Daar is verskillende soorte mans. Sommiges is troumans. Ander moes nooit getrou het nie. Wil ek nie eens as ‘n houman hê nie. Vandag wil ek sommer oor ‘n paar soorte gesels.
Die eerste soort is mans wat hulle vrouens slaan. So ‘n man sou ek nie kon terugslaan nie omdat ek nie ‘n man wou hê wat so klein soos ek is nie. Dus het ek een keer – nog voor ons getroud is – so met manlief oor die saak gesels. As my man my slaan, sal ek wag tot hy slaap. En hom dan terugkry. Om op gelyke vlak te kan kompeteer. Ek gaan nie stilsit daarvoor nie. ‘n Slaansak sal ek nie wees nie.
Die tweede is mans wat dink dat die son sak as hulle gaan sit. So ‘n man het nie tyd om aandag aan sy vrou of kinders te gee nie, die aandag moet op hom wees. Hulle sal nogal tot uiters gaan om die aandag te kry om hulle ego’s te pamperlang, selfs met hulle eie geliefdes kompeteer. Ek verkies ‘n man wat nie omgee om teen sy geliefde te verloor nie, hulle is dan ‘n span. ‘n Ego-poetser kan ek nie wees nie.
Die derde soort is mans wat nie hulle werksprobleme met hulle geliefde bespreek nie. Ons bespreek werksprobleme, want twee koppe is beter as een. Ek dien dikwels as klankbord omdat dit help as die probleem uitgespreek word om dit beter te begryp en te ontrafel. Maar, dit help ook om te verstaan waarom hy skielik knorrig is. Ons vul mekaar aan omdat ons bewus is van mekaar se intelligensievlakke. En mekaar vertrou. Een van die belangrikste hoekstene van ‘n huwelik. ‘n Oningeligte wil ek nie wees nie.
Die vierde soort man is mans wat hulle vrou soos ‘n marionet beheer. Hulle word patriarge genoem. Hierdie groep mans het nog nie by ‘n veranderende wêreld aangepas nie, steek in die 50’s en 60’s van die vorige eeu vas. Hulle is net gelukkig as hulle woord wet is en almal in die huishouding gehoorsaam. ‘n Marionet sal ek nie wees nie.
Die vyfde soort man is nie alleen ‘n patriarg nie, hulle loop met blinddoeke aan en dink alle ander mans is ook so. Hulle is erger as patriarge, daarom noem ek hulle patriarg+. Hulle bespreek nie ‘n probleem wat hulle met ‘n ander man se vrou het met die vrou nie. Hulle gee die vrouens se mans opdrag om die probleem namens hulle op te los. Dit het so rukkie gelede met ‘n vriendin gebeur. Haar man het haar vertel, maar nie beveel nie. Sy het die probleem wel opgelos. En ek en sy het gister weer heerlik gelag oor haar redes. As die patriarg+ maar weet waarom sy voldoen het … ‘n Ander man se marionet sal ek nie wees nie.
Die laaste soort man weet hy kan nie drank vat nie, maar sy dors kan net nie geles word nie. Daar is min dinge wat vir my so onaangenaam is soos ‘n man wat sy maniere en inhibisies verloor wanneer te veel drank gevloei het. En ek sukkel om my afgryse weg te steek as hulle orig begin raak. ‘n Man wat nie sy perke ken nie kan ek nie respekteer nie.
Ek voel sommer morbied as ek daaraan dink dat ek vrouens ken wat met die bogenoemde soorte mans getroud is. Maar veral as hulle nie uit die huwelike kan kom nie.
Maar, dan weet ek ook dat die meeste mans nie onder hierdie kategorieë val nie.
Patriarge is aan die uitsterf, regtig. Jonger mans erken hulle vrouens as venote, beskou hulle nie as hulle slavinne nie.
My manlief dateer wel uit die 1950’s’60’s. Maar hy is nie ‘n patriarg of ‘n patriarg+ nie. Ons sou nie getroud gebly het as hy was nie. Hy hoort ook nie onder een van die genoemde kategorieë nie.
Joune waarskynlik ook nie.
Daarom klink ek ‘n spreekwoordelike glasie (ek drink nie) wyn op ons mans.
Interessant. Daar is wel ook ‘n verskeidenheid vrouens 🙂
LikeLiked by 3 people
Daar is, Anne, en ek dink nie ek is noodwendig die beste vrou nie. Maar ek probeer om my man in ag te neem, is saam met hom bly oor goed. En as iemand aan hom raak, raak hy ook aan my. Hy is my steunpilaar. En hoop om syne te wees.
LikeLiked by 1 person
Ek was met een van daai mans getroud, en al was ek baie lief vir my pa, was hy n patriarg. Nou het ek n liefdevolle, vriendelike, omgeeman. Is hy n vloerlap? Nope. Wil hy my gelukkig sien? Yip. Sit ons wel so af en toe bietjie vas? Yip. Is ons lief vir mekaar? Baie beslis . Om uit so n huwelik te ontsnap, vat baie moed. Maar dis n gesprek vir n ander dag.
LikeLiked by 2 people
Dankie vir die saamgesels. Ek is ook baie lief vir my pa, maar hy is ook ‘n patriarg. Sy woord is wet. Ek sien nogal dat hy ontspan soos wat hy ouer word. Agter elke goeie man is daar mos ‘n vrou.
LikeLike
Jy raak ‘n vreeslike ding aan, en ek wonder baie keer hoekom bly vrouens by sulke mans. Dan besef ek ook hoe dankbaar ek moet wees vir my man. Mens vergeet dit. Mens kla en kerm oor stupid gewoontetjies en foute… maar uiteindelik is dit nie ‘n stofdeel teenoor wat ander vroue moet verduur nie. Ek klink ‘n glasie wyn saam met jou.
LikeLiked by 2 people
Dankie vir die saamgesels. Ek kla ook te maklik oor gewoontetjies. Hy natuurlik ook. Maar, ek is so dankbaar dat hy my manlief is en nie een van daardie mans nie. Waarom hulle bly? Ek vermoed hulle het geen ander heenkome nie. En die mans weet dit.
LikeLike
Bly jy het ‘n goeie man. Dank die Here dt ek ook een het. Ek kan maar net saamstem as ek kyk na ander mense se huwelike.
LikeLiked by 1 person
En jammer kry, baie jammer. Soms voel dit of hulle nie eens weet hoe erg dit van die buitekant af lyk nie. Seker gewoond daaraan? Maar ai. Ek kry jammer hoor.
LikeLiked by 1 person