Is ek die ewige reisiger?

Ek is gevra om ‘n artikel te skryf oor die lewe hier in Qazaqstan. Vir een van die vrouetydskrifte. Een van die vrae was of ek ‘n reisiger is. Is ek?

Ek sou myself nie as die ewige reisiger beskryf nie. Ek het ‘n vriendin wat net gelukkig is as sy ander lande kan besoek. Ek nie.

Ek is gelukkig waar my man is, by my gesin. As daar ‘n week is wat ons iets kan doen, wil ek terug huis toe. Na my kinders en vriende en honde en familie in Suid-Afrika toe. Dink nie dit maak my ‘n reisiger nie.

Ek droom nie van al die plekke wat ek nog wil besoek nie. Kyk nie verlangend na ander se reisfoto’s en wens dit was ek nie.

Almal vertel vir my dat ek die lande om my moet besoek terwyl ek nou hier is. Na tien maande kan ek eerlik sê dat dit my nie trek nie. Ek het nog nie eens oor die lande begin oplees nie.

Ek dink manlief is die reisiger van ons twee. As hy daarop aandring dat ons iewers verder as die omliggende gedeeltes om Oskemen (Ust’-Kamenogorsk) gaan, wat ek geniet om te verken, wou ek nog elke keer net meer oor hierdie land weet.

Ons was dus vir my verjaarsdag na Nur-Sultan, die hoofstad van Qazaqstan sedert iewers in 2019, toe.

Om te gaan kyk hoe die stad lyk wat sommerso moes oorneem by Almaty as die nuwe hoofstad van Qazaqstan. En homself baie goed van sy taak kwyt.

Mooi stad, vermenging van ou geboue, Russies-geïnspireerede geboue. Funksioneel en nie noodwendig esteties nie. Met hiper-modernes soortgelyk aan dié waaraan Dubai gekennerk word. Spottenderwys word na Nur-Sultan as Klein-Dubai verwys.

Dié twee wêreldstede het mos bykans terselfertyd gemoderniseer.

Ek wou ook in Almaty gaan rondstap, die ou hoofstad tot 1997 aan die hange van ‘n bergreeks.

Wat mens aan Stellenbosch, Paarl en Kaapstad herinner.

Maar veral om te gaan kyk hoe die ski-oord in die somer lyk. Om dit met die winter te kan vergelyk, wanneer seun en sy vroulief hier sou wees.

Hier staan ek by die boonste stasie van die kabelkarretjies. Wat skiërs na verskillende skibane neem.

Nou kom hulle nie meer Desember kuier nie. En ek het geen behoefte om weer alleen te gaan kyk hoe die ski-oord in die winter lyk nie.

Dalk anderdag, wanneer ek vergeet het dat hierdie koue gevaarlike tande het.

Dit was in die somer goed koud daarbo, wil nie eens daaraan dink om te gaan voel hoe dit in die winter voel nie. My vingers sukkel drie weke later steeds om te herstel.

Naweke ry ons na die omliggende dele van Oskemen, en dit is wondermooi.

Manlief hier op strand van ‘n meer. Wondermooi.

In die somer altans. Nou is ek nie regtig lus nie, die paaie is vol sneeu en kan gevaarlik wees. Dit sneeu ook elke naweek en dan word paaie sommer net toe gemaak. En waar slaap mens dan?

Hier is die dorpies langs die pad nie soos in Suid-Afrika nie. Dit is gehuggies, mense se blyplek langs die pad. Geen slaapplek nie. Die land se klein dorpies is nie vir toeriste ingerus nie. Ons sien ook nie restaurante nie. Daar is darem soms ‘n kamergrootte winkel waar mens iets kan koop vir die pad.

In groot dorpe is daar wel slaapplek, maar die dorpe is so 300 km en selfs verder uit mekaar. Wat gemaak as jy langs die pad gestrand is?

Ek kyk nie na prentjies en foto’s en video’s en flieks en smag dan daarna om ook na daardie lande toe te gaan nie. Ek geniet die fliek en die omgewing waarin dit afspeel sonder dat wanderlust my beetpak.

Ek kan egter wel onthou dat ek as skoolkind Duitsland sou wou besoek. Omdat Fraulein ons so aan die land bekend gestel het as sy kinders op toere daarheen geneem het.

Self sou ek nie as kind wou gaan nie. Maar, toe ek in 2013 die kans gehad het om iewers oorsee oor my navorsing te praat, het ek die kongres van die Internasionale Netwerk vir Sosiale Netwerk Analise (INSNA) gekies.

Omdat die kongres in 2013 in Hamburg, Duitsland gehou was. Ek, wat nie sommer alleen vakansie hou nie, het een week voor manlief gegaan. Dat ek die kongres kon bywoon en daarna vir een week saam met hom deur Duitsland kon toer. Want daai sou ek hom nie gun nie. Om die land te verken terwyl ek in sale sit en na toesprake luister. Terwyl ek my opstress vir my beurt.

Ek het wel ‘n liefde vir Amerika. Daarom het ek in 2014 besluit om by die volgende kongres van INSNA te gaan praat oor my navorsing. En het ek dit regtig baie geniet om die keer saam met manlief te wees.

Saans het ons die stad, St. Petersburg te verken. En ons het oor die breedte van Florida na die ander kant gereis.

Smal landstrook, mens doen dit sommer in een oggend. Om te gaan kyk hoe die see aan die ander kant van Florida lyk.

Ek was egter nie gepla om die twee stede waar ons geland het te gaan verken nie. Washington en New York.

Vir my was dit genoeg om die rukkie in Florida te wees. Langs die see. En om bedags sommer so rukkie langs die see te stap. Mens kon seelangs tussen die hotel en die konferensiesaal beweeg. Hemels. Ek is lief vir die see, daarheen kan ek enige tyd gaan.

Suid-Afrika het ‘n see, ene wat sommer so rondom ‘n groot gedeelte van die land strek.

As ek wil reis, wil ek na die Suid-Afrikaanse see gaan. Enige plek, van St Lucia aan die Natalse kus tot enige plek langs die Weskus.

As dit my ‘n reisiger maak, is ek ene. Ene wat die Suid-Afrikaanse kuslyn wil verken. Nie die huise of mense of geboue of kosse nie. Net die kuslyn. En landskap, berge trek my ook.

Dit trek my soos ‘n magneet. Miskien omdat ek Geografie III het. Ek verkyk my aan kuslyne en probeer verstaan watter soort kragte op die maak van die kuslyn ingewerk het.

Ek verkyk my aan berge, wonder altyd hoe hulle gevorm het. En geniet dit om die landvorms te herken. En ook om erosie se invloed te herken.

As ek een gunsteling plek moet kies, is dit ‘n dorp met die vreemdste naam. Strand. Regtig, wie het die naam gekies as daar honderde strande oral langs die Strand is?

Ek wil nie die lande waarheen ek gaan se kosse beproef nie. Ek is nie iemand wat vreemde kosse beproef nie. Ek hou nie van kosse wat brand nie, ek hou nie van vreemde smake nie. En ek druk nie vreemde goed in my mond nie.

Dankie, maar nee dankie, ek bly liewers honger voor ek perd, slang, muis, of enige iets anderd as bees, hoender, skaap en vark eet. Kalkoen darem ook.

Eintlik hou ek nie van kos nie. Punt.

As ek eet, moet dit iets wees wat ek graag wil eet. Omdat ek weet hoe dit proe. Hoender, rys, groentes, bykans enige groente wat daar is. Vrugte

O ja, dit met ek darem noem. As ek self kos maak, is ek geneig om die land waar ek is se groentes te beproef.

Die wortels en aartappels in Qazaqstan is anders. Die wortels is baie oranje en baie soet. Die aartappels is geel. Maar mens, beide is heerlik as mens eers aan die andersheid gewoond geraak het. Hier is soms pampoen beskikbaar. Ook butternut. Wat baie anders lyk as die waaraan ek gewoond is. Maar beslis baie lekker. En alle soorte uie, beet, kool, tamaties en so meer.

Ek is ook geneig om die land waar ek is se vrugtes te beproef. In Seychelles was dit vreemd om bekende vrugtes in vreemde kleure aan te tref en dan te vind dat dit presies soos ons s’n smaak. Nee, kyk, dit is beslis ook lekker.

Wat my dan nogal vies maak as ek ‘n nuwe soort beproef en dit besonder sleg vind.

Soos ‘n vrug wat hier gewild is. Dit lyk soos iets tussen ‘n tamatie en ‘n nartjie. Harde skil. Aanloklik.

Toe koop ek nou die dag twee om te kom proe. Mensig, dit is sleg. Ek kan nie onthou wat kwepers aan mens doen nie, maar ek het die gevoel dat dit verwant is.

Want ek het een keer ‘n kweper probeer. En nooit weer nie. Waarom nie? Ek verbeel my my kiewe het saamgetrek?

Hierdie vrug het my wange, keel en alles laat saamtrek. Soos meel of iets daarteen vasgeplak. Ek het tande geborsel, sommer my wange en tong en verhemelte ook. Daar was geen smaak nie, net die onaangename aakligheid.

Dit het lank gevat om die melerige, slegte saamtrekgevoel te laat verdwyn. Sal dit nooit weer probeer eet nie, selfs nie in voorbereide vorm nie. Dalk word dit ook iets lekkers soos kweperkonfyt? Dan moet dit maar, ek gaan eindig met manlief se woorde:

Dankie, maar nee dankie! Been there, done that, got the t-shirt.

So terloops, die Qazaqs maak blykbaar die lekkerste koeke. Gelukkig het ek laktose-weerstandig geword.

Daardie verleiding van dun lagies koek en dik lae room met vrugte bo-op gaan gelukkig onaangeraak by my verby. Anders het ek twee vliegtuigsitplekke nodig gehad as ons teruggaan. Ek verstaan dit is hemels!

Foto: Desember 2019, sneeu op my jas terwyl ons dorp toe gaan. Hier sneeu dit naweke!

15 comments

    1. Dis baie interessant om te lees van plekke wat ek nooit eers geweet het bestaan nie. My wèreld is maar “klein” maar deur ander se oè en omdat hulle hulle ervarings deel…leer mens baie. Ons is in ñ mate almal reisigers…ek dink die lekkerste is die avontuurfaktor…wat die adrenalien laat pomp…maar dit verg deeglike beplanning…en waagmoed. Die manier hoe jy skryf is maklik om te verstaan en die beskrywings te visualiseer.. baie dankie.

      Like

  1. Op hierdie stadium van my lewe is ek ook nie meer geiteresserd om te gaan reis en plekke te ontdek nie. Ek dink die laaste paar jaar het daar te veel veranderinge plaasgevind. Ek geniet dit om saam met iemand wat die omgewing ken rond te ry. Toe ek hier gekom het het ek vriende gemaak met twee vroue wat my oral heen gekarwei het omdat ek nie self n voertuig gehad het en alles vir my vreemd was. Nou klim ek nie eers in my kar en ry n bietjie sommer in die omgewing rond nie. Dit trek my gladnie meer nie. So verander mens maar met die tyd. Jy skrywery is lekker interessant en ook leersaam. Dankie vir die vertel.

    Like

  2. Lekker gelees dankie. Ek verlussig my aan ander lande en hulle mense. As ek dit kon bekostig sou ek baie gereis het. Vertel ons meer van die mense en hulle gewoontes waar jy nou is. Het julle vriende gemaak daar?

    Like

  3. Ek is ‘n ewige toeris 😁 Onthou, as jy die SA kuslyn besigtig en jy kom by die suidste punt, om my te kontak.
    Strand se naam is eintlik Somerset Strand. Seker na Lord Charles Somerset vernoem?
    Kwepers is nie lekker om net so te eet nie. Is dit ‘n frank smaak wat hy het? Maar ingelegde kwepers in ‘n suikerstroop, of soos ek dit deesdae in die oond gaarmaak met room en xylitol, is hemels.
    Is daardie vrug waarvan jy praat nie persimmon nie?

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.