Ek het my hart styf toegesluit om my drie Miniatuur Schnauzers, BB, Shilo en Sobek nie vreeslik te mis toe ons in Kazakhstan gebly het nie. Hulle sou aanvanklik saam met ons oorgegaan het. Want my kinders kon nie na hulle kyk nie. En ek sou hulle nie laat uitsit omdat ek oorsee gaan bly nie.
Dit was toe ‘n hele nagmerrie om hulle daar te probeer kry.
Suid-Afrika is vol nonsens wat troeteldiere betref. Hulle moes beslis bykom wat dit betref.
Die woefkinders kon nie saam met ons vanuit Suid-Afrika vlieg nie. Hulle moes per vragvliegtuig tot in Duitsland gaan en dan kon hulle van daar af saam met ons na Kazakhstan vlieg.
Maar, daar is ‘n vangplek. As ons dit so doen, moes ons in Duitsland deur doeane gaan, die woefkinders afhaal en dan verder vlieg.
Dit is ook nie so eenvoudig nie, wnt dan moes ons en hulle die land in. En as hulle die land ingaan, moet hulle aan Duitse wetgewing voldoen. Duur toetsresultate toon dat hulle nie hondsdolheid het nie.
In kwarentyn geplaas word.
Sou hulle enige tekens van siek wees op die vlug wys, kon hulle onder die Duitse wetgewing teruggestuur word of selfs uitgesit word, op my kostes.
Daarvoor het ek nie kans gesien nie. Die moontlikheid dat hulle besluit dat my woefkinders uitgesit moet word. Of siek lyk …
Dus het die woefkinders in Suid-Afrika agtergebly sodat ek van Kazakhstan af kon reël dat hulle ingevoer word. Dan moes ek reël dat die vliegtuig wat hulle na Ust’-Kamenogorsk neem se vragruim verhit is, want hulle was net-net te groot om saam met my in die vliegtuig te vlieg. Regtig, daar mag jou kleiner hondjies en jou arend saam met die passassiers vlieg.
My woewe was net-net buite die toegelate gewig. Al sou hulle soet gewees het, moes hulle onder in die vragruim vlieg. Interessant dat ek in die tyd in Kazakhstan nie een arend of woef op ‘n vlug raakgeloop het nie. Maar volgens wet mag hulle saamvlieg.
Woewe mag ook saam met jou in ‘n woonstel woon. Daarom het ons die eerste woonstel in Ust gekies. Vrekduur, maar die woewe sou saam met ons kon bly. Al was ek myle van alles anders af. Die opoffering was die moeite werd.
Hierdie woefmamma sou baie opoffer om hulle by my te hê. Selfs in die koue winters uitgaan om hulle hulle ding te laat doen. Ek was besig om ‘n honde babawaentjie te bestel om hulle in en uit die woonstel te kry – sonder moeite.
My woewe het aan al die vereistes voldoen om in Kazakhstan ingevoer te word. Die Duitse deel was ‘n probleem omdat hulle ‘n bewys moes hê dat hulle nie hondsdolheid het nie. Asof ‘n woef met hondsdolheid sal oorleef, maar dit daar gelaat.
Dit was nie nodig om hierdie peperduur toets (R12 000) te laat doen nie omdat Kazakhstan dit nie vereis het nie. Maar ek het dit laat doen. Vir ingeval hulle in Duitsland moes ingaan om ‘n veearts te sien. Maar, as hulle die veearts moes sien, was daar weer ander nagmerries. Hulle moet onder kwarentyn ingaan, twee weke of selfs langer omdat hulle die land binnegaan.
Ek wou dus alles beheer. My woewe moes veilig vlieg. Veilig by my aankom, Die vlug sou twee dae duur. Dan moes ek na Almaty gaan om hulle by doeane af te haal. En van daar af in die land met hulle na ons stad toe vlieg.
Toe reël ek dat Chris, my seun se beste vriend, in ons huis kom bly om die woefkinders vir my op te pas. Die toetsuitslae sou 30 dae neem.
Terwyl ek vandaar besig was om al die reëlings te tref en Chris die woewe hier na die veearts geneem het vir die toetse, bel seun my. Ma, ons het huis gekoop, daar is plek vir julle motors en ek en skoondogter sal die woewe oppas.
Dit was een van die moeilikste. Naamlik om my woewe nie meer na my te laat kom nie. Maar dit het sin gemaak, hulle sou skaars in die vreemde aangepas het, dan kom ons terug. Dit was ‘n kort projek, ek sou nie vir ‘n langer een oorsee gaan bly met my kinders en kleinkinders hier nie.
Die woewe is eers teen Julie na seun, want die huis moes eers op hulle naam geregistreer word en so aan. Intussen het ‘n vriendin se dogter en haar kêrel ons huis en woewe kom oppas. Want Chris moes teruggaan huis toe om naby sy werk te wees.
So het my woefkinders vir 18 maande by ander mense gebly. Tot ek weer kon terugkom.
Toe ons bykans drie weke gelede geland het, kon ons mos die land sonder kwarentyn binnekom. Mits ons negatief getoets het. Ons het, maar ons het besluit om twee weke weg van kinders en vriende te bly, vir ingeval ons wel op die vlug ‘n kiem kon optel.
Maar, seun moes my drie woefkinders in die bakkie laai om saam met ons te kom bly. Dit was een ding waaroor ek darem beheer kon hê. Vir seun en skoondogter moes ek op afstand groet, ons nuutste kleinkind kon ek darem op afstand sien. Naby genoeg dat ek kon sien dat hy nog babatjie is. En die pragtigdte dingetjie. Dit was baie, baie lekker.
Die woewe was in ekstase toe hulle ons sien. Wou oor die sitplek klim om by ons uit te kom. Maar ek wou eers die kinders groet, hulle moes wag. En toe kon ek behoorlik groet.
Die hele pad huis toe moes ek met ‘n hand na agter sit. Om dan die een en dan daardie een se koppie te streel. Met hulle ore te speel.
En toe het ek my skaduwees terug. En weet ek eers regtig hoe ek my hart moes toesluit om nie daar van verlange te vergaan nie.
Daar het my hart gekrimp as die een huurder met haar kleine hondjie uitgaan om hom vir ‘n stappie te vat. As ek woewe van bo af hoor blaf het en uitgekyk het hoe hulle oor die sneeu stap, spore maak, hulle neuse in die sneeu druk en hulle bene lig.
Dit kon my woewe gewees het.
Iemand het voorgestel dat ek daar ‘n woef kry. Hoe dom is dit nie? Niks kan my woewe vervang nie en ek weet reeds watter onmoontlike proses dit is om die nuwe woef weer in Suid-Afrika terug te kry. Nee wat, die verlange moes net doodgedruk word.
Ek het gedink ek het dit reggekry om te vergeet. Want as mens vergeet, is die velange minder?
Ek het nie.
En hulle het my ook nie vergeet nie.
Seun en skoondogetr het hulle vertroetel, nuwe maniere geleer. Die drie sit nou en wag dat ek hulle kos neersit, maak nie saak hoe lekker dit ruik nie. En dan staan hulle eers op om gewone pas na die bakke te stap, as ek sê hulle mag.
O my word, dit is oulik.
Toe ons November in Suid-Afrika was, was my hart nogal seer omdat Sobek nie meer met my wou dans nie. Hulle het ook intussen geleer om nie teen mense op te spring nie, nog ‘n oulike ding wat seun en skoondogter hulle aangeleer het.
By my het hulle sommer teen gaste opgespring. Nou hou hulle sosiale afstand, gaan nader as die persoon waag om nader aan my te kom.
Hulle slaap op hulle nuwe bedjie wat manlief vir hulle gekoop het, waar ek ookal in de huis is.

Ons moes die mandjie net koop, dit het dan prentjies van Schnauzers op.
Werk ek in die studeerkamer, is die mandjie daar, langs die trappe wat na onder lei.
BB, wat haar naam gekry het as afkorting omdat seun haar Bederfde Brak wou genoem het, staan nie op as sy lekker slaap nie. Haar geregistreerde naam is Ilonka.
Sy slapies net verder. as ek haar roep, lyk sy so deur die mis soos net ‘n miniatuur Schnauzer kan lyk. Hulle slaap mos die baarde dat dit nie meer afhang nie, maar na die twee kante toe plat lê. Met die lang ooghare ook deurmekaar geslaap.
Aan die begin het sy opgestaan en agter my aangestap. Maar sy het klaar besluit, sy gaan nie ver nie. Sy kom weer terug. Nou kyk sy net op as ek haar roep, lê dan om verder te slaap.
Sobek en Shilo vertrou egter nie die vrede nie. Ek het al weggegaan, baie lank, en hulle moet weet waarheen ek gaan as ek opstaan.
Loop ek kamer toe, wat ook op die boonste vloer is, loop hulle saam. Gaan ek toilet toe, sit hulle by my. Sobek ordentlik met sy rug na my gedraai, Shilo nie. Kom staan met sy voorpote teen my bobeen.
Want sien, ek is vas. Hy kan sy drukkie kom vra.
Dan staan Sobek op, watse nonsies is dit dat boeta ‘n drukkie kry en nie hy nie. En staan twee woewe teen my been.
Snags slaap hulle langs my bed. En dit is erg bederf, want hulle het, toe ons nog hier gebly het, buite geslaap. In die hondehok wat spesiaal vir hulle onder die huis ingebou is. Uitgeteël en alles.
Hulle het aanvanklik in die huis geslaap. Of laat ek meer presies wees, BB het aanvanklik by ons in die bed geslaap. Onder dik komberse, ek het geen idee hoe sy asem gekry het nie, ek wil versmoor. Maar sy het af en af gekruip, tot by ons voete. En dan het sy daar geslaap.
Toe laat ek haar babas kry. Die hele proses, geregistreer as teler, haar babas moes geregistreerde babas wees. Ook pimp gespeel, die geregistreerde mannetjies vir haar uitgekies, betaal dat sy gaan oorslaap om die nodige te doen en die babatjies grootgemaak tot hulle verkoop kon word.
En die eerste keer tweetjies gehou. Seth en Sobek. Seth vir seun en Sobek vir my.
Die tweede keer het ek weer twee gehou. Sankie omdat sy ‘n haaslippie gehad het (ek sal nog vertel) en Shilo, die mooiste Schnauzer wat ek geteel het. Elke keer as ‘n koper kom kies het, het ek gehoop Shilo word nie gekies nie. En die hoop het nie beskaam nie.
Toe ek weer sien, het ons vyf Schnauzers saam met ons in die bed. Seun s’n het by my gebly tot hy getrek het. Sankie is laas jaar vir my beste vriendin se seun gegee. Ek sal nog eendag daarvan vertel.
En toe skop manlief vas. Wat te erg is, is te erg, woewe buite, mense binne as dit slaaptyd is. Bedags is hulle om my voete.
En elke Schnauzer mamma weet, Schnauzers is regtig om mens se voete. Jy moet die hele tyd keer om nie een raak te stap nie. Of bo-oor een te val nie.
Shilo en Sobek volg my oral. As ek onder toe gaan, of boontoe, stap hulle entjie voor my, stop en draai om. Om seker te maak ek het nie weggeraak nie. Die hele tyd. Tot ek iewers sit, dan speel of lê hulle. waar hulle my kan dophou.
En dit is juis hierdie karaktertrek van hulle wat my met hulle wegkruipertjie laat speel.
En wat my natuurlik laat dink dat ek stink. My skoen- of voetsole altans. Want ek staan agter ‘n deur en kyk hoe hulle neus op die grond die kamer binnekom. My spoor volg, al lê manlief en die verwers se spore die kamer vol.
Die deur maak so teen die bedkassie oop, wat hulle laat dink dat ek nie daar kan wees nie. Dan hol hulle badkamer toe omdat die spoor doodgeloop het. Kom terug, spring teen die bed by manlief op, rass met hom, vra waar ek is, soek verder.
Tot een besluit om oor die bed te kyk, vas in my laggende gesig.
En dan kry ek raas, word die sterte geswaai en word ek aangemoedig om uit die kamer te kom, by my rekenaar te gaan sit en te werk.
Want, liewe woefmamma, jy het werk om te doen.
En ons het jou gekry, nou kan ons weer slapies terwyl jy werk.
Dit is absoluut wonderlik om ‘n Miniatuur Schnauzer se mamma te wees.
Al maak hulle my ten minste twee keer in die nag wakker om te piepie. Of liewer, hulle maak vir manlief wakker. BB staan aan sy kant en hy staan maar op en vat hulle uit. Maar, die twee manne kom terug, roep my, tot ek ook deur die blare afgaan om uit te gaan.
Die ding word gelukkig vinnig gedoen en voor ek behoorlik wakker is, is ek weer in die bed.
Toe ek dit vir Mia vertel, lag sy vir my.
“Yes, you have a two year old in the house,” het sy te vertelle.
Daai is waar. Hulle volg my oral, ek kan nie eens alleen toilet toe gaan nie. Hulle maak my meer as een keer snags wakker. Hulle kan nie hulle mooi hare self was en kam nie, ook nie hulle wintersjassies aantrek nie, dit is my werk, moet ek byvoeg, Mia.
Maar daar is een massiewe verskil.
Hulle gooi nie vloermoer nie. Hulle eet hulle kos. En dit maak hulle drie baie makliker as een tweejarige …
Ek is ongelooflik lief vir hierdie skaduwees van my. Wat ook kom vra vir kos as ek nie self agter kon kom dat dit al vyfuur is nie. Nog ‘n nuwe maniertjie waaraan en gewoond moet raak.
Hulle is by seun in ‘n roetine gesit, vyfuur saans is etenstyd. En moenie dink ek kan dit vergeet nie.
BB kom staan en vra kos. En as ek vra of sy honger is, blaf sy en draf vooruit, omkyk, omkyk. Om seker te maak ek kry die sak kos, die bakkies en doen die regte ding dat hulle kan sit en wag om geroep te word om te eet.
Die 18 maande was goed by seun, hulle is nou selfs ouliker as voorheen.
En ek is veronderstel om die juffrou te wees!
Dankie Seun en Skoondogter, julle het selfs beter as ek na my woefkinders omgesien. Dit moes rof gewees het om vier woefkinders en ‘n kat in die erf te hê.
Hooffoto: BB het pienk aan, die een wat op die ruggie lê is Sobek. Shilo lê ook mooi kuis. Maar, op enige gegewe oomblik lê een van die mannetjies so op die rug, alles uitgestal. Geen probleem in die wêreld nie. Die eerste twee weke het ek nog koud gekry in SA, dus moes hulle warm jassies saans dra …
Daardie hondjies van jou is baie soos my voëltjie- ook soos ‘n 2jarige. Hy maak my nie in d nag wakker nie en hy eet sy kos. Maar hy staan vroeg op en maak almal wakker. Hy gooi tantrums as jy nie gou genoeg hom uit die hok haal nie. En as hy stil is, moet jy weet hy is besig om kwaad te doen. Maar hulle verryk ons lewe, né!
LikeLiked by 1 person
Ai Seegogga, dit is so waar. Hulle verryk ons lewens baie.
LikeLike
Dit klink omtrent of jy ons huis beskryf, met ons ses en my dogter se twee
LikeLiked by 1 person
Dit is so lekker om te hoor dat julle ook baie woefkinders het. Ek geniet hulle verskriklik baie.
LikeLike
Daardie trekkery na n ander land met diere is maar n storie. My laaste woef was al sestien jaar, hoor nie lekker en sien nie lekker. Sy sou vir drie maande in kwarentyn moes wees hier in NZ, dan was daar nog die skok van in die vliegtuig en krat. Die moontlikheid kon wees dat sy lewendig hier sal aankom maar na n maand of twee van stress in elke geval dit nie oorleef nie. Dan is dit nog uitermatig duur ook om hul te stuur. Ons(ek en veearts wat haar goed geken het) het besluit dat ons haar maar laat slaap. Ek het haar die dag toe my trek gaan haar gevat. Ek was nog 2 weke in SA voor ek weg is. Sy sou egter nie daardie verandering van blyplek met vreemde meubels kon hanteer nie. Ek moes nou eers n traan weg pik. Sy was my beste en liefste woef gewees.
LikeLiked by 1 person
Ai Scrapy, skuus man. Daar is omstandighede wat dit regverdig, soos joune. My woewe is nog jonk en as ek nou moes terugkom en hulle is nie meer met ons nie, sou dit baie erg gewees het. Dit sou ons baie naby aan 80 000 vir die drie gekos het, maar ons sou dit doen as ons moes. Al het ek my doodbekommer oor die vlug.
LikeLike
Dis hoekom ek ook eers uiygevind het hoe dit gaan wees. Die op haar eie wees sou in elke geval haar dood gekos het.
LikeLiked by 1 person