Gepubliseer in Joernaal

My hart pyn …

My hart pyn … Moet ek dit oorvertel? Gaan jy my glo? Ek is werklik ongelukkig. Dalk moet ek dit net uit my gestel skryf? Dit is mos my persoonlike blog. Nou wonder jy seker waarom my hart pyn? Laat ek dan vertel …

Ek het my drie Miniatuur Schnauzers weer by seun gelos. Soos toe ons Kazakhstan toe is en ek hulle hier moes agterlaat toe seun aanboed om na hulle te kyk. Ek weet dit het vir die beste uitgewerk, hulle kyk baie mooi na my kinders. En nou is dit ook nodig.

Die keer net vir ‘n maand, maar my hart pyn. Weereens moet hulle by iemand anders bly terwyl hulle mamma trek … Die keer darem net oor provinsiale grense.

Maar ek kan nie help nie.

Ek verlang my stukkend na hulle.

Nou waarom het ek dan?

Ons trek einde van die maand terug Gauteng toe. En weens die dreigende inperkings toe ons einde Junie uit ons stadshuis gaan trek het, het ek besluit om hulle liewer dan al by seun te los. Toe was die gerugte dat die land na vlak 5 inbeperkings gaan beweeg. Ek moes eintlik geweet het dit sal nie gebeur nie – daaroor het ‘n grondwetlike hof al besluit as ek reg onthou?

As dit sou gebeur, sou ons nie oor provinsiale grense kan beweeg nie. En dan sou ons nie die naweek van die 11de stad toe kon gaan om ons baba te doop nie. Toe word Gauteng ingeperk met ons daarbuite in die Noord-Kaap en kerk word weereens sonder enige teenstand verbied. Ons sou wel privaat kon doop, maar dit is volgens vlak 4 inperkings nie alleen onwettig nie, volgens nuwe regulasies wat Maandag uitgevaardig is, kan dit beskou word as dat ons die dominee gedwing het om ‘n regulasie te oortree. En die straf daarvoor kan tronkstraf wees. Dus word die doop weereens uitgestel. Ons kan ook nie stad toe gaan om dogter en haar gesinnetjie te groet wat na die Wes-Kaap trek nie, maar ons gaan wel goed opmaak daarvoor wanneer hulle gevestig is …

Die inperkings is eers Sondagaand bekendgemaak. Iets wat waarskynlik daartoe bydra dat die president saint status bereik het. Maar dit is toe so, ons kan nie Gauteng toe gaan sonder baie probleme nie.

Gelukkig het manlief my oortuig om die woefkinders by seun gelos. Want die drie is vreeslik in die pad as mens pak. Om jou voete. En ek en manlief gaan nog ons eie nekke – of hulle s’n – breek as ons pak en hulle draai om ons voete.

Want sien, ons word niks vertrou as ons begin pak nie, hulle is mos nou al mooi gekonfyt. Hulle weet. En dan maak niks anders saak nie, hulle bly by ons om nie agter gelaat te word nie. Hulle is oral waar ek gaan, sit waar ek staan, maar ek word nie uit die sig gelaat nie.

Hier is geen heining om hulle agter toe te maak tot die trek gepak is nie. En sonder hulle in die bakkie, kan ons belangrike goed op die agterste sitplek pak. Ek het mos al vertel hoe ons bakkie se kappie in Vryburg oopgepluk is. In die bakkie is sommige goed net veiliger.

Goed wat ons nodig gaan kry voordat die meubelvervoerwa ons besittings die volgende dag kan aflaai.

En nou is hulle by seun.

En my huis is leeg.

En ek sukkel om aan te pas sonder hulle.

Ek lag vir myself wanneer ek besef dat ek in stadige aksie begin stap, net om seker te maak een staan nie voor my nie. Kwaad kan ek nie vir die kinders van my word nie, mens moet onthou dat ek dalkies die skuld daarvoor dra.

My lekkerste speletjie met hulle is om om te vlieg en weg te kruip as hulle ‘n entjie voor my is. As ek dit die tweede keer doen, loop hulle nie meer so ver vooruit nie. Dan stop hulle, kyk om, maak seker agteros kom ook in die kraal en dan eers stap hulle weer. Dus leer ek hulle deur my gewegkruipery om naby my voete te bly.

En dit gaan ek nie sommer afleer nie.

Dit is verskriklik lekker om te weet dat hulle nie net aanstap nie, maar my kom soek. Dit is lekker om deur die gleufie van ‘n deur te kyk hoe hulle my spoor volg – omvlieg as hulle agterkom die spoor is nie daar nie. En dan wonder ek of ek stink, want hulle sien tog nie ‘n spoor nie?

Dit is juis hulle gespelery, saamstap waar ek ookal gaan, soek as hulle my nie sien nie wat maak dat ek hulle verskriklik baie mis. En ek kan sien manlief mis dit ook.

Want hulle het hom altyd by die garage se deur gaan haal as hy inkom. Volgens hom is hulle blyer as ek om hom te sien.

Hulle weet presies watter kar syne is. En dan raas hulle met hom omdat hy die hele dag weg was. Of vertel hulle vir hom wat ek gedoen het? Nee wat, hulle raas met hom.

As hy eers jammer gesê het en hallo ook, bedaar hulle. En nou is dit stil as hy by die huis kom. Roep hy van die deur af om te hoor waar ek is. Want ek luister nie so fyn soos hulle vir sy motor nie.

Ek weet wel wanneer om hom te verwag, want hy bel elke dag om my te laat weet dat hy op pad huis toe is. My man werk lang ure, hy ry al vyfuur in die oggend en is teen vier in die middag eers weer op pad terug, al is hy veronderstel om tot drie te werk omdat hy so vroeg begin.

En nou is dit stil wanneer hy tuis kom … die woefkinders raas seker nou met seun as hy van die werk af kom? En ek gaan nie hulle plek inneem nie, een van die dae is ons weer by mekaar.

Hierna gaan ons weer lekker speel, ek moet net hierdie drie weke omkry. Sonder hulle. Hulle gaan beslis baie van hulle nuwe huis hou. Ek vermoed dit gaan selfs lekkerder wees as in my Utopia.

Ek mis ons rituele, kosgee saans.

Ek mis die stap om die huis, die rol in die gras, die dooie grassies wat hulle indra wat vir my wys dat ek moet uitvee. My huis bly nou skoon, want die deur bly toe. Die liewe Kuruman gooi rooi grond in die slaggate. En dan jaag elke Jan Rap en sy maat dat die rooi stof in die lug hang – die gate is mos toe?

Ek mis BB se snorkie as sy soggens lê en slaap terwyl ek my blogs skryf, Shilo se lui opstaan as ek al weer loop, en Bekka wat homself so maklik oor enige iets jammer kry, maar ook sit en bewe as ek eet en hy kry nie daarvan nie. Ons Jannie Jammergat kind.

Ek mis hulle lyfies, hulle haartjies wat wapper in die wind wat altyd in Kuruman waai. Ek mis dit ook dat daar nie meer gewaarsku word as iemand dit sou waag om te naby aan ons heining te loop.

‘n Maand voel soveel langer as 31 dae!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

29 gedagtes oor “My hart pyn …

          1. Dit is waar, ek het nie. Seker daarom dat ek so na my lyfies verlang. Een van die dae is ek by die enetjie, sommer baie naby. En dan is die drietjies wat naby my was, baie, baie ver.

            Like

  1. Christa, ek deel jou pyn As my Dawiehond nou iets moet oorkom, huil ek my siek . Verlede Sondag het ons by skoondogter n draai gemaak en Dawie moes tuisbly. Later die middag vra ek of ons maar kan huis toe gaan, Dawie is alleen

    Liked by 2 people

  2. Ek verstaan en weet presies hoe jy voel. Ek speel ook met Trompie saans voor ons gaan slaap. Ek gooi sy bal of squeaky die gang af en hy verwag ek moet agter hom aan hardloop. Ek doen dit maar sodra hy hardloop om bal te kry kruip ek agter n deur weg. Hy vervies hom vreeslik vir my as ek dit doen. Los sy bal en kom soek dadelik na my. Ek moet ook voor hom uit hol sodat hy kan sien ek draai weer weg nie.

    Liked by 2 people

  3. Mens raak so geheg aan die vierpootkinders…ek giggel my dood oor die oom se stemmetjie as hy met die kat praat….hulle tweetjies bid ook nou al saam. Sy kom haal hom half ses uit die bed…dan moet hulle bid….

    Liked by 2 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.