Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Sneeu? Oor minder as twee weke?

Ek het die week vertel dat manlief van die werk af gekom het met die nuus. Dit is tyd om winterwiele op te sit. Oor die bande self sal ek môre meer kan vertel.

Want Dusty word môre met nuwe skoeisel opgetof. Goeie genugtig, vreemd om te dink dat jou kar ook winterskoene nodig het. Maar ek weet dit is so, het die bande in April gesien toe ons na karre gekyk het.

En daarna het ek elke kar se bande dopgehou. As mens wil, kan jy tot ‘n ш plakker op die agterruit van jou motor plak. Om aan te dui dat jy winterbande op het.

Die bande is duurder as ons skoene vir die winter, wat elk R 2000 gaan kos. Dit is nou te sê as ons daai skoene gaan koop. Dié met spikes in. Dit lyk vir my na baie moeite om die skoene te dra. Dit het spykers soos atletiekskoene onderaan. Wat met ‘n gereedskappie omgedraai word om die spykers weg te steek.

Maar sien, die saak staan so. Ons was hier toe die smeltende sneeu snags vasgevries het. Om swart teer te vorm. Lyk soos teer, maar is uitgery soos motors daaroor gaan. Seepgladde glyplanke spesial vir skoene geskep. Rede om jou heup of iets baie seer te maak. Dus is die skoene seker doeltreffend.

Maar ek weet ook hoe koud dit is as mens uit ‘n kar klim. Hande in handskoene, gesig onder kappie van die jas versteek, hoe en waar gaan ek buk, skoene probeer draai om die onderkante by te kom, om die rooi spykergedeelte om te draai om in ‘n winkel te kan loop? Want ek glo dat dit noodsaaklik gaan wees, om nie op die teëlvloere te gly nie.

Ek gaan nie ure buite rond loop nie. En as ek doen, is die gladde pad net ‘n probleem wanneer die sneeu smelt en vries. As die sneeu korrelrig op die pad lê, stap mens lekker en gemaklik daarop. Dus voel ek die R2000 vir skoene is rof. Omdat ek nie vir altyd hier gaan bly nie.

Dusty moet egter die bande met spykers kry. Sien foto vir hoe dit kan lyk. As sy gly is ons in groot moeilikheid. Sy kry sommer fancy bande, dié soort wat op teer en grondpaaie kan ry. Daardie een is ook noodsaaklik omdat hulle oral om ons besig is om paaie na Öskemen, of Ust, reg te maak. En dan moet sy nie in die glibberige of slush puppy paaie vasval nie.

Dit was twee weke gelede baie koud. Dikjaskoud. Dikserpkoud. Leerhandskoenkoud. Opgestopteskoenkoud. Dikmuskoud. En toe word dit warm. Alles-uittrek-as-ek-mag-warm. Sandale warm. Geen baadjie warm. Swetend warm.

Ek moes dit net noem, want mens sweet hier nie in die winter nie. Inteendeel, jy kan klere meer as een keer aantrek. Dit ruik vars na ‘n dag se dra.

En ek het so bietjie begin glo dat die winter uitgestel is. Toe nie!

Volgens die weervoorspellers, wat selde verkeerd is, gaan die eerstr sneeu oor elf dae val. Voor dan moet die temperature, wat tans by 23 grade speel (snags net bo zero) weer val. En dit gebeur oor ‘n week sommer vinnig.

Maandag gaan dit nog 23 grade wees, Dinsdag gaan bewolk wees om die temperatuur sommer dadelik na 15 te laat daal. Volgende Sondag gaan die nagtemperature weer subzero toe. En Dinsdag word die eerste sneeu verwag.

Sneeu wat ons vir drie maande in ‘n wit landskap gaan los. Ek sien nogal uit. Regtig. Ons huise is mos warm. En vir ‘n verdere drie maande gaan die sneeu in ‘n swart en wit landskap verander, swart van die stof en roet op die paaie wat drie maande lank verberg was. Glad as gevolg van die sneeu wat smelt en vries.

Dus, ses maande van koue. Dit het eers teen Julie regtig somerskleretyd geword. Baadjies moet maar altyd byderhand gewees het. Dus is dit selfs langer as 6 maande koud. Ons dink net dit is warm. Omdat temperature weer dag en na bo zero is.

Kan jy glo? Ons is sewe maande hier? Die week in Januarie tel nie regtig nie. Behalwe dat dit ons gehelp het om te voel hoe koud -40 saans is. En om te weet dat mens hier kan oorleef. As jy in lagies aantrek.

Lagies is noodsaaklik, want jy verklee so stuk-stuk as jy in warm winkels en restaurante instap. Jas, serp, handskoene, mus eerste. Dan kan die lagies oor die bolyf afgeskil word soos mens warm kry. Onderbaadjie. Dun bloes en onderhemp bly. Myne met kort moue. Om die ete of winkels te kan geniet.

Intussen leer mens die skuifelstap doen. Klein treetjies. Oë op die grond. Soekend na swart ys. Wat jou vinniger as ‘n karateskop op jou rug kan laat beland. Ek weet, het manlief so sien val. En jammer, ek het gelag, maar eers toe ek gesien het dat niks gebreek is nie. Hy het mooi geval, was stoeier en gimnas op sy tyd. Ek ken nie van nie, sal probeer keer en arm in die proses breek! Ek kan nie val nie.

Buitendien, ek wil nie koud en nat en seer verder skuifel nie. Dalk moet ek tog die spykerskoene probeer?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Sneeu? Oor minder as twee weke?

  1. Nie geweet die wiele kry ook stekels nie. Seker logies as mens vat hoe gestekel jou skoene kan wees. Klink maar heel gevaarlik so n gevriesde pad. Hier hoef hul net kettings om bande te sit as dit so gesneeu het. Dit gaan beslis iets anders wees.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.