LikeLiked by 1 person
🙏
LikeLike
Wat n pragtige eulogie
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, vriendin, lekker groot woord daardie ene.
LikeLike
Ek het juis die week ‘n gesegde in die boek: The book of Two Ways deur Jodi Picoult gelees wat my baie getref het: Life asked death, “Why do people love me but hate you?’ Death responded, “Because you are a beautiful lie and I am a painful truth” – Unknown
LikeLiked by 1 person
Sjoe, dit skok! Baie waar
LikeLiked by 1 person