Ek het al vertel dat mens vleis in Kazakhstan baie anders as in Suid-Afrika koop. Jy koop dit by die mark – Fresh Market – direk van die boere af. Daar is afdelings vir bees, skaap, hoender en perd – en in sommige van die markte is ook afgesonderde hokkies vir vark – hulle is Moslems, maar baie eet wel varkvleis.
Skaap en bees en vark kan mens maklik uitken – en as jy alles in jou vermoë doen om perd te vermy, kan jy perd op ‘n afstand ruik en sien. Dit het ‘n kenmerkend donkerder kleur as beesvleis en perdewors – Kazi – is altyd by die perdevleis uitgestal.

Kazi is ‘n baie dik wors. Ek weet nie watter soort derm gebruik word om dit te maak nie. Hulle verkoop glad nie derms soos dié wat ons ken nie. Dit is so snaakse wit derm, baie dik en ek skat die omtrek is so drie of selfs vier keer groter as ons wors s’n. Dalk die dikte van groot salami? Blykbaar word die rugstring van die perd in lang repe gesny en dan word die repe, saam met repe vet in die derm – of omhulsel – ingeryg. Rou of gaar kon ek Kazi op ‘n myl uitken. Rou lyk hulle soos die Suid-Afrikaanse wors waarvan ek later vertel, ek kry nie nou ‘n foto op my foon nie …
Die Russe en Kazakhs wat vir manlief gewerk het, het ons keuses gerespekteer. Aanvanklik het ons vir hulle gesê dat ons nie ons troeteldiere eet nie, maar toe praat ek mos met my slagterpa oor die man wat nie verstaan dat ons nie perd gaan eet nie.
Ek weet my pa het net bees, skaap, vark en hoender verkoop. Maar altyd aangeneem dat dit ons land se tradisionele vleis is. Toe nie. Dit is teen ons geloof (Bybel voorskrifte) om diere te eet waarvan die hoewe nie gesplete is nie. Soos perde en donkies, wat dan mos Zebra ook gaan insluit. Om dit aan ons uitheemse vriende te verduidelik was ‘n perd van ‘n ander kleur omdat ons mekaar se taal moeilik verstaan het. Goed, ek bieg. Ek kon die taal nie praat nie en die tolk se Engels was beperk. Dus het ek maar prentjie geteken om te verduidelik. En hulle het verstaan, geloof en tradisie is vir hulle ook belangrik.
Soos ek verduidelik het, kan ek kazi op ‘n afstand uitken. Die vorm sit my af, die kleur van die derm sit my af, die grootte van die wors sit my af – alles omdat ek presies weet wat in daardie derms ingestop is. ‘n Perd se vleis. En nou moet ek eers verduidelik.
Behalwe vir perdevleis is die Kazakhs en Russe ons soort mense. Hulle eet nie allerhande ander goed soos hulle bure, die Sjinese nie. Hulle gril net soos ons vir die goed wat die Sjinese eet. Een van die hoofredes waarom ek Sjina nie sal besoek nie is dat hulle hondevleis eet. Ek eet nie enige ding wat loop nie. En as daar die dag geen vleis is nie, sal ek maklik blare eet. Soos kameelperde en bokke.
En toe kry ek die skok van my lewe in Angus slaghuis is Kuruman.
In die vrieskas lê ‘n wors wat presies soos kazi lyk. In dieselfde kenmerkende vorm. Die kenmerkende anderste kleur van die derm/omhulsel.

Ek wou naar word, manlief het geweier om saam te kyk of ek my verbeel. Perd in ons yskaste? Moet ek hier ook op my hoede wees? Die wors het net ‘n ander naam gehad.
Pofadder!
Wat op die pakkie in die foto verkeerd gespel is – dit moet een woord wees. Ek het my oë op skrefies getrek om nie die wors te mooi te sien nie. En die foto geneem.
As jy dit ken, lag jy seker nou lekker vir my?
Dit is die eerste keer in my lewe wat ek dit sien, al was my pa ‘n slagter. Daarom moes ek gaan Google. In my eie land! Om te ontdek dat dit van lewer gemaak word. Iets wat ek ook nie eet nie. Ek weet, ek klink vol fiemies, want lewer is goeie kos met baie voedingswaarde. En ek kan selfs beskou word as iemand wat uit twee monde oor lewer praat, want ek is werklik gek oor hoenderlewertjies.
Die saak staan so: Ek was gek oor beeslewer as kind, my ma kan lewer gaarmaak dat dit lekkerder as enige ander vleis is. Toe het ek Biologie in graad 10 by ‘n juffrou wat my so van lewer en niertjies afgesit het dat ek dit daarna net nie weer kon eet nie. Volgens haar is daar soveel gangetjies in hierdie twee organe dat mens dit op geen manier kan skoonmaak nie – en dan het sy spesifiek gevra wat in die niere gemaak word en gegril.
So terloops, dit bring my by ‘n ander orgaan wat geëet word – een wat met niere verband hou. Na my lewe in Kazakhstan, maak ek baie seker wat ek koop. Hier is ‘n foto van een van hulle spesialiteitgeregte wat ek beslis ook vermy het.

Ek het die foto in Amerika geneem. In Kaz word vleis op die mark nie vir jou in pakkies verpak nie, die vrou vat dit sommer met die hand en prop dit vir jou in ‘n plastiese sak. Sou ek hierdie een herken het as die naam nie by was nie?
Toe ontdek ek dat die Kazakhs dit ook eet. Dit word in Kaz as gereg vir baie spesiale gaste aangebied – daarom wou ek ook niemand se spesiale gas wees nie. Ons buurman oompie het ons probeer nooi, maar ek het verskonings aangebied. Hy verstaan glad nie Engels nie – en hoe gaan ek aan hom verduidelik dat ek nie my mond daaraan sal sit nie?
Sies van my, ek weet, maar ek kon hom mos nie in die gesig vat as hy skaapkop of hierdie “wors” aanbied om my te “vereer” nie …
En dit bring my by die punt.
Toe verskil die worse in Kazakhstan en Suid-Afrika – sonder dat ek dit weet – toe nie so baie nie. Van buite lyk die pofadder en die kazi presies dieselfde. Ek sal egter nie aan een van die twee raak nie, die inhoud van beide staan my nie aan nie.
Ken jy die pofadder?
Of is dit ‘n wors kenmerkend aan die Kuruman, die Kalahari, of die Noord-Kaap? Ek voel half ongeletterd omdat ek in ‘n slaghuis grootgeword het en dit nie ken nie …
Pofadders or die kole gebraai is heerlik! As mens lewer in netvet kan eet, kan jy die ook eet. Snaaks genoeg, ek het ook eers pofadder leer eet toe ek die eerste keer in Upington gaan kuier het. Daar braai hulle dit, sny dit dan in skyfies en jy peusel daaraan totdat die regte vleis gebraai word. Maar ek sal ook versigtig wees by wie ek dit koop. Upington het ‘n baie mooi slaghuis Skaapland gehad en ons het altyd daar gaan koop. Hier sal ek nie sommer koop nie. Ek en Baaskind koop gereeld in Heilbron vleis en ek sien hulle het ook. Ek sal by hulle koop.
LikeLiked by 1 person
Oe, Woordnoot, dankie vir die lekker saamgesels. Jy ken dit? Ek het met lewer in netvet grootgeword en nou hou ek nie meer daarvan nie. Ek skat dit is my man se skuld, hy eet fillet en rump en so aan. Ek dink ook mens moet dit op die regte plek koop om te eet. Sou jy die kazi probeer?
LikeLiked by 1 person
Christa…ek is een van daai mense wat altyd proe aan “ander” goed. Ek love kos skoue want daar is altyd iets nuuts wat mense nog moet ontdek. Ek glo ek sou as ek daar was. Ek het in Skotland haggis gehad, want dis mos hulle kos. Ek hou nie noodwendig van alles nie, maar ek probeer altyd alles uit.
LikeLiked by 1 person
Sien, ek verskil soveel van ander mense. Ek hou te veel van kos om iets te bestel wat baie sleg kan wees. Dan is daar ook goed wat ek nie meer mag eet nie en goed wat ek nie sal eet nie. En as ek so na die kombuise van sommige van die restaurante kyk wat in die TV-program In die Sop oorgemaak word, verstaan ek dalk beter waarom ek baie keer met gastro daar wegstap. Dit is mnos lewensgevaarlik, het ons land nie meer inspekteurs wat omgaan nie? Die goed is so aangepak – iets wat ek nooit in my eie huis toelaat nie. Het jy al gekyk?
LikeLike
Nee….ek kyk nie graag na kos programme nie want ek het nie DSTV nie en as ek iets kyk met die Wifi tot my beskikking is dit gewoonlik ‘n moordstorie. Ek dink my aversie aan kos programme is omdat ek vir lank met kosmaak aan die lewe moes bly.
LikeLiked by 1 person
Ek sal dan beslis ook nie van kosmaak hou nie. In die sop is anders, ‘n baas sjef gaan help ander restaurante wat probleme ondervind. Dit is baie interessant.
LikeLiked by 1 person
Dit klink oulik. Ek was ook n rukkie die bestuurder by die kerk se koffiekroeg….kosmaak vir mense in daardie omgewing is ‘n ander ball game!
LikeLiked by 1 person
Goedige aarde, dit kan ek glo.
LikeLiked by 1 person
Ek moet natuurlik byvoeg dat ek jou bewonder dat jy goed probeer. Ek is baie eng wat kos en veral vleis betref.
LikeLike
Ek moet bieg…in Thailand het ek NIE straatkos geëet nie, maar in die hotel het ek net Thai disse probeer. Dis eintlik seker ook nie so veilig nie maar ja…..EK het nie kans gesien vir gebraaide goggas op stokkies nie. En die mielies was hulle so in daai water met skil en al kook het vreeslik gestink. So ja, ek kan ook maar die strepie trek.
LikeLiked by 1 person
Ek sou ook – interessant! Die Kazakhs hou ook van mielies, maar soos ons. Dit word gekook soos ons doen en dan verkoop hulle dit by die mark. Ek het nie geproe nie, maar het reg geruik.
LikeLike
Skilpadjies is ronde bolletjies lewer en pofadder is nersderm vol lewer. Gebraai op vuur is dit nammies
LikeLiked by 2 people
Ek glo dit is lekker, Appeltjie. Waar kom die gebruik vandaan? Ek ken dit nie van my omtes af nie.
LikeLike
Boerekos op pad. Lewer kan droog wees en die vet maak dit sappig en smaaklik
LikeLiked by 1 person
dit is presies net so, ek het met lewer in netvet grootgeword. Toe kry ek ‘n wrede Biologie juffrou …
LikeLike
Ek het nog nooit lewerwors geëet nie, maar so in ‘n baie vetterige derm mag dit dalk heerlik wees. Ek is lief vir lewer en niertjies. En ek moet jou sê, my pa het altyd gesê dat hulle maar perdevleis ook iewers inwerk in polonie. Terloops, ek het al gehoor dat daar nie ‘n krieseltjie verlore raak nie … waar dit ingaan, weet ek nie. Hopelik is dit gaar!
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die lekker saamgesels. Ek weet – nadat ons op TV gesien het wat in polonie ingaan, eet ons dit nie meer nie. Maar, as daar was, het ek darem nie geweet dat dit daar in is nie. Nee, gits, mens eet nie ‘n perd nie, dit is net baie verkeerd.
LikeLiked by 1 person
Ja ons is so geleer, né 😁
LikeLike
Ek het gedink ek is so geleer, maar my ouers het nooit iets daaroor gepraat nie. Ek dink dit gaan vir my werklik oor die skoonheid en prag van perde, hulle spierkrag.
LikeLiked by 1 person
My pa het gesê dat toe karre aangekoop is en perde dus nie meer as trekdiere gebruik is nie, baie perde geslag is. En steeds in my kinderjare, as ‘n perd te oud geword het, is dit soms mark toe gestuur.
LikeLiked by 1 person
Dit is maar hoe dit gaan. Baie mense beskou perde as ‘n las, eet, maar bring niks na die tafel toe nie. Bedoelende inkomste en nie kos nie. Op die tafel is seker maar vir mense aanvaarbaar, ek sal dit nooit kan eet nie.
LikeLiked by 1 person
Ek hou van skilpadjies, maar daardie pifadder wors klink vir my iook nie lekker nie. Perd, nee, uit beginsel
LikeLike
Ek stem so saam, Gogga, perd nie vir my nie. Daardie wors lyk nie lekker nie.
LikeLike