Hierdie foto herinner my aan een van die eerste naweke in Kazakhstan toe ons na die inperkings uit ons woonstelle kon gaan.
Dit was 23 Mei 2020 en ons het besluit om saam met Mia en haar gesin en ‘n jong vrou en haar man teen Kazakhstan-koppie uit te ry om langs die meer – wat meer soos ‘n dam is – te braai. Dit het water wanneer die sneeu smelt en die water word later minder.
Mia en haar man het gesukkel om die pad te kry na waar ons is. Ek wou verduidelik hoe om te ry, maar haar man het “geweet” waar die meer is waarvan ek praat.
Soos gewoonlik was Mia laat. Hulle het ‘n ander pad geken en aan die ander kant van die water met ‘n sloot waardeur die kar nie na ons kant sou kan kom nie geland. Ek het pin gestuur, dit het nie gehelp nie.
Ek het manlief gestuur om hulle by die monument op die koppie se pad te ontmoet, sy het geskryf dat sy weet waar dit is. En ‘n pin. En steeds kon hulle manlief nie kry nie, al het hy met Dusty reg by die afdraai na die monument gestaan.
Ek het uit moedeloosheid besluit om met die pad terug te stap, deur die bome, om hulle op die groter pad te ontmoet, want manlief kon nie met die foon gekry word nie. Sy sein was weg.
Ek het glad nie daaraan gedink dat my sein ook gaan wegraak nie. Die ander twee by die braaiplek gelos en die pad gestap, wat in my gedagtes kort was. Vrou alleen in Kazakhstan op ‘n berg in ‘n bos.
Ek onthou dat ek, toe ek eers uit sig was, nogal bang was. Ek het die vorige keer ‘n klomp losloperhonde daar gesien en gedink dat dit ook wolwe kan wees. Kazakhstan is bekend vir rondloperwolwe, daar was wolwe by ons eerste woonstel in Oskemen, die een wat buite die stad was.
En hier stap ek ewe kordaat in ‘n vreemde land op ‘n boer se plaas – en ek en hy gaan mekaar nie verstaan as hy my konfronteer nie.
Dit was baie ver en baie warm. Op ‘n stadium het ‘n perderuiter my tussen die bome dopgehou en ek het besef dat ek werklik onnosel was om alleen te stap. Ek was doodmoeg, sopnat gesweet, sonder water toe ek manlief op die koppie in Dusty sien.
Ek het ingeklim en ons het die motor omgedraai, gereed om na ons gaste terug te keer. En toe sien ek die geraamte wat langs die afdraai na die monument gelê het.
Basies was elke beentjie steeds in plek, die vel het op die meeste van die plekke al verdwyn. En dit het nie te lekker geruik nie.
Ek wou nie uitklim nie en het later eers gesien dat die motor se skaduwee die geraamte gedeeltelik oorskadu het. Tog het hierdie foto geweldige herinneringe opgeroep toe my iPad my vandag aan die foto herinner.
Ek moes vinnig neem, manlief was warm omdat sy gaste laat was en die ander sit en wag waar ons hulle gelos het …
Waarom juis hierdie foto, weet ek nie. Dit kan wees dat die foto met ‘n waternood vereenselwig word, want die dier is nog in een stuk. Ek het juis die dag toe my iPad die foto opgeroep het oor waternood geskryf – of ‘n gebrek aan water.
Dit lyk of dit ‘n perd kan wees en dan het die perd aan iemand behoort.
Wie laat sy dier so dood langs die pad?
Begrawe hom nie?
My pa het altyd sy diere wat gevrek het, begrawe.
Die foto herinner my vanoggend aan ‘n lewe in die vreemde tussen mense wat ek nie verstaan het nie. Mense wat Kazakh en Russies praat en nie Engels of Afrikaans verstaan nie. ‘n Lewe in Kazakhstan, ‘n arm land.
Sy Tenge geldeenheid is nie veel werd in SA Rande nie, so 30 Tenge per Rand.
Maar daar is krag.
En daar is water. Dit word oor verskriklike groot afstande gevoer om sy bevolking van die noodsaaklikste dienste te voorsien.
Twee goed waarsonder ons vanoggend vieruur moes klaarkom in ‘n land wat rot en kaal besteel is deur drie uitlanders en hulle handlangers.
Dit maak my aan die een kant moedeloos en dan wil ek tog in die mensdom glo.
Ek wil glo dat Suid-Afrika weer daar sal kan kom.
Hulle moet net eers die wil iewers vandaan kry om die diewe vas te trek.
Siestog,man!
LikeLiked by 1 person
Arme ding, wie los sy dier om sommer net so dood te gaan?
LikeLiked by 1 person
Ek wonder ook, Nikita, dit is mos iemand se dier. Dit was tydens die eerste inperkings in Kazakhstan wat hy gesterf het. Ek wonder of plaasmense toe ook in hulle huise moes bly. Seker nie?
LikeLike
Meesal is dit n siek dier wat wegloop om te gaan sterf iewers alleen.
LikeLiked by 1 person
Dit is natuurlik ook waar. Ek hoop nie hy is raakgery nie.
LikeLike