Gepubliseer in Joernaal

Is jy hier?

Vandat ek kan onthou, staan ek elke keer verstom as ek na Steve Hofmeyr se nuutste lied luister. Die man het talent wat by sy ore uitloop …

So, toe ons sien dat Steve die 28ste Desember in Stilbaai optree, het ek vir my en manlief kaartjies gekoop. Die kinders wou nie saam, hulle wou eerder rus. Ons moes die man net weer in lewende lywe sien optree, want hierdie beste sanger in Suid-Afrika is ook een van die mees geboikotste mans in Afrika.

Nie omdat hy ‘n slegte mens is nie. Nie omdat hy ander tot geweld aanhits nie. Nie omdat hy slegte musiek maak nie. Maar omdat hy sy plig as kunstenaar uitvoer:

Hy lewer kritiek op die samelewing soos hy dit beleef. Ervaar. Sien.

Hy praat omdat boere op plase uitgemoor word. Hy skryf daaroor. Hy speel selfs die hoofrol in ‘n fliek waarin die plaasboer en sy gesin uitgemoor word. Net omdat hulle sagte teikens is.

Ander sangers sing ook daaroor. Oor die moorde op die plase. Oor die geweld daarvan. Liedere wat mens se hare in die lug laat staan. Liedere wat maak dat ek nie kans sien om langs die Vaal te gaan aftree nie, my ouderdom plaasmense word veral uitgemoor. Omdat ons sagte teikens is. Hoeveel weerstand kan in ou mense wees?

Nie dat ek dink dat ek oud is nie.

Maar, ons slaap nie meer lig nie, is nie bedag op veiligheid as ons langs die Vaal uitspan nie. Ons hoor die voëltjies in die bome, is nie so bedag op hulle geluide wat veronderstel is om ons teen gevaar te waarsku nie. Ons sien nie meer so goed nie, hoor nie meer so fyn nie. Ons mans snork so hard dat enige invaller in elk geweet weet watter kamer ons s’n is. Sonder dat ons hulle voetstappe in die gang hoor …

Iedergeval, ek is nou sommer morbied.

Steve en ‘n groep sangers (Bok, Bobbie, Ruhan en Jay) se lied oor ons land moes so paar jaar gelede die Ghoemas gewen het, maar politiek het ingetree en dit is nie as die wenner aangewys nie. Die mooiste mansstemme in Suid-Afrika in harmonie.

Vir my is dit maklik een van die mooiste liedere ooit. Die te nakom het egter veroorsaak dat Radio Pretoria die Aitsas begin het om sangers wel te vereer vir hulle uitstaande werk. Ongeag. En pryse toe te ken aan die regte wenners. Ons was onlangs by die 2022 toekenningsaand.

Steve het egter onlangs die “onverantwoordelike” gedoen. Hy het kritiek op die + van Disney+ gelewer. En daarom word hy oral verban. Word hy te na gekom. Staan hy selfs in ‘n hofgeding. As dit sangers se werk en plig is om kritiek te lewer op ‘n samelewing …

Sy optrede by die Afrikaanse Taalmonument is onlangs afgestel. Volgens hulle praat Steve nie heeltemal die waarheid oor waarom dit afgestel is nie. Die klub wat dit gereël het, het blykbaar nie hulle ooreenkoms nagekom nie. Maar, die feite rondom die “ooreenkoms” word nie gestel.

Die konsert is geskuif, en die nuwe plek gaan beslis uit die konsert baat. Die monument se bestuur is egter bekommerd oor wat gaan gebeur nadat Steve geskryf het dat hy nie weer daar sal optree nie. Dit kan veroorsaak dat die monument minder besoek word. Ek het egter geen simpatie nie, hulle moet maar swaar trek aan die verlies. Ek vermoed die verlies gaan verder strek as bloot een konsert.

Iedergeval, ek wou eintlik ook die nuutste lied skryf.

Is jy hier?

Luister gerus, dit is pragtig. ‘n Liefdeslied.

Dit was heerlik om Steve vir onsself op die verhoog te hê. ‘n Verhoog wat nie meer met ander sangers gedeel word nie. Nie omdat hy nie wil nie. Omdat mense soos Juanita en Bok se borge blykbaar daarop aandring dat hy nie op foto’s saam met hulle verskyn nie. Hy spot dat hy die hele verhoog vir homself kry. Dans hy nader aan hulle, dans hulle weg. Ek is nie meer lus vir hulle musiek nie.

Maar, in die proses kry ons Steve se optredes. Hy alleen op die verhoog. Twee ure se suiwer Steve Hofmeyr vermaak. Met gehore wat uit sy hand uit eet. Saam met hom sing. Sy liedere ken. Ekke ook. Uit volle bors.

Mag sy lewe beter word. Mag hy nog lank en gelukkig lewe.

Steve gaan nie sy mond toemaak oor sake wat na aan sy hart lê om nie meer geboikot te word nie. Daarvoor het mammon net nie genoeg aantrekkingskrag nie.

Mag hy nog baie lank kritiek lewer op ‘n samelewing wat vir alles plek maak, maar wat Christenskap uit die skole haal.

Ek het my lus vir Afrikaanse samekomste soos Afrikaans is Groot verloor. Kyk ek na die lys van sangers en sy naam is nie daar nie, koop ek ook nie die kaartjies nie. En dit was die een gebeurtenis waarvoor ek elke jaar geld gebêre het.

Sonder Steve is Afrikaans nie groot nie. Dit het klein geraak, al raak die getal sangers meer.

Die “vibe” is weg. Mag ek sommer ook hier skryf dat die woord die “vibe” sedert hierdie kersvakansie my bloeddruk elke keer gaan opjaag as ek dit hoor? Daarom sê dit hier soveel meer as atmosfeer. Dit druk my ontevredenheid ook uit.

Afrikaans het klein geword omdat ek nie meer al my ander gunsteling sangers (van weleer … klink nou of ek baie oud is) se CD’s koop nie. Nie meer hulle musiek aflaai nie.

Vele van hulle het dit gemaak omdat Steve hulle op die “map” gesit het met Dit Is Hoe Dit Is. Snaaks hoe maklik hulle vergeet …

Noudat hulle nie meer met Steve hoef te kompeteer om die top toekennings te kry nie … Ek vermoed egter dat Is Jy Hier topposisies op speellyste gaan haal.

Ek kyk so na Steve op die verhoog. Die bewegings is daar, die pragtige stem. Maar, hy raak ook oud. Soos ekke. Daarom is my wens:

Lank lewe Steve.

Nooit sal ek boeliegedrag goedkeur of steun nie.

Dit is nie in my DNA nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Is jy hier?

    1. Dankie, Anne, ek geniet die twee liedjies baie. Sing vandag vir kleinseun Dis die son en die sand en die see … dan sing hy agter my aan. Hoe lekker is dit nie? Hy is mal oor musiek. Maar, toe ek saam met tannie Carike die Oukraalliedjie sing, maak hy my stil. Tannie sing, Ouma!

      Liked by 2 people

  1. Ek is ‘n groot Steve fan en stem saam met jou dat hy beslis die grootste sanger van SA is. Ek het tapes, DVD’s van sy fliek en musiek, CD’s en van sy boeke. Hy is so ‘n veelsydige kunstenaar wat Neil Diamond en Country so mooi sing. Sy eie songs se woorde is so mooi en so waar.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.