Ek wonder hoeveel verhoudings deur die Trojaanse vinger geteister word en hoeveel daarvan uiteindelik oorleef. Die Trojaanse perd is mos toentertyd ingespan om soldate ongesiens in ‘n stad in te smokkel – veilig versteek binne in die perd se binneste. Tans span ‘n aantal toeps Trojaanse vingers in om ‘n menigste ongenooide gaste in gesinstyd en tyd saam met geliefdes in te smokkel.

Sit mens in restaurante en kyk na die tafels rondom jou, is Trojaanse vingers vlytig aan die werk. Terwyl metgeselle stilraak om die tafels. En dit laat my wonder waarom geliefde/s saamgenooi word as die vingers van toep tot toep beweeg om te lees wat ander gekommunikeer het. na my mening, is dit ongeskik.

Dit is ongeskik om diegene, wat nie eens die moeite doen om jou in persoon te kom sien nie, onmiddelike voorrang te gee bo diegene wat saam met jou is. Dit is ook ongeskik om op digitale pos te reageer as mens in die geselskap van werklike mense is. Tog word selfone, of hulle nou vibreer en lui, of nie, opgetel, beantwoord of van toep tot toep beweeg om met ander te kommunikeer. Metgeselle word met ‘n waai van die hand afgemaak, en as hulle na afloop van die oproep of getik steeds stil is, word dit nie eens raakgesien nie. Tog is daar net soveel wat op ‘n foon gebeur (as mens elke vyf minute kyk) dat daar effens tyd vir gesels was. En nou het DSTV die bietjie plesier ook weggeneem.

Tans kan DSTV op tot vyf (as ek reg onthou) toestelle gekyk word. Pa’s sit in restaurante hul fone teen glase neer om rugby, krieket, gholf en atletiek te kyk. Asof dit nie herhaal word nie. Asof dit nie weer en weer gekyk gaan word nie. Asof dit nodig is om hier en nou te weet wat die telling is. Asof dié kennis waardevol is. Asof dit regtig belangriker is as om spesiale tyd met geliefdes te bestee. Die oplossing vir die beperking van die binneval van Trojaanse vingers het ek nie. Maar Google het my vandag aan die dink gesit toe ek haar vra om vir my prente van “vinger” + “selfone” te wys. Om een of ander rede het dié ene opgekom.

nature-humour5

Dalk moet ons begin om hande met kneukellose wortelvingers te ontwerp? Sulke hande kan nêrens buig nie daarom kan dit ook nie so maklik soos Trojaanse vingers met selfone werk nie en nie so maklik van toep tot toep beweeg nie. Prente kan nie so maklik met vingerbewegings vergroot word nie en die klank kan nie so maklik harder of sagter gestel word nie. Bygesê, skakel van in ‘n ander kategorie as sms’e, WhatsApps, sosiale media boodskappe en eposse omdat hierdie kommunikasiemedia juis ontwikkel is sodat daar gereageer kan word wanneer die persoon tyd het, nie dadelik nie.

As daar dringend met iemand gepraat moet word, word gebel. Tog het die ontvanger steeds die keuse om te antwoord of later terug te bel. My frustrasie met Trojaanse vingers veroorsaak dat ek my foon in my handsak los wanneer ek gaan kuier. As ek alles oppak, mooi aantrek en gaan kuier, het ek ‘n behoefte aan die geselskap. My Apple-horlosie tik wel op my pols om my te laat weet dat daar ‘n boodskappie is, maar sy laat my ook toe om my palm oor haar gesiggie te sit om ‘n oproep stil te maak. Wie my soek terwyl ek met my gesin, kinders, kleinkinders en ouers kuier, kan maar wag tot ek weer tuis is omdat ek ook nie boodskappe lees terwyl ek bestuur nie.

En diegene wat van digitale media gebruik maak, verstaan dit. Hulle het juis nie gebel nie, maar ‘n medium gekies wat my toelaat om te antwoord ek kan. Van die os op die jas, hoe verhoed jy dat jou gesinstyd deur Trojaanse vingers oorgeneem word?