Gepubliseer in Woefkinders

Bekka verjaar vandag …

Vanoggend praat my iMac weer met my, daar is weer iemand wat verjaar. Eintlik twee iemande, Sobek (my Bekka kind) en sy boeta Seth wat aan my seun behoort. Ek praat altyd so van my seun, maar dit is my en manlief se seun. Ons tweede helfte van ons Pigeon Pair.

Iedergeval, dit is Bekka se verjaarsdag, ek sal vanmiddag iets gaan koop wat hulle al drie kan kou. Kan nie net vir hom bederf nie, dit is mos ‘n verjaarsdagpartytjie.

Ek roep Bekka waar hy by my in die studeerkamer anderkant die lessenaar slaap.

“Kom hier, Bekka.”

Maar Bekka bly sit waar hy sit. Sy oortjies kenmerkend na agter gevou, tipiese jannie-jammergat houding van hom.

Ek besef dat Bekka dink dat hy stout was, dus wil hy nie kom nie.

Verander my stem na nog sagter en vriendeliker en hy is op en storm op my af.

“Happy birthday Bekka” sê ekke.

En hy spring saggies teen my op.

Miniatuur Schnauzers land mos sag teen mens, hulle spring jou nie amper onderstebo nie.

Hy strek lank teen my uit en ek vryf sy koppie. Mag ons twee sommer nog baie jare lank saam wees.

Shilo kom ook nader, watse nonsies is dit?

Hy moet ook ‘n vryf kry.

BB lê waar sy lê, watse b’day nonsies is dit vandag?

Sy het mos klaar verjaar. Ook ‘n Maartmaand kind.

Toe het ons nog nie geweet dat sy ‘n gebreekte beentjie het nie. Die medisyne help, sy loop al die meeste van die tyd op al haar beentjies.

Terwyl ek vir elkeen twee koekies gee om Beks se b’day te vier, dink ek daaraan dat mens mos op jou b’day baie mooi skoon moet wees. Bekka hou van die pamperlang. Dus kan ek hulle net sowel bad.

BB, wat met ‘n slap riem gevang kan word as daar koekies is, is skielik skoonveld.

Kom nie as ek haar roep nie, hoe aanloklik ek die roep ook al maak.

En ek soek.

Vind haar onder die lessenaar, weggekruip. Kyk skaam vir my, wil nie die koekie vat nie.

Dink ek sy is dom? Vat sy die koekie, vat ek haar.

Bekka gaan in om die koekie te vat, sy laat hom begaan.

Ek toets die water, vind dat die geyser ewe skielik baie warm is, moet koue water bytap.

En toe staan BB in die gang.

Sy sal nooit weghardloop as ek BLY sê nie. Op my kwaai manier. Maar haar houding wys dat sy alles behalwe tevrede is.

Sy word eerste gebad, toe Shilo wat sowaar nie weggaan nie en laastens verjaarsdagbaba.

Bekka knor toe ek hom optel, hy weet wat kom en is nie lus nie.

Maar, hy staan soos die ander twee stil om gebad te word, probeer nie uitklim nie, ek kan voete was ook.

En toe verstaan Bekka waaroor dit gaan.

Hy is mal daaroor om gepamperlang te word.

Lê stil dat ek blaas. Druk die koppie in my hand dat ek ooghare, snor en gesiggie droog blaas. Draai op sy ruggie dat ek sy maaghare ook droog blaas.

Shilo is minder geneë, knor sommer vir Bekka, sy skuld dat hulle gebad word.

En ekke?

My at]rms. oel dit as ek drie gebad en drooggeblaas het. Dit is ook ‘n tydsame proses, maar ai, bad- en pamperlangtyd is werklik heerlik as mens Miniatuur Schnauzers het.

Lekker verjaar Bekka, my jannie-jammergatkind is allesbehalwe so as hy gepamperlang wil word.

Dan is hy Bekkie, die Mekkie van die Plekkie. My Sobek, Bekka, Beks, Bekkie … Terloops, hier lyk hy alles behalwe jannie-jammergat, kyk net hoe oulik staan die ore. Op aandag, ma het ‘n foto gevra …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “Bekka verjaar vandag …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.