Gepubliseer in Joernaal

Pavement specials of ontwerpershonde?

***Please note: Google translates my site; therefore, my posts are available in your language. I am writing in my mother tongue – Afrikaans. I found some of the translations horrible, so bear in mind that you are reading a machine translated post.***

Ek het grootgeword met die idee dat ‘n hond opreg – of raseg – is of nie. As hy nie raseg is nie, is hy ‘n “pavement special” genoem bedoelende dat die babatjies tydens een van mamma se uitstappies in die omgewing gemaak is, die pappa van ‘n ander ras. Ek verkies om nie so na woewe te verwys nie.

“Pavement specials” verwys hoofsaaklik na honde waar mens duidelik kan sien dat met die gene gepeuter is, met ander woorde dat pappa en mamma nie van dieselfde ras is nie. ‘n Mens kan hulle ook nie vir baie geld te koop aanbied nie, hulle is nie raseg nie.

Opregte honde, waarvan die mamma en pappa van dieselfde ras is, kan wel vir ‘n arm en ‘n been te koop aangebied word. En dit laat my aan my pa dink. Hy het geen erg aan rasegte honde nie, as iemand vertel dat sy hond een is, het my pa geantwoord: “My honde is ook opregte honde, hulle pa is ‘n hond en hulle ma is ‘n hond. Dus opregte honde. Geen kat of erdvark of ander bloed in hulle are nie.

Dus het my pa nie ‘n arm en ‘n been vir ‘n woef betaal nie, hy het na die ou woefie gekyk en besluit hy hou van die woefie. Of nie. En as hy van die woefie hou, het dit ons hond geword.

Daarom het ons honde op ‘n stadium name gehad wat verwys het na die bedrag wat my pa vir hulle betaal het. Viera het R4 gekos, dus kan jy self aflei hoeveel Ravy gekos het. En net so terloops, ek dink ons was baie kreatief met die name, is dit nie oulik nie? Ravy – in Afrikaans uitgespreek en nie Ingels nie.

Toe ek egter self honde aanskaf, het ek raseg gekoop. Want mens lees te dikwels dat slegte eienskappe van een ras oorgedra kan word. Ons het wolfhonde (Alsations) gekoop. As die ene doodgaan, het ons ‘n nuwe baba aangeskaf. En dit was belangrik dat hulle nie slegte eienskappe dra nie, my kinders het van babadae af met woewe grootgeword.

Daarom is BB ook met papiere gekoop en toe ek BB wou laat babas kry dat sy haar eie maatjies kan maak – as mens dit so tong in die kies mag stel – was dit vir my belangrik dat die babas papiere het. Ek het as teler geregistreer, vir haar ‘n geskikte maat by ‘n ander teler uitgekies – twee verskillendes vir die twee dekke en dus het ek nou drie opreggeteelde Miniatuur Schnauzers in die erf.

Maar dit is nie eintlik waaroor ek wil vertel nie.

Ek wil oor “pavement specials” gesels, want hulle word lyk my net in Suid-Afrika so genoem. Ook net hier word afkeurend na die gekruisde babas as “pavement specials” verwys. Terloops, ek is gek oor hulle, ek kyk allesbehalwe afkeurend na hulle. Net nie in my erf nie, ek verkies ingeteelde karaktertrekke. Hier in Suid-Afrika trek mense hulle neuse op vir gekruisde babahondjies wat duidelik gene van ‘n ander ras dra, maar nie in Australië of Nieu-Sealand nie.

Ek het gedink dat dit net in Australië so is. Hulle verwys nie na gekruisde honde as “pavement specials” nie, hulle skep nuwe name vir die gekruisde ras. Dit het ek geleer uit gesprekke met my suster, wat so 12 jaar gelede Australië toe getrek. Ek gaan haar weer moet vra watter soort honde sy het, maar ek verbeel my daar haak ‘n “oodle” aan die naam, wat beteken dat daar poedel in die woef is. En daar is “pavement specials” net so duur soos opreggeteelde honde.

Vanoggend lees ek Scrapy se inskrywing oor ‘n kuier by vriende met twee woewe, ‘n bruin en ‘n swart Labradoodle. Natuurlik hoef ek toe nie te vra watter soort hond dit is nie, ek weet dadelik: ‘n Labrador gekruis met ‘n poedel. Ek kan die poedel in beide woewe sien weens die krullerige hare, die spesifieke krul van ‘n poedel se hare. Maar mens, ek sukkel om die Labrador raak te sien. Wat ek wel weet, is dat hierdie kruising ‘n liefdevolle, spelerige, slim hondjie tot gevolg kan hê. En dit mag dalk selfs wonderlik wees, want Labradors is nie regtig spelerig nie.

Dit lyk vir my of poedel daarvan hou om hulle gene – soos Steve oor Danie Craven se woef Bliksem skryf – goed te verdeel. Ek het so half die gedagte dat die pappa ‘n pooedel is. Want – ons het ‘n Labrador by die rivier gehad. Sweetie. Goue ene, en ons moes haar laat regmaak, want die bure se woewe het in die nag by haar gaan kuier. En dan het ons – tot ons skok – sulke gekolde, steekhaarbabatjies as verassing gekry. Ons het selfs gewonder of sy dalk ‘n ystervark toegelaat het. Met ‘n gewillige Labrador en ‘n orige poedel is dit moontlik om Labradoodles te kry.

Ons Labrador sou stil staan. Gee glad nie om of die pappa ‘n poedel is nie, as hy ‘n plan kan maak om by te kom, is hy oulik genoeg om pappa te word. Al moet hy op ‘n trappie staan …

En dit bring my by die slotsom. Die vraag wat ek vir my suster vra. Waarom nie nuwe name vir die nuwe rasse skep nie? Veral as die “nuwe” rasse kastig doelbewus geteel word? Want sien, Miniatuur Schnauzers is ook uit verskillende rasse geteel, maar ‘n nuwe naam is vir die nuwe ras geskep.

So gesels ek met my sus oor die woewe, hulle word nie ‘pavement specials’ genoem nie, maar “ontwerpershonde”. My sus het ‘n Cavoodle – dit is ‘n Cavalier Spaniel gekruis met ‘n poedel. Mens kry ook Spoodles, kan dan raai wat gekruis is. Vir ‘n Cavoodle kan jy in Australië $7 000 betaal.

Daar word ook van eerste en tweede generasie gepraat. Die eerste generasie se pa en ma was opreggeteelde woewe, iets wat ek nie kan verstaan nie. Hoe doen mens so iets aspris? Of het die twee woewe namens die telers besluit om te kruis en toe moet die probleem met ‘n nuwe taktiek reggestel word om steeds prys te kry vir babas? Goeie taktiek om mense te oortuig om ‘n “designer breed” te koop …

Ewenwel, tweede generasie is wanneer die Cavoodle met Cavoodle teel. Ek sou steeds nuwe naam vir nuwe ras voorstel teenoor die gekoppelde name …

Ek is vreeslik trots op die Miniatuur Schnauzers wat ek geteel het. Raseg tans. Maar, Miniatuur Schnuazers is ‘n gekruisde ras. Verskillende rasse is gebruik om ‘n werkershondjie te teel. Een wat rotte kan vang. En so wraggies, wikipedia is van mening dat daar poedel in hulle kan wees!

Mens sou dit nooit kon dink nie, maar as hulle haartjies en baardjies afgeskeer is, lyk hulle bekkies soos Dobermans s’n. Lank en maer, volgens sommiges verwys die naam Schnauzer juis na hulle langer snoete – Duits vir snoet. Ander is van mening dat die woord verwys na hare op die spiere – Schnauze in Duits.

Lees gerus hier meer oor Schnauzers in Amerika https://www.amsc.us/history-of-the-miniature-schnauzer/

Ons kan dus ophou om ons neuse vir “pavement specials” op te trek omdat die kruisings wat oor jare in rasse ontwikkel het, gewoonlik per toeval gebeur het. En dit laat mens wonder, het die mammas die regte karaktertrekke in die pappas raakgesien? Word hulle aangetrek deur die uiterlike van die pappas? Of was dit tyd om ‘n nuwe ras te begin – een met ander karaktertrekke as wat ons vandag ken.

Ek is net dankbaar dat dit nou verban word dat hulle oortjies gesny word om spits te wees, die stertjies nie meer verpligtend afgekap moet word nie. Ek sou nie een van die twee aan my BB se babas doen nie. Hoe wreed is dit net nie?

Sy kan maar bly wees ons leef in ‘n verligte eeu.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Pavement specials of ontwerpershonde?

  1. Ek is self ook meer gesteld op opreg geteelde diere. Ons het altyd as kinders sommer so honde gehad wat die liefste diere was. Toe ek begin met melkbok boerdery is daar behoorlik geteel. Selfde met my alaskan mallemute ook. Glo nie ek sal sommer n kruising sommer aanskaf nie. Ek is ook bly dat stertjies en oortnies nie meer geknip mag word nie.

    Liked by 2 people

  2. Dis nou ‘n oulike idee om die twee honderasse te neem en ‘n nuwe naam te skep! Dit klink sommer baie beter ook. Roald Dahl het mos in die BFG so sy eie woorde geskep, party van 2 dele woorde en ‘n nuwe een daarvan gemaak. Dis baie kreatief.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.