Gepubliseer in Reisjoernaal

‘n Droom oomblik op Kazakhstan koppie in Ust’-Kamenogorsk (Öskemen)

Hierdie foto is op 16 Mei 2020 geneem, een van die eerste naweke nadat Kazakhstan ons weer toegelaat het om ons huise te verlaat. Kazakhstan en Suid-Afrika so saam-saam middel Maart 2020 besluit om hulle bevolkings binnenshuis te beperk om die verspreiding van die SARS-CoV-2 virus te beperk.

Teen 16 Mei kon ons nog nie na die platteland reis nie, maar ons is toegelaat om naweke met ons motors te ry nadat ons vir twee maande in die stad ingehok is. Ek het sowaar die details vergeet, maar ek onthou dat Kazakhstan weekliks besluite oor die pandemie geneem en met behulp van SMS’e aan ons en die hele bevolking oorgedra het. Alhoewel hierdie twee lande ongeveer gelyk demokraties geword het, kan die doeltreffendheid van Kazakhstan se regering nie met die van Suid-Afrika vergelyk word nie omdat ons doeltreffendheid deur binnegevegte ondermyn word.

Ek kan wel onthou dat ons die eerste twee weke in ons huise moes bly. Die helfte van die stad se bevolking het groen en die ander helfte wit paskaarte gekry. Die kaarte het bepaal of ons op ‘n ewe of onewe datum in die straat mag wees om slegs kos of medisyne te koop.

Daar was polisie op straathoeke wat seker gemaak het dat jy na die naaste gastronom (kosplek) of apteek gaan. Ons kon nie vir die pas aansoek doen nie, die eienaar van die woonstel moes verantwoordelikheid vir ons neem en namens ons aansoek doen. Jou motor het ook ‘n pas gekry – wit of groen of rooi A4 bladsy wat in die voorruit vasgeplak is. Rooi was nooddienste wat enige dag op die paaie toegelaat is. Die kleur van die pas vir die motor het gepas by die kleur van jou pas. Sodoende is verkeer in die strate ook beperk.

Die eerste ruk het die bly-by-die-huis nie gepla nie, want dit was nog baie, baie koud. Dit het in Meimaand met rukke steeds gesneeu, dus het ek die huis bo die strate verkies omdat die huis warm en gesellig was.

Teen 16 Mei het die natuur egter geroep, was dit aaklig om in ‘n stad vasgevang te wees as ek seker was dat ek veiliger in die natuur was waar die virus mens nie so maklik kan bereik nie.

Onthou, daardie tyd was min inligting beskikbaar, wat by ons uitgekom het, was skrikwekkend. Volgens berigte het mense in Sjina op straat dood neergeslaan.

Massa-histerie is ‘n skrikwekkende ding – iets wat my aan Lord of the Flies herinner. Die Sjinese grens was 100 km van ons stad af – en die inwoners van die piepklein dorpie by die grens het in opstand gekom – geweier dat mense in hulle dorp geïsoleer word as hulle oor die grens kom. Toe word die isolasie na ons stad geskuif – Ust’-Kamenogorsk.

Dit het ons weer in ‘n toestand gehad, die virus kon so in ons dorp ingedra word. En so sorg dat ons almal op straat dood neerslaan.

Nou weet ek van beter.

Mense word siek ja, sommiges baie erger as ander. Maar, meer as 90% van die mense word gesond. Voorsorgmaatreëls is eenvoudig – was jou hande en dra jou masker. Mense sterf wel, maar diegene wat sterf, sterf nie noodwendig as gevolg van die virus nie, maar eerder as gevolg van onderliggende siektetoestande. Daarom dat beriggewing ook aangepas word na covid-verwante sterftes – in plaas van covid-sterftes. Wat met “verwant” bedoel word, is ‘n ope vraag – maar dit veroorsaak wel dat die statistiek nie meer so maklik bevraagteken word nie.

Ek verbeel my dat manlief na twee weke weer kon gaan werk, iets wat my verskriklik ontstel het. Ek het aanvaar dat hy die virus in die huis gaan indra en beide van ons se dood in ‘n wildvreemde land gaan veroorsaak.

Ek het geglo dat ons in elk geval in Kazakhstan gaan sterf omdat die Kazakhs oral spoeg. Ek kan dit nie verstaan nie, want hulle is sulke pragtige gesinsmense met ‘n liefde vir almal – ook vir ons. Maar hulle spoeg op straat. Of laat ek dit dan maar reguit stel – hulle ghwêl – met geluide en al.

Ek het die een dag in die park gedink die spoeier so 10 meter van my af het aangegaan en verskrik gekyk of dit my gaan tref. Net betyds om te sien hoe ‘n netjies geklede vrou haar ander neusgat met ‘n boog in die bedding in snuit. Ek moes keer om nie net daar siek te word nie.

Op straat moet ek om die kolle ghwêl stap, iets wat my altyd laat vrees het dat ek dit op die sneeu nie sou sien nie en daarop sou gly. Daarom was my oë op die grond as ek stap – soekend na blink, nat kolle. Ek was doodseker dat ek net daar sou naar word as dit ooit met my sou gebeur. En die verleentheid wou ek myself met alle mag en krag spaar.

Mettertyd het ek egter besef dat ek my grootmensskoene gaan moet aantrek as ek nie mal van vrees wil word nie. Wat sou die ergste wees? En so het ek agtergekom dat ek veilig is. Selfs in ‘n hysbak saam met ander inwoners. Ek was aanvanklik bang vir hysbakke, het my neus so styf toegehou dat ek wou versmoor. Hulle was ook bang dat ek hulle sou aansteek, het my dikwels eerste laat gaan …

Geloof het my egter regop laat kom, laat besef dat die Here in beheer is, ook in hierdie land waar die Christengeloof in die minderheid is. As ek reg onthou, is 1% van die bevolking Christene. Ek moet my wapenrusting aantrek – hande was, masker dra – en Hy het vir die res gesorg. Soos altyd.

En daarom was ek teen 16 Mei 2020 gereed om saam met manlief se tolk en sy meisie (ons Kazakh-kinders) die pad teen die Kazakhstankoppie in Ust’-Kamenogorsk (Öskemen) op te vat om daar in die sonlig onder die wolke te gaan braai (piekniek hou). Daardie koppie wat ek elke dag verlangend vanuit die woonstel kon sien.

Die twee Kazakhs het my al soveel keer van die “lake” (meer) op die koppie vertel, wat in ons terme eerder as ‘n dam beskryf kan word. Die water in die dam is gesmelte sneeu, wat in die laagtetjie oorgebly het nadat die laaste sneeu dae tevore gesmelt het. Daarom kan jy dit mis as jy later in die somer daarheen gaan.

Ek en manlief het voor die inperkings al teen die koppie opgery en die gaan soek, maar geen meer gekry nie. Toe hulle vra of ons saam met hulle wou gaan piekniek hou, wou ek net weet of dit by die “lake” gaan wees – ek moes dit net sien.

En daar by die piekniekplekkie tussen die bome op die koppie, moes ek ‘n tweede vrees oorkom. Om naby mense te wees.

Die Kazahs is drukkie-mense. Mans skud hand, elke keer as hulle mekaar sien, en as hulle weer loop, maar hulle skud nie ‘n vrou se hand nie – jy word basies geïgnoreer. Ek het die eerste keer maar nader gestap, hallo gesê en my hand uitgehou om geskud te word. Die tolk se gesigsuitdrukking het my laat besef dit is verkeerd …

Hulle gee wel, as hulle jou ken, ‘n drukkie, met soms ‘n soen op die wang. Om een of ander rede is dit lekkerder as ‘n handskud. Vrouens drukkie jou, soen langs jou wang, wat ook lekker was. Dit het ‘n mens laat voel of jy in die vreemde land as een van hulle aanvaar word.

Ek het geen idee gehad hoe die tweetjies ons sou groet toe ons uit die kar klim nie, ons het met aparte motors gery. Hulle wou ons oplaai, maar ek was te bang om saam met ander mense in ‘n motor te ry. In die ope lug was ons veiliger, ook in ons eie kar.

Ek was absoluut verras – en onkant betrap – om te sien dat die pandemie nie hulle tradisie nie beïnvloed het nie. Gelukkig het ek teen daardie tyd al besef dat ‘n gesonde mens my nie siek kan maak nie – hoe de ongeluk gaan die virus tussen ons versprei? En ek is dankbaar daarvoor, want ek sou beide lelik in die gesig gevat het as ek te bang was om hulle te groet.

Ek sou ook ‘n droom dag op die koppie misgeloop het as ek vir ieder en elk bang was. Ek sou die droom oomblik van vryheid op die berg bederf het as ek teruggetrek het.

Want sien, dit is die prentjie wat ons begroet het toe ons uit die motors klim …

Die natuur het in die spieëlgladde dam weerkaats, om my aan God en sy genade en skepping te herinner. Wie kan bang wees as jy sulke grootsheid aanskou?

Dit is dan die agtergrond van hierdie foto.

Die middag saam met die twee jong mense was so heerlik, dat ek van ‘n pandemie en inperkings, my hartseer omdat ek nie huis toe kon kom om my nuwe kleinkind te ontmoet en al die ander sorge vergeet het toe my iPad my vandag aan die foto herinner. Al wat ek onthou was ‘n droommooi dag in Kazakhstan.

Die agtergrond tot die foto kon ek eers onthou toe ek na die datum van die foto kyk. Dit het my daaraan herinner hoe dit gevoel het om tydens ‘n pandemie in ‘n vreemde land te oorleef …

Die twee jong Kazakhs sal altyd ‘n sagte plek in my hart hê. Hulle beplan om vir ons te kom kuier, want een van haar drome is om Tafelberg te sien … Ek hoop dat dit eendag wel moontlik gaan wees.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

25 gedagtes oor “‘n Droom oomblik op Kazakhstan koppie in Ust’-Kamenogorsk (Öskemen)

  1. Sjoe CHrista…ek geniet altyd jou blogs oor Kazak…..seker omdat dit vir my so onbereikbaar is. Jy is geseënd om so iets te kon beleef. Dis nou die wanderlust in my wat praat…

    Liked by 2 people

          1. Jip ..daar is tyd maar daar stop dit. En dis mue net oor al die inperkings. Ek sal dit nooit kan bekostig nie. Ek sal net kan as ek ryk erf van n onbekende ryk oom of die lotto wen. So dis een droom wat saam my begrawe gaan word.

            Liked by 1 person

    1. Hulle gaan wees, maar ek het Suid-Afrika oral in Kaz gesien. Ek dink hulle gaan verras wees deur ons diere: sal hulle net moet wildtuin toe vat. Wat dink jy? O ja – en hulle het nie ‘n oseaan nie, ons s’n kan ook baie waarde tot die reis toevoeg.

      Liked by 1 person

  2. Laat jy my nou terug dink aan daai tyd, sjoe. Eintlik ongelooflik as jy dink hoe hulle julle lockdown beheer het. Ek voel jou pyn oor spoeg, hier algemeen, dae soos daai wil ek soos Worsie Visser se ma op TV iemand sommer so agter die kop klap.
    Wildtuin….what I won’t give🙏. Gaan sien dit alles sodra julle kan Christa

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.