Nog ‘n hoofstuk vir internasionale boek aanvaar …

Ek was in Januarie 2020 vuur en vlam en het voorstelle vir drie boeke ingestuur. Al drie is aanvaar. Teen middel Maart het ek geweet dat ek drie hoofstukke gaan moet skryf. En ek was vuur en vlam, want dit was goeie nuus en ek het geweet wat ek wou ondersoek.

Toe tref die pandemie die wêreld.

Ek het die eerste twee maande hard aan die hoofstukke gewerk omdat dit gehelp het om die tyd om te kry. Ons was vasgekeer in ons woonstel in Öskemen, ala Ust’-Kamenogorsk. Ons mag nie uitgegaan het nie. Behalwe om gou kos te koop of medisyne en ook net elke tweede dag.

Die strate was verlate as ons uitgaan. In ‘n stad waar almal stap. Polisiemanne het op straathoeke gestaan om seker te maak ons dwaal nie in die strate nie. Dit was nie lekker nie.

Gaandeweg het my lus vir die navorsing getaan. Ek wou nie meer aan die hoofstukke werk nie. Kon myself nie sover kry om daaraan aandag te gee as my hart na my pasgebore kleinkind verlang het nie. En ek nie geweet het wanneer ek hom ooit mag sien nie.

Ek kon nie konsentreer nie.

Toe laat weet ek twee van die redakteurs dat ek onttrek.

Dat ek net aan een hoofstuk aandag hoef te gee.

Ek het gevoel of ek nooit gaan klaarkry nie. maar dit is ingedien – halleluja!

Omdat ek hoofstuk ingedien het, moes ek twee ander skrywers se werk evalueer. Dit het ure gevat, maar ek het dit so gou as moontlik gedoen en ingedien.

En toe wag ek vir uitslae op my hoofstuk.

Maar kry niks.

Hulle kan gerus by LitNet Akademies leer hoe om met skrywers te werk. Ek word daar die hele tyd op hoogte gehou. Kry e-pos met elke stap wat ek vorder.

Toe nie met IGI-Global nie.

Ek kry in September ‘n e-pos van die redakteur, die twee verslae oor my hoofstuk lê al ‘n hele ruk en wag. Ek moet kyk en regmaak as ek dink die kommentaar is waardevol.

Die een evalueerder gee my 7/8 vir elke liewe punt van die evaluasie, die ander een minder.

Maar – en dit is waarom ek hierdie artikel skryf – dit is waarom daar evalueerders is. Hulle moet soek na punte wat hersien behoort te word. Al is dit net ‘n komma of ‘n punt. Niemand lewer volmaakte werk sonder ander wat jou werk deurlees en vra wat bedoel jy nie.

Ek het sy kritiek geneem, daaraan gewerk en lank gesukkel om die hersiening klaar te maak. Want ek kon sien waar ek hom verloor het. En as ek iemand in die veld verloor, sal ek beslis onderwysers en ander lesers ook langs die pad verloor.

Dit was ‘n moeilike tyd om daaraan te werk.

Want – ons was besig om te pak, ons het na Suid-Afrika teruggekeer. Ons moes goed verkoop wat nie kon huis toe kom nie. En ander goed sommer weggee. En manlief wou nie die besluite alleen neem nie. Hy weet dat ek aan sekere goed meer waarde heg as aan ander.

En toe moes ons Covid-toetse doen en negatiewe uitslae kry. Terwyl die land dreig om weer in erger inperking in te gaan. Net toe Suid-Afrika sy grense oopmaak.

Ek dink nie mense besef watse groot spanning dit op jou sit as die toetse so kort voor jou vlug gedoen moet word en jy dan moet wag vir die uitslae nie.

Ewenwel, ons het, soos Woordnoot vandag vertel, ook ‘n engel gehad wat die uitslae bespoedig het. Toe ek hulle uiteindelik gekontak kry op sosiale media, het ek die skok boodskap gekry.

Die uitslae sou 4 dae duur. Dit terwyl hulle gesê het een dag, vir ons HR bestuurder.

Hoe kan ek op ‘n hoofstuk konsentreer as ek so gespanne is?

Ek wou op die vliegtuig werk, toe is ek net lus om die weelde te geniet.

En terug in Suid-Afrika was ek moeg. Doodmoeg. Snaaks wat soveel spanning aan mens doen.

Natuurlik was ek hier ook goed gefrustreerd. Ons het verwers in die erf gehad. Ons het steeds verwers in die erf …

En toe gaan sit ek op my boude en werk. Hoe noem die Pukke dit?

Toe ons gaan kyk na koshuise vir ons dogter in 2000, vertel die koshuisprefekte – wat noem mens hulle nou weer – vir ons dat ons nie bekommerd moet wees nie, daar is GOS tyd. Gat op Stoel het sy verduidelik toe ek vraend kyk. Die meisies moet studeer. Met die boudjies op die stoele.

Toe GOS ek ook.

Maak klaar. Laai weer op en mag ek maar slryf dat hulle oplaaiproses stresvol is? Die figure moes in ‘n ander formaat oorgeskakel word! En soveel onnodige stappe wat mens opstres. Maar, dit is in.

En toe wag ek weer.

Gister gaan kyk ek weer. Geen antwoord nie.

Die verslae wat daar is, is die oues. Ek was geïrriteerd en weet ek gaan beslis nie sommer weer met IGI-global werk nie. Dit is een stresvolle proses.

En besluit dat ek vandag gaan kontak maak en vra dat die hoofstuk gekanselleer word. Dat ek dit vir ‘n vaktydskrif instuur. ek het nou genoeg gewag.

Maar ek raak besig met ‘n nuwe artikel oor begaafde seuns en die verwers pla my die hele tyd. Ag skuus, mevrou, mam, mama, en ouma. Regtig, daai ene ook. Ouma. Toe sê ek maar, maak so my kind vir die groot swart man wat vra dat ek vensters oopmaak. En hy lag so lekker soos ek vir die antwoord.

Ek moet ook byvoeg dat ek iemand met haar navorsingsvoorstel help. En dat sy my gister na aan polse afkou met stomp tande gedryf het.

Ek vind dit besonder stresvol om mense te help met navorsingsvoorstelle en navorsing as hulle kritiek op die werk as persoonlike kritiek ervaar.

Volgens manlief moet ek verstaan, ek het doktorsgraad, sy is besig met honneurs. Maar ek sukkel om te verstaan.

Goeie genugtig!

Ek lewer skaars kommentaar, ek doen sommer track-changes en maak die sinne reg, help met die argument, verduidelik watter dele reg is, maar waarheen dit geskuif moet word omdat dit nie pas nie. En dan lyk dit rooi. Omdat die regte goed op die verkeerde plekke is. Of omdat die inligting reg is, maar so what? Dit moet ‘n argument bou, dit is nie ‘n taak nie.

As die kritiek as persoonlike kritiek ervaar word, is ek nie lus vir die ding nie. Dan stap ek maklik weg. Ek is nie die studieleier nie, vra vir hom of haar. Probleem is dat studieleiers nie noodwendig goed is nie. Vra maar vir een van my vriendinne wat op my staatgemaak het om haar meesters te kry.

Mens vra mos nie hulp as jy eintlik dink dat jou werk perfek is nie. En ek kan help, as die raad as raad vertsaan word en nie as ek dink jy is onnosel nie.

Ek dink nie mense is onnosel nie, ek dink hulle het hulp nodig en ek kan help.

Buitendien, as ek in trane uitgebars het as ek kritiek op my navorsing kry, het ek nie my meestersgraad klaargemaak nie. En dan ook nie my PhD nie. En beslis nie artikels geskryf of hoofstukke vir handboeke aangepak nie. Dan was ek klaar na my PhD.

Dit is die werk van ‘n evalueerder om foute te soek. Foute wat kan veroorsaak dat ‘n navorsingsvoorstel nie aanvaar word nie.

Foute wat kan maak dat ‘n student ‘n verhandeling indien, gretig wag vir die uitslae en druip …

As ek gehuil het elke keer as ek kritiek kry, sou ek damme en oseane vol kon huil.

Maar ek het nie.

En nee, ek het nie ‘n dik vel nie, daarom kan onregverdige kritiek my lank laat wroeg. Sukkel ek om mense weer te vertrou as hulle eers beledigend geraak het omdat hulle self iewers pyn het. Ek sukkel om dit te verwerk en onttrek eerder.

Maar, ek het nog selde iemand gevind wat kritiek op my akademiese werk lewer om lelik te wees.

Net een keer, vanjaar, en toe het ek geantwoord dat die kritiek asseblief op my werk moet wees en nie op my persoon nie – want, hallo, jy ken my nie. My werk lê voor jou, het ek laat weet. Nie ekke nie.

Dit het ‘n jammer gebring, iets wat ek nie wou hê nie. Ek het net ‘n opvoedkundige daarop gewys dat die werk en nie die persoon beoordeel word.

Was baie windgat van my, die man is ‘n baie gesiene professor. Die kans dat hy weer my werk sal moet beoordeel is groot. Maar, dit was ook nodig om vir hom te skryf dat dit nie so werk nie.

Ewenwel, dit is dan wat ek wou skryf.

Dat ek die kritiek gebruik het om die hoofstuk beter te skryf. Want sien, ek weet nie waarom dit so is nie, maar die 7/8’s het gepla nadat ek ‘n 5/8 vir een van die afdelings by die ander evalueerder gekry het.

En ek het verstaan waarom – sy punt van kritiek was geldig. Lesers sou dieselfde kritiek gelewer het. En dan sou ek die kritiek op die hoofstuk gekry het nadat dit gepubliseer is. Nie lekker nie, ek verkies om dit voor die tyd te hoor en veranderinge aan te bring.

Vandag kry ek toe die lang verwagte e-pos.

Jou hoofstuk is aanvaar. As daar enige iets is wat jy wil verander, beter jy dit nou doen.

En ja, daar is.

Ek wil my figure mooier maak. Anders maak. Ander kleure gebruik, want hulle druk net swart en wit. En kleur gaan nie werk nie.

Ek kon dit nie in Kazakhstan verander nie. Want die data was op die hardeskyf wat met my MacAir gekoppel was. En die liewe masjientjie het ek Desembr in Suid-Afrika kom los. Daarsonder was die data onleesbaar vir my Windows rekenaar. Hy het net geweier om te lees.

Toe ek uiteindelik hier is, kon ek die figure nie verbeter nie, daar was doodeenvoudig nie tyd nie. En ek het gewag om te hoor of die hoofstuk aanvaar word.

Nou kan ek, my groot iMac lees die hardeskyf nadat sy aanvanklik botweg geweier het. Ek het nog nie vertel nie, dit is absoluut hemels om weer op my iMac te werk.

Dus gaan ek die naweek weer met die sagteware werk om die sosiale netwerke mooier te maak.

Want, ek kan uiteindelik opgewonde raak. Die hoofstuk gaan betyds vir hierdie jaar se uitsette wees. En dit is ‘n internasionale uitset, gaan beslis vir my departement belangrik wees.

Nie vir my so baie nie.

Ek verkies om in Afrikaans se publiseer, hierdie is een vn daardie dinge wat mens moet doen. Ter wille van jou werk. En dit is vir die NRF ook belangrik dat ek buite my land publiseer.

Sigbaar word …

Ek wat onsigbaar verkies …

8 gedagtes oor “Nog ‘n hoofstuk vir internasionale boek aanvaar …

  1. As ek so luister………het ek myself baie onnodige drama gespaar deur nie na Prof Willie te luister en ‘n Ph D in Teologie gaan doen nie. Daar is lankal te veel van hulle en net vanmiddag was ek en ML Strong in die Hebreeus besig om te kyk hoe verkeerd vertalers met Genesis 1 omgegaan het, hoeveel woord in die Liewenheer se mond gelê is en hoe dit ons geloofsbelewenis ‘n ander betekenis gegee het. Ek sou heeldag en aldag baklei het as ek formeel daar moes aantree.

    Volpunte dus vir jou wat deur alles en na dit alles nog kans sien vir sulke goed.

    En Windows en Mac is twee wat met formate werk wat volksvreemd en eksklusief is. En dis onnodig so, want die Open Document Foundation het dit juis maklik gemaak vir alle rekenaars om te kan saampraat. Mac se bedryfstelsel is geskryf vir mense wat nie met rekenaars kan werk nie (daai ouens oorsee met die min feite en baie opinies en wat dit altyd verkeerd kry) en mens het net nie oor alles beheer soos wanneer jy bevoorbeeld in Linux werk nie. Daar verstaan alles vir almal en almal vir alles, en selfs MacOS is op dieselfde BSD-stelsel gebaseer as die “Nixes. Maar hulle wou anders wees en gaan herskryf dit toe in ‘n ander taal en dis hoe my iPhone toe vir Kaapstad vyftig myl noordoos van London plaas, dit kon nie meer met die MacbookPro of die iPad praat nie en toe vlug ek na R499 se Android-foon en Linux, waar selfs die Bluetooth 100% funksioneel was en ek die foon baie maklik as ‘n hotspot kon opstel. Op enigiets Apple was dit min of meer onmoontlik en met die bedorwe Windows nie juis beter nie.

    Ek kry regtig mense jammer wat moet studeer, navorsing doen, iets moet publiseer en dan met Mac of Windows moet werk. Word werk ook nie dieselfde op albei nie en soveel funksies verskil.

    Die uwe het gedink om gou ‘n boekie uit te bewe oor die baie vertaalfoute in die Bybel asook oor my twaalf beroertes en toe by Smashwords uitgekom. Grote Griet! Hulle het ‘n hele publikasie net om jou te leer om MS Word so te pamperlang dat hulle sisteem dit gaan verstaan en Word is vol slaggate. Dus woon die twee boeke nog in my kop.

    Rekenaars kan enige mens regtig moeg maak en my bewese kundigheid is geen waarborg vir sukses nie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.