Op pad terug na my land, Suid-Afrika

Na sewe maande van mag nie na my land teruggaan nie, kan ek nie vir jou begin vertel oor die opgewondenheid om permanent huis toe te gaan nie. En dit is uiteindelik naby.

Vanoggend het ons ons laaste goedjies uit die woonstel getrek. En die Here was ons so genadig. Alles wat verkoop moes word, is in die drie weke verkoop. Teen goeie pryse. Die res het ons weggegee, vir mense in die villages. ‘n Onderwyser wat ook man van die kerk is, het gaan uitdeel, asook die jong man wat ons kar gekoop het. Ons het ook ons klere en skoene wat nie in die tasse wou pas nie, by Dostyk Winkelsentrum gaan afgee. Hulle doen ook goeie werk om dit by mense te kry wat dit nodig het.

Halftwaalf het die agent ons gekry om die sleutels oor te neem, toe is die myn se Prado daar om ons na die hotel te bring waar ons in gerief bly tot ons Sondagoggend na die lughawe vertrek. Halftwee in die nag, gelukkig vlieg hulle ons besigheidsklas huis toe, ek dink ek gaan nog wil slaap. Dan twee ure op Dubai en dieselfde middag sit ons weer voet op Suid-Afrikaanse grond.

Sal ek buk en die grond soen, Frannie? Ek dink ek sal net moet. Want ek is baie dankbaar dat ek huis toe gaan. My honde wag, my kleinkinders wag, en die jongste kleinkind wag om sy ouma vir die eerste keer te sien en ek raas klaar dat hy nie moet kruip, loop of praat voordat ek daar is nie. Ek was so bekommerd dat hy gaan vra Wie is die tannie? as hy my die eerste keer sien. Wel, hy brabbel al, maar dit kan hy nog nie sê nie.

Ek en manlief kyk net hoe alles seepglad verloop, hoe ons tuis kan kom sonder allerhande probleme met regulasies. Vanoggend gaan ons die Covid-toets doen, maar ons glo dit sal negatief wees. Die Here is so goed vir ons, ons kan net dankbaar terugstaan en sien hoe alles vlot verloop.

Ek skryf mos nie oor naweke nie – of liewer, ek plaas nie artikels oor naweke nie. Dus gaan hierdie die laaste een wees vanuit Kazakhstan. Maandag is ek op die aarde. Ons is juis besig om uit die hoogtes neer te daal – vanaf veertiende vloer van ‘n woonstelkompleks na sewende vloer van die hotel. En dan plat op die aarde. As ek uit my huisie stap, wil ek vir ‘n lang ruk asseblief dadelik op moeder aarde wees. Ek was nou lank genoeg soos ‘n lêhen op hok.

Ek het aanvanklik gedink dat daar baie goed gaan wees wat ek gaan mis as ek permanent Suid-Afrika toe gaan. Dit was toe vliegtuie nog kon vlieg soos hulle wil, grense oop was en ons nie maskers gedra het nie. Intussen het my lysie baie kort geraak, ek dink ek gaan bykans niks mis nie. Maar twee goed sou ek graag wou saambring.

Ek sou vrede wou saambring. Vrede soos hier tussen baie stamme, nasionaliteite en vrede tussen Rus en Kazakh. Die Russe het die Kazakhs lank oorheers, tog is daar vrede in die land wat soort van gelyk met Suid-Afrika verander het. Ook in die 1990’s. Hier is vooruitgang, almal werk saam om die land uit te bou. Hier sal niemand waag om paaie en geboue te verniel nie. Die tronk is blykbaar een plek waar jy weg moet bly.

Ek sou wetsgehoorsaamheid wou saambring. Die Kazakhs drink nie as hulle uitgaan nie, daar mag nie enkele druppel alkohol in bloed wees as hulle bestuur nie. Hulle stop vir voetoorgangers, bly binne reëls en so bly almal lekker saam in die land. Veilig.

Maar, ek het my eie land nou heeltemal te lank gemis.

En ek het so lank gedraai om hierdie een te skryf. Soos my skoondogter vanaand vir my skryf: Ons is emosioneel, ma, ons het probeer sterk wees, maar nou is ons emosioneel, dit is uiteindelik die waarheid. Julle kom huis toe! En dit omskryf my gevoelens.

My hart wou nog nie daar gaan grou nie. Nou weet ek dat die grense oop is, ons gaan regtig egtig huis toe. Geen gekanselleerde vlug nie. Emirates het so pas laat weet wat ons alles moet saamvat. En Suid-Afrika het sy grense oopgemaak. Na drie gekanselleerde vlugte (Maart, Julie en September) was ons harte stukkend, maar ons moes sterk wees.

En nou wil ek sommer skryf oor die dinge waarna ek uitsien.

Foto’s: My frangipani (self geplant) se blomme, sonsondergang by die rivier, my Jakaranda (self geplant), Vaalrivier by ons plek naby Bothaville, ek en my liefie woef – BB weet sy mag my snoet, maar nie lek nie – Schnauzers weet dit sommer vanself …

Ek sien uit om in die kar te klim en gou by my kinders te gaan kuier. Om weer na oupa en ouma dag te kan gaan. Om daar te wees vir verjaarsdae en vir alle ander lekker goed wat ons klompie saam doen. Die 18 maande weg van die huis het ons baie geleer, maar veral hoe erg ons ons kinders en kleinkinders mis. Ons gaan nie weer so ver weg nie.

Ek sien uit om my kleinkinders vas te hou, op te druk en te raas omdat hulle so groot geword het in die sewe maande wat hulle ouma hulle nie kon sien nie. En om hulle ook sommer te vertel dat ouma nou terug is en baie kuiers en soentjies soek. Natuurlik sien ek ook so daarna uit om seun se eersteling te gaan ontmoet. Die Here was goed vir my, ek sien hom uiteindelik, kleinkinders moenie sonder oumas groot word nie.

Ek sien uit om by my pa en ma en susters te kuier, dit is nie lekker op video’s nie. Ek wil daar wees, vashou en lag. Dit het ek baie gemis. Al is die opvangs besonder goed, video’s is nie regtig egtig nie.

Ek sien uit om in die swembad te spring as dit warm is. Saam met my hondekinders te swem. Te lag as hulle al om die swembad hardloop en aanmoedig of is dit nou raas omdat ek in die swembad is? Hulle sal enige iets doen om saam met my te wees. Ou Shilo sal swem as dit moet. As dit nou op ‘n lilo moet wees, dan is dit maar so.

Ek sien uit om kerk toe te gaan. Soos gewoonlik. Al moet mens nou maskers opsit. Maar om regtig in ‘n kerk te sit. Dit is een van die goed wat ek die meeste gemis het. Om in ‘n kerk te wees. Ds het preke gestuur, maar dit is nie dieselfde nie. Het wel gehelp om die tyd baie makliker te maak.

Ek sien uit om met my eie kar te ry. Volkswagen Tuguan. Sy was skaars ses maande oud toe ons hierheen getrek het. Nou is sy twee en ek het haar nog skaars gery. Gelukkig is my lisensie in Januarie hernu en het seun dit vir my per pos hierheen gestuur. Ek was so hartseer toe die kaartjie hier opdaag, uit my kind se hand in myne, maar ek mag nie reis nie. Anders moes ek eers vir die amptelike lisensie wag om weer te bestuur. Wonder of ek gaan weet hoe? Het 18 maande laas self agter die stuur ingeklim.

Ek sien uit om in dieselfde tydsone as my kinders en susters en ouers en vriende te wees. Dit is nie lekker as almal 7 uur in die aand wil gesels nie, want dan is dit al lankal verby my slaaptyd. Wanneer hulle weer lekker kan gesels, is dit middagete by my. Ai tog, dit gaan so lekker wees om weer in selfde tydsone te wees.

Ek sien uit om vleis volgens SA snitte te koop. Steaks. Sagte beesvleis. Braaivleis. Ek dink ek gaan die eerste keer iets van alles koop. Maar veral skaapribbetjies. Hierdie skaap is taai en ek verstaan, die arme goed staan ses maande op hok om gevoer te word. Terwyl die wêreld vol sneeu lê. Ek gaan weer ‘n worsmasjien koop, hierdie ene moes verkoop word. Want ons het nou mooi geleer, ons gaan ons eie wors maak. Dink ekke …

Ek sien uit daarna om by die huis te wees. Al is daar kragonderbrekings. En stakings. Ek gaan veel eerder sorg dat ek weet wanneer ek nie krag het nie. En my lewe daarvolgens reël. Natuurlik ook kyk na keuses, alternatiewe krag is dalk ‘n goeie oplossing.

Ek sien daarna uit om in my eie huis te bly. Ek het so pas uit die woonstel getrek. Dit is nou die een wat oor die stad uitkyk. Om uit te stap, op gras. Om in die tuin te werk.

Ek sien uit na twee weke se rus langs die Vaal in ons eie huis. Geen uitsig oor ‘n stad se liggies nie. Geen lugbesoedeling wat soos ‘n waas aangekruip kom nie. Rus en vrede met my woewe by my. My sus vra vandag of ek my honde-kinders weggegee het. Liewe aarde nee, hulle was net so bietjie in pleegsorg by seun en skoondogter. Ons gaan volgende week lekker op die gras speel terwyl manlief die tenk regmaak. Dit het ingetuimel … Al weet ek natuurlik nie hoe die huis na 7 maande toestaan gaan lyk nie …

Ek sien uit daarna om in die begin van lente oor te trek na my eie land toe. My Jakaranda behoort te begin blom. Die rose behoort te begin blaartjies maak. Die Frangipani’s behoort pienk blomme te stoot. Die tuin behoort te begin asemhaal na die winter. Met my om te kyk hoe dit in vol kleur begin blom. Ek gaan ‘n baie beter tuinier met die aalwyne wees. Lê en droom waar ek hulle gaan verplant. Uitplant. Ek sien uit na sonnige Suid-Afrika. Ek het hier in ‘n woonstel geleer hoe om aalwyne gelukkig te hou. Hulle is aan spesiale vriendinne geskenk.

En ek sien uit daarna om uit te vind hoe ons Suid-Afrika gaan laat werk. Want ek weet een ding vir seker. In ‘n ander land kan ek nie wortel skiet nie. Ek is dankbaar dat ek hierheen moes kom om dit te besef. Suid-Afrika is die land waar ek wil bly.

Ek sien daarna uit om my vriende wat ek in Kazakhstan gemaak het, in Suid-Afrika te ontmoet vir ‘n koppie tee. Of sal dit koffie wees? Ek skat party verkies tee, die ander sal koffie drink.

Ek sien uit daarna dat mense my verstaan as ek iets wil koop. Al moet ek soms Engels praat. Daar verstaan die mense ten minste Engels.

Ek sien uit om huis toe te gaan. Al moet ek soms kwaad word oor die elektrisiteit. Hierso kan die mense nie daarsonder nie, hulle sal verkluim, daar is dit net ongerieflik.

Ek sien uit om huis toe te gaan. Al kos die internet ‘n fortuin. Hier is dit noodsaaklik as mense oor die uitgestrekte vlaktes beweeg en ‘n probleem langs die pad kry. Die mense kry klein salarisse. Hulle moet in kontak kan bly.

Ek sien uit om huis toe te gaan. Omdat ek hier teen die einde geleer het om tee soos die Kazakhs te maak. Alles is in Suid-Afrika beskikbaar. Ek vat wel ‘n voorraad sakkies saam. Maar dit gaan vir vriende gebruik word. Ek maak tee nou met regte vrugte.

Ek verstaan so tussen die lyne dat Suid-Afrika ook meer soorte tee beskikbaar het. Kos nou wel ‘n arm en ‘n been.

Ek het my groot voorraad rooibos tee gister aan drie besonderse Kazakh vriendinne oorhandig. Die een tolk, die gids wat Almaty vir my gewys het en ‘n vriendin geword het en die vrou wat vir my kleinseun twee boeke gemaak het. Ek sal nog later daarvan vertel, as hy dit self vashou. En dit was so lekker om te hoor dat hierdie drie vrouens dink dat my land ook lekker tee het … Dit is kompliment, Kazakhstan is beslis die konings wat tee betref.

Ek vat ook ‘n paar vrouens van Almaty virtueel saam, ons gaan steeds kuier. Ek het hulle so amper misgeloop. Daar is nog baie kuier oor.

23 gedagtes oor “Op pad terug na my land, Suid-Afrika

  1. Gister gestaan en kyk hoe die eerste twee internasionale vlugte in maande oor doe Swartland vlieg en hulle toe gaan volg op Flightradar24. As ek reg onthou was Emirates eerste en toe Ethiopia. Een het met ‘n lekker groot 787 ingekom.

    Julle terugkeer het my onkant gevang want net biki dag terug is julle in die mooi nuwe woonstel in; mens het immers saam gehelp huis soek en intrek.

    Geniet die laaste paar dae en ek wens julle ‘n veilige vlug toe, sonder turbulensie en sulke goed. Ek haat dit as hulle begin grondpad ry daar bo.

    Liked by 1 person

    1. Ai, ek stem saam hoor. Die terugkeer was ook vir ons ‘n verrassing, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag. Ek en manlief is so dankbaar ons kom huis toe, sal nie sommer weer deur mooi praatjies uit die land laat lok nie. Ek mis my kinders en land geweldig.

      Liked by 1 person

          1. dis hoekom ons twintig jaar gelede ‘n reuse bruidskat en aanvangspakket Down Under van die hand gewys het, en toe hier deur die Staat, kerk, samelewing lelik in die tande geskop is. soms dink ek ons was dom om te bly.

            Liked by 1 person

  2. Ek is ook verbaas oor die permanente terugkeer… omrede die trek na die nuwe woonstel toe. Die lewe loop sy eie draaie en jy het ‘n draai in Kazakstan gaan maak en besef hoe lief jy jou eie land het. Veilige vlug vir julle…. en welkom tuis.

    Liked by 1 person

  3. Ai, Christa, asem daardie Afrikalug diep in, namens my ook. Gaan lê sommer plat op die grond wanneer jy dit soen, woel jou hande deur die stof terwyl jou liefiehonde om jou baljaar en sê vir die grond julle is terug…

    Liked by 1 person

  4. Daar is geen ander land soos Suid-Afrika nie. Selfs Churchill het gese (gedurende die Boere-oorlog toe hy ‘n joernalis was) dat hy dit sien as ‘n land waar hy sy kinders kan groot maak. Geniet die opgewondenheid en alles wat daarmee saam gaan. Ek kan net dink hoe jy voel! Dis hoe ons gevoel het toe ons in 2002 terug gegaan het – en gedink het ons gaan permanent terug. Ek gaan baie aan julle dink wanneer julle vlieg en sal in my gedagtes sien hoe jy Suid-Afrika weer omhels. Doen dit vir my part ook! xxx

    Liked by 1 person

  5. Ek hoop julle het veilig aangekom, want ek het sopas gesien, dat Emirates en ander internasionale rederye, hulle vlugte na SA weer getaak het omdat hulle vlugpersoneel, dieselfde toetse as die passasiers moet ondergaan en dit vir hulle onaanvaarbaar is. Sterkte, as julle dalk weer iewers in ‘n hotel moet wag. Geniet al die dinge waarna julle uitsien.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.