Vanoggend kon ek nie help om te lag nie. Gewoonlik sit BB, Shilo en Bekka voor die glasdeur en wag dat ek oopmaak as hulle ons in die huis hoor beweeg.
Nie vanoggend nie, dit is koelerig buite.
Die vorige eienaar van ons huisie het alarms by elke buitedeur gesit. Dat sy kan hoor as haar dogtertjie uit die huisie gaan. Want sien, hier is soveel maatjies, sy moes weet as die kind die huis verlaat.
As ek die glasdeur oopstoot, vertel dit dus ook vir my woefkinders (Miniatuur Schnauzers) dat die deur oop is. En dan weet die drietjies hulle kan maar inkom.
Maar, laat ek eers verduidelik. Ek maak die deur baie klein oop, net groot genoeg dat hulle lyfies kan inwurm (deurkom). Soms staan hulle dan en wag dat ek padgee, want hoe moet hulle inkom?
Vanoggend kom Shilo eerste in. Staan in die deur en strek homself lank uit. Hy wil nog slaap, want sien, hulle het gisteraand vir iets geblaf. Dit was werk en hulle rus nog …
Manlief raas dadelik as die woewe blaf, ek word vies. Want het ons nie jare gelede so met ons Alsation geraas toe hy in Benoni geblaf het nie? En toe ons opstaan is ons hele tuinstel oor die muur weggedra. Ons het op ‘n hoek erf gebly.
Ek vra dus wat is fout en kyk deur die venster, al vermoed ek dat niemand oor ons muur sal klim nie. In elk geval nie aan hulle kant van die huisie nie. Hulle kan mos nie om die huisie nie, ons huisies skakel aan mekaar vas.
Maar dit daar gelaat, die kinders van my is dus nog moeg, hulle het in die nag hard gewerk.
Bekka staan geduldig en wag dat Shilo klaar strek, maar BB is nie by die deur nie. Dus is ek uit die huis om haar te gaan soek, ek kan mos die vreeslikste voorspooksels maak.
Dalkies was daar iets? Dalkies het iemand BB seergemaak? Ek kan nie wag tot dit lig is nie – ek het mos al vertel dat manlief vyf uur werk toe ry.
Shilo en Bekka is oorentoesiasteis soos gewoonlik, hardloop voor my uit die honde hokkie in. Dus moet ek af op die knie om in te kan kyk.
En daar slaap BB steeds alte heerlik. Sy snork mos as sy slaap. Met die twee manne wat bo-oor haar probeer klim.
Wat onmoontlik is.
Want BB is nie Racheltjie de Beer nie.
Nou moet ek eers vir my oorsese lesers verduidelik.
Racheltjie de Beer is ‘n Suid-Afrikaanse heldin. Dit blyk tans dat die storie nie waar is nie en dat dit gebaseer is op die verhaal van ‘n Amerikaaanse meisie, Hazel Miner. Selfs al is dit waar dat dit net ‘n volkstorie is, bly dit vir my ‘n ware verhaal. Ons het dit op skool geleer en ek gaan nou regtig nie 50 jaar later die storie as onwaar afmaak nie.
Volgens die oorvertelling het sy en haar boetie een nag in die veld verdwaal toe hulle gehelp het om ‘n kalf te soek. Dit het gesneeu en hulle het ‘n miershoop gekry. Sy het haar boetie in laat klim, haar klere uitgetrek en oor hom gegooi en voor die gat gelê om hom warm te hou. Hulle is die volgende dag gekry, sy was dood, en haar boetie het gelewe.
Wel – BB is nie Racheltjie of Hazel nie. Sy slaap diep in die hok, met haar winterjassie aan. Die twee manne moet maar kies wie die naaste aan die bek van die hok gaan slaap …
Wat my laat wonder, wie kry daardie taak om die bek van die hok te beman?
Ek gaan aanneem dit is Shilo, want hy is die jongste. Wat die storie in my woewe se geval ook onwaar sal maak. Dit is die jongste ene se taak om die oueres warm te hou.
Voordat jy dink dat ek my woefkinders verwaarloos, moet ek jou herinner dat ek baie moeite gedoen het om vir hulle ‘n warm hok te maak. In die huis kan hulle nie slaap nie, hulle maak ons te veel wakker. En manlief moet slaap, hy is elke dag lang ure op die pad.
Daardie deur wat so op n skrefie oopstaan kan ek ook van getuig. Trompie het engte vrees,haha. Hy hou nie daarvan dat die deur aan sy sye raak as hy uitgaan nie. Hy sal mik en mik maar nie deurskuif nie. Selfde met deur wat op skreef staan. Hy kannie die deur oopstoot nie. Bang vir beweging van deur.
LikeLiked by 1 person
Ag jitte, Scrapy, dit is oulik. Dalk het hulle al so seergekry? Maar glo my, as hulle dink daar is gevaar wat my bedreig is hulle deur kleiner skrefies in die tralies.
LikeLike
Beslis. Ek het al probeer om Trompie te wys dat hy deur kan oopmaak maar hy was van kleins af n ou wat eerder vlug as veg. Harde geluide maak hom ook baie benoud of as die venster toewaai. As hy gordyn in wind sien beweeg sluip hy weg.
LikeLiked by 1 person
Ag siestog, Scrapy, myne word deur baie min gepla. Behalwe ander hond wat naby hulle huis se muur waag kom.
LikeLiked by 1 person
BB is slim, sy weet dis beter om te bly le as dit so koud is!
LikeLiked by 1 person
Sy is, buitendien weet sy dat ek haar sal gaan soek …
LikeLiked by 1 person
Verseker! ❤
LikeLiked by 1 person