Bloguitdaging: Kies ‘n foto uit jou album. Skryf die storie daaragter op jou blog en deel hierdie skakel in die artikel sodat ek daarvan weet. https://christavanstaden.com/2021/02/22/bloguitdaging-foto-storie-1/ Of deel die skakel daarna in die kommentaar van hierdie artikel. Dit kan in Afrikaans of Engels of ‘n ander taal wees. Die fokus is op die storie en nie noodwendig die gehalte van die foto nie. Soms kom die foto swak uit, want daar is ‘n storie agter die foto wat dadelik onthou word.
Ons het Valentynsnaweek 2021 na Augrabies gereis om die wonder van die waterval in vloed te aanskou. Alhoewel die Afrikaans waterval en nie watervalle is nie, kan mens maklik van die watervalle praat as jy na die Oranje-rivier in vloed verwys. Want die water het in die hoofwaterval afgedonder en ook aan die kante van die klipvallei.
Jammer vir die kras woord, maar daar is geen ander woord wat die geluid kan beskryf nie. Dit was oorverdowend en het ons snags aan die slaap gesus. Ons hut was effens agter die eerste ry, tog kon hulle nie die geluid versag nie. Soos wanneer mens se vakansie huis naby ‘n rotsagtige strand gebou is.
Dit het regtig baie moed geverg om op daardie dek te staan en foto’s neem. Van waar ek hier gestaan het, was die water te oorweldigend, die dek te klein en te naby aan die water. Die dek hang oor die rand van die afgrond waarin miljoene liters water afgestort het om ‘n mis op te jaag wat in die lug in optrek. En as die wind draai, was dit soos om onder ‘n stort te staan om ‘n foto geneem te kry.
God se wonder in al sy glorie.
Dan eers besef mens die krag van water wat so skadeloos lyk as dit stil op die grond lê. Die water was voor my, links langs my, agter my, onder my.
En die malings daarvan het my op ‘n oomblik benoud laat voel. Dit was nie ver onder die dek nie. Dit was ‘n een keer in ‘n dekade of leeftyd ervaring.

Dit is ‘n uitstekende foto: ek kan die water hoor en die fyn druppeltjies water voel!
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, Anne, dit was ‘n bomenslike ervaring om so naby aan gevaar te staan.
LikeLiked by 1 person
Dit moes wonderlik angswekkend wees.
LikeLiked by 1 person
Presies net so … wonderlik en angswekkend!
LikeLiked by 1 person
Dit is ongelooflik- die mag vd natuur!
LikeLiked by 1 person
Absoluut, dit is skrikwekkend en terselfdertyd ‘n aantrekkingskrag.
LikeLike
Sjoe! Daardie mag wat so oral om jou brul. Jy is baie, baie braaf. Dankie vir die deel.
LikeLiked by 1 person
Brul sou goeie plaasvervanger vir my woord gewees het. Dankie San, ek voel nogal braaf.
LikeLike