Spesiale vrouens in Almaty groet

Toe ons Almaty toe getrek het, is ek by die WhatsApp-groep vir die Engelssprekende vrouens van die myngroep gevoeg. Wie die opdrag gegee het, weet ek nie.

Maar ‘n hele paar van die wildvreemde vrouens het mooi boodskappe gestuur om my in Almaty te verwelkom. En dit was lekker om te weet dat hier vrouens is wat Engels kan praat. In Ust was Engelssprekendes so min soos naalde in ‘n hooimied.

Hulle het Dinsdae bymekaar gekom, maar ek kon die eerste een nie maak nie, ek het nog nie geweet waar wat in hierdie stad is nie. En ek moes ‘n artikel indien, sy sperdatum was die Dinsdag.

Toe tref die grendelstaat ons.

Daarna kon die vrouens nie weer by mekaar kom nie.

Intussen het ek en van die ander vrouens verjaar. En dit was heerlik om spesiale verjaardagwense van wildvreemde vrouens te kry. Ek het ook saamgesels as iemand wou weet waar mens iets kan koop. En saam geluk gewens. Ek was dus aktief in die groep.

Ek het al vertel dat ons oormôre, Sondag, 4 Oktober, permanent huis toe gaan.

Ek het nie vertel dat ek so twee weke gelede hierdie WhatsApp boodskap gekry het nie:

XXxxx removed you from the xxx group.

Net so. Sonder ‘n groet. Net dit. Drie weke voordat ek die land verlaat.

Ek het dit as uiters onbeskof beleef …

En ook daaraan gedink dat die ander vrouens moet dink dat ek ongeskik is om te loop sonder om te groet.

Toe WhatsApp ek een van die wildvreemde vrouens om totsiens te sê. Gedink ek sal een vir een maar groet.

Maar vee dit weer uit.

Wat help dit tog?

Die skade is klaar aangerig.

Die vrouens dink ek is baie ongeskik om so sonder groet weg te wees. Veral omdat hulle met my in die groep gesels het.

Hoe stel ek dit reg?

Sy het egter die kort boodskap op haar foon gelees voor ek uitgevee het.

En toe antwoord sy my.

Sy het gewonder waarom ek so loop, sonder om eens te groet!

Want … hulle wou my nog ontmoet.

En toe gesels ons lekker, leer mekaar sommer so ken. Virtuele vriendinne is mos spesiale vriendinne. Vra maar vir al my blogvriendinne. Mens hoef nie in persoon te ontmoet om vriendinne te word nie.

Ons het ‘n koffie ingepas en ek het besef dat ons twee vriende sou kon word. Ek het mos al geskryf dat ek nog nie kans gehad het om vriendinne in Almaty te maak nie. Wel, sy is beslis vriendin materiaal.

Toe ek weer sien, word ‘n ontmoet middagete vir my gereël.

Verlede Donderdagoggend het ek met groot opgewondenheid klaargemaak en was ek teen 10 uur al lankal gereed vir die uitstappie. Dit sou sommer ontmoet en koebaai wees.

‘n Taxi is gereël om my te kom haal en na die restaurant te neem.

‘n Baie swierige plek.

Die Vista restaurant op die boonste vlak van die Hilton hotel. Met die mooiste uitsig oor die berg, die yslike glyplank vir skiërs in Almaty en die stad. Ek dog ons bly hoog – daardie restaurant is op die 30ste verdieping.

Dit was absoluut heerlik. Die kos was heerlik, die geselskap verfrissend. Die restaurant moes tafels saamskuif om ons groep te akkommodeer, want die tafel was reeds gedek, maar ons wou by die venster sit. Met ‘n uitsig oor die stad.

Ek het so lekker gelag. En dit was heerlik om te weet dat hierdie groepie vrouens van ander lande my graag wou ontmoet. Tyd sou afknyp daarvoor. Tyd wat my pas en nie noodwendig vir hulle nie. Ons het gesels asof ons mekaar jare ken en ek geniet die grappies wat hulle met mekaar maak geniet. En met my.

Alles natuurlik in Engels en ons het daar besef hoe klein die wêreld is. Een het ‘n huis naby my suster in haar land en stad.

Foto’s: Soentjie-vraende rooi mannetjie, die spyskaart, perd en uitsig oor die stad. Ons woonstel is net agter die drie glaspunte wat daar ver uitsteek.

Al die dames kom van verskillende dele van die wêreld af. Ek het nou sowaar ‘n Engelse internasionale vriendekring. Almal hou by die land se reëls vir gesondheid, sosiale afstand, sanitasie. Almal voel vir hulle medemens en eie gesondheid. Ek is veilig in hulle geselskap.

Die dag is afgesluit met oulike geskenkies om my aan Kazakhstan te herinner.

Foto: Kazakh mannetjie en vroutjie en ‘n beursie met Kazah borduurwerk op.

Die Kazakhs hou baie van patrone. Ekke ook. En die rooi is besonder mooi. Ek gaan beslis aan hierdie groepie vrouens dink wanneer ek terug is in Suid-Afrika.

Ons het eergister weer ontmoet en weer gesels asof ons mekaar al jare ken. Al ken ek nie een van die vrouens nie. Die enetjie het gevra of ek tyd vir koffie kan maak, ek het en toe laat weet sy die res dat ons by Coffee Boom, my gunsteling, sal wees as hulle wou groet. Toe ek weer sien, sit almal saam met my om die tafel. En kry ek tyd om hulle nog beter te leer ken.

Hoe spesiaal is dit nie?

Dink net: Ek kon Almaty verlaat met die gedagte dat ek sommer sonder groet uit die groep gegooi is. Dat dit ‘n klomp ongeskikte vrouens is. Die een wat my verwyder het, het nooit eens verduidelik nie.

As die vrou nie my boodskap gelees het voor ek dit uitgevee het nie, het ek nooit hierdie groepie spesiale vrouens in lewende lywe ontmoet nie. Ek voel geseënd. My soort vriendinne.

Dankie, liewe Heer vir hierdie groepie vrouens. Ek weet nie of hulle Christene is nie, maar, soos die Kazakhs, leef hulle Christelike waardes uit. Help my asseblief om ook so te wees.

Ek sal hulle altyd in my hart koester.

14 gedagtes oor “Spesiale vrouens in Almaty groet

  1. En daar kom daar toe lemonade van suurlemoensap. Die persoon wat jou verwyder het, het toe in werklikheid nie haar doel bereik nie, maar julle in teendeel bymekaar gebring. Wie die laaste lag ………………………….

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.