Gepubliseer in Reisjoernaal

Ek is nie ‘n vinkwyfie nie …

Ek skryf eergister oor manlief wat nutsman speel en die huis verfraai. Terwyl ons in die stadshuis wat in die mark is, moet bly omdat die verwers verf. Ons kon dus nie rivier toe gaan soos wat ons beplan het nie. Om die eerste twee weke van ons kinders en vriende te isoleer tot ons weet dat ons geen kiem op die vliegtuig opgetel het nie.

Iedergeval, toe ek so oor die prettige oomblikke tydens die verfraaiing skryf, merk blogvriendin Toortsie op dat sy in haar nou lag. Ek het eers seker gemaak dat ek wel reg tussen die lyne lees, daarom wou ek weet of sy ‘n soortgelyke ervaring gehad het. Die antwoord was nee, dus lees ek tussen die lyne dat sy lag omdat ek ook ‘n vinkwyfie is.

Ekke wat soveel kere die afgelope 18 maande oor vinkwyfies gekla het. Dit is nou die wyfies wat nie met hulle nessies tevrede is nie, dit moet verander word om hulle nukke en grille te pas.

Ons het uit die eerste woonstel in Ust’-Kamenogorsk (Oskemen, Kazakhstan) getrek omdat daar dag en nag ‘n gekappery en boordery was. Ook omdat dit ver van die winkels af was, maar veral oor die vinkwyfies wat nie tevrede is met hoe hulle woonstelle lyk nie. Toe trek ons maar na ‘n kleiner woonstel in die stad.

Die laaste maand in die woonstel het die vinkwyfie bokant ons ‘n Babelse lawaai veroorsaak toe die nessie nie meer na haar sin was nie – of was dit dalk ‘n nuwe vinkwyfie wat ingetrek het? Iedergeval, dit was geweldig steurend, met manlief wat van die huis af werk en die geboordery en gekappery.

Toe trek ons Almaty toe. Die woonstel lyk heel nuut, maar sowaar, twee vloere bokant ons het ‘n vinkwyfie haar nessie uitmekaar laat ruk. Regtig, heeltemal. Toe ek moedeloos boontoe is om te gaan vra hoe lank hulle nog gaan kap en breek en boor, het die plek soos ‘n bouperseel gelyk. Gestroop van vloer, plafon, baddens, sement teen die mure, alles. Die lawaai sou nog twee weke duur, hulle het na drie maande steeds gekap en geboor. En ek was dankbaar dat ek van die lawaai kon wegtrek, dit was nie meer snaaks nie.

Dus, het ek by elke woonstel waar ons gebly het met vinkwyfies te doen gehad.

Ek wil nie ene wees nie …

In die laaste week in die woonstel, voordat ons huis toe gekom het, vang die agent wat ons stadshuis bemark, ons met ‘n slap riem.

Ons huis gaan blykbaar baie makliker verkoopas ons dit buite verf. Ons wou nie, want die vinkwyfie in die huis langs ons het haar splinternuwe huis, wat so pas geverf was, oor laat verf. As mens in ag neem dat die verfwerk maklik meer as R100 000 kan kos, is dit belaglik om ons huis te verf sodat iemand dit koop en weer verf.

Sy het haar man laat bel. Hy sal persoonlik toesig hou want ons het mos paar goedjies in die huis. Die res is laas jaar Junie uitgetrek en gestoor. Wat natuurlik volgens die agent ook probleem is, kopers verstaan nie hoe hulle plek kan meubileer as die huis leeg vstaan nie.

Ek weet nie waar sy haar kopers vandaan kry nie, maar ek vermoed sy onderskat ‘n koper se intelligensie liederlik. Volgens skoondogter is dit makliker om ‘n huis wat leeg staan te koop aangesien jy self kan insien hoe jou goedjies in die nuwe huis gaan pas.

En daarmee stem ek saam. Huise wat te veel meubels inhet, het dit vir my moeilik gemaak om te sien hoe my goed gaan pas. Buitendien, is dit makliker om ‘n huis wat leegs staan skoon te maak as een wat vol meubels staan – as ek nie hier is om toesig te hou nie.

Wel, ons het toe maar besluit om die huis te laat verf. Dit sou twee weke duur, teen die tyd wat ons land, is die huis buite geverf. Haar man sou niks daarvoor vra nie, hy sou self toesig hou.

Toe nie …

In beide gevalle, die verwers is steeds besig en ons is goed in die derde week by die huis in. Dus praat ons nou van vyf weke van verwers in die erf. En – die verfwek is net buite. O ja, en die plafonne. Die binnemure is Januarie uitgeverf. Omdat meubels merke los waar hulle gestaan het.

Agent se man was ook afwesig. My alarm toep het elke dag afgegaan, iemand was in die huis as hulle net buite moes werk. Uiteindelik kon ek dit uit haar kry – die sleutels is nie by haar of haar man nie, dit is sommer vir die verwer gegee.

En ons vra wat de ongeluk. Die vrou wip haar stert in ‘n krul in, want sien, dit is mos nou eintlik ek wat uitgevang is. Nie sy nie.

Toe los ek die bom – ons sou die Sondag self by ons huis wees. Om self na die voltooiing van die projek om te sien. Hiervoor het ons nie krag nie.

Sondagaand kry ons die verrassing van ons lewe. Daar is nog basies niks gedoen nie. En die werk was veronderstel om die Vrydag (vyf dae later) afgehandel te wees.

Wel, dit is nou tien dae later en die verfwerk het steeds nie begin nie, hulle is steeds besig met voorbereidingswerk. Die plafonne is darem geverf. Ons het gedink dit sou twee dae benodig, dit het een hele week geduur.

En toe kom roep manlief my. Die buitemure se ligte kleur is vanoggend opgeverf! Dit lyk pragtig!

Ewenwel, ek wou eintlik verduidelik dat ek nie ‘n vinkwyfie is nie, die verfwerk word op aanbeveling van die agent gedoen.

Sy gee nooit terugvoer oor die huis nie, wat ongelooflik frustrerend is. Sy het egter wel die laaste keer genoem dat die kopers dink ons huis is nie modern genoeg na haar smaak nie.

Ek was sommer vererg. Die kombuis het egte eikehoutkaste en die studeerkamer s’n is van egte swarthout. Die sal ek maklik uithaal en rivier toe vat as die mense van die moderne kaste hou wat nie van egte hout gemaak is nie.

Maar, manlief besluit toe dat ons al die storte kan vervang met mooier glas. Toe vra ek dat ons sommer ook die rakkies en houertjies vir seep en handdoeke vervang. Met die ystersoort waarvan ek hou. Want sien, dalkies verkoop die huis nie so vinnig nie en ons s’n het beter dae geken. Die wat gereeld gebruik word.

Dit is toe gekoop en ingesit. En ek moes so twee dae lank die vreeslikste geluide trotseer. En ek het gevra vir ‘n badkamerkassie onder ons twee se wasbakke in die hoofslaapkamer.

Dit het veroorsaak dat ek twee keer moes help red toe ‘n pyp raakgeboor is, ek het reeds van die pret daaromheen vertel. En dit lyk beslis goed.

Ek is dus nie ‘n vinkwyfie nie, ek is regtig tevrede met goed soos ons dit kies. Bykans vir altyd.

Maar, ons huis moet reggemaak word dat sy nou verkoop. En as nuwe storte, mooi goedjies in die badkamer en ‘n laag verf dit doen, dan moet ek dit maar verduur tot die gemors klaar is.

Ek steek natuurlik vir manlief en die tuinwerker in die werk om die tuin mooi te maak. Dit het agteruit gegaan, die juka’s het oorgeneem en manlief moes ‘n groot waentjie vol tuinafval vandag wegry. Ek is gek oor juka’s, maar hulle moenie toegelaat word om van die onderkant af bos te maak nie. Die stamgedeelte groei dan uit en ek dink nie dit is goed as dit teen pilare en mure begin druk nie.

In die tuin is ek beslis ‘n vinkwyfie, ek sien gereeld iets wat moet in of uit, plekke waar ek juka’s kan plant omdat niks anders daar wil groei nie, of omdat hulle so vinnig groei dat hulle ‘n skans tussen my en buurman kan bou. Dit is nie so lekker as mens nie weet of jy by die swembad dopgehou kan word nie.

Ek vermoed tuine floreer as hulle aandag van vinkwyfies kry, daarom neem sommige plante so maklik oor en het ander vreeslike vertroeteling nodig om asseblief tog net te groei.

Ons wil die huis steeds verkoop, dit is nou te groot vir ons tweetjies. Manlief wil kleiner gaan ek kan nie daarteen stry nie – al is ek baie lief vir hierdie huis waarin ons sedert November 2005 woon – dus 15 jaar. Maar, ek was gisteraand behoorlik doodmoeg nadat ek die hele huis moes stofsuig en vloere was.

Ewenwel, selfs ek kon nie stry dat die huis ‘n verf nodig het nie. En – ek moet bieg, nadat ek die verwer goed rondgejaag het, hou ek regtig van die twee kleure waarmee die huis gevwerf word.

Ek sal later ietsie daaroor skryf, en sommer voor en na foto’s deel. Dit was beslis die moeite werd om te verf. Ek vermoed die kleur sal baie mense aanstaan.

Indien nie, moet die nuwe vinkwyfie maar oorverf.

Ons huis lyk goed met haar nuwe baadjie. Ek dink menige vinkwyfies sal saamstem. Indien nie, sal ek gelukkig nie hier wees om te aanskou dat ek ‘n maand vir die nuwe kleur opgeoffer het nie …

Dalk moet ek haar koop?

Naskrif: So neul ek by manlief om die doringboom by die swembad uit te haal. Ons het nie so mooi gedink toe ons hom daar geplant het nie. En ons het al aan hom gekap. Die gras wil nie onder hom groei nie.

Hy haal die boom toe vandag uit. Of sal mens eerder noem dat hy die afgesaag het? Iedergeval, die boom het geval, met twee vinknessies daarin. Ek het nie die nessies gesien nie.

Vanaand toe ons op die stoep by die swembad braai, sit die geel vink mannetjie in die Johannesberger wat teen die muur staan. Geel tussen die ligte groen blare van die boom, amper onsigbaar as mens nie mooi kyk nie.

Ek kan net raai wat hy vanaand vir die wyfie gaan vertel: Ou vrou, jy sal nie glo wat gebeur het nie. Ek het die nessie gebou, wou vir jou kom wys. En toe is hy net weg. Die boom ook. Asof daar nooit ‘n boom was nie.

Of het sy dalk met haar vaal lyfie daar gesit. En haarself jammer gekry omdat sy die vorige nessie uitmekaar gepluk het?

Gelukkig was daar nie eiertjies in die nessies nie. anders het ek vanaand met ‘n swaar gemoed gaan slaap.

Toe verduidelik ek maar net vir hom dat die wit stinkhout ook lekker plek vir nessies bied. Daar hang reeds een of twee. Of hy my gaan vertrou en weer in ons erf gaan bou, weet ek nie. Die stinkhout is ook nie baie betroubaar nie. Weet nie waarom nie, maar die wind draai gereeld een of twee van sy takke se nekke stomp af. Dalk is dit waarom hy my so uitgekyk het? Hy weet dit dalk ook …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Ek is nie ‘n vinkwyfie nie …

  1. Laat my so dink aan Seepunt se geboor en gekap; of by my ouers se eie woonstel en die een in die ouetehuis; kap sal mense kap, skuur, boor, hamer en saag. Mense verf ook nie meer stil nie want niemand praat sonder om te gil nie. In Seepunt skrik 32 mans as een vrou ‘n vloermoer gooi; die plekkies is te na aan mekaar! Shakespeare het mos geskryf “there is nothing like a woman’s ambition.” In Macbeth, dink ek.

    Liked by 1 person

  2. dit laat my dink aan my kleinkindjietyd op dieplaas. Daar was ‘n klein modderdammetjie met doringbome met takke wat laag oor die water hang. die vinkneste het welig daar gehang. met nesboutyd was dit ‘n geraas van vinkies wat hul wyfies wil beïndruk. die hartseer oomblik was die stukkende enetjies- te gering geskat.

    Liked by 1 person

      1. Nee nee. Ek ken mos sulke situasies van as die krisis skielik opduik. Met my en my nan se albei vinnige geaardhede gebeur sulke goetertjies maklik hier by ons. 😆

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.