Gepubliseer in Joernaal

As my atlete presteer …

Ek kan nie help om opgewonde te raak as my oud-skoliere en atlete ook naskool presteer nie. En vandag – Saterdag 3 Julie 2021 – is geen uitsondering nie. Ek sit nog so en kyk, toe hardloop een van my hekkiesatlete op die veld – as skeidsregter vir die wedstryd tussen die Leeus en die Britse en Ierse Leeus.

Ek sien hulle noem hom AJ Jacobs op die TV. Maar ek en die skool het hom as Adriaan geken. Hoe sal ek kan vergeet? Ek het male sonder tal sy prestasies op papier gesit sodat sy naam op die verhoog gelees kan word. Ek wonder hoe dit gebeur het dat hy nou onder sy voorletters bekend is.

Ek het hom egter dadelik herken. Bietjie ouer as toe ons paaie vir lank gekruis het. Ek die afrigter en hy my hekkies atleet. Hmmm, ek is seker dit is iets wat jy nie van my geweet het nie …

Toe ek na sy skool – Welkom Gimnasium – toe gaan, het hulle ‘n hekkies afrigter gekort. Ek het wel hekkies in standerd 6 gehardloop, maar net op interhuisvlak, maar het nie vir ‘n uitdaging teruggestaan nie. Dus is ek vir die week saam Sasolburg toe om die afrigterskursus te voltooi en as afrigter te kwalifiseer. Wys sou ek nie vir hulle kon doen nie, maar met Adriaan as my beste atleet, het ek ‘n goeie voorbeeld vir elke jong atleet in my span gehad.

Ek en my atlete en Adriaan het ‘n baie lang pad saam gestap, ons het in September al vir die nuwe jaar begin oefen en ons band het eers na die SA’s verslap – was dit die April skoolvakansie?

Dus het ons elke jaar baie tyd saam langs en op die atletiekbaan deurgebring.

Adriaan was ‘n ongelooflike goeie atleet. Pligsgetrou, altyd daar vir oefeninge. En dit is nie so maklik om die hekkies atleet te wees nie.

Jy daag nie net by die baan op as jy hekkiesatleet is nie, die hekkies moet elke keer uitgehaal en opgestel word, elke stel anders vir elke ouderdomsgroep. En na die tyd – as die naellopers net wegstap – moet die hekkies eers weer opgepak en in die stoortjie gesit word. Daarmee het hy altyd gehelp.

Hy het baie mooi maniere, ek onthou hom spesifiek daarvoor.

Adriaan was nie ‘n lang seun nie, dus moes hy alles insit toe die hekkies al hoër en hoër gestel word. Ek kan steeds nie verstaan waarom goeie atlete op skoolvlak uitgeskakel moet word net omdat hulle korter as hulle ouderdomsgroep is nie oor die hekkies kan kom wat te hoog vir hulle geraak het nie. Baie van my atlete het so uitgeval – daar kon nie meer in een statige beweging oor die hekkies geseil word nie.

Adriaan het hard geoefen om wel oor die hekkies te seil. Ek kyk vandag so na die jong man op die veld. Skaars ouer as my seun. Hy het steeds die paar mooi kuite aan hom, geen meisie op skool kon dit miskyk nie. ‘n Onmiskenbare teken van ‘n atleet.

Adriaan het my ook gehelp om die jonger atlete af te rig, vir hulle was hy ‘n hero – ‘n rolmodel.

Ek sien hy vertel in die een onderhoud dat iets wat almal nie van hom weet nie is dat hy ‘n vlak 3 hekkiesafrigter is. Ek is glad nie verbaas nie, die kinders onder hom sal beslis presteer. Adriaan sit alles in wanneer hy iets doen.

Soos wat hy ook maak as hy skeidsregter is. Ek geniet sy antwoord oor waarom hy ‘n skeidsregter geword het. Volgens hom was hy te klein om vir provinsiale spanne gekies te word. En soos wat ek hom leer ken het, het hy die hindernis oorkom deur op ‘n loopbaan as skeidregter te fokus.

Nie een van sy belangstellings verbaas my nie. Hy is ‘n onderwyser en elke skool sal ‘n onderwyser wat op nasionale vlak rugby wedstryde hanteer en boonop hekkies kan afrig met ope arms verwelkom. Veral as die man oor beide passievol is. Ek is wel verbaas dat hy so na aan my woon – Kimberley.

Lekker om te sien hoe jy presteer, Adriaan. En so gaan lees ek ook bietjie meer oor sy loopbaan as skeidsregter op. Ek herken hom die beste op die foto wat by hierdie artikel is.

Ek vang myself dat ek die TV skerm dophou – nie om na die wedstryd te kyk nie, maar eerder omdat ek die skeidsregter ondersteun. Soos wat ek soveel male langs die atletiekbaan gedoen het. Omdat hy in Desember vir ‘n fout gepenaliseer is. Sal die beskermingsdrang altyd daar wees as ek ‘n atleet se juffrou was?

Mag jou loopbaan voorspoedig wees, jy verdien dit.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “As my atlete presteer …

  1. Mooi geskryf, Christa. Ek hoop Adriaan hierdie stuk sal teekom en dit lees. Ek is baie keer verbaas wanneer van my oud-leerlinge kontak maak. Nou die dag het een (nou ‘n onderwyseres) my gevra om haar te help om ‘n lys boeke op te stel wat haar Graad 10 kinders meskien interessant sal vind. “You always found ways to make literature interesting” . Ons het toe lekker oor nuwe boeke met ‘n Suid-Afrikaanse tema gepraat. Ek was baie lief vir hekkies op skool – harde werk en al.

    Liked by 1 person

  2. Ek het so lekker gelees aan hierdie artikel. Tannie het n lieflike talent vir skryf. Dit moet iets besonders wees om die sukses te beleef van Tannie se hekkies atleet na al hierdie jare.

    n Geseende dag vol liefde vir Tannie.
    ❤❤❤

    Liked by 1 person

    1. Dankie, Appeltjie, die kind het so ‘n plek in my hart gekry omdat ons so nou moes saamwerk om sy talente te ontwikkel. My brien voel wollerig, ek wil my sterk verbeel dat iets in sy matriekjaar dink ekke gebeur het wat sy lewe en sy sussie s’n omver gegooi het. Dit is so goed om te sien dat hy presteer.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.