Gepubliseer in Joernaal

‘n Dowwe slag en dan gille

Ons vrees al lankal dat iemand op die Jongensfonteinpad raakgery gaan word. Die gedeelte in Stilbaai in. Onderkant die disco. Hierdie Desember veral omdat die disco oop is.

Na middernag hoor mens die jomg mense in die pad afstap, luidrugtig en ons vermoed ook dronk gekuier. Of net doodmoeg.

Om een of ander rede stap hulle dan in die pad. Die pad wat dan al in dorpsgebied is met ‘n spoedbeperking van 60 km/h. Wat deur bykans elke motoris verontagsaam word.

Teen die spoed wat hulle oor die bult die dorp in jaag, is die kans baie goed dat hulle nie die jong mense in die straat gaan sien nie. In elk geval nie voor dit te laat is om rem te trap nie.

Gisteraand het ons sjampanje saam met die kinders gedrink. Hulle was uit en ons was al in die bed, het net vir 12 gewag om die nuwe jaar saam in te gaan. Iets wat ek en manlief nooit doen nie.

Ons was net terug in die bed toe ons die dowwe slag hoor.

Ons het geen remme gehoor nie.

Net die slag.

En die gille van ‘n jong meisie.

Ek en manlief het ons besimpeld geskrik.

Die gille het deur murg en been getrek.

Die persoon is omtrent reg oorkant ons huis getref, maar ons kon nie veel sien nie.

Seun se skoonsuster het dit sien gebeur. ‘n Mercedes het die persoon getref.

Blykbaar het hy stadiger gery. En toe hy weer begin ry het die ongeluk gebeur.

Die persoon is oor die pad gehelp na waar die motor gewag het. En die verkeerspolisie was bykans dadelik by. Dus weet ons nie hoe erg die persoon beseer is nie.

Maar ons harte het vreeslik erg geklop.

Dit was asof Kabouter se ongeluk voor ons huis afgespeel het.

Kabouter is my vriendin se seun wat twee dae gelede oorlede is nadat ‘n motor hom ‘n dag tevore in Struisbaai van sy e-fiets afgery het.

Die slag sit nog in my ore vas.

Asof dit daardie slag was.

Hy het blykbaar nog gelewe. Nog gepraat. Maar hy was so ontsteld dat hy ‘n inspuiting moes kry om te kalmeer. Om nooit weer wakker te word nie. Om nie sy ma en sy susters te kan groet nie.

Daarom ry dit my dat ek nie weet of die persoon lewendig is na die ongeluk nie. Ek moet net weet die ouers het nie ook ‘n kind verloor nie.

Ek sukkel om dit te verwerk. Ek moet weet of die jong mens veilig is.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “‘n Dowwe slag en dan gille

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.