Gepubliseer in Joernaal

BB verjaar vandag – ‘n hele 11 jaar oud

Ek is vrot met die onthou van verjaarsdae. Moet ‘n oor gereeld knoop om te onthou. En daarom is verjaarsdae op my almanak.

Aangesien my iMac met my praat, lig sy my in – as ek voor haar sit en werk wanneer sy my moet inlig. Soos vanoggend.

Ek het egter glad nie verstaan wat sy bedoel met “BB wi dji” nie.

My eerste reaksie was wat de ongeluk is “wi dji?”

En toe kliek ek.

Dit is Maart en sy praat van BB, dus is dit “BB verjaar” en nie “BB wi dji” nie. Toe ek opkyk, is dit dan ook so geskryf onder die kennisgewings wat bo in die regterkantste hoek oopgaan.

My BB verjaar vandag. Dit beteken dat sy vandag elf jaar oud is.

Elf jaar waarin BB my lewe verryk het met haar sonnige geaardheid.

Op die oomblik snoep ek haar want sy het stewig geraak. Nou die aand kom kuier een van manlief se kollegas en die man vra watse snaakse lyfie het BB? As dit nie was dat ek tans ‘n Bybel leesplan volg wat versoek dat ek saggies met ander werk nie, het ek hom sowaar gevra om my huis te verlaat. Of dalk nog erger, kommentaar op sy lyf gelewer. Hy sou dit beslis nie waardeer nie, want hy besoek ‘n gim. Of sou hy die inperkings daarvoor blameer?

Ewenwel, sy het nie ‘n snaakse lyfie nie, sy is net so effens aan die ronde kant op die oomblik. Soos haar mamma. Is dit dan die rede waarom sy kommentaar my gepla het? Nie dat dit my pla wat hy van my dink nie, dit het op hierdie oomblik sommer net so vanself opgekom …

Ek het die drietjies gister met groot moeite gebad, sonder ‘n sproeier om die sepies af te was. Toe laat ek hulle uit om buite droog te word.

Wat ‘n fout!

BB het oral waar die sand deur die gras breek gaan rol, haar ruggie oor die stuitjie rooi en haar wit pootjies nou rooi en nie so baie wit nie. Ek sal die taak maar weer moet aanpak, maar nie op haar verjaarsdag nie. Sy is beslis nie lief vir bad nie, maar sy geniet die droogblaas. Soos gister. Dan staan sy mooi stil dat ek die hare netjies borsel.

Daar is klein dorinkies in die haartjies, die plek is vol dorings. Ons sal moet spit en grawe, ek is juis nuuskierig of manlief dit self gaan doen … Hy het graaf en vurk en onkruidsnyer en grassnyer gekoop. Dus sal ons moet sien of dit gaan gebeur …

So, my liefste BB, lekker verjaar vandag. Ek sal vir jou ‘n vleiskoekie bak. Sonder ‘n kersie. Anders is jy bang vir jou verjaarsdagkoek.

Of sal jy weet hoe om dit dood te blaas?

Ek dink jy sal weet …

Bykans twee jaar van die elf was sy by my seun, het sy daar vir my gewag. Saamgespeel en die lewe geniet, maar geweet haar mamma kom terug.

En nou is sy weer saam met my. In Kuruman van alle plekke. Aanvanklik het sy baie warm gekry. Nou is dit vir haar heerlik om, soos vanoggend, op haar ruggie in die son te lê en bak. Dit doen sy sodra sy kans kry want ek sluit maar alle deure – met hulle binne by my – as ek alleen tuis is. Soos wat ek aangeraai word deur die plaaslike inwoners.

Gelukkig het ons verblyf in Kazakhstan my aan die binne-lewe gewoond gemaak …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “BB verjaar vandag – ‘n hele 11 jaar oud

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.