Oor twee maande is Nevan, ons Siberiese Husky, reeds 12 jaar deel van die gesin. Ons het daardie tyd so pas van Welkom na Roodepoort getrek, Anja was lankal uit die huis, Marnus is universiteit toe, manlief het ver gewerk, ek het moes (weer) by ‘n nuwe skool begin. En ek het besluit dat ek ‘n beskermer nodig het.
Ons vorige beskermer is pas dood, maar hy en sy voorgangers was te beskermend. Ons het altyd Duitse herdershonde verkies. Ons het ook altyd drama gehad as die hek oopgaan en enige iemand staan of loop naby die hek verby. Nadat ek baie oor Siberiese Huskies opgelees het, het ek besluit om navraag te doen en Nevan in Witpoortjie gaan koop. Veral omdat Huskies veronderstel is om van water te hou.
Ek het egter vinnig agtergekom dat Nevan nie van water hou nie. Inteendeel hy haat dit! As ons hom wel in die swembad tel, sak sy lyf geruisloos onder die water in, swem hy na die ander kant toe, klim uit en gee jou ‘n blou-oogkyk wat jou waarsku om dit nie weer te probeer nie. Tog is Nevan ‘n groot man met ‘n sagte hartjie.
Nevan is ‘n lover, nie ‘n fighter nie en hy was vir baie lank ons enigste kind. Ek kan nie ‘n veghond in my erf hê nie, ek het met honde grootgeword wat mekaar aanval en byt dat die bloed spat. My jonger sus het ‘n tuinslang gegryp en hulle natgespuit, ek het onder die bed in my kamer gaan wegkruip om nie die geluide te hoor en die bloed te sien nie. Nevan se blou oë maak mense bang, maar hy wil net ‘hallo’ sê as gaste opdaag. Hy was egter alles behalwe ‘n soete kind toe hy nog klein was.
As die hek oopgaan, was Nevan uit die erf. Dan het hy oor die pad gehardloop en die bure se twee woeste honde gaan spot omdat hulle agter ‘n hek is. Ek kon hoor waarheen hy gaan, want so ver soos wat hy gegaan het, het hy ander honde gaan terg omdat hulle op hok staan en hy op hulle gras en teen hulle bome sy merk kon maak.
Soms was ek so kwaad dat ek hom nie gaan soek het voordat hy moeg was nie. Want dit was nog een van sy onuitstaanbare eienskappe. Om te maak asof hy my glad nie ken as ek aankom om hom terug te bring huis toe nie. Hy het baie keer vir my gestaan en wag en net sodra ek uit die kar geklim het, het hy verder gehardloop. So asof hy my spot dat ek hom tog nie sou kon inhaal nie.
Op ‘n dag was ons moedeloos en het ons sulke drade gaan koop wat jy in die tuin plant en elektrifiseer. Hy het ‘n halsband gekry met die ontvanger daaraan vasgemaak. Sodra hy naby die drade gekom het, het dit ‘n piep-piepgeluid gemaak om hom te waarsku dat daar gevaar is. En ou Nevs is ‘n sussie. Hy het dus maar van die hek af weggebly. Maar, as die hek oopgegaan het, het hy egter soms vergeet dat hy ‘n sissie is. Dan het hy met ‘n “eina-eina” oor die drade gehol, oor die pad en sy roete gevolg – beginnende met die twee oorkant die pad wat so kwaad vir hom geword het dat hulle mekaar gebyt het …
Op ‘n keer het Nevan weer uitgehardloop en ek het besluit dat ek hom sowaar nie weer gaan soek nie. As hy wil gaan, moet hy maar gaan. Twee dae later het hy doodmoeg op die bure oorkant se pad se gras gelê en vir die hek gekyk. Sy bek het gebloei – ek dink hy was honger en het iets iewers uit ‘n asblik gegrou en sy tong gesny. So sal ons Nevan altyd herken – hoeveel ander Huskies kan daar nou wees wat so ‘n sny in die tong het?
Een dag was ek baie kwaad vir die tuinier wat hom laat uitgaan het. Ons het straat op en af gery om hom te kry en elke keer, net as ons stop, het Nevan weggehardloop. Ek was moedeloos en het by die venster uitgekyk en vir hom gesê: “Gaaf, gaan soek vir jou ‘n ander baas. Ek is klaar met jou.” Hy het my so gekyk, om die Pajero gestap, ingespring en tot by die huis op die agterste sitplek gaan sit. Van daardie dag af het hy sy wunderlust vergeet en is dit aangenaam om hom in ons erf te hê.
Ons het een kersfees vir Nevan saamgevat plaas toe. En nooit weer nie. Ons het daardie tyd boerbokke gehad. Toe ons weer sien, klim die jagter in Nevan uit, hardloop hy langs een van die bokke en trek hom plat. Nie stukkend gebyt nie, maar ons het sommer respek vir ‘n wolf se instinkte gekry. Ongelukkig kan mens nie ‘n bosluis in daardie dik bos hare sien nie, dus het Nevan by die dood omgedraai toe ons tuis kom. Anders as in die geval van mense, kan veeartse bloed sommer so voor jou oë toets en die dier dadelik begin dokter.
Toe Nevan so vyf jaar oud was, het ek besluit dat ek ‘n hondjie in die huis nodig het en vir BB in Piet Retief gaan koop. BB is ‘n Miniatuur Schnauzer en haar regte naam is Ilonka, maar Marnus het haar Bederfde Brak gedoop. Ek wou haar nie so noem nie, dus is haar naam afgekort na BB. Op ‘n keer is BB vreeslik knorrig omdat Nevan nie verstaan dat sy nie in sy aandag belangstel nie. Ek was bang hy gaan haar doodbyt en het met haar by Nevan gaan sit om vir haar sy massiewe tande te wys.
En watter skok was dit nie? Ek het haar lippies so opgetrek en vir haar vertel dat sy klein tandjies het. Toe trek ek versigtig Nevan se lip op om die skok van my lewe te kry. Sy tande is kleiner as hare! Om die waarheid te sê, ek dink Nevan weet dit en dit is waarom hy verkies om die lover in die erf te wees.
Intussen het Nevan nog ‘n sus en twee boete bygekry … almal Miniatuur Schnauzers.
Nevan kry in die somer warm en dan skud hy die hare wat te veel is, af. Die hele erf vol. Oral lê klosse sagte, wollerige hare. Toe hy klein was, het ek hom dae lank gekam om daarvan ontslae te raak. Maar hy hou nie daarvan nie en knor gou. Aan sy stert mag mens veral glad nie vat nie. Mens sou sweer hy is ‘n leeu, want is dit nie die spreekwoord om iemand te waarsku nie? Dat hy met die leeu se stert speel? Wel, moet ook nie met Nevan se stert speel nie.
Nevan is my horlosie. As ek teen twee-uur nog nie kos gaan uitsit het nie, maak hy sulke kermgeluide by die deur om vir my te laat weet ek het van hom en sy vier ander boete en susse vergeet het. Dit is so lekker om hierdie Husky in die erf te hê – behalwe dat die agterste grasperk soos ‘n slagveld lyk. Daar is altyd ten minste drie gate wat die tuinier weekliks moet toegooi. Nie dat hy omgee nie, hy grou net weer.
Ek het aanvanklik so vies vir Nevan geword omdat die duiwe sy kos voor sy oë vreet. Kan nie anders nie, Montego Karoo is besonder duur. Maar ek het met so ‘n hol kol op my maag die “method in sy madness” beleef. Hy laat hulle maar begaan en wag sy dag af tot hulle mooi vet is en nie so vinnig kan opvlieg nie – en dan vang hy hulle vir ‘n smaaklike maal. Ek sal dit baie meer waardeer as hy sy kos liewer wil eet en hulle verjaag, want mens, daar is min goed so sleg op ‘n leë of vol maag as om, soos gisteroggend, by die glasdeur uit te kyk en te sien hoe ‘n duif by sy bek uithang, pootjies pap, kop reeds halfpad opgeëet. Gewoonlik sien ek net die hopie vere wat daarop dui dat nevan nog steeds ‘n voël uit die lug kan haal. Ek skat dit is waarom hy steeds die Schnauzers se held is …
En vandag weet ek Nevan is oud. Hy speel nog saam met die kleiner honde, maar verkies om te slaap. Ek dink hy word doof, want hy skrik hom boeglam as ek skielik naby hom praat of beweeg en hy het nie in my rigting gekyk nie. Die gras lyk ook al beter as op die foto, hy hardloop nie meer so baie rond nie. Dit is onaangenaam om te weet dat hy al regtig baie oud is. Huskies word nie sommer so oud soos hy nie …
Ons harte gaan seer wees as hy die dag besluit om die hondehemel op te soek …