Gepubliseer in Joernaal

Huissoek is nie kinderspeletjies nie

Ek draai die afgelope ruk rondom die gedagte, moet ek al deel, of liewer nie? Miskien moet ek maar net deel en die gevoelens uitskryf, want huissoek is nie speletjies nie.

Ons moet in die volgende ses weke twee keer trek. Ons huis, waarin ek die langste in my lewe gebly het (16 jaar) behoort teen die einde van Junie op die kopers se naam te wees, dan moet ons met die paar goedjies uittrek. En manlief se kontrak in Kuruman maak einde Julie klaar, dan trek ons terug, wat impliseer dat ons huis nie meer beskikbaar gaan wees nie. Ons moet ‘n blyplek kry.

En toe soek ons ‘n meenthuis in die stad. Nie ‘n huis nie, ons soek ‘n sluit-en-gaan keuse, nie al die drama wat met ‘n huis gepaard gaan nie. Veral omdat ons nie weer in ‘n estate wil bly nie.

Dit klink heel maklik en eenvoudig, maar dit is allesbehalwe ‘n maklike proses. Want ons het een of twee voorkeure en daarom moet ons verby die meeste van die advertensies blaai.

Huur, nie koop nie. Sal eers koop as ons van die plek en die area hou. Die lysie is nie te lank nie, maar ons kan nie daarsonder nie.

  • ten minste dubbel garage, dan staan Suzi steeds buite
  • drie slaapkamers, een moet studeerkamer vir die uwe wees
  • sit-eetkamer, manlief eet moeilik op sy skoot
  • kombuis (opwas apart indien moontlik)
  • tuintjie
  • troeteldiervriendelik
  • -R10 000 per maand, wat steeds vir ons belaglik baie is.

My voorkeure het die soektog beperk, daarom was ek bereid om op te offer as ek dit nie kin kry nie. Die vloer moet op een vlak wees, geen matte nie, en ‘n koskas want die kombuise is piepklein – leef die mense van wegneemetes?

Dit is al wat ons nodig het om die gedeelte van ons meubels wat na Kuruman getrek het in te pas. Die res kan maar steeds gestoor word waar hulle mettertyd uitgesoek kan word.

Twee weke gelede is ons stad toe met die grootste verwagtinge. Dit is nou nadat slegs twee van die agente wat geadverteer het vir my afsprake gemaak het. Die res het my nie eens geantwoord nie, huurders weier om huise oor naweke te wys. Weet eienaars dit? Een is ‘n huis, die ander een ‘n meenthuis.

Die huis was ‘n riller, ek het skaars ingestap, toe wil ek uit. Dit is massief, met baie vlakke omdat gedeeltes van die erf toegemaak is om deel van die huis te vorm. ‘n Motorhuis waarin vier karre met gemak kan staan, vuil matte, swart teëls, snaakse kombuis by die voordeur. ‘n Massiewe onthaalvertrek agter die garage. Hierdie vrou sal dag en nag moet huisskoonmaak om die plek netjies te probeer hou. Van die straat af was dit prentjie mooi, die foto’s het ook nie verklik dat dit ‘n riller is nie.

Die meenthuis was ook nie geskik nie. Ek kan nou nie eens meer onthou hoe hy gelyk het nie, maar beide het veroorsaak dat ons ‘n nuwe ding aangeleer het, naamlik F-Nee! Die woord word nie uitgespreek nie, ek wil nie vloek nie. Maar genade tog, dan gaan bly ons eerder by die rivier waar vlermuise my lewe nag maak in die ouer deel van die huis wat ‘n grasdak het.

Verlede naweek is ons weer stad toe. En dit is die eintlike rede waarom ek so stil was as iemand gewonder het. Ons het verlof geneem om Donderdag reeds stad toe te gaan, want ons moes dollatjie se kinders oppas terwyl hulle twee vir die naweek Drakensberge toe sou gaan. Manlief het verlof tot Woensdag geneem omdat Woensdag ‘n vakansiedag is – dat ons sommer ook huis kan soek. Maandag en Dinsdag sal ons na huise kan gaan kyk.

Toe kom die virus en steel my naweek saam met my dogter en kleinkinders. Dollatjie word maandag siek, toets positief en isoleer met haar hele gesin. En dit is een van die goed van die pandemie wat my die kwaadste maak. Vyftien maande gelede sou ek by haar gaan bly en gehelp het dat sy kan rus. Die hele gesinnetjie van vyf was vir ‘n paar dae lank olik, ek kon soveel help. Hulle trek middel Julie Kaap toe, sy het baie om te doen. Maar nee, nie nou nie. Ter wille van my eie “veiligheid” moet ek my afstand hou. My kind wil nie vir my “dood” verantwoordelik wees nie.

Moet asseblief nie skryf dat dit die verantwoordelike ding is om te doen nie – God beskerm ons nog die hele tyd tussen vreemde mense waarvan hoeveel siek kon wees. Ek glo werklik nie dat die virus in restaurante en op vliegtuie tydens etes teen die mure vasplak en ‘n skietstilstand verklaar totdat die maskers op is nie. En ons het spesiaal verlof gevat om die kleinkinders op te pas. Ek hoop maar die lang verlof hap nie vir manlief aan die boud nie want ek het gekerm dat ons Donderdag al stad toe gaan om dit vir hulle makliker te maak om te ry aangesien ons die kinders by die skool sou kon oplaai.

Diep ongelukkig oor die stand van sake bly ons in ons skaars gemeubileerde huis wat mos amper iemand anders s’n is. Lekker is dit beslis, want my woewe kon in hulle bekende tuin speel terwyl ons twee Pretoria toe is om ‘n huis te kry.

Aangesien ons Vrydag toe so oop soos ‘n waenhuis is, kry ek verskeie afsprake gemaak. Dertien om presies te wees, daaruit moet ons iets kan kry wat werk. Maar goeie genade, die soektog het eerder ons standpunt oor huurders vir ons eie plek gestaaf. Die plekke wat nie oopgestaan het nie, was morsig. Vuil stowe, vuil matte, brandkolle op matte – skuus, ja, ek moes later maar matte ook oorweeg …

Ek het nog nie vertel nie, sal beslis as ons uit hierdie huis in Kuruman trek. Die matte was morsig, sou skoongemaak word voor ons intrek, maar toe kry hulle dit nie skoon nie. My Kirby kan dit skoonmaak, maar ek het geen idee waar haar matwasdeel verpak is nie. Toe koop ons maar tweedehandse een toe ons laas in Johies was. En na vier wasse lyk die matte beter. Ek sou matte wel kon skoonmaak, waarom mense matte in hulle huurhuise sit, weet ek nie.

En toe verloor manlief sy hart op een plek – ‘n soort van skakelhuis, ons het die een helfte en iemand anders die ander een. Omdat die erf so groot is, al is dit in ‘n kompleks, lyk die huisie piepklein. Die kombuis is so klein dat die yskas in die eetkamer moet staan. Wasgoed moet – soos ek ook hier in Kuruman doen – in die garage gewas word. Daar staan die garage myle van die huis af, met sy boud na die huis toe. Hier is die garage deel van my huis. Daar is geen plek om kos te pak nie. Ek wil byt aan die moontlikheid om kos maar in ‘n kamerkas te pak, maar toe sien ek op Google iets wat my soos ‘n donkie laat styfskop.

Afstand tussen woonstel en Waterkloof lugmagbasis

Dit is die probleem as jy ‘n geografie juffrou is – jy sien goed dadelik raak. Die plek is besonder naby aan ‘n vliegveld. Watter vliegveld sou tussen die N14 en die N1 in Centurion wees? Manlief sê dit is Swartzkop, ‘n lugmagbasis, maar ek twyfel. Skoondogter se sus stem met hom saam. Ek bly stil, maar ek stem nie saam nie. Soos ek onthou, ry mens op die ou Johannesburg pad en dan kry jy die vliegveld links van jou. En toe is ek reg, Die Hoewes is sommer tussen twee lugmagbasisse. Daardie ene was in ‘n heel ander koers, in ‘n gedeelte van die stad wat ek as beboud beskou het. En toe is ek reg, Die Hoewes het ‘n lugmagbasis aan elke kan

Swartkoplugmagbasis en Waterklooflugmagbasis

Ek word vertel dat die lugmagbasisse nie gebruik word nie. Volgens skoondogter se suster, wat voorheen in die Hoewes gewoon het, is dit een massiewe lawaai in September wanneer die die lugmag lugskou hou. Hoe kan so iets in ‘n stad gebeur? Ek dog Pretoria se luggebied is afgesper – geen vliegtuie mag daaroorheen vlieg nie. Natuurlik sou die lugmag uitgesonder word. Iedergeval, hierdie Geografie juffrou hoef maar net nader te kyk op die foto’s om te weet dat die lugmagbasisse wel gebruik word – daar staan vliegtuie wat geland het of gaan vertrek!

Manlief het te vertelle dat ons dan maar net September rivier toe gaan. Ek weier absoluut om van my huis te vlug van iets wat ek voor die tyd geweet het. Buitendien, as ons siek is, kan ons nie vlug nie …

Een van die redes waarom ek bes gegee het toe manlief ons stadshuis wou verkoop, is die feit dat vliegtuie se roetes vanaf en na Lanseria in 2018 onverwags verander het. Met die gevolg dat boeings laag oor ons huis kom land of styg het. Dit was een verskriklike lawaai en het my so vies gemaak. Ons huis was in ‘n landgoed, wat die afgelope sestien jaar deel van die stad geword het omdat Ruimsig een van die dele in die land is wat die vinnigste ontwikkel het. Mooi is dit nie? Die naam van die area waar ons huis oor ‘n rukkie nie meer sal wees nie.

Gepas was dit vir ons Afrikaanse harte toe ons gekoop het. Ons het van die Afrikaanse stad Welkom na die Afrikaanse voorstad Ruimsig getrek. Wat nie kon besluit of hy deel van die Afrikaanse dorpe Roodepoort of Krugersdorp wil wees nie. Soveel anders as die Oosrand was die Wes Rand pure Afrikaans. Ons het daar tuis gevoel.

Ewenwel, ek wou eintlik vertel van die vliegtuie. Hulle moet baie, baie, baie laer oor ons huis kom om te gaan land as in Ruimsig – daar is die lughawe nog twintig kilometer van ons huis af. Hier sou dit enkele strate van ons af weg wees. Skielik verstaan ek waarom plekke daar goedkoper is, die vliegtuie pla. Ek trek nie na daardie huis toe nie. Al is Die Hoewe baie sentraal en mooi en heelwat goedkoper as die nuwer gedeelte anderkant die N14 (ooste van Centurion) waar ons eintlik huis wou vind.

Want ons wou in Centurion plek vind, iets wat die prys van plekke ook beïnvloed – die hoogte instuur.

Ons slaap die Saterdagaand by seun en ek kry ‘n veertiende plek waarna ons kan gaan kyk. Pas op die internet gelaai.

Dit lyk absoluut perfek en in een van die komplekse waar ons graag wil bly. Amberfield Crest. Ja toe, ons moet nou maar aan Engelse blyplekke gewoond raak. Die Hoewes klink so goed, maar daar wil ek nie bly nie.

Ons gaan kyk Sondagoggend en ek hou van die plek. Het sy eie hek, dus kan Suzi buite staan sonder om in die straat te staan of op iemand anders se plek. Klein genoeg, skoon genoeg, mooi stoof. Manlief skop vas. Hy soek nie ‘n pypsteelerf nie.

Ons twee stamp koppe – ek soek nie Die Hoewes se vliegtuie nie, hy soek nie ‘n pypsteelerf nie. Beide huise kos R13 000 per maand, dus is dit nie ‘n item om te onderhandel nie.

Ek kyk weer na die foto’s van beide plekke en besluit ek soek ook nie een van die twee nie. Die pypsteelerf voel ingedruk, van alle kante van mense reg in my huis inkyk. Omdat hulle so naby is, sal ons mekaar se moesies kan tel. Ek weet nie waarom agente dink dat hulle “mooi” foto’s van plekke moet neem nie – wat my nou laat wonder of hulle vuil matte en morsige stowe ook beter laat lyk?

Sondagaand gaan slaap ons kwaad vir mekaar. Manlief sê dat ons dan maar rivierhuis toe trek. En ek voel dit was al die tyd sy plan – hy wou nie kop gee nie. Al weet ek dat nie een van die twee plekke werklik voldoende is nie. Maandagoggens staan ek nog steeds kwaad op, vee elke boodskap aan ‘n agent uit, elke skermskoot van ‘n plek. Ek is kwaad want ek het baie tyd gemors, die man se kop staan rivier toe. As hy huis soek, kan hy dit self soek. Ek is klaar!

Ek weet die ou mense sê mens moet uitpraat voordat jy gaan slaap. Ons moet daaroor slaap om nie lelike goed kwyt te raak om in hemelsnaam tog net te kan slaap nie.

Maandagoggend verduidelik hy vir my. Nie een van die huise voldoen aan ons vereistes nie. Hy het die vorms van beide agente gekry en hulle rook ons met deposito’s. Beide vereis R18 000 en meer aan deposito’s. Ons het dit, maar stem nie saam met die deposito’s nie. R2000 deposito vir skoonmaak van die huis, al is beide huise nie volgens ons skoon nie. Ek sou dit self ordentlik skoon moes maak en hoop dat ek die deposito’s aan die einde van die jaar terugkry.

Waarom koop ons nie?

Ek terk my skouers net op, waar de ongeluk gaan ons ‘n plek te koop kry waarvan ons gaan hou. Ek is moeg gekyk, moeg gesoek. Ek gee boedel oor.

Hy is reeds besig om na plekke te koop te kyk en ja, dit sou wel ons spaargeld opsuig, maar as dit ‘n goeie plek is, dan koop ons. Bly eerder ‘n ruk by die rivier en dan soek ons rustig.

Ek raak ook begeesterd en blaai deur die advertensies en vind wat ek soek. in ons prysklas in ons area – Amberfield. Ek wys en hy is ook opgewonde. Ons eie plek met alles wat ons soek – en twee ekstra parkeerplekke onder dak. Alles gaan pas.

Ons was eintlik van plan om van Maandag tot Woensdag maar rivier toe te gaan. Wat help dit ons bly in die stad? Die kinders werk en ons verlang na die ooptes van die rivier.

Ek bel, die agent antwoord.

Ons kan twaalfuur gaan kyk. Die plek kliek nie net al ons boksies nie, die plek is pragtig versorg. Beide badkamers is ook volledig, met stort en bad. Dus hoef ek net een badkamer daagliks skoon te maak, die ander een is vir gaste. Ek wonder of die versorgdheid van die plek maar die verskil tussen huurder en eienaar is wat die plek vir mens wys? Een van die redes waarom ons geweier het om ons stadshuis te verhuur, al sou R30 000 per maand ‘n goeie inkomste wees …

En glo my, sommige van die plekke waarna ons gaan kyk het, was morsig vuil. In die een was ‘n rommelhoop in die suitkamer gemaak, so hoog dat mens teen die een muur om dit moes loop om na die tuin te gaan kyk. Die jong man en sy vrou het dit vir ons gewys. Ek sou my morsdood geskaam het.

Ons plekkie is wel langs ‘n besigerige straat, maar die huis staan met haar boude daarheen. En die ingang na die kompleks is vanaf ‘n straat aan die ander kant, ‘n stil straatjie met sekuriteit by die hek van die kompleks. In die meenthuis is dit stil, asof dit nie naby ‘n straat is nie. Ook aan die voorkant van die huis, waar ‘n klein maar mooi tuintjie ons begroet.

Ons maak aanbod, die eienaar aanvaar en ons het ‘n plek waarheen ons einde Julie kan trek. As die sake nog nie afgehandel is nie, betaal ons okkupasie huur.

Doodmoeg maar gelukkig ry ons terug huis toe, slaap ‘n laaste aand in ons huis en vat die pad die volgende oggend dou voor dag rivier toe. Om daar te rus voordat ons die pad die volgende dag terugneem hierheen. Kuruman is vier ure van ons rivierhuis af. Ek het altans gerus, manlief het die pomp in die boorgat gedit, ons het mos vir water geboor omdat die rivierwater morsig vuil is as gevolg van alles wat daarin gegooi word.

En nou het ons ‘n huis. So klein en interessant uitgelê dat daar nie ‘n gang is nie. Liggrys houtvloere wat ek manlief in die lewe nooit sou kon oortuig om vir my in te sit nie, netjiese teëls. Splinternuwe stoof, eikehoutkaste om my aan my vorige twee huise te herinner. Ek is gek oor eikehoutkaste in ‘n kombuis, hulle hou ‘n leeftyd. Plek vir al my masjiene en die tweedeuryskas in die kombuis.

In ‘n kompleks met bittermin soortgelyke huise. Het ek vertel dat dit ook skakelhuise is? Dit is egter vier aanmekaar, wat nie die indruk wek van ‘n halwe huis nie. Ons s’n is ook nie een van die twee hoekhuise nie. Hier kan ons oud word terwyl ons nuwe belegging groei. Want groei gaan hy gewis, dit is een van die moderner, nuwer areas van Centurion.

Gister was ek nog doodmoeg, veral omdat daardie Donderdag toe wasdag moes word. Vandag is ek vuur en vlam – dit voel of ek uiteindelik weer ‘n tuiste het na meer as twee jaar in ander mense se huise. Al het ek my eie, wat leegstaan …

Ons het ‘n plekkie klein genoeg om in ‘n rekordtyd skoon te maak, groot genoeg om aan al ons basiese behoeftes te voldoen. Naby genoeg aan my seun dat ons kan baba oppas as ons nodig is. Ver genoeg dat hulle steeds nie hoef te voel dat ons oor hulle skouers kyk nie. Naby genoeg aan ‘n Gautrein busstop om sommer soontoe te loop, na die Gautreinstasie toe te gaan om lughawe toe te ry om my dollatjie in die Kaap te gaan besoek. Naby ‘n groot winkelsentrum, maar in ‘n stil gebied. Naby ‘n Nederduitsch Hervormde Kerk.

En die plekkie het so pas weer op die mark gekom omdat die persoon wat die vorige aanbod gemaak het, dit nie gefinasier kon kry nie. My hart is seer oor die jong gesinnetjie wat na haar ouers moet terugtrek omdat die pandemie hulle platgeslaan het. Ons het daarom nie oor die prys onderhandel nie – dit behoort hulle weer te help om op te staan. En ons het na een enkele plek te koop gekyk om die finale besluit te maak – hierdie is ons huis.

En ek kan uiteindelik in die maande sedert ons die aanbod op ons huis aanvaar het ontspan. Dit gaan heel waarskynlik ons laaste trek wees. Ek dink nie iemand kan my kwalik neem as ek nou wil rus nie. Ek sal later van die trekke die afgelope twee jaar vertel – te veel vir twee mense na aan aftrede.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

54 gedagtes oor “Huissoek is nie kinderspeletjies nie

  1. Ai Christa….ek verstaan so goed. Ek is bly jul het gekoop want dit beteken jul kan lank daar bly. Maar huis soek si nie vir sissies nie, dit het ek nou ook die laaste paar maande agtergekom. Maar welkom in Pretoria!

    Liked by 2 people

          1. En beslis nie toelaat dat ‘n virus waarvan 90% van die mense sonder probleme herstel haar van haar kinders af weghou nie. Ek troos my maar daaraan dat dit nie my besluit was nie. Maar, dit help nie veel nie, want ek wonder baie of ek net te bang is om my mening te lug as dit by my kinders kom.

            Like

          1. Nie gekoop nie. Het ses maande gehuur en baie probleme gehad. Die bank wou nie leen nie want daar was te veel wat gedoen moes word. Ou huis gewees en voorste muur het ingesak en moes eintlik weer opgebou word. Dis maar een van die probleme. Net voor my tyd om was het ek toe sommer uit die bloute op ‘n oulike meenthuis afgekom en dit dadelik gekoop. Dit was ‘n heerlike blyplek. 8 jaar daar gebly voordat ek verkoop hey om NZ toe te kom.

            Liked by 1 person

          2. Nee dit was in Potties gewees. Voordit moes ek inderhaas ‘nhuis koop in Secunda omdat die bank ons huis teruggevat het. Hier het ek al my geld as deposito vir ‘n blyplek inbetaal en my seun het die res as lening gekry om af te betaal. Nou verhuur hul my sogenaamde plek uit en ek bly solank in hul eerste huis(verniet, seun sponser my, het nie geld om huur te bataal nie) So ek is eintlik huisloos maar dankbaar ek het n dak oor my kop.

            Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.