Gepubliseer in Reisjoernaal

As ‘n Covid-19 toets nodig is om terug te kom

Ons vlug was vir Sondagoggend, 4 Oktober om 4:45 bespreek en ons sou dieselfde middag land. Die Covid toetse mag nie meer as 72 uur oud wees vanaf die dag en tyd wat ons land nie. Drie dae. Ek wou die Donderdag al laat toets. Maar manlief en die HR bestuurder het uitgewerk ons moes dit Vrydagoggend laat toets.

Met skaars meer as ‘n dag om die uitslae te kry, want ons vlug was vroegoggend Sondagoggend.

Die HR-bestuurder het vir ons gesê dat daar ‘n laboratorium naby ons woonstel was. Wat ook nie te ver van die hotel af was nie, want ons het die Donderdagoggend mos uitgetrek. Ons kon steeds sommer daarheen stap.

Ons mag nie voor die tyd eet nie, dus stap ons om teen 7:30 daar te wees dat ons terug kan gaan om ontbyt te eet.

Ons het nie na Nazarbayev gestap nie, sommer langs die hotel afgestap omdat daar ‘n duikweg was om ons onder deur die groot pad te neem. In Kazakhstan is ‘n duikweg ‘n veilige plek, jy kan enige tyd van die dag of nag deurstap, foon in die hand, sonder die vrees om beroof te word.

Toe ons by Tomato-restaurant links draai, hoor ons water wat loop. En toe ons naby die laboratorium kom, sien ons die water kom van daar af. Dit stroom deur die vloer van die woonstel bokant die laboratorium. Warm water wat ‘n waterval maak dat ons nie by die deur kan in nie.

‘n Assistent kom uitgedraf, koes vir die water en praat met ons. Ons verstaan niks, verduidelik Covid toets. Die man sê iets, ons verstaan niks. Ek haal foon uit en vra die man moet tik.

En hy tik dat ons na ander laboratorium moet gaan, die een is onder water.

Ek vra: Ghidee? Waar? en hy verduidelik dit is in Abayi straat, een van die groot strate wat Nazarbayev kruis. Hy wys in die rigting van die Kazakh hotel en ons besluit dat dit naby is. Stapafstand. Die Kazakhs stap mos oral.

Maar, ons vra gelukkig dat hy dit vir ons op 2GIS kry.

Dit is, tot ons skok, baie ver van hierdie laboratorium af. Heeltemal in die teenoorgestelde rigting van die hotel af.

Dus kyk ons na busroetes. Sodat ons per bus kan gaan. Manlief het ‘n hekel in taxi’s gekry omdat hulle ons bel en dan verstaan ons mekaar nie. Busse stop, en jy klim af waar jy wil wees, en dan stap jy entjies tot waar jy presies wil wees.

Ek wil taxi, ons het nie baie tyd nie. Ons uitslae moet die volgende dag beskikbaar wees.

Manlief besluit dat ons beslis bus gaan ry.

So sit ons en wag vir die bus om te kom.

Ek het al vertel dat winkels in Kazakhstan eers 10 uur oopmaak, maar 10 uur saans steeds oop is. Dit is nou pre-pandemie, hulle maak nou saans teen 6 toe en naweke is winkelsentra gesluit. Klein plekkies is oop, asook supermarkte en apteke in winkelsentra.

Dus wag ons. Die bus draai uit Nazarbayev na ons busstop by Ramstore, dan ry hy in die rigting van Dostyk Mall, daar daar links in Dostyk straat in en draai een baie lang blok later weer links in Abayi straat in.

Ek wil die lang blok in Nazarbayev afstap en die bus daar op die hoek van Abayi gaan inwag, maar manlief sê ek moet rustig raak. Die bus gaan kom.

Ons is die enigste mense wat wag, dus twyfel ek baie ernstig.

So kom busse met alle nommers behalwe die een waarvoor ons wag. Stop, laat die hidroliese deure oopgaan (ek is mal oor daardie diep suisklank) en maak dit weer toe as ons nie opstaan nie.

Maar ons bus kom nie.

Dit is nie die tyd om vir manlief te vra of hy reg is nie, maar ek doen dit tog. Hy is dadelik vies, ons is reg. Hy het ons mos die afgelope twee weke oral heen per bus gekry.

Dit is koud, ons dra lankal weer ons dik jasse. En dit is die einde van die eerste maand van die herfs. Die opwinding in my het daagliks opgebou soos wat die koue die stad begin oorneem het.

Ons gaan huis toe. Ek gaan die winter misloop. Dit was een van die wonderlikste dinge om aan te dink. Die winters is oorleefbaar, maar beslis nie aangenaam nie. Veral nie met dae wat net sewe ure lig het voor dit weer pikdonker is nie.

Uiteindelik kom die bus. En dit was vrek ver na die ander laboratorium toe. Ek skat dit is net logies. Die stad het net drie van hulle en almal kan nie naby ons wees nie. Ons sou die middag eers daar uitgekom het.

Ons klim af en 2GIS vat ons om die geboue na die agterkant van die gebou toe. Dit lyk soos in Ust.

Ou geboue met die ingange na die woonstelle aan die agterkant van die gebou. Verwaarloosde dele ager die geboue omdat dit nie help om blommetjies en gras te plant nie. Dit groei skaars dan is dit weer toegesneeu.

Ons kry nie die plek nie. Ek het mos al vertel dat die ingange na die woonstelle groot swaar ysterdeure het. En dat dit in kolomme gebou is. Elke kolom het ‘n ingang en die trappe of hysbak en trappe lei net na enkele woonstelle op dieselfde vloer. Iemand kan dus langs jou bly, maar jy moet afgaan, onder by sy deur ingaan en weer na hom opgaan. Vreemd maar waar, die ou geboue is so gebou.

2GIS is gelukkig, sy het ons na die regte plek gebring. Daar is geen laboratorium aan die agterkant van die gebou nie.

Toe dink ek daaraan dat dit mos nie aan die agterkant sal wees nie, dit sal aan die voorkant van die gebou wees. En ek vra my 2 GIS om ons te help soek. Sy is ook tevrede, ons is by die regte plek.

Ons is nie.

Toe ons moedeloos om die gebou loop kry ons die laboratorium aan die voorkant. Effens versteek. Ons het sowaar daar verbygeloop om aan die agterkant te kom!

Ons is verlig in en die vrou sê vir ons iets. Ons verstaan nie, verduidelik ons kom vir Covid. Genadiglik is die woord sommer in alle tale dieselfde.

Sy praat weer, wys ons moet stop.

Ons is na aan ontevrede, maar ons stop.

En sy kom wys na ‘n boks vol blou plastiese sakkies. Ons moet dit bo-oor ons skoene aantrek. Dan kan ons na haar toonbank stap.

Daar verstaan sy niks, maar sy verstaan toetse en sy praat ek praat. Ons verstaan niks. Sy bel en praat en praat en praat. Ons verstaan niks.

Sy buk al laer agter die toonbank af en praat en praat en praat.

Ons raak ongeduldig, die toetse moet gedoen word.

En ons is honger, het nie ontbyt geëet nie.

Dan haal sy ‘n papiertjie uit, krap in handskrif daarop. Ons kom agter dit is ‘n adres, sy wil ons iewers anders heen stuur. Maar ons kan handskrif nie lees nie. Want ‘n M is ‘n T en so aan. Hoekom weet ek nie, ek dink die Russe wil hulle kinders mooi deurmekaar maak.

Toe bel ek die HR bestuurder. Help ons asseblief, die toetse moet gedoen word, die eerste laboratorium het nie gewerk nie. Ons is in die moeilikheid en sy stuur ons lyk my weer iewers anders heen.

Die twee praat en praat en praat. Toe verduidelik die HR bestuurder vir ons. Die laboratorium se toetsstrokies is op. Sy het die laaste tak gebel. Hulle het genoeg, hou vir ons twee uit. Ons moet taxi daarheen neem.

Ons verduidelik vir die vrou dat sy die adres op 2GIS moet intik en stap uit die gebou.

Ontevrede.

Manlief soek die busstop waar ons moet opklim en daar stap ons. Om die bus te vang om na die derde laboratorium geneem te word.

Toe ons bus uiteindelik opdaag, klim ons op. Natuurlik al vies vir mekaar ook omdat manlief nie bes wil gee nie. Geen taxi nie.

Ek wil taxi, nie lus vir bus nie, die tyd loop uit. Manlief staan vas, ons ry bus. Al het hy eers gekyk wat die taxi sou kos. Nie baie nie. Minder as R40.

Hy volg die bus op die roete, en toe kom die skok. Die bus moes links afdraai. Hy het nie, neuk net al verder teen die berg op.

Ons het geen idee waar ons is nie, het nog nooit met Dusty daar gery nie. Ons het die stad nog leer ken.

Na ‘n baie lang ruk is daar weer ‘n busstop en is ons af.

Maar ek wil nie meer bus nie, ons gaan taxi. Soos daar vir my op die foon gesê is.

Manlief is verontwaardig, hoekom het ek nie gesê sy sê ons moet taxi nie. En ek bly liewers stil. Ek het gesê ons moes taxi vat. Moes ek byvoeg dat die HR bestuurder so gesê het?

Hy kry die plek, vra 2GIS vir taxi en nie bus nie en bestel die taxi. Dit kos dubbeld wat dit van die laboratorium af sou kos. Amper R100. Maar ek weet wanneer om stil te bly. Ek kry my sin, ons ry taxi.

Dit is vrek ver, al was ons ‘n hele tyd op die bus. Ons ry heeltemal van die sakekern weg.

Uiteindelik laai die taxi ons af. Agter ‘n gebou. Manlief wil begin stap om die deur te kry, ek het klaar gesien ons is alweer aan die woonstelingange se kant.

Soek op my 2GIS, wat vertel ons is op die regte plek. En dit is al naby aan 11 uur. Toe ons om die gebou stap, wil 2GIS ons 100 meter verder vat. Ons besluit om te kyk wat om ons aangaan.

Blommewinkel. Die man maak nie oop nie. Dus stap ons moedeloos verder. Om uiteindelik die deur van die laboratorium voor ons te sien.

Ons stap in. Trek die plasties oor ons skoene, ons is mos mooi geleer.

En daar is niemand agter die toonbank nie.

Hulle maak 13:00 toe, ons is besig om die lyne fyn te sny.

Sy is in die spreekkamer besig met iemand wat op die bed lê. En toe kom sy uit.

Sy wil ons help.

Ons verstaan mekaar nie. Verduidelik ons soek twee toetse. Covid en anti-body, want ons gaan swaar gewapen met bewyse huis toe kom. Ons het nie Covid nie en ons het reeds teenliggaampies daarteen – want ons het aangeneem dat ons dit al iewers kon optel met die vlugte wat ons moes onderneem om woonstel te soek en om te trek. Buitendien, ons het in Kazakhstan gewoon, reg langs Sjina.

Ek is net mooi reg om die HR bestuurder te bel, want die vrou is mos ingelig ons is op pad. Het seker net nie gedink dit is ons nie, omdat ons soveel later daar aangekom het.

Toe praat die vrou wie se bloed getrek is. Sy is tolk, het ons hulp nodig?

En wat is die kans dat hierdie tolk toe die hoof van HR se tolk en assistent is?

Sy help ons deur die proses, met die vertaal van ons paspoorte dat die vrou verstaan wat waar staan. Tot al die papierwerk op die rekenaar gedoen is. En daar vir elkeen van ons ‘n profiel geskep is.

Sy groet en daar gaan sy. Ons twee moet nou die toetse ondergaan.

Teen daardie tyd het ons die verskrikking van ‘n stokkie in die neus lankal oorkom. Ons moet daardeur gaan. En nou. Dat die bloed en stokkies betyds getoets kan word.

Manlief sit eerste.

Toe sy die stokkie in sy neus opdruk, gril hy en ruk weg. Die tweede keer ook. Hy sê: Ag nee, man!

Maar sy is meedoënloos, verstaan in elk geval nie nee man nie, die toets moet gedoen word. Ek sê hou net uit en die vrou is tevrede dat sy die- genoeg ingedruk het.

Tot ons skok, haal sy ‘n tweede stokkie ook uit. Die keelgt word ook gedoen. En nou moet ek duidelik stel. Daarna glo ek die lae statistiek van Kazakhstan. Daar is geen manier waarop ‘n persoon nie + of – kan toets as hy dubbeld getoets is nie. As dit sê ons is +, dan is ons. As dit sê ons is negatief, dan is ons.

Toe word die bloed getrek en ek kry daardie vlug gevoel soos toe ek ‘n dogtertjie was.

Ons vyf sussies moes ons inentings by ons dokter in Fochville kry. Sy deur was op straat. En kleinste sussie moes eerste gaan, Sy is mos die baba? En ek laaste, ek is mos die oudste?

Wel, toe ek sien wat sy doen en die ding met die baie naalde sien, was dit te veel vir my. Toe my ma weer sien, is haar vier ander dogtertjies op straat. Kruip ons agter geparkeerde motors weg. Dit gaan nie met ons gebeur nie?

Wel, dit het. En ons het ‘n drag slae daaroor gekry. Ons ouers in die publiek in die verleentheid gestel. En die ent moes gedoen word. Gelukkig ook vir ons, kyk hoe word ons teen die ding wat die pandemie veroorsaak beskerm …

Hier moes ek die vluggevoel sterk onderdruk. Die toets moet gedoen word, die bloed moet getrek word. Ek wil huis toe gaan. En dit staan vierkantig in my pad.

Ek het gaan sit en besluit ek sal stil sit. Sy het ingedruk. Ek het gedink dit kan nie dieper in nie, waarom het manlief so geruk. Toe moet ek my hande stukkend knyp want die stokkie kon. En sy het dit dieper gedruk.

Ek was verras, daar was niks aan my of manlief se stokkies nie. In elk geval, niks wat ek met die blote oog kon sien nie.

En toe word die bloed getrek.

O ja, ek het vergeet om te noem, manlief se bloed het geweier om uit te loop. Bietjies vir bietjies in die buisie ingegaan. Hy was dan regtig onder stres.

Myne het sommer uitgeloop, genoeg vir die teenliggaampie toets.

Toe vat ons weer ‘n bus huis toe, dit was nodig om bietjie te stap en bietjie te ry.

Die keer was die bus propvol gepak. Een van daardie soort wat twee aanmekaar is, met so konsertina effek in die middel.

En vir die eerste keer in Kazakhstan het ek gesien hoe mense kroek. Opklim en nie betaal nie. By die deur ophoop om vinnig te kan uitspring as die kondukteur sou opklim.

Ek was sommer baie, baie teleurgesteld.

Nie alleen het seker maklik twintig mense die bus oorlaai nie, hulle het sowaar ook nie die ordentlikheid om te betaal nie. As die bus so min soos R3 kos, maak nie saak waarheen jy ry nie.

Geen sosiale afstand nie, inteendeel. Die mense het teen mekaar gedruk en stoot.

Toe moet ons wag, want die uitslae sou die volgende dag teen middagete beskikbaar wees.

Ons moes Gulnara weer sien om papiere te teken en toe vertel sy vir ons dat ons nie al die papiere by die lab gekry het nie. Ons het die gekry wat wys dat ons vir teenliggaampie toets was. En nie die vir Covid nie. Dit is belangrike dokumente – as ons uitslae nie betyds uitkom nie.

Vrydagaand het ons by die Hilton gaan eet. Ek sal nog daarvan ook vertel. Ons het al geslaapo toe die piep op manlief se foon kom.

Twee keer – ons uitslae in Russies.

Met die vertaaltoep kon ek sien dit is net myne. En net die teenliggaampie uitslae. Negatief.

Ek het nog nie met die virus in aanraking gekom nie, geen teenliggaampies nie. Opgewonde wag ons vir die res, raak naderhand aan die slaap. Geen verdere uitslae nie.

Saterdagoggend kry ons ‘n taxi, kry die papiere by die lab en vat die bus terug om eers ontbyt saam met vriende te eet en dan moet die gewag weer aangaan.

Middagete het gekom en gegaan en hulle het toegemaak.

Ons het nie uitslae gehad nie.

Die laboratorium wat wel tot sewe uur die aand oop was, het oorstroom. Gesluit. Hulle antwoord nie eers die foon nie.

En ons het die uitslae nodig.

Ek WhatsApp Gulnara, ons het nog nie uitslae nie, wat nou.

Sy antwoord dan skuif sy die vlug.

Dit is geen opsie vir my nie.

Toe gaan sit ek met die visite kaartjie wat die vrou die vorige dag gegee het.

Stuur ‘n e-pos na die e-posadres.

Geen antwoord nie.

Sluit by hulle webwerf aan vir my en manlief.

Tik die toetsnommers in … die webwerf wil dit nie vat nie, vertel my net dat ek weer moet probeer.

Sluit by die Facebook bladsy vir die lab aan. Laat die boodskap. Hier is ons toetsnommers, ons moet dringend uitslae kry.

Manlief kry e-pos, weereens my teenliggaampie uitslae, manlief sal op sy eie e-pos antwoord kry, kry ek dit vertaal. Ek laat weet dankie, maar julle het myne weer gestuur. Manlief s’n asseblief.

En NOTE: Our Covid-tests as well.

Ek skryf ons storie, ons vlieg die volgende oggend 04:45 en ons kan nie gaan as ons nie die uitslae het nie.

Sy laat weet terug die Covid-toetse vat vier dae!

Ek laat weet terug, Neto, daai gaan nie werk nie. Hulle het by die lab gesê die volgende dag middagete en ons is op pad aandete toe.

Sy laat weet terug, sorry, dit is hoe dit werk.

En ek wil paniekerig raak.

Ek sien te veel uit om huis toe te gaan om my vlug uit te laat stel tot die uitslae kom.

Ek gaan meer moet druk.

Stuur boodskap op Instagram, ons het die uitslae dringend nodig.

Stuur boodskap op Facebook, ons het die uitslae dringend nodig.

En hulle laat weet sal kry voor aandete.

Ons wou al 16:00 gaan slaap om mooi wakker te wees vir die vlug.

Ons kan nie slaap nie, daar is uitslae uitstaande.

Suid-Afrika se webwerf sê ons sal kan inkom omdat party lande stadig is met uitslae.

Emirates laat egter geeneen opklim sonder ‘n negatiewe toetsuitslag toe nie.

Ek het blykbaar genoeg gevra en genoeg kanale gebruik om te vra dat hierdie ‘n noodgeval is.

Want teen laatmiddag kom die uitslae.

Ek is Covid negatief. Ek het geen teenliggaampies. Manlief het geen teenliggaampies.

Manlief se Covid uitslae kom nie en dan ek my mos allerhande dinge wys maak.

Dit is positief?

Wat dan?

Gaan hulle hom kom wegneem en iewers aanhou tot hy negatief toets?

En toe kom sy uitslae.

Hy is ook negatief.

Ons kan vlieg.

En toe is die man honger.

Ek het al vertel dat ons toe McDonalds toe is.

Om ‘n laaste maal in Almaty te geniet.

Ons was teen 20:00 in die bed, ek tevrede dat al die uitslae daar is.

Anders as manlief moes ek dit eers sien voor ek kon slaap.

En het ek lekker geslaap? Dit was wonderlik om te weet dat die virus by ons verbygehou het. Ook dat ons nog nie daarmee in aanraking gekom het nie – of dalk lankal reeds daarmee in aanraking was en immuun is.

Want, ons het nie vir die twee weke afgesonder nie.

Kon nie.

Ons moes goed verkoop en in ‘n hotel gaan slaap. Omdat ons woonstel reeds ‘n nuwe intrekker gekry het. En die persoon wil goed verander, daarom het ons besluit om in die hotel te bly eerder as om ‘n hele maand se huur te betaal – vir drie slapies in die woonstel.

Buitendien – dit was heerlik om in die hotel bederf te word. Bietjie te vergeet dat ek die kos moet maak, die huis moet skoonmaak.

En die Here het ons bewaar – deur dit alles – om veilig tuis te kom.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “As ‘n Covid-19 toets nodig is om terug te kom

  1. Liewer jy as ek; ek kan gladnie meer sulke goed hanteer nie. Om te dink ek het dit as ‘avontuur’ beskou toe ek drie maal in my lewe gekidnap is; kry nie nou die ôfrikôns daarvoor nie. As dit vandag moet gebeur, skiet ek eers en klap dan. Mens se lus vir sokkel raak op langs pad. Bly julle het dit tot hier gemaak, oorleef nou net SA asb.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.