Gepubliseer in Reisjoernaal

Ek, Sun City en my kinders se 30ste verjaarsdae

Ek sal my twee kinders se 30ste verjaarsdae nooit vergeet nie. Nie net omdat hulle my kinders is nie, maar ook omdat beide by Sun City gevier is en beide my hart amper laat gaan staan het weens die teenwoordigheid van ‘n aap of ‘n bobbejaan wat dit te naby na my smaak aan my gewaag het.

Vir Dollatjie se 30ste het ons ‘n vakansiewoonstel by Sun City gehuur. En daar was gereeld ape in die omgewing van die woonstelle. So moet ek toe een dag alleen terug woonstel toe terwyl die mans en kinders aan die agterkant van die woonstel braai. Toe ek bo kom, sit meneer aap vir my en kyk, te naby aan my om gemaklik te voel. Ek sluit die deur vinnig oop, vlieg in en staan nog by die deur toe ek iets by die venster hoor. En daar sit aap se kind by die venster, loer deur die tralies vir my, vat aan die kant van die venster, maak oop en druk sy kop deur die tralies. Toe ek sien dat hy beplan om meer as sy kop by die venster te laat inkom, vlieg ek in die kamer in, sluit die deur (ek het mos gesien hoe maak hy ‘n venster oop?) en skree om hulp deur die kamer se venster. Tot groot pret van my gesin en vandag nog ‘n grap omdat ek nie by die kamer wou uitkom voordat almal my oortuig het dat die aap weer uit is nie. Met sy buit van vrugte en sjokolade!

Vir Seun se 30ste het sy vroulief ons genooi om vir die dag by hulle by Sun City aan te sluit –  gholf vir die manne en Valley of Waves vir die vrouens en kinders. Eers teen vyfuur het ek besluit om ook in die water in te gaan – eers opblaasbande saam met die kleinkinders op die Lazy River en toe opblaasbande saam met skoondogter, Grace. Na verskriklik baie trappe is ons amper bo. Grace stop en wys vir my dat ‘n massiewe, oorgewig bobbejaanmannetjie in die middel van ons pad verder sit. Een kyk vir sy slagtande het my laat vergeet dat ek op die opblaasband wou ry, hy kan dit maar alleen doen. Ek retireer totdat hy ons nie meer kan sien nie en vat die pad terug. Op pad af kom ons ‘n man en sy meisie teë wat nie na ons waarskuwings wil luister nie en ons besluit om saam met hulle terug te gaan, die oranje opblaasbande soos skilde tussen ons en die bobbejaan. Hy gee pad, maar die bome om ons kry lewe terwyl baie meer as een bobbejaan daarin rondbeweeg. Die adrenalienvlakke was so hoog dat die twee glye op die twee bane dit nie hoër kon druk nie.

Later die middag sit ek en oupa met Dollatjie se kleinste (1 jaar oud) langs die kinderswembad. ‘n Bobbejaan waag dit naby ons verby, seker maklik twintig treë weg. En die volgende oomblik bulder kleinkind iets in babataal vir die bobbejaan. So hard, dat ek en oupa amper van die muurtjie afval van skrik!

Ek dink nie my lewe het tydens hierdie drie gevalle verkort omdat my hart amper gaan staan het nie. Ek dink eerder die skrik het al my are mooi oopgespoel.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Een gedagte oor “Ek, Sun City en my kinders se 30ste verjaarsdae

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.