Gepubliseer in Joernaal

Bloguitdaging – geliefde of spesiale klere

Ek het lanklaas aan my blogvriendin Scrapy se bloguitdagings deelgeneem, miskien omdat ek besig geraak het, miskien omdat ek haar kommentaar op my eie blogs, maar veral haar deelwees aan die avonture van Rebusfontein gemis het. Ek dink ek verstaan waarom sy nie meer deelneem nie, die bloginskrywing wat Rebusfontein en haar vuurpyl in die verskiet laat verdwyn het, het my ook geruk. Soveel so dat ek sedert Julie sukkel om weer uitbundig, uitspattig en vreugdevol aan bloguitdagings deel te neem. Toe noem sy my in haar onlangse inskrywing een van die deelnemers aan haar blogs. En toe ek reageer, antwoord sy dat sy my deelname mis.

Wel Scrapy, hier is my deelname aan jou uitdaging oor geliefde of spesiale klere. Maar, dit gaan met ‘n teenaanbod gepaard. Ek het die tree gegee, weer begin skryf, neem weer deel. Nou is dit jou beurt. Jou plekkie in Rebusfontein is oop, ons mis jou daar. Sommiges trek jou steeds in die verhale in, ek wil jou graag weer intrek in my aandeel in Rebusfontein stories. Ek weet, die nuwe naam Goue Vroue klink verwaand, maar daar is ‘n storie agter die naam. Dit was deel van die heelwordproses na daardie bloginskrywing wat Rebusfontein so amper in die vergetelheid laat verdwyn het … Tyd om jou vuurpyl af te stof en in Rebusfontein te kom land …

***

Ek is, volgens my kinders, ‘n opgaarder. Nie noodwendig wat huisgoed betref nie, dit vervang ek maklik. Maar manlief kan dit nie wegmaak nie, dus hoop dit in die stoor op. Om eendag ‘n vrag te word wat my kinders seker net so ashoop toe sal aanry. As dit teen daardie tyd nog ingegee kan word om reggemaak te word. Nie reeds antieke status bereik het nie. Ewenwel, ek kan huisgoed maklik uitgooi.

Nie my klere nie. Ek weet daar is kastige riglyne dat klere wat ‘n seisoen lank nie gedra is nie, uitgegooi moet word. Wie die riglyne stel, het geen sentiment nie. Weet nie watter sentiment aan klere verbonde is nie.

My klerekas het nie klere in wat ek sal wil dra as ek ooit weer eendag in hulle sal pas nie. Sodra my nommer 8 te styf sit, oefen ek, eet minder, gesonder of wat ookal. Maar daar is geen manier waarop ek ‘n nommer 10 gaan koop nie. In my kop gaan dit elke keer net groter word as ek die eerste keer toegee. En dit is dalkies my ma se skuld.

Koshuislewe maak mens groter in die lyf. Veral as jy op Tukkies was in my tyd. Ons het elke ete in die eetsaal gaan eet wat ons met ‘n ander koshuis gedeel het, dink die koshuis se naam was Jasmyn. Ek was in Madelief, wat nie haar eie koshuis gekry het nie. Oorkant die straat, op die hoek, was ‘n kafeetjie. En ek het solank my 60 sent sakgeld gehou het, elke dag oorgestap en een baie lang koeksister gekoop. Dit was groot genoeg om drie meisies soet genoeg te maak. Ek het dit verorber voor ek by die kampus was. Seker maar om my eerstejaarslewe kleur te gee.

Toe ek een naweek huis toe gaan, het my ma vir haar nuwe rokkies gaan koop. Ek moet pas, as ek daarvan hou, gaan koop sy ook vir my. Ek het haar aangegaap. Goeie genugtig, dink sy regtig ek sal in haar klere pas? Maar gaan pas, dat ek haar kan wys dat ek kleiner is.

Toe nie … en net daar en dan het ek die koeksisters opsy gestoot, vir die tannies gewys dat ek minder kos op my bord wil kry en maerder geword. Ek het daardie tyd van rokke met rekkies in die middel gehou. Die rekkies het mens laat uitsit na ‘n groter grootte, sonder om daarvan bewus te wees. Rekkiesklere is ook nie weer gekoop nie, hulle het my verraai.

Dus bestaan my kas nie uit klere in verskillende groottes nie, ek kan alles enige tyd uithaal en dra. Ek doen nie noodwendig nie, omdat hulle mooi bly en daarom word hulle antiek in my kas.

Ek het ‘n rooi langbroek in my kas, jare gelede gekoop. Nog nie een keer gedra nie. Dit voel net te aandagtrekkerig, te sexy. Tog kan ek dit nie oor my hart kry om die mooi broek weg te maak nie. Daar is ‘n witte ook. Steeds pragtig wit. Maar – wit skyn deur, maak nie saak watter kleur onderklere daaronder is nie. Dus is hy een keer gedra, nie weer nie. Dit het ook kyke gekry van mans, daar soort kyke wat ongemaklik maak. As jy nou verstaan wat ek bedoel. So asof ek myself adverteer …

Ek het twee jasse in my kas, beide spesiaal vir Kazahstan se weer gemaak. Om mens teen temperature van -38 grade Celsius te beskerm. Sodat jy nie onmiddellik in ‘n yspilaar verander as jy buite kom nie. Ek sou aanvanklik net een jas koop. ‘n Swarte. Veelsydig, kan dit by alles dra. Toe trek die ligbloue my aandag tydens ‘n uitverkoping by Sport Master, ‘n sportwinkel in Ust’-Kamenogorsk. Beide is goed gedra. Beide lyk splinternuut. Daar is kwaliteit van uiterste belang.

Die swart jas se kappie slaan af, kan wolle afhaal en kan dit ook toeryg, om my ore en nek te beskerm. Ek is gek oor hierdie jas, wat nie nat word nie. Die water val af. Die bloue word ook nie nate nie, op die betrokke dag het ons die canyon gaan besoek. Met ysreën wat ons gelooi het …

Ek het ‘n hele aantal nuwe baadjies gekoop, want in Kazakhstan het mens klere vir vier seisoene nodig. Hulle somer is soos ons s’n, hulle lente en herfs is aanvanklik (of aan die einde) soos ons winter. En dan word dit baie kouer want die temperatuur val sommer vinnig na -10 grade Celsius toe. Die winter is baie, baie koud. Dus is daar aanwysings op die klere wat mens koop. Vir tot watter temperatuur dit mens warm kan hou. Byvoorbeeld -10, -20, -30, en 35+ grade Celsius. Ja, dit is nodig, op sommige oopgroefmyne word dit selfs -50 grade Celsius.

Dir hiervan is in Suid-Afrika gekoop, geskik vir lente en vroegherfs. Die swart Kayway, die blou Kayway, en die swart reënjas. Die swart baadjie met pakkie (2 foto’s) en die rooi ene is in Ust gekoop.

Nog baadjies: rooi kersfees ene is gekoop toe ons in sonskyn dorp toe is en dit so koud word dat ons tande klap. Lekker warm om polse en nek. Die rooie onder het ek aan die einde van die winter gekoop en min gedra. Die wit en vlootblou ene is ‘n gunsteling en die goudkleurige ene is min gedra. Was mal daaroor, maar selde was weer geskik vir die dun baadjie.

Die jasse en baadjies gaan ek nie wegmaak nie. Hulle gaan beslis tydens die winter gedra word. Net anders as in Suid-Afrika. Onder die warm jas gaan dun bloesies wees. Soos in Kazakhstan. Sodat ek nie soos ‘n opgestopte wors voel wanneer ek die jas of baadjie aanhet nie. Suid-Afrikaanse jasse hou my nie in ons kerk warm nie.

My trourok is ook steeds in my kas. Of liewer, is tans in ‘n boks verpak, soos baie van my ander klere wat verpak is toe ons huis opgepak het om in Kazakhstan te gaan woon. Sy pas ook steeds, my ma het haar gemaak. My heupe het wel uitgesit na die kinders se geboorte, maar my rok was ‘n A-lyn rok. Soveel anders as die uitklokrok wat ek begeer het. Toe ek die wye romp rok in ‘n boutique aanpas, het ek net geweet daardie droom gaan nie werklikheid word nie. Ek lyk net soveek beter in ‘n rok wat nie ‘n wye romp het nie. Steeds dra ek nie uitklokklere nie.

My trourok is een van die mooiste rokke in my kas. Ek het soos ‘n prinses gevoel en my ma het dit vir my gemaak. Ek kan dit nie weggee nie.

My rok vir my dogter se troue is net een keer gedra. Ek het die rokke vir die hele gevolg gemaak terwyl ek skoolgehou het. En die goedjies het almal voering gehad, Dus het ek eintlik baie meer gewerk as wat ek kon dink. My rok is, saam met my dogter s’n, deur ‘n vrou gemaak wat bruidsrokke maak. Ek weet nie waar my kop was nie, maar die harde kant van die bokant van die rok het my seer geskaaf. Onder die arms. Ek het uitgehou en bek gehou, maar sy het daarna in my kas bly hang. Ook nie regtig my smaak nie, ek het duur vir die fout betaal.

Ek het stewels in my kas, ook van Kazakhstan af. Ook gemaak vir temperature ver onder vriespunt. Maar, laat ek nou sommer duidelik stel. Daardie afsnypunte is ‘n grap. As ek nie regte, egte wolkouse aangehad het nie, het my tone begin vries die oomblik wat ek op die sneeu loop. En ons het maklik vier tot vyf maande lank op ‘n dik laag sneeu geloop as ons winkels toe wou gaan.

Ek het hulle reeds in die Suid-Afrikaanse somer getoets – as ons vanaf ons -38 grade Celsius winter ‘n dag later in ‘n +33 grade Celsius somer geland het. Ek het die kouse uitgetrek, dunnetjies aangetrek en my voete het nie gekla dat hulle te warm kry nie. Hulle gaan my voete beslis in ons Suid-Afrikaanse huise, wat mos baie koud is, warm hou. Ek hoef nie meer lae kouse aan te trek met manlief se rugbykouse bo-oor nie. Ek het nou snoesige stewels om my voete warm te hou.

Ek gee maklik skoene weg, veral omdat ek tot baie onlangs skoene gedra het wat hemelhoog was. Ek het op ‘n dag besluit ek voel nie regtig langer met die plafonne nie. Tans dra ek platterige hakke, dit is soveel meer pret. Geen dooie tone nie, geen seer onder die bal van my voet nie. En ek trap ook nie so maklik skeef nie. Tans is gemak die wagwoord. As ek aanpas en dit maak iewers seer, is dit uit. Hoe mooi die skoen ookal is.

Ek hou van toppies wat styf sit, netjies pas. Maar ek het ‘n nuwe liefde ontdek. Bloese wat losser sit, oor my langbroeke hang en nie ingesteek word nie. Die styfpassendes is besig om op te gaar. Ek weet egter dat ek hulle steeds moet dra, want hulle is my barometer (ek weet die woord is lekker verkeerd, maar baie gepas as mens van Kazakhstan af kom waar die kwik die hele tyd dopgehou moet word). Hierdie bloesies wys vir my wanneer ek besig is om na ‘n groter grootte te beweeg. En help my besef wanneer dit tyd vir briek aandraai is. Ek het mos reeds vertel dat ek ‘n soettand het. Wel, daarmee gepaard gaan ‘n uitsetting van die middellyf …

Elke item in my kas het ‘n storie.

Sommiges is self gemaak, ek het al my aandklere self gemaak toe ons nog jaarliks ‘n mynpartytjie gehad het waarvoor ons moes optof. Ek het nie gaan koop nie, want ek wou nie opdaag met ‘n rok soos baie ander s’n nie.

Sommiges is gekoop toe ek nog klere rekeninge gehad het. ‘n Nee-nee wat ek met moeite van ontslae geraak het. Om net kontant te koop.

Ander is vir ‘n troue of geleentheid gemaak. Soos die een vir my seun se troue. Ek kan die rok steeds dra, as ek minder juweliersware en ander skoene dra is dit minder deftig. Gemaklik. Selfs vir kerk.

Nog ander het ek gekoop as ek verby die winkel stap en dit my aandag trek. Soos ‘n kunsleerbaadjie (wit) wat ek nie kon los toe ek verby die winkel stap nie. Was baie duur, het dit nog min gedra omdat dit so opmerklik is. Mense vergeet dit nie as hulle dit gesien het nie.

My klere is dus nie gebruiksartikels soos ‘n klitser, mes of bord nie. Hulle kan wel vervang word, maar die sentiment agter elkeen hou hulle gevange in my kas.

Ek het wel, toe ons huis opgepak het, sakke vol klere gemaak en my Helpende Hand in Pretoria gaan aflaai. Omdat iemand anders daarby kan baat. Was eers verontwaardig toe ek hoor dat dit verkoop word, maar toe hoor ek dat mense die klere wat hulle ontvang op die volgende hoek gaan verkoop of verruil vir drankgeld. En dit is mos nie waarom ek my klere skenk nie. Buitendien, iemand moet die winkel beman, die huurgeld moet betaal word.

So stel ons geskenkte klere die mense in staat om dit goedkoop aan ander te verkoop. Want, as jy die baadjie gekoop het om warm te bly, is die kans seker kleiner dat jy hom vir drankgeld gaan verkoop?

Hooffoto: Pragtige pienk baadjie in Ust gekoop vir die koue lente.

Julle kan mede-blogvriende se deelname aan Scrapy se uitdagings hier te lese kry.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Bloguitdaging – geliefde of spesiale klere

        1. Dit kan help om die spanning te verdryf as jy saamskryf. Het my gehelp, ek het die lus verloor na die Julie-ding. Dit het stadig teruggekom, ses maande gevat om weer te wil leef in ‘n verbeeldingsplek. Maar, Scrapy, dit help my om te lees wat hulle almal met my karakter aanvang. Laat my vergeet van die dag se sorge – aka dinge om te doen.

          Like

          1. Hulle hoef nie in te wees nie, ek kan ook nie die name onthou nie. Die vreemdes is beperk tot Markus, die tuinier en man wat alles kan regmaak. Maar, hy hoef ook nie in te wees nie. Ek gebruik net die Goue Vroue as ek skryf.

            Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.