Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal,Resepte

Tuisgemaakte framboos vrugtesap: Thermomix

Hier in Ust’-Kamenogorsk koop ons bevrore vrugte soos wat mens bevore groente in Suid-Afrika koop. In 1 kg of 5 kg pakke. Ek koop gereeld om die lekkerste ‘smoothies’ te maak as ons saans vir iets lekkers lus is. Thermie verander dit in ‘n japtrap in ‘n ysige lekkerte, wat ons in die somer of winter drink, want dit is mos warm ons huise ongeag die seisoen van die jaar.

Dit is iets wat ek gaan mis wanneer ons na Suid-Afrika terugkeer, dus dink ek ek moet die idee solank aan die boere gaan verkoop. So kan vrugtes langer hou en aan ‘n groter mark beskikbaar gestel word. Ek staan eerste in die ry as dit te koop is, net om te wys dat dit die moeite werd is natuurlik.

Weet jy hoe lekker dit is om ‘n avokado, foutloos, uit die vrieskas te haal, te laat ontdooi of selfs vinnig in die mikrogolf te sit as ek vergeet het om uit te haal en veral om geen deel daarvan weg te gooi omdat vingers dit pap gedruk het nie? Maar veral, om ‘n ryp avokado in die huis te hê, gereed om te eet wanneer ek ‘n slaai wil maak.

Die kilogram frambose lê egter nou maande in my vrieskas.

My eie skuld, want hoe kon ek vergeet dat frambose ‘n aaklige vrug is. En dit het ek nou twee keer vergeet. Die eerste keer het ek in die somer frambose op die mark gekoop en o my genade, het dit lekker gelyk! Die sap wou net uitdrup as mens daaraan vat en teen die tyd wat ek by die huis was, het die sakkie al ‘n mooi pienk kleur sap onderin gehad.

My vriendin was saam toe ek koop en het gevra of ek van frambose hou. Ek het ja geknik al kan ek nie onthou dat ek dit al ooit geëet het nie. En toe ek die eerste een was om te eet, het ek presies geweet waarvan sy praat. Dit was net pitte. Welliswaar tussen rooi sap, maar die sap was sommer vergete met ‘n mond vol pitte. Ek was vies, maar weggooi sou ek ook nie.

Dus is die frambose, saam met genoeg suiker, in Thermie gesit om ‘n konfyt te maak. Dit was ‘n taai affêre, want ek het die afgekoelde sous deur ‘n linnedoek gedruk om die pitte van die vleis te skei. Heerlike frambooskonfyt, maar nie iets wat ek weer sou aanpak nie.

Toe koop ek sowaar bevore frambose. So sonder om mooi te kyk wat die donkerpienk vrugte op die pak was. Ek verstaan mos nie Russies nie, dus kon ek nie met lees gewaarsku word om te los nie. Dit het in die vrieskas gelê, maar die grendeltyd maak dat ek plek in die vrieskas nodig het. En die frambose moes plek maak vir vleis.

Ingedagte staan ek met die pak in my hand. Konfyt gaan dit nie word nie, maar dit kan wel koeldrank word. Een van die bestanddele wat kan werk om dit in koeldrank te verander, is wynsteensuur. En daarvan het ek per geluk genoeg in my kas.

Ek staan gereeld voor die rak vol vreemde name vir koekbestanddele wat ek ken, maar nie verstaan nie. Soms help die prentjies dat ek verstaan wat ek koop, want die vertaaltoep is nie altyd betroubaar nie. Ander kere help dit nie, of is ek nie lus om te sukkel nie, dan vat ek die pakkie om my vonds by die huis te kom toets.

So sny ek die pakkie met die suurlemoen op oop om te proe wat dit is. Kan nie doodmaak nie, dit is by koekbestanddele, dus kan ek maar proe om uit te vind wat dit is. Ek dink dit is wynsteensuur, want, nadat ek die tongtippietoets gedoen het, het my gesig vanself soos ‘n suur pruim getrek en was dit ook nie lus om gou na normaal terug te keer nie.

Daarmee kon ek seker maak dat die stroop vir die vrugtesap ‘n ruk in die yskas hou.

 

In die lang glas is die stroop, verdun na my smaak. As jy mooi kyk, sal jy die stukkies pulp sien dryf. Terloops, ek is mal oor die glase wat hier in Qazaqstan te koop is, sommer so by die supermark. Nie goedkoop nie, maar beslis voel ek elke keer of ek onthaal as ek die glase gebruik. En dit doen ons daagliks …

In die Martini-glas (dink dit is een?) is die stroop, net om te wys hoe pragtig die kleur is.

Hier volg die resep:

Bestanddele

  • 1 kg bevrore frambose (kan seker ook vars wees)
  • 500 g suiker (voeg meer of minder by om die regte soet vir jou smaak te vind)
  • 1 liter water
  • 2 teelepels wynsteensuur

Metode

Voeg al die bestanddele in Thermie en kook as volg:

  • Tyd: 30 minute
  • Hitte: 120
  • Spoed 2

Moenie die kooksel met die lemme kap om die frambose te breek nie. Die pitte het werklik ‘n onaangename smaak. Gooi die mengsel in ‘n pot oor, druk dit fyner en gooi dit dan deur ‘n sif sodra dit afgekoel het.

Die sif word vinnig vol, druk die pulp met ‘n lepel deur die sif en gooi die pitte weg. Volg die proses totdat al die pitte goed van die mengsel geskei is. Maak my hart skoon seer om te sien hoeveel van die pulp ek nie van die pitte kon skei nie, maar dit is beslis beter as om met die pitte te sukkel.

Gooi in bottels oor en hou in yskas tot gebruik. Ek meng ‘n agtste van die mengsel met water om ‘n heerlike vrugtesap te maak. Manlief verkies meer, ek skat hy het op die ou einde ‘n verhouding van 1:3 verkies vir die regte smaak.

Gaan ek dit weer maak? Ek dink so, dit is ‘n besonder lekker smaak. En die stukkies pulp daarin herinner my daaraan dat ek dit self gemaak het. Dus is die sukkel met die ontpitproses die moeite werd.

Laat weet gerus in die kommentaar as jy die resep aangepas het, of as jy dit ook soos myne verkies. Dit is werklik ‘n aangename verbetering op vrugtesappe wat in die winkels te koop is.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

2 gedagtes oor “Tuisgemaakte framboos vrugtesap: Thermomix

    1. Hi, Coetzee, die produk word deur agente bemark. Die volledige naam is Thermomix, Vorwerk maak die masjien. Duitse maak. Ek het die T5, die T6 is vanjaar beskikbaar gestel. As jy een het, het jy bitter min ander masjiene in die huis nodig. Hy klits, maak versiersuiker en strooisuiker van regte suiker, maal goed fyn, knie, meng, maak ys fyn, en stoom kos gaar. En baie meer, ek speel so nou en dan met haar. Hier red die knie my, bak brood weekliks.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.