Ek is nie alleen ‘n liefhebber van Afrikaanse tydskrifte nie, ek is ook een van daardie mense wat ‘n tydskrif nie kan weggooi nie.
Gevolglik is trek vir ons ‘n traumatiese gebeurtenis. Manlief wat die swaar bokse moet ronddra, kwaad word en net wil weggooi. En juffrou Christa wat dit nodig het om lesse voor te berei, dus kan dit nie weggegooi word nie.
Tussen ons, ek sny nie prente uit nie en my kinders moes toe hulle klein was baie mooi vra of hulle mag. Die tydskrifte moes ongeskonde bly. Waarvoor weet ek nie, want ek het selde weer deur hulle gaan blaai.
Nadat ek ophou skool hou het (einde 2008), het ek minder tydskrifte gekoop. Maar dit het steeds opgehoop. En toe ons hierheen trek, het ek dit laat gaan. My hele versameling tydskrifte. Net weg.
Dit was so traumaties dat ek nog nie weer ‘n tydskrif gekoop het nie.
Ek het eerder die digitale bondels by Netwerk24 gekoop. Mysubs+ @R99/m, wat met my tydskrifte in my hand gee. Ek kan dit saam met my dra, sonder om die gewig te voel …
En manlief kan die nuus volg omdat ek my goed met hom kan deel.
Maar dit het my nie so getrek soos ‘n tydskrif nie. Waarskynlik ook omdat daar enkele tydskrifte in die bondels is. En waarskynlik omdat dit nie gebruikersvriendelik is nie. Hulle het probeer, deur goed alfabeties te lys, maar dit maak soek moeiliker en nie makliker nie. En … jy kan tydskrifte begin lees vanaf die dag van aansluiting.
Aan die positiewe kant bly ek die hele tyd op hoogte van nuus in Afrikaans, terwyl ek 10 Media24 tydskrifte kan lees soos hulle uitkom: Sarie, Kuier, Tuis. en TV-plus (gunstelinge), Landbouweekblad, Weg, Ry Sleep, Finweek en Baba (wanneer ek oor die nis wil lees) en Huisgenoot (wanneer ek niks anders het om te lees nie).
Aan die negatiewe kant is gunstelinge soos Rooi Rose en Vrouekeur nie daar nie.
Digitale tydskrifte is ‘n pyn as jy ‘n vervolgverhaal sien wat reeds verby Hoofstuk 1 is. Maar nie vreemd nie, dit is mos maar so as jy die tydskrif begin koop. Dus was die kritiek nie geldig nie, maar die digitale tydskrifte het my nie so lekker ingetrek soos ‘n tydskrif nie.
Waarskynlik omdat dit baie moeilik op my foon lees. Op klein skermpies moet mens die skerm met die vingers rek en trek en die inhoud rondskuif om te lees. Maak mens sommer moedeloos.
Toe koop ek vir my die grootste iPad op die mark, ek is amper seker my tydskrif kan nou in die gedrukte vorm se grootte gelees word. En so word ek in die lekker van digitale tydskrifte ingetrek.
Verlede maand kondig Netwerk24 aan dat hulle die tydskrifte nou op hulle eie Netwerk24 toep aanbied. Eers laat gaan mens mos moeilik die ou weg, maar dan trek die toep jou in omdat die tydskrifte beter georganiseer is onder e-publikasies – tydskrifte. Veral omdat ek op die foto kan kliek om die spesifieke uitgawe te lees. Of direk daaronder om enige van die vorige uitgawes te lees. Soveel anders as met MySubs+.
Ek het egter verskeie tydskrifte gemis. Rooi Rose en Vrouekeur. Lig.
En ek sien toe op Rooi Rose se webblad dat ek digitaal kan inskryf. Deur Magzter.
Lus vir lees in Afrikaans, gaan ek na Magzter se bladsy om in te teken en daar sien ek dat ek keuses het.
Die goue inskrywing gee vir my toegang tot meer as 5000 tydskrifte wat ek aanlyn kan lees @R79/m.
Ek tik Afrikaans in en kry meer as 40 tydskrifte, waarvan ek van sommiges nog nooit van gehoor nie. Al Netwerk24 s’n is ook daar beskikbaar.
Gelukkig bied Netwerk24 vir my man genot met die nuus. En vir my met die blitssepies en luisterboeke. Anders het ek dit nou gestop om slegs Magzter te lees.
Ek kon die toep vir een maand lank gratis toets. En ek is ge’hook’ soos die Engelse sê. Totaal geheel en al. Dit is nou R80/m goed gespandeer.
Dit sluit veel meer as die Afrikaanse tydskrifte in. As jy South Africa intik, kry jy Engelse gunstelinge soos Garden and Home, Cosmopolitan, People, Marie Claire en vele ander tydskrifte ook daar.
En so by my kool, Russiese tydskrifte ook.
Daar is nou wel tydskrifte soos Playboy en sulke ‘muistydskrifte’ ook. Muis omdat ek nie dink dat dit as manstydskrifte kwalifiseer nie. Mens kan ‘n funksie gebruik om dit nie sigbaar te maak nie.
Ek beveel aan dat mens op groter skerm moet lees, jy kan dit op jou rekenaar lees as jy nie ‘n tablet het nie.
O ja, ek sien daar is ‘n verskil in prys.
Ek was bereid om die geadverteerde R99/m te betaal en kon Magzter via die webblad vir een week gratis toets.
Toe ek die toep die volgende dag aflaai, word my gratis tydperk met ‘n maand verleng en kry ek dit vir R79/m in die AppStore.
Ek weet nou nie of dit goedkoper via AppStore is nie en of dit goedkoper is as mens via die toep aansluit nie.
Via die toep inteken het drie voordele: Jy kan een maand lank toets, dit was, vir my, R20 p/m goedkoper en ek kan dit steeds op my rekenaar lees as ek wil. Die prys verander nie.
‘n Ander voordeel is die ongelooflike goeie kliëntediens. Ek het binne ‘n dag antwoord gekry toe ek navraag oor die toep gedoen het.
En toe ontdek ek so pas nog ‘n oulike funskie van Magzter. As jy bo-op stories kliek, kan jy stories lees.
Ek het Afrikaans ingetik en hierdie Engelse een gekry.
Maar, kyk gou weer na die bokant van die vorige foto en kyk mooi na die knoppie lang Magzter waarop jy kan kliek.
Die storie word vir jou gelees. Nou wel baie vinnig, maar o my goeiste. Hoe lekker is dit nie?
Gaan goud as jy inteken, hoekom sal mens R39/m vir een tydskrif betaal as meer as 5000 vir skaars meer beskikbaar is?
Ek was om drie redes oortuig om goud te gaan.
Eerstens die prys, tweedens kan ek baie ver teruggaan om vorige uitgawes te lees en laastens kan ek my intekening met vier familielede deel.
Ek het so pas in Vrouekeur ‘n wonderlike vervolgverhaal van 2018 gelees. Hoe lekker is dit nie?
Daar is natuurlik ook spesiale uitgawes van my tydskrifte. Ek hou van dié wat oor kos handel, maar daar is ook trou-uitgawes en vele meer.
Is jy ‘n intekenaar?
Ek lees nie tydskrifte nie, maar ek deel in jou entoesiasme, dat jy dit nou so maklik kan lees. Geniet dit!
LikeLike
Dankie Perdebytjie.
LikeLiked by 1 person
Ek is ‘n sucker vir die stories in my tydskrifte, lank of kort.
LikeLiked by 1 person