Liewe Persoon skryf oor hoe sy iemand moes red van VVVs, die goed met Vlerke, Voelers en Vere. My VVV is baie meer spesifiek – Verdomde Vlieënde Vlermuise …
Ek dink ek kan met ‘n eerlike hart sê dat ek nou genoeg van Verdomde Vlieënde Vlermuise gehad het. Heeltemal genoeg. Ek het net een hart, daar is nie ‘n plaasvervanger nie. En hy het die naweek duidelik uitgespel: Geen VVV’s verder nie.
Dit gaan nie net oor die feit dat ons hulle nie uit ons rivierhuis geskud kan kry nie, daar waar ek so rukkie gelede geweier het om die ou deel van die huis verder skoon te maak. Want ek is nie hulle aangestelde poef en pie skoonmakers nie. Dit dra natuurlik grotendeels daartoe by dat ek hulle nie in my huis soek nie.
Maar dit gaan ook nie net daaroor dat ek in my kamer in die ou gedeelte van die huis onder ‘n net moet slaap om seker te maak dat een nie in die nag op my val nie. Want dan sal my hart dit beslis nie maak nie, net een lang piep gee en ophou klop. Die net is warm, ek is heelnag bang dat ek daarin gaan vaskoek en my woewe staan teen dit op. En soms kry ek die skrik van my lewe as ‘n spinnekop saam met my in die net is. Genade tog, dit is die ander ding waarvoor ek ‘n heilige vrees het.
Dit gaan daaroor dat die goed kan vlieg. En blykbaar blind is, op radar vlieg. Nie dat ek die blind glo nie, hulle het dan oë, en oë kan kyk. En so soek ek gou op. Ja, hulle is nie blind nie.
Soms is ek saans in die kombuis besig om aan ‘n artikel te werk. As manlief so snork dat ek nie kan slaap nie. En dan kom een skielik uit die dak en kom vlieg sy sweefvlieg in die kombuis. Met my wat gebukkend uit die vertrek hol, die kamer in en onder die net. Soos blits.
‘n Vlugteling.
In my eie huis.
Een wat daar was voor die VVV’s besluit het dit is hulle huis ook. Natuurlik omdat ons min daar is, dink hulle dit is hulle plek.
Ek haat hulle!
Daar is regtig geen ander woord nie.
Vlieënde, harige muise. Nee, eerder rotte?
Aaklige pikswart, harige diere, wat kan vlieg.
Ek haat hulle!
My naam is nou al twee keer plank geslaan deur hierdie ongediertes.
Die eerste keer was ek alleen in die huis. Almal het buite by die boma gebraai. Toe vlieg die ding op my af in die kamer.
Ek het een massiewe gil gegee wat almal by die boma se bloed laat stol het. En na die badkamer gehardloop.
Maar myne het ook gestol toe ek die badkamerdeur toepluk en die ding in die proses in die deur vasslaan.
Hy het na my gekyk en geskree.
Ek het na hom gekyk en ook geskree.
Goed dan, ek jok.
Ek het histeries gegil, want ek was in die badkamer. En die enigste pad uit was deur die deur, daar waar die ding nog vassit en skree.
Iemand het die deur kom oopmaak nadat ek ‘n japon oor my gegooi het om uit te hardloop. Die gedrog het losgekom en verder gevlieg.
Daarna het ek ‘n groter vrees vir die goed gehad. Hy het agter my aangevlieg.
Hulle kan nie in die nuwe deel van die huis inkom nie, dus is ek op my gemak daar.
Tot een die naweek besluit om in te vlieg toe manlief die deur in die nag oopmaak dat die woewe gaan piepie.
Ek het een gil gegee en omgevlieg kamer toe. Die deur toegedruk. Ons gaan nie saam in een kamer wees nie.
Die gedrog het op en af in die gang gevlieg, na die deur toe wat oopstaan en weer terug. Hy wou nie uit nie.
Gelukkig was die woewe se nood te groot en het hulle hulle ding gaan doen.
Want ek sou nie – soos wat ek gewoonlik moet doen – saam uitgaan dat hulle wel piepie nie. Dan maak ek eerder die volgende dag skoon. Maar ek en die VVV gaan nie saam in die gang wees nie.
So kom manlief in en hy word opgekommandeer – die vlermuis moet uit.
Uit my huis uit.
Of ek bly in die kamer.
Hy probeer sy bes, maar die vlermuis wil nie by die oop deur uit nie. Dit het teen ‘n muur naby ons kamer gaan plak. In die hoek.
En ek sê hy kan kom slaap.
Maar – die kamerdeur bly toe. Manlief kry vreeslik warm in die nuwe deel, maar hy is ook lief vir sy slaap. Dus is die deur toe, vlermuis sit in die gang naby ons deur teen die muur.
Ek dog die goed kan nie teen gepleisterde mure vasklou nie.
Toe kry ek ‘n nood, terwyl dit nog donker is.
En ek kan nie – soos wat ek my woewe sou toelaat – in die kamer die ding doen nie. Hulle moet ook van die ding af wegbly.
Ek het die deur oopgemaak, uitgeloer en die pes het teen die muur gesit, die deel waarby ek nie verby hoef te loop nie. Af in die gang, badkamer se deur oop dat ek kan sien as hy vlieg.
Geen beweging, dus is ek weer terug kamer toe. Hy het nog gesit en slaap.
Deur toe, en weer rustig gaan slaap.
Later moet manlief badkamer toe en toe besluit die VVV dat hy weer gaan vlieg. Op en af in die gang, om die draai na die deur toe en dan weer op en af. Die ding vlieg mos soos iets wat sweef, nie op een hoogte soos ‘n vliegtuig nie.
Manlief maak weer die deur oop, maar die VVV wil weer nie by die deur uit nie, selfs al word hy met ‘n handdoek gekeer om na die agterste deel van die gang te vlieg. Hy draai net om en vlieg tot by die deur en weer terug.
So kom slaap manlief weer, die deur toe.
Die oggend moet ek weer badkamer toe.
VVV sit teen die muur.
Toe ek weer sien, vlieg die pes by my in die badkamer in!
Ek is so vinnig soos Superwoman daar uit, gebukkend, slaapbroek om die knie. Ek kon my nek gebreek het!
Daar is geen manier waarop ek sou regop staan om eers die nodige te doen nie.
Manlief het in die kombuis gestaan en nie gewaag om te lag nie, want hy het geweet.
Daar is nie meer omdraaikans nie.
Die pes moes uit die huis.
En nou …
Met die VVV by die deur uit, kon ek steeds nie my asemhaling nie beheer nie.
Ek besef daar is mense wat dink dat vlermuise oulik is. Ek besef ook dat die goed beskermde diere is. Selfs nuttig.
Maar glo my, ek verkies ‘n muskiet- en selfs ‘n spinnekopbyt bo enige VVV in my huis.
Hulle kan maar buite rondvlieg, daar gaan goggas vang.
In my huis is hulle NIE WELKOM NIE!
Ek verstaan nie die oproep na nuttig as hulle ‘n mens se huis as toilet gebruik nie.
Soos ek verstaan, bou virusse op die mis op en as mens dit verstoor, kom die virusse in die lug en kan jy dit inasem en siek word.
Verder pie hulle in die vlieg en los honderde kolle op teëls, spieëls en mure wat ek moet afwas om my gesin veilig te hou.
Die pie was moeilik af, laat wit vlekke op die vloere.
Nie my idee van ‘n grap of ‘n nuttige dier nie. Inteendeel, dit is die idee van ‘n pes in jou huis.
Inteendeel, ek is baie seker daarvan dat ons dringend moet kyk hoe ons die grasdak en mure se las beter kan versterk.
Dat hulle nie in die huis kan kom nie.
Want ek soek hulle nie in my huis nie.
Hulle hoef nie die muskiete te vang nie, hulle kan die vlieë los, hulle kan die motte los. Vir hulle almal sien ek kans. Maar nie vir ‘n VVV nie.
Hulle moet uit my huis trek.
En baie gou …
Hooffoto: Verwysing http://www.mstworkbooks.co.za/natuurwetenskappe/gr8/images/gr8ll02-gd-0033.jpg
Dis erg. Jy het 2 opsies.
1 verwyder hulle. Probeer die volgende. Gaan koop n paar pakke motballetjies. Strooi jou hele huis vol daarvan. , maak al d deure en vensters n rukkie toe.. en sit jy en d hondjies buite. Dan gaan maak jy alles weet oop. Hopelik is hulle so benoud vd reuk dat hulle by die eerste oop gat wat hulle kry uitvlug om asem te kry. Ek het eenkeer due raad gekry vir n muis in die huis en dit het gewerk. Hyis slinger-slinger daar uit en het van tie af die vars lug vd veld verkies.
2. Nou is jou kans om n wetenskaplike studie vandie vlermuis te maak. Jy het al reeds hier interessante observasies meegedeel. Maar daar is nog baie wat jy kan leer. Jy kan dalk n tesis daaroor doen, of n tv program of iets. Moet hulle asb nie saambring Rebus toe nie.
LikeLiked by 1 person
Seegogga, ons het al motballetjies probeer. Dalk moet ek dit die keer vir maand laat lê. Ek dink die dak is te hoog waar hulle is. Die peste.
LikeLike
A te min!
LikeLiked by 1 person
Ek gaan koop en strooi, die hele plek vol waar hulle is. Die goed is nogal skaars hoor, mens moet hier en daar en oral koop om genoeg te kry.
LikeLike
Sterkte met alles!
LikeLiked by 1 person
Dankie vriendin, ek gan motgif soek en manier om dit nader aan die dak te plaas.
LikeLiked by 1 person
Tesis? Laat jy my nou lekker lag. Dalk eerder artikel. Dan weer: Liewerste nie, ek wil nie naby die goed kom nie. En ek wil hulle nie van naby beskou nie, dit is erg genoeg om die vlieëndes te vermy.
LikeLike
Ek hoop natuurlik hulle volg my nie na Rebus nie, ek gaan moet sorg dat die plek se dak mooi las. Daar is juis genoeg hangplek vir die goed, gaan sommer die naweek die plek deursoek vir plek waar hulle in kan kom.
LikeLike
😄
LikeLike
Skreeusnaaks!
LikeLiked by 1 person
Dankie. Ek het ‘n kuur nodig vir die VVVs
LikeLike
Jy het al my simpatie, Christa. As ń mede grasdak-bewoner verstaan ek.
LikeLiked by 1 person
Dit is nag, Una, en ek is nou net mooi moeg daarvoor om te vlug in my eie huis. Ons sal plan moet maak. Baie dankie.
LikeLike
Jy met my nou so laat lag. Het jy geweet dat hulle beskermde diere hier in Engeland is volgens ‘n 1981 wet? En, as hulle in jou huis is… (hou vas), dan mag jy hulle **nie** verwyder nie! Jy kan groot boetes kry! Die vlermuise hier leef meestal in bome/tuine, maar ek het al heelwat kere gehoor van die goed wat in huis intrek – soms huise wat leeg staan en as jy die plek koop en jy vind uit hulle is daar…. dan sit jy met hulle. Dis nou waar my dogter se werk inkom ook. Deel van haar werk is om na areas te gaan waar hulle wil bou, te inspekteer vir bedreigde/beskermde spesies, verslae te skryf en dan eers kan daar ontwikkeling plaasvind – maar eers na herhaalde besoeke wat sy moet doen om seker te maak hulle woon nie daar nie. Dus, as dit die dier se habitat is, dan’s dit maar ‘sorry’ vir die ontwikkelaar of wie-ookal.
My man het jarrre terug aan die internasionale vlermuisorganisasie behoort – hy dink hulle is verskriklik oulik , maar ai tog, ek voel presies soos jy. Het hulle op die plaas so leer ken en het ‘n ‘vrees’ vir daardie koek-in-die-hare.
LikeLiked by 1 person
Hi Nikita, ek het ook vrees vir die koek in die hare. Ek lees p- die skakel dat dit ‘n wolhaarstorie is, maar ek glo dit nie. As ek in die nag in die gang loop en hy misgis hom en vlieg in my vas, gaan hy mos met daardie pote vashou aan wat hy kry. En nie los nie. Ek gaan dit nie waag nie. O my word, die een wat die wet geskryf het, moet totaal koekoes wees. En onbewus van die gevate van vlermuismis. Hier is hulle oon beskermde diere, maar mens mag hulle darem uit jou huis kry. Ek gaan die vlermuishuis ding maar probeer, maar wie wil nou ‘n nes vir die goed naby jou huis bou?
LikeLike
Nooit geweet hulle is beskermd in SA daardie tyd nie en ek het gevoel ek wil hulle ‘vermoor’ as hulle so in die huis rondvlieg – en dan so in die gordyne hulself gaan neerplak! Ek wou my morsdood gril en die gille in die huis as hulle daar rond was – kan dit nog steeds hoor. Ek sal hulle nooit toelaat in my huis, beskermd of nie — uit sal hulle moet uit. Sterkte daar! Laat weet as jy iets kry wat help.
LikeLiked by 1 person
Definitief, Nikita, ek is moeg vir sukkel en bang wees vir VVVs
LikeLiked by 1 person
Ag ek voel vir jou! Ek kan net dink!
LikeLiked by 1 person
https://bpca.org.uk/News/Page-37/pest-control-while-protecting-our-bats/187876
Sien die link – nogal interessant.
LikeLiked by 1 person
Ek gaan lees en leer. Baie dankie.
LikeLike
Hahahahaha…jy vertel dit so snaaks ek sien die prentjie en ek wil my doodlag…
LikeLiked by 1 person
Dankie Woordnood, dit is vir my ook snaaks, lank daarna. Vir nou is ek nog ongelukkig oor die VVV’s wat nie die huis wil verlaat nie.
LikeLike
Ons is mos nou in die “NN” era….die nuwe normaal. Dalk moet hulle ook nou eers evolve om daar int e pas, die dat hulle so pes is, nes Una se muggies!!
LikeLiked by 1 person
Hahahahahaha, hulle nuwe normaal gaan wees geen plek in Christa se huis. Waarom hulle daar wil wees, weet ek nie, want die kos is buite. Hulle los die spinnekoppe vir my …
LikeLike
Regtig??? Los spinnekoppe???? Nee hoor..dis totaal onaanvaarbaar. Ek sal volskaalse oorlog maak….freakin hel…spinnekoppe?????
LikeLiked by 1 person
Lag ek nou lekker, hoor. Ek bedoel hulle kan die spinnekoppe los, ek maak dood sover ek gaan. Nee, gits, ek is dood bang vir spinnekoppe – en daardie is groot en harig en vinnig.
LikeLike
Jip…ek ook. Daarom staan die Doom op my bedkassie
LikeLiked by 1 person
Net so … naby genoeg dat ek nie hoef te sukkel nie. Dit is nou as manlief nie ridder moet kom speel nie …
LikeLike
Dit klink baie erg! Weg met die bleddie goed! Ek haat hulle ook. 😖😖
LikeLiked by 1 person
Dankie, vriendin, ek sukkel met mense wat bertel dat hulle nuttig is. Ek is doodbang ‘n kleinkind kry van die poef in. Dus maak ek alewig skoon as hulle daar is. En as ons daar is.
LikeLike