Ek is skuldig, skryf al minder en minder. Een van die redes daarvoor is dat ons nogal besig is sedert ons geland het. Maar dit is seker nie ‘n verskoning nie? Daarom moet ek eers stilstaan om iets te vertel waaroor ons die afgelope paar dae gelag het.
Ons wil die huis steeds verkoop omdat hy te groot vir ons geraak het. En ons in Kazakhstan geleer het dat mens nie soveel spasie nodig het om lekker te kan leef nie.
Ons leef dus op die oomblik met die minste waarmee ons oor die weg kan kom in die huis. Daar is ‘n bed. ‘n Yskas, wasgoedmasjien en skottelgoedwasser. ‘n Ketel, paar borde en messegoed. En natuurlik Thermie, sy het mos al die pad saam teruggevlieg. En die goed wat nodig is om te stryk en skoon te maak.
So besluit ons dat manlief, ons eie handy man, se hande werk nodig het. Die badkamers gaan bietjie omgetower word, die huis is darem al in 2005 gebou. En natuurlik kan ons nie veel meer doen nie. Ons huis word buite geverf. Om haar vir ‘n koper aanlokliker te maak. Ons moet hier weees omdat die agent ons vir ‘n pop gevat het. En die bouer. Verfwerk wat twee weke sou neem, gaan na ‘n maand hopenlik klaar wees.
Ons is dorp toe om die goedjies te koop. Alte fraai, altans vir ons. Ek wou ook twee nuwe spieëls vir die twee kleiner badkamers kry. Hulle spieëls was sommer net teen die muur vasgeplak. Die rame van die spieëls pas by die ander goedjies wat gekoop is. En natuurlik vasgesit moet word.
En manlief het die storte vervang. Drie van hulle, die huis het twee volledige badkamers, een met stort en toilet en ‘n gastetoilet onder.
Nadat die storte vervang is, is die nuwe hanggoedjies vasgeboor.
Toe hy die spieël in die een kleiner badkamer wil vassit, boor hy ‘n waterpyp raak. Skrams, maar raak. En die water geniet die verlossing van die druk, dit spuit met een groot boog tot teen die stort by die teenoorstaande muur.
Manlief roep benoud ek moet gaan help. Om die gat toe te druk. Hy los net voor ek instap en die straal mis my net. Dus dring ek daarop aan dat hy plasties voor die gat hou en vashou tot ek kan oorvat.
So staan ek met my hand op die gat en hy is uit om die water te gaan toedraai. Die oplossing sou wees om die pyp uit te buig en te las en weer in te buig, volgens manlief. Maar hy besluit daar moet ‘n ander manier wees om die gat te stop.
Toe is hy reg ook, ek vermoed baie mans boor waterpype raak. Daar is nou nuwe goed op die mark beskikbaar. ‘n Lasapparaat met plasties aan die binnekant. En skroewe bokant en onderkant die lasplek. Wat bo-oor die gat getrek word en dan styf vasgeskroef word. Dit werk, halleluja!
Terwyl hy werk moet ek die water opgedroog kry, want die houtvloere hou nie van water nie.
Ons badkamer het vinnig gegaan, alles is mooi vasgesit. Die ander een ook.
En toe hoor ek weer die noodroep. Die keer van onder af. En ek maak op pad onder toe seker. Het hy homself raakgeboor, of is dit weer ‘n pyp.
Toe ek onder kom, is sy hemp en broek nat en staan hy weer met sy duim op ‘n gat. Die heel laaste gat wat hy moes boor om alles vas te kry.
En ek lê soos ek lag. Wraggies my man!
Hy staan so bietjie skaa, kan nie glo dit het weer gebeur nie.
Hy het my ‘n kort rukkie tevore geroep om te wys hy het gedink daar is pyp in die muur. Toe hy dit voel, toe stop hy. Ek moet kyk, daar glinster die koper in die muur. Hy het dit nie raakgeboor nie!
Hy het verlig die skroef korter gemaak en die spieël gehang.
Hy was amper klaar, enkele gaatjie om te boor.
Nou ja, toe boor hy mos met die laaste boor die pyp raak.
Dit het nie reguit na die kraan afgekom nie.
En ek jaag hom aan, ons het mos reeds geoefen.
Plasties voor die gat dat ek kan kom toedruk, gaan koop die lasdingetjie, dit gaan seker selfde lyk?
En daar staan ek met my vinger op die gat. Voete in die water.
Manlief uit om water toe te draai, terug om seker te maak die water het gestop, en weer uit om die lasdingetjie te gaan koop.
Natuurlik is daar weer ‘n teël wat losgemaak moes word, afvalstof waar om die gat uitgekap is om om die pyp by te kom. En ‘n teël wat weer vasgegom moet word.
Manlief was sowaar twee keer gelukkig om die pyp raak te boor. Verskillende pype natuurlik, aan beide kante van die huis.
Gelukkig was sy pa ‘n bouer. Het hy al op die plaas vir ons gebou. Presies geweet waar wat sit om wat reg te maak. Hy is inderdaad ons nutsman.
Maar ai, ons het lekker gelag.
Die badkamers lyk natuurlik nou heel fraai met hulle nuwe baadjies.

Ai tog! Glimlag ek in die stilligheid by myself!
LikeLiked by 1 person
Dit was heerlike pret, het jy ‘n soortgelyke storie om te vertel? My man is eintlik baie goeie nutsman, ek steek hom gereeld in die werk. As ek nie doen nie, kry hy self werkies om te doen.
LikeLiked by 1 person
Nie waaraan ek nou kan dink nie. 😁
LikeLike
Bertus doen ook so alles self, ook ń pa gehad wat ń bouer was. Ons twee is egter albei geneig om kortpaaie te wil neem, soms met rampspoedige gevolge.
LikeLiked by 1 person
Jy weet dan, ons ook. Maar dit het goed afgeloop.
LikeLike
Ek wil ook so graag huis regmaak, maar het nie genoeg kennis nie. Dan moet ek op mense staatmaak wat aardige bedrae geld vra vir nietighede. Jy kan bly wees skoonpa was ‘n bouer. Maar ek kan jou sien met die vinger in die gat. Onthou jy die storie van die Nederlandse seuntjie wat die land gered het van ondergang deur sy vinger in die gat in die dyk te druk?
LikeLiked by 1 person
O my word, ja, ek onthou. Ek het myself gered van baie droog maak …. Dankie vir die saamgesels. Dit is waar, hulle vra belaglike bedrae.
LikeLike